Month: September 2017

(2017 09 24 2e) Op pad na die einde van die wereld Dan 12 v1tot3 en 13 ♪

Soms hoor ons die leenwoord finale. Dit word gebruik vir ‘n komposisie vir ‘n orkes, maar selfs in sport. So kan ons sê dat die Springbokke se toetse teen die Franse die prelude – nog ‘n leenwoord – was tot die kampioenskapsreeks met die finale op 7 Okt teen Nieu Seeland op Nuweland. Sou die Springbokke enigsins opgewasse wees, sou daar selfs gepraat kon word van die grand finale.

Gister sou volgens die Amerikaner David Meade die grand finale van hierdie aarde wees. Soos elke vorige voorspelling, het die dag gekom en gegaan. Hierdie soort voorspellings raak afgesaag. Ons steur ons nie eintlik meer daaraan nie.

In ons fokusgedeelte beskryf Daniël die grand finale vir die mensdom. Tog hou hy vir ons ook die aanloop tot die grand finale voor. Wat moet ons doen terwyl die einde nog nie vir die aarde en sy bewoners aangebreek het nie? Wat moet ons op pad na die grand finale van hierdie aarde doen? Hoe moet ons die prelude tot die grand finale hanteer?

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Read more… »

(2017 09 24 1e) Ons Here is die Koning van die konings Dan 2 v28 en 44 en 47 ♪

Die afgelope week was die dood in die nuus. Henri van Breda staan tereg op aanklagte van moord op sy pa, ma en broer. In Kwazulu-Natal is ‘n ondersoek na politieke moorde aan die gang. Dr Makhozi Khoza het na haar kritiek op pres Zuma doodsdreigemente ontvang. In Lephalale is dr Werner Emslie in ‘n plaasaanval doodgeskiet en sy vrou, dr Mariëtte ernstig verwond. Huisrooftogte vind gereeld plaas – elke keer is die huisbewoners se lewe in gevaar.

Wat sal jy doen as jy besef die dood staan voor jou? Ons sien hoe Daniël en sy vriende opgetree het toe hulle doodvonnis reeds gevel was. Natuurlik sal ‘n mens bid. Daniël en sy vriende het gebid. ‘n Mens sal ook probeer onderhandel met die mense wat dreig om jou dood te maak. Daniël het met die koning en ook met die offisier Arjok onderhandel. Tog het hy veel meer gedoen. Hy het sy geloof in God bely. Hy het God se groot toekomsplan aan koning Nebukadnesar bekend gemaak. Saam met Daniël kan ook ons bely: Ons Here is die Koning van die konings. Ons let op: (1) Wat om in nood te doen (2) God se groot verlossingsplan

Read more… »

(2017 09 17 2e) Wat ons aan die Here het en wat Hy van ons verwag Deut 10 v10tot22 ♪

Wederkerigheid is eie aan elke verhouding: ek en my hond, getroudes, verliefdes, vriende, kollegas, lede van ‘n sportspan …

Wat van ons verhouding met die Here? Natuurlik verwag ek en jy sekere goed van Hom. Die wederkerigheid eie aan elke verhouding bring elkeen van ons voor die vraag te staan: Is jy bereid om te vra: wat verwag die Here van my? Wat is sy wil vir my? Is jy bereid om te doen wat Hy van jou verwag? Is jy bereid om opofferings te maak om in te val by sy wil vir jou? Ons tema vanaand: wat ons aan die Here God het en wat Hy van ons verwag

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Read more… »

(2017 09 17 1e) Jesus en ons aan die tafel Luk 22 v15tot20 ♪

‘n Doktersbesoek bevestig jou grootste vrees. Die werkgewer sê: “Jou diens is beëindig!” … So iets is ‘n krisis. ‘n Krisis maak ‘n mens se wêreld klein. Jy fokus heeltyd daarop.

Jesus se laaste Paasfees het aangebreek. Aan tafel het Judas nog as dissipel gesit. Hy sou opstaan om Jesus te gaan verraai. Petrus sou Hom verloën. Die volgende ure sou vir Jesus inhou: die bloedsweet in die tuin van Getsemane, sy verhoor, lyding, dood … Jesus was in ‘n krisis gedompel. Die dieptepunt sou wees dat Hy, die heilige Seun van God, met sy lewe moes boet vir ons sonde.

Jesus verras ons. In sy krisis het sy wêreld nie ingekrimp nie. Hy vier Paasfees en stel die nagmaal in aan tafel saam met sy dissipels. Hy het uitgesien om dit saam met hulle te doen. Hy verklaar die brood is simbool van sy liggaam en die wyn van sy bloed. Met twee simbole sê Jesus vir sy dissipels Hy gaan sterf. Waarom? … dit is vir julle. Hy fokus op sy dissipels.

Jesus se krisis sou ook sy dissipels s’n word. Hulle leier en leermeester was op pad weg. Hoe moes hulle hulle krisis en ons ons s’n hanteer? Jesus se antwoord: fokus op wat Hy vir ons gedoen het; fokus ook op ander wat saam met ons aan Hom verbonde is. Laat ons hierdie nagmaal vier in die gesindheid wat ons Verlosser en Here van ons verwag.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Read more… »

(2017 09 10 2e) Belydenishooftrekke – Vermaning en versekering oor vergeet van die vebond Deut 4 v23 en 31 ♪

Onder die video’s op die internet in omloop is een van 7 ma’s, elk geklee in ‘n bloese, denimbroek en hoëhakskoene met 7 kleuters wat geblinddoek word en elk hul eie ma tussen die 7 moet kry. Elke kleuter kies sy ma onder die 7 uit.

Waarom só? Elke kind ken sy ma; weet hoe sy ma voel, hoe sy ruik; weet hoe sy ma aan hom vat … Tussen ‘n ma en haar kind is daar ‘n verhouding.

Is God die Vader vir jou so bekend soos sy ma vir die kleuter? Tussen ons en God die Vader is daar op grond van Christus se verdienste ‘n verhouding. Deur sy Gees wat in ons woon en werk, hou die Here ‘n lewende verhouding tussen ons en Hom in stand. Hy noem daardie verhouding sy verbond, sy genadeverbond.

Die gevaar bestaan dat ons verhouding met Hom verswak; dat ons selfs van daardie verhouding kan vergeet. Ons fokusverse verbind die twee woorde: vergeet en verbond. Die profeet waarsku die Israeliete van sy tyd en ons vandag om dit nie te doen nie. Hy verseker ons dat die Here van sy kant af nie sy verbond met ons sal vergeet nie. Ons let agtereenvolgens op die waarskuwing en die versekering

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Read more… »