(2017 09 17 2e) Wat ons aan die Here het en wat Hy van ons verwag Deut 10 v10tot22 ♪

Wederkerigheid is eie aan elke verhouding: ek en my hond, getroudes, verliefdes, vriende, kollegas, lede van ‘n sportspan …

Wat van ons verhouding met die Here? Natuurlik verwag ek en jy sekere goed van Hom. Die wederkerigheid eie aan elke verhouding bring elkeen van ons voor die vraag te staan: Is jy bereid om te vra: wat verwag die Here van my? Wat is sy wil vir my? Is jy bereid om te doen wat Hy van jou verwag? Is jy bereid om opofferings te maak om in te val by sy wil vir jou? Ons tema vanaand: wat ons aan die Here God het en wat Hy van ons verwag

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Wat ons aan die Here God het

Ons fokus eerstens op wat ons fokusverse van God sê. Dit blyk: Hy is groot, genadig en goed.

God is groot

Die grootheid van die Here word in geen onduidelike taal nie, uitgespel: die HERE julle God is die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God … (Deut 10: 17).

Wat Hy ook al doen en met wie en waarmee Hy dit doen, is sy volle reg. Immers: Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is (Deut 10:14, kyk ook na Ps 24:1). Wanneer die Here God handel, handel Hy met sy skepping, met sy eiendom. As die groot en enigste eienaar het Hy die volle reg op alles en elkeen.

Daar is niemand in die hemel en op die aarde aan wie Hy verantwoording doen nie. Hy is die enigste God. Hy kan doen wat Hy wil.

Tog handel Hy nie willekeurig nie. In sy handelinge met sy skepping en ook met die mens handel die Here altyd en in alle omstandighede getrou en regverdig. Ons weet dat Hy nie die persoon aansien nie en juis getrou sorg vir hulle wat nie geag word nie – in die tyd van die Ou Testament die weeskind, weduwee en die vreemdeling (Deut 10: 17, 18).

(God is genadig)

Die volk, Israel, met wie die Here sy verbond van genade deur die aartsvader, Abraham, gesluit het, was nie beter of groter as die ander volkere nie. Inteendeel – Israel was die geringste. Tog het die Here Israel uitverkies as sy volk (Deut 7:7). Moses sê hier in die Naam van die Here vir die volk voor die poorte van die beloofde land: … net aan jou vaders het die HERE ‘n welgevalle gehad om hulle lief te hê … (Deut 10:15). Ook die feit dat ons vandag as gemeente van die Here hier byeen is, is alleen te danke aan God se uitverkiesende genade wat Hy in en deur Christus aan ons bewys. Hy het ons uit ons sondes verlos. Die lewe in sy volheid is ons deel – danksy God se onbegryplike genade.

Asof dit nie wonderlik genoeg is nie, sien ons ook:

God is goed

Die Here neem nie net ons wat glo aan as sy kinders nie. Hy sluit sy verbond met Abraham en sy nageslag as ‘n ewige verbond. Die Here stort sy genade oor ons uit en laat dit oorspoel op ons kinders. Hy laat sy dienaar, Moses, dit vir sy volk uitspel: … Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is (Deut 10:15).

Hy wat kan doen wat Hy wil, sê vir ons dat Hy ons en ons kinders as sy kinders aanneem. Ten einde ons in ons swak geloof te hulp te kom, het Hy ook ‘n simbool en waarborg van sy verlossende handelinge met ons en ons kinders gegee. Hy het ‘n teken en seël van sy genadeverbond gegee. Aan Abraham en sy nageslag het God die besnydenis gegee en aan ons, in die plek van die besnydenis, die heilige doop (Kol 2:11, 12).

Wat is vir ‘n ouer belangriker as die welsyn van sy kind? As gelowige ouers kan ons weet: die Here God waarborg met die heilige doop: my kind is syne en bly tot in ewigheid toe syne.

Wat die Here God van ons verwag

Dit word vir ons duidelik uitgespel: En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan (Deut 10:12, 13)? Dit klink veel eenvoudiger as wat dit in werklikheid is. Ons moet immers onthou dat Moses dit sê vir ‘n volk wat, vanweë hul voorvaders se sonde, 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf het. Die goddelose en ongehoorsame geslag moes eers uitsterf, voordat God se volk die beloofde land kon binnegaan. Moses vermaan dan ook hierdie geslag wat op die punt staan om die beloofde land binne te trek: verhard julle nek nie verder nie (Deut 10:16).

Israel sou binnekort tussen die heidenvolke woon. Die glorie van oorwinning (Deut 7) voorspoed en ongekende styging in lewensstandaard (Deut 8) hou gevare in: die gevaar dat hulle hul identiteit as God se volk kon verloor, die gevaar van valse trots en eiewaan (Deut 9); die gevaar dat hulle God buite rekening sou laat.

Ons is nie beter daaraan toe as Israel van ouds nie. Elkeen van ons het as sondaar in die wêreld gekom; ons laat daagliks na om te doen wat die Here van ons verwag en doen ook nog wat direk strydig is met God se wil, soos in sy Woord geopenbaar. Ja, ons sonderekening moet eintlik al hoe langer word, soos wat die Alwetende God die een inskrywing na die ander byvoeg.

Tog word die inskrywings nie meer nie, eenvoudig omdat die Regverdige God daarmee gehandel het. Hy het ons skuldbrief aan die kruis van sy Seun vasgespyker. Die dood wat ons verdien vir ons goddeloosheid, het Christus aan Golgota se vloekhout gesterf. Daarop moet ons telkens weer fokus. Daaroor kan ons ons telkens weer verbly. Op grond daarvan kan ons ook die toekoms in vaste vertroue tegemoet gaan. Dié God wat sy enigste Seun vir ons gegee het, skenk ons in genade saam met Hom alles wat ons nodig het.

Die volk, Israel, kon die verlede in oënskou neem en as rigsnoer vir die toekoms gebruik. Moses vermaan hulle: “Onthou!” “Moet nie vergeet nie”. Onthou Egipte (Deut 7:18). Onthou hoe julle werklik was (Deut 9:7). Dink aan die liefde van God, sy mag, sy voorsiening, sy wet, sy oordeel. En laat daardie onthou julle nederig, gelowig en gehoorsaam hou (Deut 10 & 11).

Hieruit is dit duidelik dat dit selfs nie vir ‘n verbondskind maklik is om te leef soos wat die Here van ons verwag; om die verbondseise wat ons troue Verbondsgod aan ons stel, te gehoorsaam nie. Diegene wat nie luister na die eise van die genadeverbond nie, het ‘n onbesnede oor (Jer 6:10). Ja, ten spyte dat ons selfs die teken van God se genadeverbond ontvang het, loop ons die gevaar om strydig met die eise van die verbond te leef.

Die uiterlike verbondsteken is nie die een en al nie. Dit verg van my as verbondsmens: Ek moet vra na die wil van die Here in elke faset van my lewe en ek moet dit ook van harte doen. Doen ek dit nie, moet ek kennis daarvan neem dat die Here praat van sy volk wat besny is, maar tog onbesnede. Die Here waarsku dat Hy hulle wat nie die innerlike hartsgesteldheid van die verbondsmens het nie, aan sy oordeel sal onderwerp: Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek besoeking sal doen oor almal wat besny is, wat nogtans onbesnede is … (Jer 9:25, 26; 10:1).

As jy ‘n mens is wat wél op ‘n stadium in jou lewe die doop as teken van God se genadeverbond ontvang het, maar jou diens aan die Here is nie heelhartig en getrou nie, moet ons gehoor gee aan die opdrag van die Here aan sy verbondsvolk, by monde Moses: Besny dan die voorhuid van julle hart …. (Deut 10:16).

Tog gee die Here elke keer wat Hy vra. Moses gee in die Here se Naam die versekering: die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe (Deut 30:6). Die apostel Paulus sê weer: Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie (Fil 3:3).

Ek en jy moenie op onsself vertrou nie. Ons moet ook nie ons vertroue stel in die uiterlike teken van God se genadeverbond nie. Nee, ons moet, onder leiding van die Heilige Gees luister na die Woord van die Here, in geloof en gehoorsaamheid ook daarop antwoord. Dan leef ons as verbondsmense. Dan kan ons die beloftes van God se genadeverbond gelowig vir onsself en ons kinders toeëien. Dan is ons harte ook besny.

Slot

Wederkerigheid is eie aan elke verhouding – ook aan ons verhouding met die Here. Natuurlik verwag ek en jy sekere goed van Hom. Die wederkerigheid eie aan elke verhouding konfronteer elkeen van ons: Is jy bereid om te vra: wat verwag die Here van my? Vra jy wat sy wil vir jou is? Is jy bereid om te doen wat Hy van jou verwag? Is jy bereid om opofferings te maak om in te val by sy wil vir jou? Ons tema vanaand handel oor wat ons aan die Here God het en wat Hy van ons verwag

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 09 17) Wat ons aan die Here God het en wat Hy van ons verwag Deut 10 v10 tot 22

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *