(2017 09 03 1e) Liefde vir waarheid en vrede raak die wereld Sag 8 v14tot23 ♪

Watter verskil maak Christene vandag in die wêreld: … in Suid-Afrika; … ons hier in Vereeniging; … jy waar jy bly en werk?

Waarskynlik is die antwoord elke keer: “weinig”. Ons handhaaf ‘n lae profiel. Ons bly stil eerder as om die waarheid te praat. Ons motivering: “ter wille van die liewe vrede”. Daarmee stel ons waarheid en vrede teenoor mekaar.

Opvallend sê die Here vir sy volk dat hulle beide waarheid en die vrede moet liefhê (Sag 8:19e, 1953 en direkte vert). Die Here vertel ook sy volk kaalkop die waarheid. Hy het, in reaksie op die voorouers van sy volk wat Hom kwaad gemaak het, besluit om hulle sleg te behandel en hy het geen medelye met hulle gehad nie (Sag 8:14). Op die tydstip van Sagaria se optrede het Hy besluit om hulle goed te behandel (Sag 8:15). Hulle kon daarop reken.

Die Here se verhouding met ons moet ook ons verhoudings met mekaar kenmerk. Ons moet die waarheid onder mekaar praat en regspraak beoefen wat waar is en tot vrede lei (Sag 8:16).

Doen ons dit, sal dit die wêreld raak. Stede en nasies sal na die Here se wil kom vra. Ons tema vanoggend: Liefde vir waarheid en vrede raak die wêreld. Die hoofsake wat ons aandag vra: (1) die waarheid in die Here se verhouding met ons; (2) liefde vir waarheid en vrede in ons lewens (3) die reaksie van die wêreld

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die waarheid in die Here se verhouding met ons

By monde van sy profeet plaas die Here die kollig op sy verhouding met sy volk wat uit die ballingskap teruggekeer het. Hy fokus eers op die verlede: waarom is die volk in ballingskap weggevoer? Die Here beantwoord hierdie vraag op die man af: Omdat julle voorvaders my toorn laat ontvlam het, het Ek besluit om julle kwaad aan te doen, en Ek het nie die straf herroep nie, sê die Here die Almagtige (Sag 8:14). Hulle voorvaders se ontrou en ongehoorsaamheid aan die Here was die rede vir die sewentig jaar in die Babiloniese ballingskap.

Teenoor die negatiewe van die verlede stel die Here die positiewe: Hy wil goed doen aan sy volk. Hulle gaan sy liefde en genade ervaar. Die Here laat nie die mens se sonde die laaste woord spreek nie. Nooit berus Hy in die mens se opstand teen Hom nie. Hy wat goed is sonder end, kan nie anders nie, as om goed te doen – selfs aan die mens wat dit nie verdien nie.

Dit sien ‘n mens reeds vroeg in die mensdom se geskiedenis: Toe Adam en Eva na die sondeval vir Hom probeer wegkruip, het Hy hulle geroep. Nadat Hy die goddelose mensdom met die sondvloed uitgedelg het, het Hy nuut met Noag en sy gesin begin. Hy het Abraham en sy nageslag as sy volk uitgekies en sy genadeverbond met hulle gesluit. Eeue lank het Hy, ten spyte van hul ontrou, aan hulle getrou gebly.

Selfs toe die volk weens hulle ontrou in ballingskap weggevoer is, het die Here ook hulle terugkeer in vooruitsig gestel. Hy teken deur sy profeet die nuwe omstandighede waarin sy volk sou leef. Die dae wat opsygesit is om te vas en te rou het, sou dae van blydskap en vreugde word (Sag 8:19). In die voltooiing van die tempel en die hervorming van Esra en Nehemia het ons wel iets van die vervulling van die Here se beloftes deur Sagaria gesien.

Soos elke ander verandering, was ook hierdie een nie standhoudend nie. Die probleem bly die mens se sondigheid. Uiteindelik is daar vir die sondaar net een hoop om werklik in ‘n nuwe verhouding met God te staan: God het sy Seun gestuur om ons met Hom te versoen, om vrede tussen ons en Hom te bewerk. Jesus Christus het met sy lewe die losprys vir ons sonde betaal (Matt 20:28; Mark 10:45; 1 Tim 2:6; kyk ook na Kol 2:14). God wil ook die slegte van my en jou verlede vergeef en ons aanspoor om nou die goeie te doen.

Liefde vir waarheid en vrede in ons lewens

Die mens wat deur die bloed van Christus gereinig is, wat daarom kind van ons hemelse Vader is, se lewe moet ook blyke daarvan gee. Die Here sê wat Hy van sy volk en sy kind verwag. Dit is opvallend dat Hy juis, soos in Sag 7, die tweede tafel van sy wet gebruik. Daarmee is duidelik: ware godsdiens raak ons verhouding met Hom, maar ook met mekaar.

Negatief moet ons nie:

  • bose planne teen mekaar bedink nie. Hy sê dat my en jou liefde vir Hom moet uitloop op ‘n gesindheid van liefde en goedgesindheid teenoor ons medegelowiges.

  • vals ede aflê nie. Dit geld natuurlik die regspraak, maar strek veel wyer. Ook die beloftes wat ek en jy aan God maak, moet ons nakom. Bykans elkeen van ons het met die doop van ons kinders beloftes aan God gemaak. Ons het ook beloof om ons gawes in belang van ons medegelowiges te gebruik. Hou altyd woord. Doen wat jy sê.

Aan die positiewe kant sien ons twee woorde wat herhaaldelik voorkom: waarheid (3X) en vrede (2X). Ons stel die twee teenoor mekaar. Ons sal soms die waarheid ter wille van vrede verswyg.

Die Here wys ons in ‘n ander rigting. Ons moet die waarheid met mekaar praat (Sag 8:16). Nie die vader van die leuen nie (Joh 8:44), maar ons getroue Vader, die ware God bepaal só ons optrede. In die regspraak moet die waarheid die verloop van die saak bepaal. Waar dit die geval is, behoort vrede te gevolg (Sag 8:16). Die profeet sê vir die volk van die Here dat hulle beide waarheid en die vrede moet liefhê (Sag 8:19e, 1953, NLV en direkte vert).

Vir ons as Christengelowiges is die waarheid in wat ons sê en doen selfs belangriker. Christus noem Homself: die weg, die waarheid en die lewe (Joh 14:6). Die Heilige Gees is volgens Hom die Gees van die waarheid (Joh 14:17) wat van die Vader uitgaan (Joh 15:26) en oor Christus sal getuig (Joh 15:26). Die Gees sal ons in die hele waarheid lei (Joh 16:13). Wie danksy Christus in ‘n herstelde verhouding van vrede met God leef en die leiding van die Gees volg, sal die Here se opdrag deur Sagaria prakties in sy lewe uitvoer.

Die veranderde lewensomstandighede van destyds moes die volk aanspoor tot ‘n nuwe leefwyse. Die groot verandering wat God in en deur Christus in ons bewerk het, moet ook ons tot ‘n nuwe leefwyse aanspoor. Ons moet die leiding van die Heilige Gees volg. Doen ons dit, sal blyk dat ons beide waarheid en vrede liefhet. Ander sal sien dat ons aan die Here behoort en daarop reageer.

Die reaksie van die wêreld

Destyds het die Here vir die mense wat uit ballingskap teruggekeer het, gesê dat tien man uit al die nasies een Judeër sou gryp en sê dat hulle met hom wou saamgaan. Iemand in groot nood gryp aan ‘n ander se klere vas. Sien die mense met wie ons kontak het die vrugte van die verlossing in ons lewe? Ontlok dit die begeerte om ook daarin te deel?

Die verlossing wat God bewerk, trek mense uit al die nasies aan: na die Here toe. Hulle wil ook daarin deel. Natuurlik het hierdie belofte reeds op Pinksterdag in vervulling gegaan toe mense uit verskillende tale gehoor het hoedat die dissipels oor die groot dade van God praat en drie duisend mense gelowig geword het (Hand 2:11, 41). As volk van die Here in die Pinksterbedeling is dit ons roeping om voort te gaan om die blye verlossingsboodskap aan die mens in sondenood in woord en daad uit te dra.

Ons voorbeeld moet ook ander na die Here toe trek. Die verandering in my en jou lewe moet so duidelik wees vir ander om te sien, dat die Masedoniese roepstem uit al die volke opklink: Kom oor en help ons (Hand 16:9). Die kerke van vandag, hetsy gevestig – ook Gereformeerd – hetsy charismaties skiet hierin tekort. Ja, sommige kerke groei. Hulle groei egter nie uit die ongelowiges wat tot bekering kom nie. Die poel van mense wat by kerke inskakel word net omgeroer.

Die prentjie wat Sagaria in die naam van die Here aan ons voorhou, is nie een wat die die grootheid van die Jood van destyds en die Christengelowige van vandag besing nie, maar die grootheid van die verlossing wat die Here skenk.

Die klein klompie Jode wat destyds uit ballingskap teruggekeer het, is bemoedig om hulle kop hoog op te tel en te dink aan die unieke voorreg wat hulle het dat die Here hulle God is.

Sien die mense rondom ons die gawes wat ons van God gekry het, begeer hulle om daarin te deel? As ons nie mense aantrek nie, lê die fout nie by God en die gawes wat Hy aan ons gee nie. Die fout lê in ons; in ‘n lewenskwaliteit wat nie die werklikheid van ons verlossing weerspieël nie.

In ons tyd rig ons fokusgedeelte daarom ‘n woord van vermaning: die Here het ons nie verlos sodat ons onsself daarin kan verlekker nie. Hy skenk dit in genade aan ons om dit ook aan ander oor te dra, sodat ook hulle in die wonder van sy verlossing kan deel.

As gemeente en as kinders van die Here mag ons daarom nie mense buite op ‘n afstand hou nie. Nee, ons moet naby hulle wees. Die apostel Paulus beskryf hierdie lewenshouding só: Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen (1 Kor 9:20). Ander moet die wonder van God se verlossing in Christus in ons kan sien en dit self begeer.

Slot

Watter verskil maak Christene vandag in die wêreld; … ons hier in Vereeniging; … jy waar jy bly en werk? Waarskynlik is die antwoord elke keer: “weinig”. Ons handhaaf ‘n lae profiel. Ons bly stil eerder as om die waarheid te praat. Ons motivering: “ter wille van die liewe vrede”. Daarmee stel ons waarheid en vrede teenoor mekaar.

Opvallend is dat die Here vir sy volk dat hulle beide waarheid en die vrede moet liefhê (Sag 8:19e, 1953 en direkte vert). Die Here vertel ook sy volk kaalkop die waarheid. Hy het, in reaksie op die voorouers van sy volk wat Hom kwaad gemaak het, besluit om hulle sleg te behandel en hy het geen medelye met hulle gehad nie (Sag 8:14). Op die tydstip van Sagaria se optrede het Hy besluit om hulle goed te behandel (Sag 8:15). Hulle kon daarop reken.

Die Here se verhouding met ons moet ook ons verhoudings met mekaar kenmerk. Ons moet die waarheid onder mekaar praat en regspraak beoefen wat waar is en tot vrede lei (Sag 8:16).

Doen ons dit, sal dit die wêreld raak. Stede en nasies sal die Here kom raadpleeg daar waar ons is, soos ons tema dit uitspel: Liefde vir waarheid en vrede raak die wêreld.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 09 03) Liefde vir waarheid en vrede raak die wêreld Sag 8 v14tot23

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *