(2017 10 29 1e) Werk en rus is God se wil vir die mens Deut 5 v12tot15 ♪

Hierdie tyd van die jaar is gelaai met aktiwiteit. Dis eindeksamen. Jy moet by die werk alles voor die Kersvakansie klaarkry. Dis die een jaareind-afsluitingsfunksie na die ander. Elke dag is ‘n ekstra paar uur nodig en elke week nog ‘n dag of twee. Ons ervaring klop met die Israelietiese slawe s’n in Egipte wat onder die swaar werk gesug en gekreun het (Eks 2:23).

Die Here het sy volk uit Egipte bevry. Sommer gou het Hy bekend gemaak wat Hy van hulle verwag: hulle moes werk – ses dae lank. Op die sewende dag moes hulle rus (Eks 16). By Sinai het God met sy vinger op die kliptafel geskryf: ses dae moet jy werk en een dag moet jy rus (Eks 20:8 – 11). Dieselfde gebod het Hy herhaal toe die volk gereed was om die beloofde land binne te gaan. God handhaaf die ritme: ses dae werk; een dag rus. Vandaar ons tema. Ons let op die twee fasette van die ritme waarin God sy kinders wil laat lewe.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die gebod om te werk

Beide weergawes van die vierde gebod bevat die woorde: Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet ( Eks 20:9; Deut 5:13). Dit is baie duidelik ‘n gebod om te werk. Tog het hierdie gebod ‘n voorgeskiedenis.

Na Josef en sy broers se dood het die Israeliete in Egipte baie geword. Die Egiptenaars het bedreig gevoel. Hulle het die Israeliete hulle slawe gemaak (Eks 1:11). Die Israeliete het gesug en gekreun onder die swaar werk (Eks 2:23). Hulle het tot God gebid.

Moses en Aäron het die farao se toestemming gaan vra dat die Israeliete drie dagreise die woestyn kon intrek om aan die Here hulle God te offer. Die reaksie was om groter produksie van hulle te verwag (Eks 5:5 – 14). Vir die onmoontlike nuwe teikens het die volksleiers Moses en Aäron verkwalik (Eks 5:21).

Uiteindelik het die Here volk uit die slawerny van Egipte verlos. Op pad na die beloofde land het hulle in die Sinaiwoestyn beland. Nadat die Here die bitter water van Mara drinkbaar gemaak het, het Hy gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf (Eks 15:26).

Behalwe ‘n skaarste aan water was daar ook nie kos in die woestyn nie. Die Here het gesê: Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie. As hulle op die sesde dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel (Eks 16:4, 5). Een van die eerste gebooie van die Here aan sy volk in die woestyn was dus: werk!

Dit klop met die Here se kultuuropdrag na die mens se skepping: “… bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip” (Gen 1:28). Elke mens staan tot by die wederkoms van Christus onder hierdie opdrag. Werk is deel van God se plan vir die mens. Hoe belangrik dit is dat ’n mens werk, blyk uit Paulus se vermaning aan die gemeente in Tessalonika wat vas geglo het dat Christus se wederkoms om die draai was en in afwagting daarvan ophou werk het: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en ook: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Tess 3:6, 10). Werk moet ons werk. Dit is die Here se wil vir ons.

Dit is belangrik dat ons die kontras tussen Egipte en die woestyn raaksien:

  • in Egipte het die volk as slawe gewerk. Die Egiptenaars het onmoontlike teikens gestel. Mislukking het gelei tot mishandeling en selfs lyfstraf.

  • In die woestyn moes sy elkeen ses dae van elke week die manna optel wat hulle gesin vir die dag nodig gehad het. Op die sesde dag moes hulle genoeg vir twee dae optel. Die Here sou sy volk se gehoorsaamheid toets (Eks 16:28).

Die Here neem die gebod om te werk by Sinai op in sy wet, die tien gebooie wat Hy met sy vinger op die kliptafels geskryf het (Eks 20:9; Deut 9:10). Toe die volk gereed maak om die beloofde land binne te trek, het die Here sy opdrag om te werk, herhaal.

In die beloofde land moes elkeen sy eie grond bewerk – nie as slaaf nie, maar om te voorsien in wat nodig was. Hierdie kontras is vir ons van belang: aan die een kant werk as slaaf; aan die ander kant werk om in basiese behoeftes te voorsien. Die vraag vir my en jou is: Hoe werk jy? Waarom werk jy soos wat jy werk? Is jou teikens haalbaar?

Die ses dae wat ons werk, doen ons dit voor die Here. Die werk van die ses dae moet tot sy eer strek. Strek jou werk tot eer van die Here? Doen jy jou werk vir die Here (Kol 3:22, 23)?

Die opdrag om te rus

In die woestyn het die Here sy volk beveel dat hulle nie op die sewende dag moes uitgaan om manna op te tel nie. Op die sesde dag moes hulle ‘n dubbele maat optel. Die eertydse slawe wat voluit gewerk en nie hulle teikens kon behaal nie, het die opdrag gekry: julle moet rus! Die Here sluit hierdie gebod in by sy wet by Sinai (Eks 20:10). Voordat sy volk hulle eie landerye en boorde in die beloofde land sou bewerk, het die Here herhaal: julle moet rus (Deut 5:14).

Die Here God roep die mens om te werk en ook te rus. Hy skryf vir ons ’n bepaalde ritme voor: ses dae werk en een dag rus.

Eks 20:11 voer dit terug na die ses skeppingsdae gevolg deur die sewende dag waarop God gerus het. Die Jode wou die vierde gebod gehoorsaam deur lyste taboes vir die Sabbat op te stel. Met Christus se opstanding het die rusdag verskuif Sondag toe. Moet Sondag vir ons ‘n dag van taboes wees? Moet ons op ‘n Sondag leeglê?

Die antwoord maak die Here in sy Woord bekend. Volgens Eks 20:11 moet soos God rus. Wat behels sy rus?

Die digter skryf oor alles en almal in die skepping: Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd. U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg. Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof (Ps 104:27 – 30). Toe die Jode teen Jesus te velde trek omdat Hy die man wat dertig jaar gestremd was op die sabbatdag genees word, het sy verweer ingesluit: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook (Joh 5:17). Van die Seun lees ons: Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand (Heb 1:3). Op grond van hierdie en ander Skrifgedeeltes bely ons by herhaling dat God sy skepping altyd bly onderhou en daaroor regeer (HK 9:26; 10:27, 28). Hy is ook besig om sy kerk van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou (HK 21:54).

Waarom sou God sy skepping onderhou en daaroor regeer? Waarom is Hy besig om sy kerk te vergader, beskerm en onderhou? Ons sien: God wat liefde is, het die wêreld so liefgehad dat Hy sy Seun gestuur het sodat die wêreld gered kan word; die ewige lewe kan hê (Joh 3:16, 17; 1 Joh 4:8 – 10). Liefde is God se dryfveer. Liefde is ook Jesus se dryfveer.

As ons doen soos God, sal ons nie op die rusdag leeglê nie. Wat ons elke dag – ook op die rusdag – doen en laat, moet altyd in die teken staan van God se groot dryfveer, die liefde. Die liefde laat ’n mens vra: Here, wat, wil U hê, moet ek op die rusdag en op elke werksdag doen? Ook die rusdag moet moet ons positief gebruik volgens God se bedoeling.

Deut 5 bring ‘n nuwe faset van die vierde gebod na vore: Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou (Deut 5:15). Ons is sondaars wat verlos is deur die verdienste van ons Here Jesus Christus. Op die rusdag moet ons telkens weer die pak van ons sondes aan die voet van die kruis van Christus neerlê in die vaste vertroue dat Hy die losprys daarvoor volledig aan die kruis betaal het.

As verloste sondaars is ons geroep tot ’n lewe van dankbaarheid voor die Here. Die lewe van dankbaarheid is ’n lewe van bekering; ’n lewe van hoe langer hoe meer teen die sonde te stry en hoe langer hoe meer tot eer van die Here te leef. Dat die kategeet dit ook in gedagte het wat die vierde gebod betref, blyk uit die stelling dat ons al die dae van ons lewe moet rus van ons bose werke (HK 38:103).

Elke rusdag moet ons daaraan herinner dat ons die Here op elke dag van die week met oorgawe moet dien; dat ons elke dag teen die sonde moet stry – en oorwin; dat ons elke dag van alles wat verkeerd is, moet rus.

Om my en jou hiertoe in staat te stel, het die Here God sy Gees gegee. Hy woon in ons. Hy werk in ons. Hy lei ons. Die doel van die rusdag is dan nie om leeg te lê nie, maar om deur die Heilige Gees en omgang met die Woord van die Here toegerus te word om ook op die ses dae ons werk te doen asof ons dit vir die Here doen.

Wie die rusdag só vul, het geen tyd vir nostalgiese gevoelens nie; sal geen vervelige oomblik hê nie. Wie dit doen, ontdek dat die Sondag te kort raak; te gou verbygaan; te vol aktiwiteit is. Wie die vierde gebod só nakom, ontdek dat dit ’n saak is van wat ek mag of moet.

Wie die rusdag só vul, weet dat die erediens ‘n geleentheid is wat ‘n mens nie kan bekostig om mis te loop nie. Ons is in die erediens nie passief nie, maar aktief besig om die Here God te dien, omdat ons Hom bo alles liefhet. Waar ons in die erediens byeenkom, sien ons die verband tussen die rusdag en die werkdag raak. Ons kom put in die erediens krag vir die lewe van die geloof in die werkdae wat daarop volg.

Slot

Hierdie tyd van die jaar is daar soveel om te doen: eindeksamen, werksdruk voor die Kersvakansie, die een jaareind-afsluitingsfunksie na die ander. Hierdie tyd voel ons soos die Israelietiese slawe in Egipte: ons sug en kreun.

Die Here het sy volk uit Egipte bevry. Sommer gou het Hy bekend gemaak wat Hy van hulle verwag: hulle moes werk – ses dae lank. Op die sewende dag moes hulle rus (Eks 16). By Sinai het God met sy vinger op die kliptafel geskryf: ses dae moet jy werk en een dag moet jy rus (Eks 20:8 – 11). Dieselfde gebod het Hy herhaal toe die volk gereed was om die beloofde land binne te gaan. God beveel ons: handhaaf die ritme van ses dae werk; een dag rus.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 10 29) Werk en rus is God se wil vir verlostes Deut 5 v12tot15

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *