Category: God regeer

(2017 12 31 2e) Die groot Versekeraar se versekering Joel 2 v27 ♪

Versekering is deel van ons lewe. Wanneer misdaad of ‘n ramp jou tref, dien jy jou eis in. Die versekeraar vergoed jou vir jou verlies. Wanneer jy ‘n groot operasie moet ondergaan, maak jou mediese versekering dit vir jou moontlik. Die versekeraars spog graag oor hoe getrou en maklik hulle eise uitbetaal.

Ons ervaring is meestal anders. Soms kry ‘n mens die indruk dat die versekeraars ‘n verskoning soek om nie jou eis uit te betaal nie.

Joël vertel ons van ‘n vreemde Versekeraar. Die skade is nie deur ‘n derde party veroorsaak nie. Juis hierdie Versekeraar het sy volk skade aangedoen. Hy het die sprinkaanswerms gestuur wat alles wat groen is opgevreet het.

Die Versekeraar onderneem om wel die volk te vergoed. Hulle sal weer oorvloed hê. Hulle sal weet dat Hy as Versekeraar uniek is; dat Hy hulle God is; dat hulle daarom nooit weer in die skande sal kom nie. Ons tema vanaand: Die groot Versekeraar se versekering. Hierdie tema val uiteen in twee hoofdele: (1) die Here vergoed sy volk en (2) Die Here se doel met die vergoeding

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Read more… »

(2017 12 24 1e) Jesus is Koning – almal moet Hom dien Matt 28 v18tot20 ♪

Die evangelie volgens Matteus begin met die woorde: Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid … (Matt 1:1). Vóór alles wys Matteus Jesus aan as die seun van Dawid, as die verwagte Messias wat as Koning vanaf die troon van Dawid regeer. Sommer vroeg al het Johannes die doper gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matt 3:2). Nadat Jesus gehoor het dat Herodes Johannes laat opsluit het, het Hy dieselfde boodskap verkondig. Hy het ‘n hele klomp gelykenisse vertel wat Hy ingelui het met die woorde: Die koninkryk van die hemel is soos …(Matt 13:24,31,44,45). Op sy dissipels se vraag wie die belangrikste in die koninkryk van die hemel is, was sy antwoord: kinders (Matt 18:2).

Ons fokusgedeelte begin met Jesus se aankondiging na sy opstanding uit die dood: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt 28:18b). Daarmee sê Jesus dat Koning is van alles en almal in die hemel en op die aarde. Aan sy dissipels gee Hy een opdrag met ‘n paar boustene, onder andere om die mense te doop. Ook wanneer Eleana vanoggend gedoop word, doen ons dit in die erkenning dat Jesus as Koning reg en seggenskap oor haar en oor ons almal het. Ons tema: Jesus is Koning – almal moet Hom dien. Ons gee aandag aan Jesus se aanspraak, sy bevel en sy versekering.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Read more… »

(2017 12 17 2e) Vertrou op die Here wat omstandighede beheer Joel 1 v14 en 19tot20 ♪

Ons het ongekende politieke en ekonomiese storms beleef: Nenegate in Des 2015; die “State of Capture” rapport in Nov 2016; die een skok na die ander uit Gupta Leaks; rommelstatus … Toe nog die privatesektor kersie op die korrupsiekoek: Multi Choice; die Steinhofsage. Daar is geen einde nie. Die korrupsie tier buite beheer voort.

Die belastingbetalers steier onder die las. Werkloosheid is buite beheer. Die armstes leef in ellende.

Die profeet Joël teken ‘n sootgelyke situasie. Die volk van God het onhoudbare omstandighede beleef. Wat doen ‘n mens in sulke omstandighede? Hy roep tot die Here. Hy doen dit omdat die Here in beheer is van die omstandighede wat sy volk beleef. Ons tema: Vertrou op die Here wat omstandighede beheer 

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Read more… »

(2017 09 24 1e) Ons Here is die Koning van die konings Dan 2 v28 en 44 en 47 ♪

Die afgelope week was die dood in die nuus. Henri van Breda staan tereg op aanklagte van moord op sy pa, ma en broer. In Kwazulu-Natal is ‘n ondersoek na politieke moorde aan die gang. Dr Makhozi Khoza het na haar kritiek op pres Zuma doodsdreigemente ontvang. In Lephalale is dr Werner Emslie in ‘n plaasaanval doodgeskiet en sy vrou, dr Mariëtte ernstig verwond. Huisrooftogte vind gereeld plaas – elke keer is die huisbewoners se lewe in gevaar.

Wat sal jy doen as jy besef die dood staan voor jou? Ons sien hoe Daniël en sy vriende opgetree het toe hulle doodvonnis reeds gevel was. Natuurlik sal ‘n mens bid. Daniël en sy vriende het gebid. ‘n Mens sal ook probeer onderhandel met die mense wat dreig om jou dood te maak. Daniël het met die koning en ook met die offisier Arjok onderhandel. Tog het hy veel meer gedoen. Hy het sy geloof in God bely. Hy het God se groot toekomsplan aan koning Nebukadnesar bekend gemaak. Saam met Daniël kan ook ons bely: Ons Here is die Koning van die konings. Ons let op: (1) Wat om in nood te doen (2) God se groot verlossingsplan

Read more… »

(2017 04 02 2e) Eie aan Gereformeerde geloof (1) God is in volle beheer Hand 27 v13tot44

Ons het ‘n ontstuimige week agter die rug. Die bom het Donderdagnag gebars. Ons wag in spanning op reaksie van die kant van die parlement … Wat hou die toekoms vir ons in? Wat gaan met my beleggings gebeur? Dis net vraagtekens. Alles is onseker.

Dobber ons hulpeloos rond op die stormsee? Kan die skip die storm trotseer?

Paulus was ‘n gevangene op ‘n skip op stormsee. In sy gemoed was daar geen vraagtekens nie. Hy was geensins onseker nie. Hy tree as leier na vore. Hy stel gerus. Hy het immers die boodskap gekry wat hy oordra: God is in volle beheer. Dit is vanaand ons tema. Ons let agtereenvolgens op twee fasette: (1) Planne wat op niks uitloop en (2) vertrou op die Here wat regeer in trou, genade en barmhartigheid  Read more… »