(2017 11 05 1e) Ware geloof is ‘n saak van dood en lewe Gal 2 v19e tot 20 ♪

Swartmaandag het ons met ons kleredrag geprotesteer teen al die geweld en moorde – spesifiek geweld en moord op plase. Sedertdien was daar nog ‘n paar plaasaanvalle – nog mense is vermoor.

Vandat Martin Luther sy 95 stellings 31 Okt 1517 teen die kerkdeur van Wittenberg vasgenael het, het die hervorming momentum opgebou. In 1572 het Katharina de’Medici die koning oorgehaal om die protestante in Frankryk aan te val en uit te wis. Op 23 Aug 1572, Bartolomeusnag, is hiermee begin. Tussen 5000 en 8000 protestante is in die volgende weke vermoor. Baie moes ter wille van hulle geloof vlug. Sommige van ons stam uit hierdie vlugtelinge, die Franse Hugenote.

Hoe beoefen jy jou geloof? Sien jy die geloof as ‘n romantiese bootvaart op ‘n spieëlgladde dam? Word jy kwaad as iemand die bootjie begin roer? Of is jy ‘n protestant wat jou lewe op stormsee sal waag ter wille van die ware geloof? Op sosiale media is ‘n waarheid geplaas: “Moenie sê jy sal tronk toe gaan vir jou geloof as jy nie eens daarvoor kerk toe gaan nie.” Ons moet goed besef: ware geloof is in meer as een sin ‘n saak van dood en lewe. Dit is dan ook vanoggend ons tema. Ons gee aandag aan: (1) ware geloof is doodsake en (2) ware geloof en lewe.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Ware geloof is doodsake

Het jy al gewonder wat mense in onmoontlike omstandighede in staat stel om buitengewone goed te doen? Enkele voorbeelde:

  • Stefanus was bereid om ter wille van sy geloof in Jesus Christus met klippe doodgegooi te word (Hand 7:56 – 60).

  • Martin Luther het voor die “Reichstag zu Worms”, ‘n formele vergadering van die heilige Romeinse Ryk uitgeroep: “Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. Mag God my help.”

  • Die Hugenote het hulle land ter wille van hulle Gereformeerde geloof verlaat. Party van hulle het hulle aan die Suidpunt van Afrika gevestig. Sommige van ons is nasate van daardie Franse Hugenote.

  • Paulus beskryf van die goed wat hy as apostel van Jesus Christus ervaar het: Vyf maal het … die gebruiklike straf van nege en dertig houe … drie maal … lyfstraf … een maal … met klippe gegooi. … nagte sonder slaap, dikwels honger en dors …, sonder skuiling of bedekking teen die koue (2 Kor 11:24, 25a,27b).

Sal jy bereid wees om sulke ontberings vir jou geloof te ly? Of aktief gestel: Is jy bereid om van die romantiese bootjie op die spieëlgladde geloofsdam oor te klim op een van die drie bootjies waarin Paulus skipbreuk gely het (2 Kor 11:25b)?

Voordat ons antwoord, is dit nodig om te sê mense dat Stefanus, Paulus, Martin Luther en die Hugenote ‘n makliker opsie gehad het. Hulle kon Christus verloën. Elkeen van hulle het die makliker opsie verbygegaan. Wat stel mense soos hulle in staat om sulke ontberings te trotseer?

Paulus praat van die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (2 Kor 13:20e). God se liefde wat Hy in en deur Christus bewys staan vas. Hoor hoe staan dit elders opgeteken: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16). … God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom 5:8).

God bewys sy liefde sigbaar en tasbaar aan ons. Hy het sy Seun vir ons gegee. Sy liefde tree nie eers in werking nadat ons bewys het dat ons dit waardig is nie. Hy betoon sy liefde aan ons as sondaars; as mense wat teen Hom in opstand is, wat uit eie keuse vyande van God is (vgl Rom 5:6 – 10). God se liefde jeens ons is ‘n liefde ondanks ons onwaardigheid; al is ons liefde gebrekkig; al is dit ons aard om sy liefde met haat te beantwoord.

Wat van Jesus Christus? As Hy ons nie werklik liefgehad het nie, sou Hy nooit eens mens geword het nie. Deur mens te word, het Hy sy liefde aan ons bewys. Hy het egter veel verder gegaan. In sy eie woorde: Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê (Joh 15:13). Dat Hy Homself toe nog aan die kruis geoffer het as losprys vir ons sonde bewys God en Christus se liefde vir ons.

Die boodskap van die Woord is duidelik: Christus het vir my en in my plek gesterf. Ek het deur die geloof deel aan Christus se kruisdood. Ek leef in gemeenskap met dié Christus wat vir my aan die kruis gesterf het. Ek kan in die geloof sê dat ek reeds gesterf het, tweeduisend jaar gelede al aan die kruis op Golgota. In die woorde van die apostel: … ek is saam met Christus gekruisig … (Gal 2:19).

Glo jy regtig dat Jesus Christus vir jou gesterf het? Wie dit regtig glo, kan Stefanus, Paulus, Luther en die Hugenote se optrede verstaan. Wie dit regtig glo, sien ook kans vir sy persoonlike offer; sien kans om die romantiese bootjie te verlaat en die stormsee aan te durf terwyl moontlike skipbreuk; die tronk en selfs die dood dreig. Wie dit regtig glo, gaan sit aan die tafel van die Here aan waar Hy deur die tekens van brood en wyn gemeenskap beleef met Christus wat sy lewe vir ons afgelê het. Wie dit regtig glo, is ‘n aktiewe deelnemer aan elke erediens waarin hy saam met die gemeente in gemeenskap tree met die verheerlikte Christus.

Ware geloof en lewe

Aan die kruis en met sy opstanding het Christus die sonde en die dood oorwin. Ek het deel aan sy oorwinning. Ek leef nie meer as ‘n slaaf van die sonde nie. Deur wat Christus vir my gedoen het, het ek die moontlikheid om, onder leiding van die Heilige Gees, ten volle vir die Here en tot sy eer te leef. In die apostel se woorde: … nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe (Gal. 2:20). Hoe kon Paulus dit nog in sy lewe sê? Geld dit ook ons wat nog leef?

Wanneer ‘n mens in lewensgevaar verkeer en iemand red jou daaruit, is jy baie dankbaar teenoor hom. Jou dankbaarheid strek so ver, dat jy ook jou lewe sal waag ter wille van so iemand.

Christus het my en jou uit ons sonde en ellende, onder die swaard van die ewige dood uit, gered. Hy het in die proses die grootste moontlik daad van selfopoffering gedoen. Hy het dit vir my en jou gedoen. Ons is, danksy Jesus Christus se offer nou kinders van God.

Ek en jy moet bereid wees om ons lewe vir Hom te gee. In my hele lewe moet dit gaan om Hom wat vir my gesterf het. Ek moet ook alles moontlik doen om sy eer te bevorder. Ek moet Christus in my laat leef. Dit is wat in ons fokusgedeelte aan die orde is: … nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe (Gal 2:20). Ek gee inderdaad my eie lewe prys. Ek laat Christus in my leef. Hy neem die sentrale plek in my lewe in. Hy bepaal my lewe; alles wat ek doen en ook laat.

As dit nie meer ek is wat leef nie, maar Christus in my, moet ek ook iets van die selfverloëning en selfopoffering openbaar wat Hy aan die dag gelê het. Dit moet nie meer vir my gaan om my eie belang nie. My hele lewe wentel beslis nie meer om myself, my eie ek nie. My eie ek bepaal nie meer my lewe nie.

In navolging van Christus is ek ook bereid om my lewe in diens van ander te gee. Ek moet so ook die gesindheid van Christus in my lewenspraktyk openbaar.

Elkeen van ons wat onsself eerlik hieraan toets, sal nie anders kan nie, as om te sê dat daar so min in my lewe sprake is van Christus wat in my leef. Ek self, my eie belang, my eie ek – en nie Christus nie – neem die sentrale plek in my lewe in. Ek is ook nie regtig in staat om Christus in my te laat leef nie.

Die Heilige Gees woon en werk in my. Sy taak is Christus en sy verlossing in my lewe te laat deurbreek. Danksy sy werk in my, leef Christus nou in my. Dit glo ek. Saam met die apostel sê ek: Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God … (Gal 2:20).

Ek bou my lewe, onder leiding van die Heilige Gees, bewustelik op Christus. Doelbewus sentreer ek my lewe rondom Hom. Die Heilige Gees lei my om Christus hoe langer hoe meer in my te laat leef.

Slot

Swartmaandag het ons met ons kleredrag geprotesteer teen al die geweld en moorde. Op 31 Okt 1517 het Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgenael. Die hervorming het momentum opgebou. Sedert 23 Aug 1572, Bartolomeusnag, is tussen 5000 en 8000 protestante vermoor. Baie moes ter wille van hulle geloof vlug.

Ek het gevra: Hoe beoefen jy jou geloof? Sien jy die geloof as ‘n romantiese bootvaart op ‘n spieëlgladde dam? Word jy kwaad as iemand die bootjie begin roer? Of is jy ‘n protestant wat jou lewe op stormsee sal waag ter wille van die ware geloof? Ons moet goed besef: ware geloof is in meer as een sin ‘n saak van dood en lewe.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 11 05) Ware geloof is ‘n saak van dood en lewe Gal 2 v19e tot 20

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *