(2017 08 06 1e) Betrokkenheid – bewaar mekaar teen gevaar Heb 3 v12tot15 ♪

Die week het ons op TV gesien hoe metertaxibestuurders ‘n Ubertaxibestuurder aanval. Lede van die polisiediens voor wie dit gebeur het, het niks gedoen nie. Almal was verontwaardig. Te meer so, omdat ‘n Uberbestuurder vroeër doodgemaak en sy voertuig uitgebrand is. Dit is tog ‘n polisiebeampte se taak om slagoffers van misdaad te beskerm. Hulle moet misdadigers arresteer. Toe ons hoor hierdie optrede van die betrokke polisiebeamptes gaan ondersoek word met die oog op moontlike tugstappe of vervolging, het ons gedink: “dit is reg!”

Nie net polisiebeamptes nie, maar ook lede van die publiek verkies om nie betrokke te raak nie. Selfs Christene bly eerder onbetrokke.

Wat sou jy in die skoene van een van daardie polisiebeamptes gedoen het? Wat sal jy doen as die een wat in die ry voor jou of agter jou sit, aangeval word?

Hierdie aanval op die een in die ry voor jou of agter jou is die werklikheid waarmee ons fokusgedeelte my en jou konfronteer. Dit is ons verantwoordelikheid om betrokke te raak en mekaar teen gevaar te bewaar. Vandaar ons tema: Betrokkenheid – bewaar mekaar teen gevaar. Die hoofpunte wat ons aandag vra is: (1) die dreigende gevaar en sy dodelike gevolge en (2) hoe ons onsself en mekaar teen gevaar kan bewaar

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die dreigende gevaar en sy dodelike gevolge

Ons kom kerk toe om rustig agteroor te sit en die blye verlossingsboodskap oor ons laat spoel. Ons leef asof ons reeds in die rus van God is wat die Hebreërskrywer beskryf. In werklikheid leef ons nog in ‘n dodelike spanningsveld.

n Wesenlike gevaar bedreig ons.

Die Here God het Ou Israel met ‘n almagsdaad uit die slawehuis van Egipte gelei. Hulle het toe onder die wanindruk verkeer dat hulle kon doen wat hulle wou. Hulle het afgode gedien; hulle het van die Here afvallig geraak. Hulle het hulle met God misreken. Hy het besluit dat niemand wat van Hom afvallig geraak het, sy rus – die beloofde land – kon binnegaan nie.

Hier waarsku die skrywer hulle nageslag, die Hebreërs, in die Naam van die Here. Hy waarsku ook ons wat bely dat ons op grond van Christus se verdienste verlos is. Daar is ‘n dreigende gevaar. Ook elders waarsku die Here ons ook in sy Woord: Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (1Pet 5:8).

Wat is die gevaar waarteen die Here ons in ons fokusgedeelte waarsku? Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie (Heb 3:12, 1983). Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie (Heb 3:12, 1953). Die hart is in die Bybel die sentrum van ‘n mens se bestaan.

Ons probleem as gelowiges is dat ons steeds ‘n verdeelde hart het. Aan die een kant gryp ons gelowig vas aan Christus se verdienste. Aan die ander kant neig ons tot die sonde. Ons raak so maklik afvallig. ‘n Gelowige raak afvallig wanneer jy

  • onverskillig is

  • sê: ek sal doen wat ek wil

  • heeltemal agter raak in die geloofswedloop (12:15)

  • nie erns maak met God se wil nie

Kortom, ons probleem is gebrekkige geloof en gehoorsaamheid.

  • Iemand sê oor gebrekkige geloof: Dit is tot oneer van God en Christus. Dit weerspreek die Woord en beloftes van God. … Daarmee tart ons God uit. Vir God is dit onaanvaarbaar.

  • Wanneer ‘n mens aan God ongehoorsaam is en met die sonde flankeer, tas dit jou gewete aan, word jou hart verhard en is jy uiteindelik onbevoeg om diens aan God te lewer.

Ek en jy het natuurlik ‘n persoonlike verantwoordelikheid. Duidelik het elkeen van ons ook ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar as broers en susters in die geloof. Ons moet mekaar bystaan om nie die pad byster te raak nie. Maar solank daar nog nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Heb 3:13). Ons fokusgedeelte sê: moenie optree soos die polisielede met die taxibestuurders nie. Raak regtig by mekaar betrokke; staan mekaar by om nie af te dwaal nie, maar om die Here getrou te aanbid en dien.

Dodelike gevolge

Die gevaar is dat ‘n gelowige afvallig raak van die lewende God. Hy is anders as die dooie afgode. As lewende God handel Hy. Hy doen wat Hy sê. Hy straf en tugtig diegene wat deur ongeloof en ongehoorsaamheid van Hom afvallig raak.

God het besluit dat die ou Israeliete wat afvallig en ontrou geraak het, nie die beloofde land kon binnegaan nie (3:11). Wie enduit met die sonde flankeer en van God afvallig raak, sal nie die rus of koninkryk van God, die ewige lewe, beërwe nie – so bely ons op grond van God se Woord (HK 32). Ons mag nie ongeraak bly wanneer ons sien ‘n broer of suster loop daardie gevaar nie.

Hoe ons onsself en mekaar teen gevaar kan bewaar

Die antwoord is onomwonde: Luister na God se Woord – moenie uitstel nie! Dink maar aan jou frustrasie as ouer as jou kind jou ignoreer as jy hom of haar roep. Hoe kan ons van die Here verwag om tevrede te wees as ons as sy kinders nie ag slaan op sy Woord nie? Elke keer wat die Woord van die Here gelees en verkondig word, is dringendheid daarin opgesluit. Dit is die Woord van die lewende God. Hy verwag dat elkeen wat hoor, reageer.

Ek en jy wat die Woord hoor, het die verantwoordelikheid om onmiddellik te reageer. In sy Woord maak die Here Homself wel bekend as die lankmoedige God. Weet egter: sy lankmoedigheid is nie eindeloos nie. Hy het regtig geduld met die sondaar; geduld ook met sy kind wat met die sonde flankeer. God se lankmoedigheid en geduld is nie sonder end nie. Dit kom finaal tot ‘n einde op die dag dat Christus weer kom. Al buig elke knie op daardie dag voor Hom en al bely elke tong dat Hy die Here is (Fil 2:10, 11), is dit vir vele te laat.

Moenie God se lankmoedigheid probeer rek nie; moenie sy geduld beproef nie. God onttrek sy genade op ‘n dag aan die een wat dit bly verwerp. Hy is die lewende God wat van ons verwag om dadelik en ondubbelsinnig te antwoord as Hy ons aanspreek.

Watter reaksie verwag die lewende God van my en jou? Ons moet die Woord van die Here met die hele hart glo en met mag en mening gehoorsaam. Rig jou lewe in gehoorsaamheid daaraan in. Doen dit, solank jy nog die geleentheid daartoe het.

Tog raak die oproep in ons fokusverse nie net my of jou as enkeling nie. Die Here het ons met ander gelowiges saamgevoeg in die gemeente, in die liggaam van Christus. Weliswaar was die afval onder hierdie Hebreërs nie algemeen nie. Slegs ‘n paar gemeentelede het afvallig geword. Tog mag dit glad nie voorkom nie en as dit wel by sommige voorkom, raak dit die hele gemeente. Selfs die ou Israeliete wat in die woestyn getrou gebly het, moes veertig jaar lank saam met die ongehoorsames in die woestyn rondswerf. Van die gemeente geld: as een lid ly, ly al die lede saam (1 Kor 12:26).

As iemand anders deur die misleiding van die sonde verhard word, kan jy daarom nie maar skouers optrek en God daarvoor dank dat dit nie jy is nie. Jy as gelowige het ook ‘n opdrag ten opsigte van medegelowiges. Jy kan nie maar oë toeknyp as jy agterkom dat daar by iemand ‘n gesindheid van ongeloof ontstaan nie. Jy moet so ‘n persoon tot bekering aanspoor en toesien dat so een se gesindheid teenoor die Woord van God reg is.

Ook as ek en jy struikel, het ons die versekering dat ander gelowiges dieselfde opdrag ten opsigte van ons kry. God gebruik dus medegelowiges om my en jou te help as ons struikel.

Ons moet dit daagliks / elke dag doen. Die onderlinge vermaninge moet geen oomblik ophou nie. Nou moet daar nog geroep en gepreek word. Tans laat God nog vermaan. Hierdie brief wat aan ou waarskuwings en oordele herinner, is bewys daarvan (13:19, 22; vgl Joh 12:36). Hiermee word die tyd van genade aangetoon. Dit duur egter nie oneindig voort nie. Daar kom ‘n oomblik wanneer God ophou waarsku. So ver mag dit nie gaan nie. Juis daarom moet ons mekaar elke dag vermaan.

In die spanningsveld waarin ek en jy leef, moet ons in die geloof volhard. Ons moet erns maak om die Here te gehoorsaam – ook wanneer Hy ons die opdrag gee om mekaar elke dag aan te spoor om aan Hom getrou te leef.

Slot

Lede van die polisiediens het onbetrokke gestaan en toekyk terwyl metertaxibestuurders ‘n Ubertaxibestuurder aangeval het. Ons het die aankondiging verwelkom dat die betrokke polisiebeamptes ondersoek sal word met die oog op moontlike tugstappe of vervolging. Nie net polisiebeamptes nie, maar ook lede van die publiek verkies om nie betrokke te raak nie.

Ons fokusgedeelte konfronteer my en jou met so ‘n werklikheid. Wat doen jy as die een wat in die ry voor jou of agter jou sit, aangeval word? Gaan jy, soos een van die betrokke polisiebeamptes onbetrokke staan en kyk, of gaan jy iets doen?

Die Here se Woord aan ons is: raak betrokke – bewaar mekaar teen gevaar.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 08 06) Betrokkenheid – bewaar mekaar teen gevaar Heb 3 v12tot15

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *