(2017 12 17 1e) God is groot en getrou; Hy handel met die trotses en nederiges Luk 1 v46tot55 ♪

Sekere gebeure in die geskiedenis was so ingrypend dat dit mense se lewens-en-wêreldbeskouing ingrypend verander het: daaronder tel die ontdekking van die boekdrukkuns, die industriële revolusie; die huidige inligtingsrevolusie; die twee wêreldoorloë. Mense doen navorsing, praat, skryf en sing selfs daaroor.

Die keerpunt in die hele geskiedenis van die mensdom was die geboorte van die Seun van God. Ons dateer alles in die tydperke voor en na Christus. Ook oor Christus se menswording is en word navorsing gedoen, gepraat, geskryf en selfs gesing.

Dit het al voor sy geboorte begin. Maria het ‘n loflied gesing. In haar loflied besing sy die Here God in sy grootheid, almag, genade en en ontferming oor haar en ander wat soos sy nederig is en ontsag vir God het. Hy handel volgens Maria se loflied ook met diegene wat vol van hulleself is en geen ontsag vir Hom het nie. Ons tema is: God is groot en getrou – Hy handel met dié wat trots en met dié wat nederig is. Ons sien die Here: (1) is groot en getrou; (2) handel met beide trotses en nederiges

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die Here is groot en getrou

Net soos Hanna nadat sy haar seuntjie, Samuel, tempel toe gevat het (1 Sam 2:1 – 10), besing Maria die lof van die Here: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser … (Luk 1:46, 47). Haar loflied is die eerste keer in Latyn vertaal. Die eerste Griekse woord is in die Latynse Vulgaat Magnificat = ek maak groot / ek besing die grootheid. Dit is ook die Latynse naam vir hierdie lied (kyk na Skrifberyming 4-1).

Maria is nie in die eerste plek met die mens besig nie. Sy maak die Here met haar hele hart en uit haar diepste wese groot. Sy verheerlik Hom. Sy loof en prys die Here God.

Dit is veelseggend dat Maria God noem: my Verlosser. Iemand (Lenski) beskou hierdie benaming selfs as die sleutel tot die hele lied. Sy erken daarmee dat God die sondaar uit die dodelike gevaar van sonde, skuld en verdoeming verlos; dat Hy veiligheid en vrede skenk.

Ons moet in gedagte hou dat die engel Maria opdrag gegee het om die kindjie wat sy sou verwag die naam Jesus te gee. In sy droom het die engel aan Josef die rede gegee waarom hy sy Seun Jesus moes noem: … want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos (Matt 1:21). Deur God haar Verlosser te noem, het die jongmeisie Maria laat blyk dat sy God se plan met haar Seun begin verstaan het. Ons verstaan danksy God se Woord haar woorde selfs beter as sy: deur Jesus verlos God sondaars; bewerk Hy vrede tussen Hom en die sondaar (Rom 5:1).

Saam met Maria moet ek en jy wegkyk van die mens, weg van onsself met ons vermeende goeie kwaliteite. Ons moet in die geloof na God kyk. Hy is die Een wat verlos.

Maria besing ook God se trou. Aan Abram het die Here beloof: In jou sal al die volke van die aarde geseënd wees (Gen 12:32e). Abraham was bereid was om Isak te offer. By daardie geleentheid het die Here gesê: In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees … (Gen 22:18).

Die profeet verwys na die Here se belofte van ‘n groot nageslag vir Abraham en voeg daarby: My onderrig sal uitgaan na die volke toe, my wil sal vir die nasies die koers aanwys (Jes 51:4 kyk ook na :2). Hy beloof ook aan Abraham se nageslag: Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het (Jes 60:3). Die vervulling van hierdie beloftes vind ons in die lofsang van Simeon toe Hy die Jesuskind in die tempel is sy arms geneem het: Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: ‘n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel (Luk 2:29 – 32).

Die jongvrou Maria het God, onder leiding van sy Gees, in haar lied genoem: my Verlosser. God is ons Verlosser omdat Hy sondaars uit genade deur sy Seun verlos.

Maria vereer die Here daarvoor dat Hy getrou is en bly; dat Hy altyd woord hou; dat Hy verlos. Jesus Christus, die Seun van God, ons Verlosser, is die bewys daarvoor. Danksy sy verdienste kan ek en jy, sondaars, bely dat ons aan Hom behoort. Daar is egter ook mense wat Christus nie as Verlosser en Here erken nie. Die Here handel met hierdie twee groepe.

Die Here handel met beide trotses en nederiges

Elke mens staan verantwoordelik voor die Here God. Elkeen wat weier om Hom te erken en te vereer, staan skuldig. Elkeen wat in ontsag voor Hom as die enigste en die lewende God buig, kan op die Here se genade en bystand reken. Ons sien God handel ook met hulle.

Die trotses

Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; maghebbers het Hy van trone afgeruk … rykes met leë hande weggestuur (Luk 1:51 – 53). Hier noem sy die Here se handelinge met:

  • Hoogmoediges in hul eiewaan. Dit is mense wat hulself trots op die bors slaan en sê: “Ons sal doen net wat ons wil. Ons is aan niemand verantwoording verskuldig nie.” Die Here God jaag hierdie mense oorhoops. Hy toon aan hulle dat Hy en geen mens nie, in beheer van sake staan.

  • Maghebbers op hul trone – Dit is nie elkeen wat met mag beklee is nie. Trouens, die Here leer ons in sy Woord dat daar geen gesag is wat nie van Hom kom nie. Hy openbaar dit as sy wil dat ons ons aan die owerhede moet onderwerp (Rom 13:1). Maria sê dat die Here dié maghebbers wat hulself as onaantasbaar beskou; wat dink hulle kan doen net wat hulle wil, van hulle trone afruk. Selfs die magtigste regeerder kan nie teen die almag van God staande bly nie.

  • Die rykes – Dit is diegene wat dink dat hulle vir hulself sorg, dat hulle God nie nodig het nie. Diegene wat ryk is in besittings, maar arm is aan geloof in God, ontdek hulle leë hande.

Maria toon in haar lied aan dat God dwarsdeur die geskiedenis handel. Die Here is die Almagtige God teen wie geen mag en geen mens staande kan bly nie. Sy krag is onweerstaanbaar; almal swig daarvoor. Hy jaag diegene uitmekaar wat hulself arrogant verhef en die blye verlossingsboodskap van God se liefde en genade in Christus verwerp.

Juis hier moet ons as Christengelowiges ook goed selfondersoek doen. Dit bly moontlik om ons skuldig te maak aan trotsheid en eiewaan:

  • Iemand wat nie, soos Maria, sy totale onwaardigheid erken en sy afhanklikheid van die genade wat God in en deur Christus betoon as enigste grond vir verlossing nie.

  • Wanneer ‘n mens oortuig is: Ons erken dat ‘n mens uit genade alleen op grond van die verdienste van Christus alleen verlos word. Daardeur handhaaf ons die regte leer. Ons is daarom so ‘n trappie beter as mense wat nie so suiwer in leer is nie.

Nederiges

Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het (Luk 1:46 – 48a). So bely Maria haar eie nederigheid. Sy noem haarself in die grondtaal slavin van die Here.

Die verbasende feit is dat die een geslag na die ander hierdie nederige Maria geseënd sou noem. Maria gee blyke dat sy die engel Gabriël se boodskap aan haar dankbaar glo.

Die mense sal sê dat sy geseënd is, weens die genade wat God aan haar betoon het; weens die groot dinge wat Hy aan haar gedoen het. Hy het haar in sy genade verkies om die moeder van sy Seun na sy mensheid te wees. Hy het die engel Gabriël met die besondere boodskap na haar gestuur. Die Heilige Gees het die wonderbaarlike ontvangenis van haar Seun bewerk. Aan Elisabet het die Here die gebeure openbaar.

Die Here ontferm Hom nie oor mense wat Hom met groot gebaar vir hul saak opeis nie. Nee, in genade ontferm Hy hom oor sondaars wat hulle verlossing van Hom alleen verwag. Hulle bejeën Hom met ontsag / vrees. Ontsag vir God vra van ‘n mens geloof, kindskap en gewillige gehoorsaamheid.

Die feit dat God Hom oor Maria ontferm het, is die wyse waarop Hy met alle mense – ook met my en jou – handel. Maria sê dus: soos wat God deur al die eeue heen gedoen het, het Hy ook aan my gedoen. Sien jy ook hoedat God Hom in genade deur sy Seun oor jou ontferm het? Gee jy aan Hom die eer daarvoor?

Slot

Ingrypende gebeurtenisse wat mense se lewens-en-wêreldbeskouing ingrypend verander het, is die voorwerp van navorsing, gesprekke, die geskrewe woord en selfs liedere. Die keerpunt in die hele geskiedenis van die mensdom was die geboorte van die Seun van God. Ook daaroor en word navorsing gedoen, gepraat, geskryf en selfs gesing.

Eintlik het dit sommer voor Jesus se geboorte al begin. Maria het ‘n loflied gesing. In haar loflied besing sy die Here God in sy grootheid, almag, genade en ontferming oor haar en ander wat, soos sy, nederig is en ontsag vir God het. Hy handel volgens Maria se loflied ook met diegene wat vol van hulleself is en geen ontsag vir Hom het nie. God is groot en getrou – Hy handel met dié wat trots en met dié wat nederig is.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 12 17) God is groot en getrou – Hy handel met die trotses en nederiges Luk 1 v46tot56

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *