(2017 06 25 2e) Verlossing – pad van (8) Die vinger wat waarsku en die arm wat troos 1 Kor 10 v12tot13 ♪

Ons as Gereformeerdes bely reeds eeue lank op grond van die Skrif: ons is uit genade alleen, deur die geloof alleen, op grond van die verdienste van Christus alleen verlos. Niks en niemand kan die almagtige verlossingsdade van die lewende God uitwis nie. Dit bly staan vir tyd en ewigheid. Dit bied vir ons wat glo sekerheid.

Ons voer die sekerheid egter ‘n stap verder, tot oorgerustheid. Ons is as’t ware in ons gerustheid gesus, asof ons nie in die brandpunt van ‘n ontsaglike stryd leef nie – dié tussen die lig en die duisternis. Ons leef asof ons belydenis dat ons in sonde ontvang en gebore is en steeds sondaars bly en dat ons daarom voortdurend die felle aanslae van ons doodsvyande trek, nie meer geld nie.

Inderwaarheid behoort ons wél in ‘n vaste sekerheid te leef, sonder om ooit oorgerus te wees. Ons moet op die spandraad van sekerheid, sonder oorgerustheid loop. Daartoe geroepe om só op die spandraad van sekerheid te loop, let ons vanaand in ons fokusgedeelte op: Die vinger wat waarsku en die hand wat vertroos. Ons hoofpunte (1) Die vinger wat waarsku en (2) Die hand wat vertroos

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die vinger wat waarsku

Die vinger wys waarskuwend: Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (1 Kor 10:12). Hierdie vinger waarsku juis gelowiges wat die doop as die teken en die seël van God se genadeverbond ontvang het, juis gelowiges wat pas aan die tafel van die Here aangesit het. Van hierdie vinger wat waarsku, moet elke oorgeruste gelowiges deeglik kennis neem.

Die daarom waarmee hierdie vers begin, bind hierdie waarskuwing aan dit wat vooraf opgeteken is. In :11 word daar gepraat van goed wat vir ons as voorbeeld opgeteken staan. En dit verwys na die eerste tien verse.

Een saak is duidelik: dit is één God wat in beide die bedelings, die Ou en die Nuwe Testament verlossend handel. In beide die oue en nuwe staan die Here God se trou vas. Danksy die trou van God vorm Ou en Nuwe Testament ‘n eenheid.

Die getroue God verlos die sondaar. Hy skenk sy volkome verlossing. Die gelowige wat die doop ontvang, ontvang dit as teken en seël van God se genadeverbond met ons. Daarin verseker Hy ons dat Hy by ons is as ons God; dat Hy ons volkome verlos uit die slawehuis van die sonde; dat ons tot in ewigheid toe sy kinders is en sal bly.

So kon ou Israel deur hulle hele volksbestaan versterking put uit die wolk van God se teenwoordigheid en sy beskerming. Hulle het die wonderlike bevryding gesmaak toe hulle droogvoets deur die see van God se oordeel kon trek en kon aanskou hoedat die magtige Egiptiese leër in die waters van God se oordeel onderdompel is. Só het die Here God sy volk verlos. Die apostel noem wat ou Israel by die see en met die wolk ervaar het hulle doop: Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop (1 Kor 10:2).

Daar word ook ‘n verband gelê tussen ou Israel en die heilige nagmaal: Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus (1 Kor 10:3 – 4). Ook ons hoor Sondag na Sondag die boodskap van volkome verlossing in en deur ons enigste en volkome Middelaar, Jesus Christus. Ons weet dat Hy deur sy dood aan die kruis ons straf op die sonde gedra het en deur sy opstanding uit die dood die sonde en die dood oorwin het. Ook ons is gedoop en het ons kinders ten doop gebring – ons het dus God se Woord daarvoor dat ons opgeneem is in sy genadeverbond met ons. Ons is as gemeente pas vanoggend aan die tafel van God se genade gevoed en versterk.

So maklik kan ons agteroorsit en ons bloot daarin verbly dat ons verlossing in Christus afgehandel is. So maklik kan ons dink dat ons as gelowiges ons finale bestemming bereik het. Die feit is egter: ons het nog nie. Ons ervaar nog nie die hemelse heerlikheid in sy volheid nie. Ons is steeds gewikkel in ‘n stryd teen ons drie doodsvyande: Ons teenstander, die Satan, loop nog rond en soek wie hy kan verslind. Ons leef nog in ‘n wêreld wat in verset teen God is. Ons ou sondige natuur wil ons voor allerlei versoekings laat swig.

Vandaar die waarskuwing: Tog was God met die meeste van hulle nie tevrede nie, want hulle het in die woestyn omgekom (1 Kor 10:5 – die waarskuwing opgesluit in ou Israel se geskiedenis) en Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (1 Kor 10:12 – die waarskuwing aan die gelowiges in Korinte, en ook aan ons. Ons mag nie swig voor die versoeking van geestelike selftevredenheid en selfgenoegsaamheid nie. Ons moet, onder leiding van die Heilige Gees, doelgerig en met volle oorgawe bou aan ons verhouding met die lewende God, tot die verheerliking van sy Naam.

Ons verlossing is nie opgesluit in die uiterlike ontvangs van water op die voorhoof, of van die eet van ‘n blokkie brood en die drink van ‘n slukkie wyn nie. Ons verlossing is opgesluit in Jesus Christus en in sy verdienste alleen. Die verlossing van die sondaar is in die volle sin van die woord NET ‘n wonderdaad van God. Daarop is ons sekerheid gebou dat ons verlos is en tot in ewigheid ook verlos sal bly, maar dan sonder om in ‘n valse gerustheid te verval.

Die hand wat vertroos

Die aanslag teen ons is fel, ja, maar ons troue God en Vader reik sy vertroostende hand na ons uit: Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan (1 Kor 10:13). Die fel aanslae is tog nie bomenslik, bo ons vermoë nie. God beperk die mag van die versoeking.

Daarmee hou God egter nie op handel nie. Nee, as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan (1 Kor 10:13e). Iemand tref die vergelyking tussen ‘n versoeking en ‘n val of ‘n fuik. Wie daarin vasgevang raak, het geen moontlikheid om te ontsnap nie. Daarom is die aangewese weg om nie daarin te val nie; nie daarvoor te swig nie. Indien ons egter tog swig, weet dan: die Here, die almagtige, skeur die fuik oop en laat die gelowige vry. Hy gee die uitkoms uit die versoeking.

Dit is tog nodig dat ons ‘n oomblik stilstaan by die vraag: Van watter versoekings praat die apostel? Die antwoord op hierdie vraag is uiteraard ook vir ons van belang. In :7 – 10 noem die apostel in die Here se Naam vier sondes waarin ou Israel geval het: (1) afgodery; (2) onsedelikheid; (3) uittart van Christus; (4) verset teen God. Hy wys op die tragiese gevolge van hulle val in hierdie sondes en spoor die gelowiges aan om nie in soortgelyke sondes te verval nie.

Onmiddellik na die vertroostende hand wat hy in :13 in die Naam van die Here na die gelowiges uitreik, sê die apostel vir die gelowiges in Korinte: Daarom, my geliefdes, moet niks met die afgodsdiens te doen hê nie (1 Kor 10:14). Afgodery was een versoeking waaraan die gelowiges in Korinte blootgestel is.

Ons moet weet: afgodery is ook vandag hier aan die orde van die dag. Ons moet waak teen afgodery. Weliswaar aanbid ons nie meer vandag, soos destyds in Korinte, afgodsbeelde nie. Tog is daar ‘n parallel tussen vandag se afgodery en dié van Korinte. Hoor die oproep: Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van bose geeste nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van bose geeste nie (1 Kor 10:21). Ons het vanoggend aan die tafel van die Here aangesit. Ons moenie, daarbenewens, aan die tafel van die bose aansit nie. Wat doen ‘n gelowige anders as juis om hier te swig wanneer hy by die dobbeltafel aansit? Hy stel nie meer sy vertroue in die almagtige Vader wat hom versorg met alles wat vir liggaam en siel nodig is nie, maar in die hande van die geluksgodin.

Hoe lyk die weg van bevryding? Hoe kan ons staande bly teen die versoekings? Sekerlik nie in eie krag nie. Ons is en bly immers sondaars. Ons moet ons vertroue, ook wanneer die versoekings ons pad kruis, stel in die Here alleen en in sy trou. Dit is juis omdat die Here getrou is, dat Hy nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie, dat Hy ook vir ons die uitkoms uit die versoeking gee. Deur sy Gees gee Hy ons die krag om die versoekings te kan weerstaan.

Slot

Ons as Gereformeerdes bely reeds eeue lank op grond van die Skrif: ons is uit genade alleen, deur die geloof alleen, op grond van die verdienste van Christus alleen verlos. Niks en niemand kan die almagtige verlossingsdade van die lewende God uitwis nie. Dit bly staan vir tyd en ewigheid. Dit bied vir ons wat glo sekerheid.

Ons voer die sekerheid egter ‘n stap verder, tot oorgerustheid. Ons is as’t ware in ons gerustheid gesus, asof ons nie in die brandpunt van ‘n ontsaglike stryd leef nie – dié tussen die lig en die duisternis. Ons leef asof ons belydenis dat ons in sonde ontvang en gebore is en steeds sondaars bly en dat ons daarom voortdurend die felle aanslae van ons doodsvyande trek, nie meer geld nie.

Deur sy Gees vestig die Here ons vertroue in Hom en sy trou. Deur sy Gees lei Hy ons om weerstand te bied teen die versoekings; om ‘n lewe van oorwinning te lei; om inderdaad die spandraad te loop van sekerheid, sonder oorgerustheid. Mag Hy ons een en elkeen daartoe begenadig.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 06 25) Verlossing – pad van (8) Die vinger wat waarku en arm wat troos 1 Kor10 v12 en 13

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *