(2017 07 30 2e) Verlossing – pad van – Ek sal die Here sien Job 19 v23tot27

Ons reeks, die pad van verlossing, kom vanaand tot ‘n einde. Hierdie einde is ‘n nuwe begin, ‘n begin in heerlikheid. Ons kan praat van die verheerliking.

In verskriklike ellende het Job een sekerheid bely: sy Verlosser leef en gaan uiteindelik triomfeer. Sy vooruitsig was om God te sien. Hy het daarna gesmag.

As gelowiges bely ons dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het. Hy het uit die dood opgestaan. Hy is in die hemel waarvandaan hy kom om ons wat glo na ons ewige tuiste te neem. Ons sal Hom sien en ook in sy heerlikheid deel. Ons tema: Ek sal die Here sien. Ons staan stil by die volgende hoofgedagtes: (1) omstandighede en hul oorsaak; (2) die belydenis: my Losser leef en (3) toekomsverwagting

Omstandighede en hul oorsaak

Ramp op ramp het Job onder aanstigting van die Satan getref. Hy het al sy besittings in ’n oogwink verloor. Sy 7 sy seuns en 3 dogters is in een oomblik dood. Hy het sy klere geskeur, sy hare afgeskeer en in rou op die grond gaan lê. Sy merkwaardige woorde was: Naak het ek in die wêreld gekom, en naak gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here (Job 1:21, Multivertalingbybel).

Die Satan het daarna God se toestemming gekry om Job self te tref. Pynlike, jeukende swere het hom geteister. Sy liggaam was afgetakel. Hy het by sy omgewing gepas – die ashoop.

Daar het sy vriende hom aangetref. Dit is duidelik dat hulle só redeneer het: volgens die Woord van God en ons eie ervaring lei sonde tot straf in die vorm van rampe en ellende. Job ervaar ongekende ellende en verskriklike rampe. Dit beteken Job moes regtig ’n ernstige sonde begaan het. Daar is net een ding wat hy kon doen: hy moes sy sonde voor die Here bely. Die Here sou hom vergewe en dit sou sommer gou baie beter met hom gaan.

Job het met sy vriende saamgestem dat sonde tot rampe lei. Hy het egter van hulle verskil oor sy rampe. Hy het geweet dat hy, ten spyte van sy sondigheid, tog nie skuldig was aan buitengewone groot sonde wat die verskriklike rampe regverdig het nie. Herhaaldelik, tot groot frustrasie van sy welmenende vriende, het hy sy onskuld betuig. In ons fokusgedeelte verwoord hy sy begeerte dat sy aanspraak op onskuld onuitwisbaar opgeteken sal word: Mag my woorde tog opgeskryf word, mag dit ingegraveer word op ‘n monument met ‘n ysterpen en lood, vir altyd in ‘n rots uitgekap (Job 19:23,24).

Hy was – ten onregte – daarvan oortuig dat God hom veronreg het deur hom met hierdie rampe te tref. Hy het God beskryf as sy vyand wat hom soos ’n roofdier genadeloos tot prooi maak; as die Een met wie hy in ’n ongelyke regsgeding betrokke is.

Tog het Job gewéét: Ek het net een hoop – God self! Ook Dawid het besef dat God hom in haas onhoudbare omstandighede gedompel het (Ps 39:10). Hy vra en antwoord: Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop (Ps 39:8).

Ten spyte van die ongegronde beskuldiging dat God hom veronreg het, het Job God nooit laat los nie. Nooit het hy God, soos die Satan voorspel het, gevloek nie. Nee, Job het gebid: Wees tog vir my ’n borg, o God! Wie anders kan vir my instaan (Job 17:3)? In ons fokusvers bely hy weer: Ek weet: My Losser leef; letterlik: My Losser is die Lewende

Belydenis: my Losser leef

Job sê: Ek weet dat my Losser leef. Die woord, Losser, het verskillende betekenisskakerings in die Bybel. Ons staan stil by een van hierdie betekenisse wat hier wel van toepassing is.

As iemand destyds vermoor is, was die losser die een wat sy dood moes wreek deur die moordenaar dood te maak. Die Losser was in hierdie sin ‘n bloedwreker. Hierdie woord kom voor in Num 35:19, 21, 24, 25; Deut 19:6, 12 (1953-vertaling).

Job het in aansluiting hierby gesê: o Aarde, moenie my bloed bedek nie, en laat daar geen rusplek vir my geroep wees nie (Job 16:18, 1953-vert.). ’n Mens dink hier onmiddellik aan wat God vir Kain gesê het nadat hy sy broer, Abel, doodgemaak het. Job het hiermee gesê dat hy onskuldig is en op die punt staan om onder die rampe te sterf. Die geroep van sy onskuld moes bly opklink, sodat God dit kon hoor. Hy het geweet: uiteindelik kon God, sy Losser, alleen sy reg herstel.

Dikwels moes die losser groot opofferings maak. So iemand was daarom ook nie altyd gewillig om sy verpligting na te kom nie. Dit het juis met die eerste in Naomi se ry van lossers gebeur (Rut 4:6).

By uitstek is Christus dié Verlosser wat veel moes opoffer om sondaars te verlos. Ons weet: dit is nie ons eie bloed nie, maar dié van ons Verlosser, Jesus Christus, wat ons onskuld betuig. Danksy sy bloed, herstel God ons in die regte verhouding met Hom. As Verlosser het Hy alles nuut kom maak. Hy is die Verlosser, op grond van wie se verdienste ons nou kinders van ons hemelse Vader kan wees en tot in ewigheid toe bly.

Job het bely dat sy Losser hom nie in die steek sou laat nie. Sy Losser, God, die Getuie wat in die hemel is (16:19) tree op oor die stof op die aarde (41:25) om te oordeel (31:14). Die Getuie uit die hemel spreek die laaste woord. Hy gee die eindbeslissing in Job se saak. Hy sou Job se onskuld betuig. Hy sou reg aan Job verskaf.

Hieruit is duidelik dat Job se Verlosser, soos hy bely, die Lewende is. As ons in gedagte hou dat Job se belydenis vervul is in Christus, by uitnemendheid dié Losser, dink ons onwillekeurig aan Jesus de uitspraak: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Joh 14:6). Job se belydenis as mens van die Ou Testament klop op ‘n besondere wyse met hierdie uitspraak van Jesus. Die oordeel waaronder sondaars soos ek en jy gebuk gaan, is danksy Jesus Christus ten volle opgehef.

Toekomsverwagting

Job was daarvan oortuig dat sy dood naby was. Na sy dood sou hy nie langer sy onskuld kon betuig nie. Job sê dat sy Losser anders as hy is. Hy leef en bly leef. As God is Hy die Lewende! Job het op Hom gehoop.

Saam met Job bely ons ook vandag: ons Verlosser leef. Jesus Christus het die dood oorwin. Hy het na die hemel toe opgevaar, waar Hy ons saak voor die genadetroon van ons hemelse Vader bepleit (Rom 8:34; HK So 18). Danksy die verheerlikte Christus het ons ‘n toekomsverwagting.

Hoor net hoe spel Job sy toekomsverwagting uit: Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe (Job 19:26, 27). Al het sy vriende die aanklagte teen Job opgestapel, het hy gelowig sy onskuld bly bely. God sou, volgens sy verwagting, die eindbeslissing maak: Job is onskuldig.

Uiteindelik was sy verwagting om sy Losser te sien. Skrifverklaarders verskil van mekaar oor die vraag of Job sy stelling dat hy sy Losser sal sien bedoel as voor sy dood, of daarna. Ons kyk vanuit die Nuwe Testament ook na wat Job hier sê. Jesus het in sy bergpreek gesê: Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien (Matt 5:8). Ons vooruitsig is om ons Verlosser, Jesus Christus, in sy heerlikheid te sien nadat ons gesterf het. Vanoggend het ons stilgestaan by die opdrag en waarskuwing van die Hebreërskrywer: Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie (Heb 12:14). Die gelowige wat as gelowige leef, het die vooruitsig om God te sien.

Om God te sien, is die eindpunt van die pad van Verlossing wat God in sy genade met die sondaar loop. Ons het die vooruitsig om Jesus Christus in heerlikheid te sien. Ons verstaan Job se versugting: Ek smag daarna met my hele lewe (Job 19:27e). … ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste (Fil 1:23). As kerk is dit ons vooruitsig om as bruid van Christus, die hemelse Bruidegom, bruilof te vier (Open 19:7). Soos ‘n bruid na haar bruilof, kan ons uitsien na die bruilof van die Lam wat aanbreek wanneer Hy in heerlikheid weer kom. As kerk roep ook ons uit: Kom, Here Jesus (Open 22:20e)!

Slot

Ons reeks, die pad van verlossing, kom hiermee tot ‘n einde. Hierdie einde is ‘n nuwe begin, ‘n begin in heerlikheid. In sy ellende het Job een sekerheid bely: sy Verlosser leef en gaan uiteindelik triomfeer. Sy vooruitsig was om God te sien. Hy het daarna gesmag.

As gelowiges bely ons dat Jesus Christus vir ons sondes gesterf het. Hy het uit die dood opgestaan. Hy is in die hemel waarvandaan hy kom om ons wat glo na ons ewige tuiste te neem. Ons sal Hom sien en ook in sy heerlikheid deel. Saam met Job sê ons in geloof: Ek sal die Here sien!

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 07 30) Verlossing – pad van – Ek sal die Here sien Job 19 v23tot27

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *