(2017 06 04 2e) Pad van verlossing (5) – vol berou in sak en as Job 42 v5tot7

Nog ‘n keer kyk ons na ‘n faset van die pad van verlossing waar ek en jy aktief is. Bekering behels ‘n verandering van gesindheid sowel as in optrede. Die sondaar wat op die verkeerde pad is en die evangelie hoor, glo dat Jesus Christus sy Verlosser is. Sy leefwyse verander soms radikaal, maar meestal in diegene wat in Christelike huise en in die kerk grootgeword het minder opvallend.

Hoewel daar ‘n eerste bekering is, is dit nie die laaste bekering nie. Die kategeet plaas bekering in die derde deel van die Heidelbergse Kategismus, die deel oor dankbaarheid vir my verlossing. Hy gebruik taal soos: hoe langer hoe meer (HK 33:89). Bekering is iets wat elke dag met my as gelowige moet gebeur.

Job het al in hoofstuk 1 ‘n goeie getuigskrif van God gekry. In die laaste hoofstuk sê hy: nou sit ek vol berou, in sak en as (Job 42:6e). Bekering is deel van die lewe van elkeen wat bely: “ek behoort aan die Here.” Ons tema vanaand: Verlossing – pad van – Vol berou, in sak en as. Ons gee aandag aan die volgende hoofsake: (1) God se getuigskrif en menslike oortuigings en (2) Job, tereg vol berou, in sak en as

God se getuigskrif en menslike oortuigings

Job het ‘n besondere getuigskrif by God gekry. Hy het vir die Satan gesê: Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad (Job 1:8b). Ten spyte van elke moontlike ramp het Job nie gesondig of God verwyt nie (Job 1:22). ‘n Tweede keer het God sy getuigskrif teenoor die Satan herhaal en daarby gevoeg dat Job vroom gebly het ten spyte van die rampe wat die Satan oor hom gebring het (Job 2:3).

Job het wél die waarheid oor Hom gepraat, sê God. Aan die begin van sy rampe het hy wel reg oor God gepraat (1:22; 2:10). Natuurlik hy ook reg gedoen deur deurentyd in sy ellende sy verwagting op God te bly vestig (13:15; 19:23 – 29).

Tog was Job ‘n mens van sy tyd. Die heersende opvatting destyds was dat die mens wat goed doen, seën ontvang en dié wat kwaad doen, gestraf word. Terwyl sy drie vriende oortuig was dat Job se ellende te wyte was aan groot sondeskuld, het hy gesê dat hy nie so erg gesondig het dat hy soveel ellende verdien nie. Hy het God se regverdigheid bevraagteken. Kyk ‘n mens goed na alles wat hy oor God gesê het, blyk dit dat Job dieselfde denkskema as sy vriende gebruik het. Job het dus nie oor God bly praat soos in die begin nie.

Mag ‘n mens, soos Job, sê dat God onregverdig is? Praat jy die waarheid as jy God beskuldig dat Hy onregverdig is?

Die jongman, Elihu, het Job reeds gesê dat Job ‘n groot fout maak as hy dit doen (Job 34:9 – 12). Trouens, God self het Job al daaroor aangespreek (38:2). Job het reeds bely dat hy nie teen God opgewasse is nie en onderneem om stil te bly (39:37 – 38). Hierdie belydenis was egter nie na God se oordeel genoegsaam nie. Hy het sy gesprek met Job daarna voortgesit. Hy wou hê dat Job verder gaan as dit. Job moes sy sonde in berou bely.

Wat van my en jou? Geeneen van ons kan aanspraak maak op ‘n getuigskrif soos die een wat God aan Job gegee het nie. As Job gesondig en daarom skuldig voor God gestaan het, kan nie een van ons dink dat ons geen sondeskuld het wat ons moet bely en sonde waarvan ons ons moet bekeer nie. Elkeen van ons het telkens in ons lewe ‘n verandering in beide gesindheid en in optrede nodig.

Vol berou, in sak en as

Alles wat Job oor die Here God gesê het, was beslis nie waar nie. God het hom tot verantwoording geroep: Toe het die Here vir Job aangespreek uit ‘n stormwind uit: Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My (Job 38:1 – 3). Merkwaardig, die Here sit nie alles wat Job kwytgeraak het wat verkeerd was op die tafel en korrigeer dit nie. Nee, Hy vra waar Job was toe Hy alles geskep het. Hy vra onder andere: Wil jy my beslissing tot niet maak? Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word (Job 40:3). Job het egter wel in die loop van God se gesprek met hom besef dat hy nie die reg gehad het om God se optrede te bevraagteken nie.

Uiteindelik het God in sy laaste gesprek Job gebring om te bely: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as” (Job 42:5, 6). God het Job gebring om dit te bely. Dit is die sleutel van die ware bekering. Selfs wanneer ‘n mens tot die besef en belydenis van jou sondeskuld kom, kan jy nie die erkenning daarvoor vir jouself opeis nie. Die Here het reeds Efraim se klagte verwoord: Bring my terug na U toe dat ek my kan bekeer, want U is die Here my God (Jer 31:18b). Ook die Nuwe Testament sê dat die Heilige Gees ons oortuig van ons sonde (Joh 16:8 – 11). Dit is die Here wat self ‘n mens op die pad van berou en bekering lei.

Ons fokusgedeelte handel oor Job wat hom voor die Here verootmoedig het. Wie sy sondeskuld besef en hom voor God verootmoedig, het berou; hy sit saam met Job in sak en as. Wie soos Jakob waag om met God te stoei, loop lewenslank mank weens ‘n beseerde heupsenuwee (Gen 32:31, 32). Wie waag om die kerk van God te vervolg, val soos Paulus voor Hom op die grond neer en word minstens tydelik verblind (Hand 9:4, 8, 9).

Wat hier gebeur vertel ons ‘n belangrike ding oor God en die wyse waarop Hy vergewe. Hy maak in dit wat Hy vir Elifas sê, bekend hoedat Hy met die sondaar handel. Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie (Job 42:7b).

Wanneer God sê dat Job die waarheid oor Hom gepraat het, plaas Hy nie sy stempel van goedkeuring op elke ding wat Job oor Hom gesê het nie. Dat God Job bestraf het oor wat hy verkeerd gesê het en Job se berou was ‘n saak tussen hom en God. God het reeds hierdie saak tussen hulle twee in die reine gebring. Hy stel Job aan sy vriende voor soos wat hy was nadat Hy hierdie saak met hom afgehandel het.

Duidelik klop dit met wat ons elders lees:

  • Hoor die uitnodiging van die Here aan sy volk wat afgedwaal het: Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol (Jes 1:18).

  • Hoor die Woord van die Here oor hoedat Hy handel met die sondaar wat hom voor Hom verootmoedig: … as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh 1:9).

God se oordeel oor die afloop van sy gesprek met hom is dat Job reg van Hom gepraat het. Alles wat Job verkeerd gesê het, het God van hom verwyder so ver as wat die ooste van die weste af is (Ps 103:12). God vergewe heeltemal. Anders as ons vergewe en vergeet Hy dit wat verkeerd was. God openbaar Hom hier as die God wat ons ons sonde ter wille van Jesus Christus volkome vergewe.

Die vraag aan my en jou adres: Het jy jou sonde in berou voor die Here bely? Het jy beleef dat God jou sonde en sondeskuld finaal afgehandel het? Glo jy dit met jou hele hart en is jy die Here dankbaar vir daardie vergifnis? Erken jy dat jy steeds sonde bly doen? Lei jy daarom deurentyd ‘n lewe van voortdurende bekering? Ontvang jy gelowig en dankbaar daagliks God se vergifnis?

Slot

Ons het nog ‘n keer gekyk na ‘n faset van die pad van verlossing waar ek en jy aktief is. Bekering behels ‘n verandering van gesindheid sowel as in optrede. Die sondaar wat op die verkeerde pad is en die evangelie hoor, glo dat Jesus Christus sy Verlosser is. Sy leefwyse verander soms radikaal, maar meestal in diegene wat in Christelike huise en in die kerk grootgeword het minder opvallend.

Hoewel daar ‘n eerste bekering is, is dit nie die laaste bekering nie. Die kategeet plaas bekering in die derde deel van die Heidelbergse Kategismus, die deel oor dankbaarheid vir my verlossing. Hy gebruik taal soos: hoe langer hoe meer (HK 33:89). Bekering is iets wat elke dag met my as gelowige moet gebeur.

Job het al in hoofstuk 1 ‘n goeie getuigskrif van God gekry. In die laaste hoofstuk sê hy: nou sit ek vol berou, in sak en as (Job 42:6e). Bekering is deel van die lewe van elkeen wat bely: “ek behoort aan die Here;” selfs van elkeen wat ‘n goeie getuigskrif van God kry. Is en bly bekering deel van jou lewe?

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2017 06 04) verlossing – pad van (5) Vol berou in sak en as Job 42 v5tot7

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *