(2017 08 27 2e) Die Here voorsien ruim – ons kan vertrou 2 Kon 4v43btot44 ♪

Wanneer het ‘n mens genoeg? Die een wat arm is, het nooit genoeg geld nie – die een wat ryk is, ook nie. Die kind wat ‘n tyd lank honger gely het, sal alles wat voorkom, verorber. Nooit sal hy voel hy het genoeg nie. Die ma van ‘n tienerseun besef al die kos is nie genoeg vir haar seun nie. Hy bly honger.

Elisa se slaaf het soos ‘n tienerseun se ma gevoel toe Elisa hom opdrag gee: “Gee dit vir die mense om te eet.” Hy het gepraat van die twintig garsbrode en vars koringare wat die man van Baäl-Selisa aangebring het. Een mens moes drie garsbrode eet om versadig te word. In die slaaf se skoene sou ons ook sê: “Hoe kan ek die bietjie kos aan ‘n honderd man voorsit?” Twintig garsbrode was nie eens genoeg om ‘n honderd man lus te maak nie.

Die profeet se antwoord gee ons weer in vanaand se tema: Die Here voorsien ruim – ons kan vertrou. Ons let op twee hoofgedagtes: (1) genoeg vir 100 manne; (2) genoeg vir ons

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Genoeg vir 100 manne

Die Here het aan sy volk opdrag gegee om die eerste gerwe van die nuwe oes, sowel as die eerste brode wat van die nuwe meel gebak is, as offer na die tempel te neem en wel 7 weke / 50 dae na die Paasfees, tydens die Pinksterfees (Lev 23:15 – 17). Daarmee het die Israeliet sy hele oes aan die Here gewy. Die priesters kon hierdie sogenaamde eerstelinge van die oes self gebruik. So is in hul lewensonderhoud voorsien.

In ons teks word gepraat van die eerste garsbrode en vars koringare wat op daardie jaar se oesfees nie na sy tempel toe geneem is nie, maar na Elisa, die profeet van die Here, toe. Klaarblyklik het die Here dit aanvaar.

Die grootte van dié eerstelingoffer wat in ons teks aan die profeet, Elisa, gebring is, word beskryf: 20 garsbrode en ook vars koringare. Die garsbrode was so klein, dat ‘n mens drie van hulle moes eet om versadig te word. Tog het Elisa sy slaaf beveel: Gee dit vir die mense om te eet (2 Kon 4:42e). Dit is die eerste opdrag of bevel wat die profeet, Elisa, in hierdie Skrifgedeelte in die Naam van die Here gee. Elisa beveel sy slaaf om die garsbrode vir die profete, sowel as die ander Israeliete wat in die omgewing was, te gee om te eet. Elisa se slaaf maak toe beswaar: Die kos is te min!

Daarop het Elisa geantwoord: Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou (2 Kon 4:43b). Wanneer die Here beveel ook by monde van sy profeet, verwag Hy dat die een wat hoor, sal glo en gehoorsaam. Die Here verwag ook van my en jou geloof en gehoorsaamheid aan sy Woord!

Die klem lê hier op wat die Here doen. Dit is Hy wat die wonder doen – nie Elisa nie. Elisa is bloot instrument in die hand van die Here. Die profeet voeg die Here se belofte by sy opdrag: Hulle sal eet en nog oorhou. Die Here het belowe die 20 garsbrode en koringare sou genoeg vir almal wees om versadig te word. Daar sou selfs oorbly. Hy voorsien ruim – meer as genoeg vir almal. Soos die Israeliete in die Sinaiwoestyn, het die 100 man genoeg gekry om te eet.

Genoeg vir ons

Wanneer ‘n mens hierdie kort geskiedenis lees, dink jy onwillekeurig aan die brood wat Christus by twee geleenthede vermeerder het, sodat onderskeidelik minstens 4000 en 5000 mense genoeg gekry het om te eet. Daar het toe ook nog oorgebly. Daar was die wonder veel groter. In sy almag het ons Here nie net 100 gevoed nie, maar duisende mense met ‘n paar brode.

Christus het verder met die mense gepraat wat deel uitgemaak het van die meer as 5000 wat Hy so met die een wonderwerk gevoed het. Hy het gesê: Ek is die brood wat lewe gee (Joh 6:35). Daarmee sê ons Here Jesus Christus dat Hy ons voed vir die ewige lewe. Ten einde dit te doen, moes Christus met ons aangaan wat Martin Luther noem: die vrolike ruil – Hy skenk ons sy geregtigheid wat Hy met sy lewe in volmaakte harmonie met God se wil verdien het; ons sonde en sondeskuld het Hy op Hom geneem. Aan die kruis op Golgota het Hy met sy lewe die losprys vir my en jou sondes betaal. Danksy sy verdienste is die ewige lewe ons deel.

Hy het ook tydens die laaste pasga die brood geneem en gesê: Dit is My liggaam. Dit is vir julle. Gebruik dit tot My gedagtenis (1 Kor 11:24). Wanneer ons na hierdie preek aan die tafel van die Here aansit, dink ons aan die offer wat Hy op Golgota gebring het. Ons eet net ‘n blokkie brood en drink ‘n slukkie wyn. Die stukkie brood herinner ons daaraan dat sy liggaam gebreek is om ons volledig met Christus te versoen. Die slukkie wyn herinner ons aan sy bloed wat Hy aan die kruis gestort het. Beide brood en wyn dra een boodskap: Jesus Christus het sy lewe afgelê as losprys vir my en jou sonde.

Ons het niks anders nodig nie, as Christus se verdienste. Ons het niks meer nodig nie, as Hom, die Brood van die lewe! Sy verdienste is genoegsaam vir ons. Daarvan verneem ons in die Woord van die Here; daarin verbly ons ons elke keer wat ons aan die tafel van die Here kom aansit.

Laat ons ons verbly daaroor dat die Here

  • ons deur die bloed van sy Seun van al ons sondes reinig

  • en ons voed vir die ewige lewe.

Laat ons erns maak om met ons hele hart te glo en die Here met oorgawe te gehoorsaam as mense wat genoegsaam deur Christus se verdienste vir die ewige lewe gereinig en gevoed is.

Slot

Wanneer het ‘n mens genoeg? Elisa se slaaf het soos ‘n tienerseun se ma gevoel toe Elisa hom opdrag gee: “Gee dit vir die mense om te eet.” Hy het gepraat van die twintig garsbrode en vars koringare wat die man van Baäl-Selisa aangebring het. Een mens moes drie garsbrode eet om versadig te word. In die slaaf se skoene sou ons ook sê: “Hoe kan ek die bietjie kos aan ‘n honderd man voorsit?” Twintig garsbrode was nie eens genoeg om ‘n honderd man lus te maak nie.

Die slaaf van die profeet het ontdek die Here het die opdrag gegee: Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou (2 Kon 4:43b). Wanneer die Here beveel ook by monde van sy profeet, verwag Hy dat die een wat hoor, sal glo en gehoorsaam. Toe die slaaf gehoorsaam, het hy ontdek die paar brode was genoeg – meer as genoeg – vir 100 manne.

Die klem hier duidelik op wat die Here doen. Dit is Hy wat die wonder doen. Dit is Hy wat alles voorsien wat nodig is; alles wat Hy van ons vra. Dit is Hy wat sy Seun vir ons gegee het. Dit is Christus wat sy lewe aan die kruis vir ons afgelê het. Wat Hy gedoen het, is genoeg om ons heeltemal met God te versoen. In die woorde van ons tema: Die Here voorsien ruim – ons kan vertrou.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 08 27) Die Here voorsien ruim – ons kan vertrou 2 Kon 4 v43btot44

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *