(2017 10 15 1e) Groot vreugde oor een bekeerde Luk 15 v1tot7 ♪

Waar bevind ek en jy ons in God se groot plan om sondaars te verlos? Tydens sy aardse bediening het Jesus mense – kerkmense – getroos, maar ook gewaarsku. As die Here en Koning van sy kerk troos en waarsku Hy steeds kerkmense, mense soos ek en jy.

Sy troos is dat Hy gekom het om sondaars tot bekering te roep (Luk 5:32), dat Hy die goeie Herder is wat verlore skape soek en terugbring. Die Fariseërs en skrifgeleerdes, die destydse kerkleiers, het beswaar gemaak dat Jesus sondaars ontvang en selfs saam met hulle eet. Jesus wou hulle perspektief verander. Sou hulle perspektief verander, sou hulle beswaardheid plek maak vir blydskap.

Jesus se waarskuwing behels dat die kerkleiers van destyds en ons, kerkmense, uit sy perspektief moet kyk na God se groot plan om sondaars te verlos. Dit bring ons by ons tema: Groot vreugde oor een bekeerde sondaar. Ons fokus op die volgende fasette: (1) die aanloop; (2) die gelykenis en sy betekenis en (3) die slotsom

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die aanloop

Hierdie gelykenis kom in beide Matteus en Lukas voor. Matteus praat van “kleintjies” en bedoel daarmee kinders en mense wat onkundig oor die wet van God was (Matt 18:14). Lukas praat weer van ‘n sondaar wat hom bekeer en maak die gelykenis saam met dié oor die verlore muntstuk (:15 – 18) ‘n gelykenispaar wat as inleiding dien tot die gelykenis van die verlore seun (Luk 15:11 – 32). Jesus het waarskynlik dieselfde gelykenis by meer as een geleentheid en in verskillende omstandighede vertel. Lukas skets die omstandighede: Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle” (Luk 15:1, 2). Jesus het met twee groepe mense te make gehad:

  • die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom luister.

Jesus het die randfigure soos tollenaars en prostitute in die destydse samelewing na Hom toe getrek. Nadat Hy die tollenaar, Levi / Matteus, as dissipel geroep het, het dié ter ere van Jesus ‘n groot feesmaal in sy huis aangebied. Toe al het die Fariseërs en Skrifgeleerdes gekla omdat Jesus saam met tollenaars en sondaars eet. Jesus se antwoord by daardie geleentheid was: Dié wat gesond is, het nie die dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is te roep nie, maar sondaars (Luk 5:31, 32). Die vraag is: verstaan ek en jy dat Jesus ook in ons tyd sondaars roep?

  • Die Fariseërs en skrifgeleerdes het hulle mes vir Jesus in gehad. Hulle het verskeie strydgesprekke met Hom gevoer.

So het hulle in Luk 15 by sy dissipels beswaar gemaak dat Hy met die randfigure omgaan. In reaksie hierop het Jesus die gelykenis vertel van die man wat 100 skape gehad het waarvan een weggeraak het.

In die Bybel kom die beelde van die herder en sy kudde herhaaldelik voor om die verhouding tussen God en sy volk te teken. Israel is soos skape sonder herder (Eseg 34:1-6; Matt 3:36). Die Here is die Herder wat hulle versamel en versorg (Ps 23, 80, 95, 100; ook Joh 10:1-16; 1 Pet 2:25). Die skrifgeleerde en Fariseër wat die verhaal van die herder en sy 100 skape hoor, sou dit besef. Hulle sou die betekenis van hierdie gelykenis goed kon verstaan.

Die gelykenis en sy betekenis

In die bergstreek van Galilea het die mense met skape geboer. Hulle het goed geweet ‘n goeie herder sou dadelik besef ‘n skaap wat weggedwaal het, is in die moeilikheid en het hom nodig. Hy sou eenvoudig die 99 los en die een wat weggeraak het, gaan soek. Dit sou die spontane antwoord wees op die vraag: Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan (Luk 15:3)?

Dit is opvallend dat Jesus glad nie die woord herder gebruik nie. Hy praat van een van julle. Hy klim by wyse van spreke in hulle skoene. Hy doen dit doelbewus. Hy beoog om hulle in ‘n a1an die herder, sy vriende en bure dat die afgedwaalde skaap weer gevind is. Lukas plaas die vreugde skerp in fokus. Hy wil dat die kerkleiers se beswaardheid plek maak vir blydskap.

Dit was in die tyd van Jesus se aardse bediening maklik en eenvoudig om te sien dat die tollenaars en sondaars verlorenes was. Niemand kon daaraan twyfel nie. Hulle was uit die Joodse samelewing uitgestoot. Hulle was die randfigure. Geen ordentlike Jood sou hom met hulle ophou nie.

Jesus was anders. Hy het Hom met die randfigure opgehou. Hy het hulle nie net verdra nie, maar hulle onderrig, saam met hulle geëet. Hy het dit gedoen, omdat Hy na die verlore skape van die huis van Israel gestuur is (Matt 15:24). Hy is die goeie Herder wat sy skape ken en selfs sy lewe vir hulle aflê (Joh 10:15). Hy is die goeie Herder wat die skaap wat afgedwaal het, gaan soek. In die proses het Hy nie net sy lewe ter wille van die verlore skape op die spel geplaas nie. Hy het sy lewe selfs vir hulle afgelê.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes het hulleself nie gesien as verlore skape nie. Hulle saak met God was, wat hulle betref, reg. Hulle het immers nougeset volgens sy wet geleef.

Was hulle in werklikheid reg en regverdig voor God? Nie volgens die Skrif nie. Immers: Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig nie (Pred 7:20, vgl ook Rom 3:10). en Almal het afgedwaal, die laaste een het ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie (Ps 14:3 en 53:4 vgl Rom 3:12). Elkeen van die vroom Fariseërs en skrifgeleerdes wat die tollenaars en sondaars verag het, was self ‘n verlore skaap. Jesus bring hulle te staan voor hulle eie sonde en sondeskuld.

Het jy al jouself al bevind in die situasie van ‘n verlore skaap van die Here se kudde? Elkeen van ons is op ‘n tydstip die verlore skaap. Jesus troos ons in hierdie gelykenis met die versekering: Juis die verlorenheid van die skaap spreek Hom as goeie Herder aan. As goeie Herder soek Hy elke verlore skaap. Hy bring ons elke keer weer terug by sy kudde.

Die slotsom

Jesus plaas die blydskap oor die terugkeer van die verlore skaap sterk op die voorgrond: En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry’ (Luk 15:5, 6). Sou die vriende en bure nie saam met die Herder-eienaar bly wees nie, sou hulle optrede onvriendelik, onnatuurlik wees – selfs onmenslik. Jesus het die Fariseërs en skrifgeleerdes met die vraag gekonfronteer: waarom is julle nie saam bly oor iets veel groter as ‘n verlore skaap wat gevind is nie: ‘n sondaar wat tot bekering kom?

Opvallend gebruik Jesus die terme vriende en bure om sy verhouding met sy godsdienstige teenstanders uit te beeld.

Jesus verskuif sy aandag daarmee volledig na die destydse kerkleiers toe. Daarmee betoon Hy Hom ook goeie Herder vir hulle. Hy wou juis hulle van perspektief laat verander. Hulle moes hulleself en ook die tollenaars en sondaars sien as verlore skape wat ervaar dat die goeie Herder hulle soek en terugbring by sy kudde. Hy weet, sou hulle perspektief verander, sou hulle beswaardheid oor die sondaars en tollenaars plek maak vir blydskap.

Hy sluit die gelykenis van die verlore skaap af met die plegtige versekering: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie (Luk 15:7). Die engele in God se teenwoordigheid stel met hulle blydskap die voorbeeld vir ons. Ek en jy wat weet ons is uit genade alleen, deur die verdienste van Christus alleen uit ons sonde verlos, daaroor bly wees, maar ook bly wees oor elke medesondaar wat tot bekering kom.

Jesus waarsku die Fariseërs en skrifgeleerdes en ook ons: verruil julle aardse perspektief vir die hemelse; laat julle beswaardheid plek maak vir ware blydskap – vrug van die Gees se werk in die verloste sondaar. Juis deur hierdie geleentheid aan die wat beswaard was, te bied, betoon Jesus Hom as die goeie Herder wat die skaap wat, sonder dat hy dit besef, die pad byster is, wil terugbring kudde toe. Ken jy Jesus regtig as goeie Herder vir jou?

Slot

Waar bevind ek en jy ons in God se groot plan om sondaars te verlos? Tydens sy aardse bediening het Jesus mense – kerkmense – getroos, maar ook gewaarsku. As die Here en Koning van sy kerk troos en waarsku Hy steeds kerkmense, mense soos ek en jy.

Sy troos is: Hy het gekom om sondaars – dit is elkeen van ons – tot bekering te roep (Luk 5:32). Hy is die Goeie Herder wat verlore skape soek en terugbring.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes, die destydse kerkleiers, het beswaar gemaak dat Jesus sondaars ontvang en selfs saam met hulle eet. Jesus wou hulle perspektief verander. Sou hulle perspektief verander, sou hulle beswaardheid plek maak vir blydskap. Sy waarskuwing behels dat die kerkleiers van destyds en ons, kerkmense, uit Jesus se perspektief moet kyk na God se groot plan om sondaars te verlos. Kyk ons uit sy perspektief, sal ons bly wees oor elke sondaar wat hom bekeer.

AMEN

Indien jy na die bespreking van die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ► (2017 10 15) Groot vreugde oor een bekeerde sondaar Luk 15 v1tot7

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *