(2017 10 22 2e) Die vrou in God se plan – Vergissing of beskikking? 2 Kron 34 v23tot28 ♪

Inleiding

Ons staan tydens die aanddienste stil by die plek van die vrou in God se plan.

Gulda was ‘n profetes tydens koning Josia se regering. Toe die wetboek van die Here aan Josia voorgelees is, het hy sy klere geskeur. Hy het ‘n afvaardiging gestuur om die Here te raadpleeg oor die inhoud van sy wet. Sy afvaardiging is toe na Gulda toe – die profetes.

Waarom juis na Gulda toe? Waarom nie na een van die destydse manlike profete nie? In Josia se regeringstyd was daar twee manlike profete wie se boeke in die Ou Testament opgeteken is. Sefanja was bekend as ‘n profeet wat onheil vir God se volk voorspel het. Gilkija se seun, Jeremia, was ook ‘n profeet. Hy het na Josia se dood ‘n treurlied oor hom gedig (35:25).

Die noodwendige vraag oor hierdie afvaardiging van Josia is: was hulle optrede ‘n vergissing, of het die Here God dit juis so beskik? Ons tema is daarom die vraag: Vergissing of beskikking? Ons fokus agtereenvolgens op (1) die aanloop; (2) die profetes verskyn op die toneel en (3) die inhoud en afloop van die boodskap

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die aanloop

Josia het op agtjarige leeftyd koning van Juda geword. Toe hy sestien was, het hy die Here begin dien. Op ses en twintig het hy opdrag gegee dat die Here se tempel herstel moes word. Tydens hierdie herstelwerk het die hoëpriester, Gilkija, die wetboek ontdek. Hy het dit aan die staatsekretaris, Safan, oorhandig.

Safan het dit aan koning Josia voorgelees. Josia het gehoor van die straf wat die Here aangekondig het indien sy volk sy voorskrifte in die wind sou slaan, ander gode sou dien, of beelde sou maak wat hulle aanbid. Toe hy dit hoor, het hy die erns van die situasie besef. Hy het sy mense geken. Hy het geweet dat hulle skuldig was. Hy het besef dat hy en sy volk in groot moeilikheid was.

Hoe hy het reageer? Toe die koning hoor wat die wet sê, het hy sy klere geskeur (2 Kron 34:19). Hy het gerou oor wat hy lees; gerou oor die skuld van God se volk. Hy het gerou oor dit wat die volk hulself met hul diens aan afgode en beelde op die hals gehaal het.

Nie net het hy sy voorvader, Dawid se voorbeeld nagevolg in sy troue diens aan die Here nie, hy het ook Dawid se voorbeeld gevolg nadat die Here by monde van die profeet Natan aangekondig het dat die seun wat vir hom en Batseba gebore is, met die dood sou boet weens hul sondes. Dawid het met sy verootmoediging probeer om die Here daartoe te bring om nie die straf wat Hy laat aankondig het, te volbring nie.

Koning Josia het maar een oplossing gehad vir die onmoontlike situasie waarin hyself en die volk hulself bevind het. Hy het besef dat daar maar Een is na Wie toe hy kon gaan. Hy stuur toe ‘n afvaardiging met die opdrag dat hulle die Here moes gaan raadpleeg.

Die profetes verskyn op die toneel

Sonder nadere verklaring kom hierdie afvaardiging in die nuwe gedeelte van Jerusalem uit by Gulda, die vrou van die klerebewaarder Sallum. Sy was ‘n profetes (2 Kron 34:22). Ons lees ook van ander profetesse in die Bybel. Hoewel hulle minder as hul manlike eweknieë tel, was hulle onmiskenbaar daar. So lees ons van Mirjam (Eks 15:20), Debora (Rigt 4), Noadja (Neh 6:14); Anna by die Jesus-kind (Luk 2:36) en die dogters van Filippus (Hand 21:9).

n Geleentheid tot terugkeer uit verskriklike afval het aangebreek. Die afval kon daar en dan gestuit word. Die moontlikheid het bestaan dat die volk hulle weer tot die Here God kon bekeer, Hom met oorgawe kon begin dien. Dit was ‘n waterskeiding in die geskiedenis van die tweestammeryk, Juda.

Is die feit dat die afvaardiging van koning Josia in daardie kritieke tyd by die profetes, Gulda uitgekom het, ‘n menslike vergissing in ‘n tyd van afval of is dit ‘n Goddelike beskikking?

Waarom het hulle nie na een van die twee die manlike profete wat in Josia se regeringstyd opgetree het, gegaan nie? Sefanja was bekend as ‘n profeet wat onheil vir God se volk voorspel het. As iemand sou sê dat die afvaardiging nie van ‘n manlike profeet bewus was nie, kan ons sê: Gilkija se seun, Jeremia, was ook ‘n profeet. Na Josia se dood het hy ‘n treurlied oor Josia gedig (35:25). Waarom het hierdie besondere afvaardiging van alle mense juis by ‘n vroulike profeet uitgekom?

Dit is allermins toevallig dat die afvaardiging juis by Gulda uitgekom het. Iemand groter as ‘n mens het daardie besluit geneem, het die voetstappe van die afvaardiging juis tot by Gulda toe gelei.

Een ding staan vas: Ek en jy mag nie voorwaardes stel vir God se boodskap aan ons nie. Ons mag nie eis dat die inhoud van die boodskap ons moet pas nie. Ons moet ook nie voorwaardes stel betreffende die Here se boodskapper nie. Die gemeente in Korinte het hulle voorkeure gehad: die een vir Paulus, die ander vir Apollos. Die apostel Paulus het hulle skerp tereggewys. Hulle was gefokus op die een wat plant of die een wat natmaak. Hulle het die groot werklikheid misgekyk: dit is God wat laat groei. Volgens hom het dit gewys dat hulle nog wêrelds was (1 Kor 3:4).

Wanneer die Here sy boodskap aan die adres van mense rig, is daar net een moontlikheid: buig ootmoedig voor die Here, aanvaar beide boodskapper en die boodskap, wie ook al die boodskapper en wat die boodskap ook al behels, onvoorwaardelik. Die ootmoedige mens buig nie voor die menslike tussenganger of boodskapper nie. Hy buig voor God wat die boodskap stuur.

Die afvaardiging van koning Josia en die koning self moes dit doen. Die Here het dit van hulle verwag. Natuurlik kan ‘n mens vra of die Here dit nie juis so beskik het dat die afvaardiging van die koning by Gulda uitgekom het, om hulle verder die wildernis in te voer nie? Was sy doel nie om daarmee duidelik te kenne te gee dat Hy nie meer ag slaan op sy volk nie, dat Hy hulle wat soveel jare lank in ontrou jeens Hom volhard het, finaal verwerp het? Wil ‘n mens hierdie vraag beantwoord, moet jy let op die inhoud van Gulda se boodskap en ook op die afloop daarvan.

Die inhoud en afloop van die boodskap

By geleentheid het ‘n profeet genaamd Gananja Jeremia se aankondiging van die komende ballingskap teengespreek. Hy was ‘n vals profeet wat die volk probeer oortuig het dat Jeremia te pessimisties was. Hy het met sy lewe daarvoor geboet.

Waar het Gulda in hierdie prentjie gepas? Sy het vir Josia se afvaardiging gesê dat die vervloekinge wat in die boek wat gevind is, beskryf is, inderdaad die Here se program vir sy afgedwaalde volk was. Haar profesie het nie inhoudelik van dié van Sefanja of Jeremia verskil nie. Ons kan dus sê dat, wat inhoud betref, haar boodskap met dié van haar manlike tydgenote geklop het. Sy het die Woord van die Here getrou verkondig.

Wat was die afloop van Gulda se profesie? In haar onheilsprofesie was daar tog ‘n ligpunt. Sy het in die Here se Naam vir Josia gesê dat hy self in vrede graf toe sou gaan, omdat hy hom voor die Here verootmoedig het.

Ons lees egter dat Josia by Megiddo aan die hand van boogskutters gesterf het (35:23). Dit was nie omdat Gulda ‘n valse profeet was nie, maar omdat Josia by daardie geleentheid aan die Here ongehoorsaam was (35:22).

Daar is dus maar een gevolgtrekking moontlik: Dit was dus danksy die beskikking van God dat Josia se afvaardiging juis by die profetes, Gulda, uitgekom het. Sy was ‘n ware profeet van die Here. Sy het sy Woord onvervals aan Josia se afvaardiging oorgedra.

By haar het hulle gehoor dat die Here se oordeel oor sy volk vas staan. Hy sou dit egter nie onmiddellik voltrek nie. Hy het die voltrekking van sy oordeel uitgestel! Die Here het steeds aan die eise van sy verbond wat in die wetboek te vinde is, gehandhaaf. Josia sou egter nie al die kwaad sien wat daarin opgeteken staan nie. Ter wille van sy berouvolle belydenis sou die Here die koning spaar.

Die boodskap dat God sy oordeel uitstel, is eie aan Hom wat genadig is. Hy het die voltrekking van die oordeel selfs oor die Amoriete 400 jaar lank uitgestel, totdat hul goddeloosheid sy volle maat sou bereik (Gen 15:16). God handel nooit oorhaastig nie. Op die tyd wat Hy bepaal, die regte tyd, voltrek Hy sy oordeel soos Hy wil en oor wie Hy wil.

Ons moet deeglik kennis neem daarvan dat God in sy genade sy oordeel uitstel. Ons bely op grond van die Woord dat Christus weer kom om die wat nog leef en die wat reeds gesterf het, te kom oordeel. Tog bly dit eeue lank uit. Die apostel sê vir ons: Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ‘n dief kom (2 Pet 3:9, 10a).

Ek en jy moet, onder leiding van die Heilige Gees, die genadetyd wat die Here aan ons verleen, uitkoop. Ons moet ons nie blind staar teen die menslike boodskapper nie, of dit man of vrou, jonk of oud, mooi of lelik is. Sien die Here raak, die Een wat stuur, die Een wat praat! Aanvaar sy boodskap met die hele hart in geloof en vertroue.

Slot

Gulda was ‘n profetes tydens koning Josia se regering. Toe die wetboek van die Here aan Josia voorgelees is, het hy sy klere geskeur en ‘n afvaardiging gestuur om die Here te raadpleeg oor die inhoud van sy wet. Sy afvaardiging het juis by Gulda, die profetes, uitgekom.

Hierdie afvaardiging van Josia se optrede was geen vergissing nie, die Here God het dit juis so beskik. Hy het sy genadetyd vir Josia en sy volk aangekondig. Ek en jy moet, onder leiding van die Heilige Gees, die genadetyd wat die Here aan ons verleen, uitkoop. Sien die Here raak, die Een wat stuur, die Een wat deur sy boodskapper praat! Aanvaar sy boodskap met die hele hart in geloof en vertroue.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 10 22) Die vrou in God se plan – Vergissing of beskikking? 2 Kron 34 v23 tot 28

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *