(2017 08 13 2e) Belydenishooftrekke (2) ek is sondaar wat bely, bid en beloof Ps 51♪

Ons staan stil by hooftrekke in ons belydenis. Laas Sondagaand het ons die satellietfoto van die hele Bybellandskap beskou; ‘n geheelbeeld van die boodskap van die Bybel. Die enigste troos waarmee ek en jy kan lewe en ook sterf is: “ek behoort aan Jesus Christus.” Hierdie persoonlike belydenis is opgeneem in HK 1:1.

Vanaand kyk ons na ‘n tweede hooftrek. Ons soek ‘n klein bietjie meer besonderhede – iets soos die uitsig uit ‘n passasierstraler op die kruishoogte van 10000 m.

Om in die troos dat ons aan Jesus Christus behoort te kan leef en selfs doodgaan, kan ons saam met Dawid, die sondaar, dog man na God se hart, drie dinge doen: Bely: “ek is ’n sondaar”; Bid: “verlos my in genade”; Beloof: “ek sal U dankbaar vereer”; sonde verlossing, dankbaarheid (HK 1:2). Hierdie drie dinge hoor ons by verskillende geleenthede in elke kerk van Gereformeerde belydenis: by die doop van kinders, sowel as volwassenes; die een wat belydenis van geloof aflê, bely dit; die nagmaalganger se selfondersoek bestaan uit hierdie drie hoofpunte; iemand wat nadat hy eens afgesny was weer in die gemeente opgeneem word, bevestig dat hy dit wel glo.

Hierdie drie dinge is dus ‘n besliste hooftrek in die Gereformeerde belydenis. Ons staan by hierdie drie sake stil.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Bely: “ek is ’n sondaar”

Dawid het owerspel met Batseba gepleeg. Om sy skuld toe te smeer, het hy haar man, Uria, laat doodmaak. Die Here het sy profeet, Natan, na Dawid toe gestuur. Natan het vir Dawid vertel van ’n ryke wat ’n arm man gruwelik veronreg het. Dawid het, tereg, woedend geword. Hy het die doodvonnis oor die gewetenlose ryke gevel.

Toe hoor hy die verskriklike woorde: Jy is die man! Per implikasie: “Jy het pas jou eie doodvonnis gevel.” Is dit nie waar van elke sondaar nie: die ander se sonde lyk vir my veel erger as myne. Die straf wat hy verdien, is veel groter as die straf wat ek verdien.

Natan kon dink: “Wat sal die koning doen wat voor die beskuldigende vinger van God wat ek wys? Sal hy die boodskapper van die Here met sy lewe laat boet oor die boodskap?”

Koning Dawid was egter ’n gelowige man. Hy het geweet dat die profeet, Natan, net maar die Here se boodskapper is. Daarom het die koning sy onderdaan se teregwysing aanvaar. Hy het hierdie gedig geskryf; ‘n lied oor sy skuld en die hantering daarvan.

Dawid het homself voor die Here verootmoedig. Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig (Ps 51:5 – 6). Dit gaan in die verootmoediging om meer as hierdie of daardie groot sonde waaraan ek my vergryp het. My sonde kom ‘n ver pad. Dit is nie net iets wat ek doen nie. Sondaar is wat ek is, van voor my geboorte af al. Saam met Dawid van ouds moet ek bely: Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het (Ps 51:7).

Wanneer ek en jy as sondaars met ons skuld gekonfronteer word, staan ons nie voor hierdie of daardie mens nie. Ons staan, diep bewus van ons sonde en ellende, voor die heilige God.

Reeds die feit dat ek my sondeskuld erken, is genadewerk van die Heilige Gees in my. Hy oortuig my van my sonde. Ons kan bloot ons sondeskuld in ootmoed bely, want die Here is genadig en barmhartig.

Daarby kan dit nie bly nie. Die sondaar erken sy skuld en:

Bid: “verlos my in genade”

Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! So bid Dawid (Ps 51:3, 4). Hy vra daarmee ontsaglik baie. Reiniging van sonde is allermins iets waarvoor ek as sondaar so terloops vra en wat God in die verbygaan aan my skenk nie.

Die omvang van wat die ootmoedige sondaar bid, blyk uit die woorde: Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig (Ps 51:12). Die reiniging van my sonde is net so ‘n groot wonder as wat God in die begin gedoen het toe Hy die aarde uit niks gemaak het.

Tot in my diepste wese is ek sondaar en vyand van God. Tot in die sentrum van my bestaan, is ek deurtrek van die sonde – moet God my met ‘n almagtige skeppingsdaad nuut skep!

Hierdie gebed van Dawid wat elke sondaar ook noodwendig saam met hom moet bid, is daarin verhoor dat die Here God sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het, om ons voor Hom te regverdig. Sy bloed aan die kruis reinig ons van al ons sonde.

Op geen ander wyse kan enige mens hoegenaamd, verlos word nie. Wie bid om reiniging van sonde, bid dat dit wat Christus gedoen het, hom toegereken word.

Beloof: “ek sal U dankbaar vereer”

Neem kennis van die wyse waarop die Here verwag ons Hom moet vereer: n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie. Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God (Ps 51:18 – 19)! Ja, met my hart wat gebroke is oor my sondes en sondigheid, verslae oor die omvang van my sonde en ellende, neem ek voor die Here God plek in. In sy heilige teenwoordigheid besef ek my nood, hulpeloosheid en verlorenheid.

Hiermee begin ek aan God die eer gee wat Hom toekom. So gee ek erkenning aan die wonderwerk wat Hy in sy oneindige genade en liefde in my lewe bewerk het.

Ek moet egter ook verder gaan met die verering van dié Here wat my in genade verlos het. Dawid bid: Here, gee my die woorde om u lof te verkondig (Ps 51:17). Met hierdie woorde gee Dawid en ons blyke daarvan dat ons doel is om God te verheerlik. Sy Naam moet verheerlik word vir die genadige verlossing wat Hy in en deur sy Seun bewerk het.

Tog klink die ootmoed van die verloste sondaar ook deur in hierdie woorde. Hier bely ons ook dat ons nie self daartoe in staat is om die Naam van die Here reg te loof nie. Ook daarvoor het ons nodig dat die Here in sy genade in ons harte werk; dat Hy ons die woorde gee.

Alles wat ‘n mens kan doen wat goed is en reg in die oë van die Here, kom van die Here alleen. Sonder dat sy Gees op my hart beslag lê en die woorde van lof oor my lippe laat kom, is dit nie moontlik om die Here se lof na waarde te besing nie!

Selfs met die lof van my lippe eindig my dankbaarheid nie. Die Psalmdigter maak ‘n begeerte wat hy het aan die Here bekend: Dan sal ek oortreders leer wat U van ‘n mens verwag; dat die sondaars hulle tot U sal bekeer (Ps 51:15). Wie weet hoe groot sy eie en ander se sonde en ellende is; wie glo dat die Here hom uit genade alleen, op grond van die verdienste van sy Seun alleen uit daardie sonde verlos het; wie beloof om as verloste sondaar dankbaar voor die Here te leef, gaan ook ‘n stap verder: Hy gaan vertel aan ander sondaars van die genadige verlossing wat God skenk. Hy roep hulle wat saam met hom uit hul sondes verlos is, daartoe op om hul dankbaarheid saam met hom uit te leef.

Die gevolg daarvan dat ek weet hoe groot my sonde en ellende is; weet dat ek in en deur Christus daaruit verlos is; weet hoedat ek vir daardie verlossing dankbaar moet wees, dat ek inderdaad in die weë van die Here leef. Dan word die woorde van Dawid waar: Dan sal die offers wat voorgeskryf is, weer vir U aanneemlik wees: offerdiere wat heeltemal verbrand word. Dan sal hulle weer bulle op u altare offer (Ps 51:21).

Slot

Ons staan stil by hooftrekke in ons belydenis. Laas Sondagaand het ons die satellietfoto van die hele Bybellandskap beskou; ‘n geheelbeeld van die boodskap van die Bybel. Die enigste troos waarmee ek en jy kan lewe en ook sterf is: “ek behoort aan Jesus Christus.” Hierdie persoonlike belydenis is opgeneem in HK 1:1.

Vanaand het ons na ‘n tweede hooftrek gekyk – iets soos die uitsig uit ‘n passasierstraler op die kruishoogte van 10000 m. Om getroos te leef,. is kennis van drie dinge nodig: hoe groot my sonde en ellende is, hoe ek daarvan verlos kan word en hoe ek die Here vir die verlossing dankbaar moet wees (HK 1:2). Hierdie drie dinge hoor ons by verskillende geleenthede in elke kerk van Gereformeerde belydenis: by die doop van kinders, sowel as volwassenes; die een wat belydenis van geloof aflê, bely dit; die nagmaalganger se selfondersoek bestaan uit hierdie drie hoofpunte; iemand wat nadat hy eens afgesny was weer in die gemeente opgeneem word, bevestig dat hy dit wel glo. Hierdie drie dinge is dus ‘n besliste hooftrek in die Gereformeerde belydenis.

Getroos dat ons aan Jesus Christus behoort, doen ons saam met Dawid, die sondaar, dog man na God se hart, drie dinge: Bely: “ek is ’n sondaar”; Bid: “verlos my in genade”; Beloof: “ek sal U dankbaar vereer”.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 08 13) Belydenishooftrekke – ek is sondaar wat bely, bid en beloof Ps 51

Indien jy na die preekbespreking wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *