(2017 11 26) DIE STUKKIE BROOD Joh 13 v26, 27 en 30 ♪

Oë gerig op Jesus Christus, toegewy om Hom te volg. Dit is sedert eenwording ons visie.

Ons fokusgedeelte teken die laaste ure van Jesus se aardse bediening. Johannes, gedring deur die Heilige Gees, het twee sake laat uitstaan: Jesus se voorspelling dat een van die 12 Hom sou verraai en ‘n stukkie brood. Vier maal in twee verse gebruik hy die woord “stukkie” wat in al die nuwer Afrikaanse vertalings weergegee word met “stukkie brood”.

Waar ons vanoggend nagmaal gaan vier met ‘n slukkie wyn en ‘n stukkie brood gaan ons sien hoe veelseggend die besondere stukkie brood was en dan ook is vir ons wat Christus wil volg. Voor dit let ons eers op die toneel in Joh 13.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die toneel in Joh 13

Die tafel waarby Jesus en sy dissipels vir die paasmaaltyd aangesit het, was in ‘n u-vorm. By elk van die bene van die u was daar banke waarop ‘n paar mense, elk op hul linkerarm gestut, kon aanlê. Gewoonlik het die gasheer in die verbindingsbeen aangelê.

n Paar goed het al daar by die tafel gebeur. Jesus het ‘n doek omgebind en, soos ‘n slaaf dit sou doen, sy dissipels se voete gewas (13:1 – 17). Jesus het gesê dat hulle nie almal skoon was nie (13:10, 11) en dat Hy nie al 12 uitgekies het nie (13:18). Hy haal toe aan: “Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek. Letterlik praat die digter van: sy hakskeen teen my gelig (Ps 41:10). Dit verwys na ‘n perd wat reg is om die een wat hom voer, te skop. Een van die twaalf sou, volgens Jesus, dit met Hom doen, in ons idioom: die hand byt wat hom gevoed het.

Jesus het dit spesifiek vooraf vir hulle gesê, sodat hulle, volgens Hom, sou kon glo: Ek is wat Ek is (Joh 13:19). Hiermee het Jesus verwys na Moses se roeping. Moses het gevra wat hy moes antwoord as hulle vra wat die naam van die God is wat hom na hulle toe gestuur het. God het geantwoord: Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: Ek is het my na julle toe gestuur (Eks 3:14). Met dieselfde woorde sê Jesus vir sy dissipels sy doel met die voorspelling is dat hulle, wanneer dit in vervulling gaan, kon glo dat Hy God is.

Johannes het 8 verskillende Ek is uitsprake van Jesus in sy evangelie opgeneem. Die eerste lui: Ek is die brood wat lewe gee (Joh 6:35, 48). Natuurlik was Jesus ware mens. Hy het soos almal van ons moeg (4:6), dors (19:28), hartseer (11:35) en hewig ontsteld (13:21) geword. Hy was egter beslis ook meer as net ‘n mens. Hy is die Seun van God. Hy is ware God. Ek en jy moet Hom erken soos Hy Hom bekend gemaak het, as die Seun van God, as self God.

Terwyl Hy hewig ontsteld was, het Jesus duidelik uitgespel: Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai (Joh 13:21). Tot op daardie tydstip tyd het net Jesus en Judas van die verraad geweet (vgl Matt 26:22; Mark 14:19; vgl ook Luk 22:23). Dat niemand Judas verdink het nie, beteken Judas het baie effektief agter ‘n masker geskuil. Selfs toe die Satan in hom gevaar en hy uitgegaan het om Jesus se verraad te voltrek, het die elf sy vertrek heel onskuldig beoordeel.

Dit gebeur steeds. Party mense skuil heel effektief agter ‘n masker. Hulle doen hulle heeltemal anders voor as wat hulle regtig is. Hierdie werklikheid het Jesus op verskillende wyses belig. Die apostel waarsku: party nagmaalgebruikers, eet en drink ‘n oordeel oor hulleself (1 Kor 11:29).

Dit bring ons by die vraag: hoe sit jy aan die tafel van die Here aan? Glo jy in Jesus Christus, die Seun van God wat mens geword het; sy lewe aan die kruis afgelê het vir ons? Is jy opreg? Skuil jy agter ‘n masker?

Ek en jy kan ander en selfs onsself mislei. Jesus, die alwetende Seun van God, die Gasheer aan die nagmaalstafel, sien ons net soos ons is.

Die stukkie brood

Johannes het voor Jesus gelê. Petrus het beduie dat hy moes vra wie Jesus sou verraai. Johannes het met sy kop teen Jesus se skouer terug geleun. Die twee se woorde volg: Here, wie is dit? Dit is die een vir wie Ek ‘n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee (Joh 13:,25e, 26). Die sous waarvan Jesus praat, was ‘n mengsel van bitter kruie, asyn en sout, of moontlik van vrugte wat versap is, water en asyn of die twee bakke kon bymekaar gegooi gewees het.

Die klem val egter op die stukkie brood. Jesus se vroeër mededeling is van betekenis: Ek is die brood wat lewe gee (Joh 6:48). Met hierdie woorde het Jesus Hom bekend gemaak as die alwetende Seun van God. Toe Hy daardie stukkie brood vir Judas gee, het Hy Judas se masker afgehaal. Hy het van Judas se verraad geweet. Jesus het later dieselfde aand aan dieselfde tafel die nagmaal ingestel. Volgens Paulus het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en gesê: dit is my liggaam. Dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis (1 Kor 11:24).

Vanoggend ontvang ons ‘n stukkie brood aan die tafel van die Here. Daar staan ek en jy voor Jesus soos Hy is, die Seun van God wat mens geword het, wat sy lewe aan die kruis afgelê het om ons uit ons sonde los te koop en van ons kinders te maak van die lewende God.

Met die stukkie brood wat in die sous gedoop is, het Jesus Homself vir Judas aangebied as die Een wat gekom het om sondaars, soos Petrus, Johannes, Judas, ek en jy te verlos. Jesus het Judas een laaste geleentheid gegee om tot besinning te kom, om van die sondepad waarop hy al in die geheim ‘n goeie end gevorder het, te verlaat. Hy het nog een geleentheid gekry om hom na Jesus toe te draai. Dit was sy laaste geleentheid.

Elkeen van ons kry vanoggend aan die tafel van die Here ‘n geleentheid om te besin oor ons lewenspad; te besin oor die sondes waarin ons nog vasgevang sit; te besin oor Jesus. Elkeen van ons kry nog ‘n geleentheid om Jesus in geloof te erken as die Seun van God wat mens geword het, wat vir ons sonde aan die kruis gesterf het. Nie een van ons weet wanneer dit ons laaste geleentheid is nie.

Wat maak jy van die geleentheid wat Jesus Christus ook aan jou bied? Wat maak jy met dié Jesus soos Hy Hom ook aan jou bekend maak?

Die groot gevaar is dat enigeen van ons kan doen wat Judas gedoen het. Hy het sy geleentheid laat verbygaan. Hy het finaal besluit om dit wat hy begin het, enduit deur te voer: En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar … Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan (Joh 13:27, 30). Tot op hierdie tydstip het Judas hom besig gehou met die gedagtes van die duiwel (13:2). Hier het die Satan beheer oor sy lewe oorgeneem. Hy word instrument van die Satan wat die Seun van God wil doodmaak; wat die stryd teen God so wil wen.

Geen wonder nie dat die laaste woorde in ons fokusgedeelte is: Dit was nag. Die paasmaaltyd is gewoonlik met volmaan in die aand gevier en het gewoonlik tot middernag geduur. Hierdie laaste woorde is dus nie ‘n tydsaanduiding nie. Die woorde hou meer in: Judas het verkies om Jesus, die ware lig (8:12), te verwerp in in die duisternis te leef (vgl 11:10). Hy was ‘n instrument van die duisternis om die ware lig te verdoof.

Nadat Judas die stukke gedoopte brood uit Jesus se hand gevat en die Satan in hom gevaar het, het Jesus vir hom gesê: Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen! (Joh 13:27e). Onthou die Joodse Raad het uit vrees vir ‘n volksopstand besluit dat Jesus nie tydens die fees gevang moes word nie (Matt 26:5). In God se plan moes die Seun van God Hom vir die sonde aan die kruis offer. Hy was die ware Paaslam wat vir die sondaars geslag moes word (1 Kor 5:7e). Dit sou op die Vrydag gebeur. Nie Judas nie, nie die Sanhedrin nie, nie die Satan nie, maar Jesus het die tyd gekies. Daarom moes Judas haastig / gou doen wat hy wou. Jesus het die pad van lyding doelgerig begin bewandel.

Hier sien ons die vervulling van wat Johannes vroeg in sy evangelie geskryf het: Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (1:5). Die lig van die wêreld het die laaste sê; die lig van die wêreld verdryf die duisternis. Dit is ook vandag ons sekerheid. Die Heilige Gees gebruik die Nagmaal waaraan ons nou gaan deel, om hierdie sekerheid te versterk.

Slot

Ons fokusgedeelte teken die laaste ure van Jesus se aardse bediening. Johannes, gedring deur die Heilige Gees, het twee sake laat uitstaan: Jesus se voorspelling dat een van die 12 Hom sou verraai en ‘n stukkie brood. Vier maal in twee verse gebruik hy die woord “stukkie brood”.

Ons het gesien hoe veelseggend die besondere stukkie brood was en ook is vir ons wat Christus wil volg. Met hierdie insig vier ons vanoggend nagmaal met ‘n slukkie wyn en ‘n stukkie brood – simbole wat ons herinner en verseker: Jesus Christus het sy lewe aan die kruis afgelê sodat ons in ‘n herstelde verhouding met God kan leef – en dit onder leiding van die Heilige Gees.

Amen! 

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 11 26) DIE STUKKIE BROOD Joh 13 v 26, 27, 30

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *