(2017 05 21 1e) Betrokkenheid – die Here maak aanspraak op ons kinders Eseg 16 v20tot22 ♪

Wanneer ‘n kind vir jou gebore word, verstaan jy die eerste keer regtig wat ware liefde is. ‘n Mens wil hê dat dit altyd met jou kind goed moet gaan. Jy sal alles vir hom opoffer. Jou kind is jou prioriteit. … Regtig?

Die Here verras ons in ons fokusgedeelte. Hy sê ‘n mens bring jou kinders vir Hom in die wêreld. Hy noem hulle sy kinders. Wie bely: ek behoort aan die Here, kan weet ook ons kinders is die Here s’n.

Baie duidelik verkwalik die Here sy volk dat hulle kinders nie regtig hulle prioriteit was nie. Hy beskuldig hulle dat hulle hulle kinders aan afgode geoffer het.

Ons wil sommer dadelik ‘n sug van verligting slaak. Ons het nie meer afgode soos die mense in ou Israel se tyd nie. Tog moet ons versigtig wees om te gou te sê: “My kinders is my prioriteit.” Al lyk hulle anders, is daar ook in ons tyd afgode. En maklik offer ‘n mens jou kind vir daardie afgode op. Ons moet dus baie goed luister na die Here se beskuldiging. Ons tema vanoggend: Betrokkenheid – Die Here se aanspraak op ons kinders. Die hoofsake waarop ons let: (1) Die band van wedersydse trou tussen ons en die Here en (2) Ons kinders is ook die Here s’n

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ► 

Die band van wedersydse trou tussen ons en die Here

Wanneer ‘n kind vir jou gebore word, verstaan jy die eerste keer regtig wat ware liefde is. Iemand kan reageer: “Dit is nie so nie. Toe ek en my maat getrou het, was daar ware liefde tussen ons.” Die grootste gedeelte wat ons uit die Skrif gelees het, handel oor die huwelik en dan pertinent die ware liefde in daardie huwelik.

Kortliks daaroor: Die Here is die Bruidegom. Sy hart is vol liefde. Sy volk, sy kerk is die bruid. Toe die Here haar ontmoet het, het sy volk allermins met haar skoonheid sy voete onder Hom uitgeslaan. Sy word geteken as ‘n kind op die ashoop, ‘n weggooikind. Haar voorland was ‘n verskriklike dood. Die Here God sê: Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel. Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef!’ Ja, Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef, groei’ (Eseg 16:6). So was daar absoluut niks aantreklik aan ons as kerk wat Hom gedring het om ons syne te maak nie. Nee, Hy het sy volk destyds en ons vandag uit genade gekies om syne te word. Hy beskryf die persoonlike verhouding waarin twee een word: Ek het My met ‘n eed aan jou verbind en met jou ‘n verbond aangegaan, sê die Here my God. Jy het myne geword (Eseg 16:8).

Soos wat ‘n bruid van haar man kan verwag, het die Here sy bruid goed versorg. Hy het haar gereinig (:9), haar met die beste klere geklee (:10) en haar met die mooiste, kosbaarste juwele versier (:11 – 12).

Natuurlik moet albei beide egliede saam werk aan hulle huweliksverhouding. Dit geld ook die verhouding tussen die Here en sy volk, sy kerk. Terwyl die Here se trou onwankelbaar vas staan, geld dit nie sy volk nie. By monde van sy profeet teken die Here hoedat sy volk Hom teleurgestel het: “Maar toe verlaat jy jou op jou skoonheid, jy gebruik jou beroemdheid om ‘n slet te word en jy stel jouself vrylik tot beskikking van enigiemand wat verbykom, jy word syne. Jy het van jou klere gevat en vir jou veelkleurige hoogtes gemaak en daar jou afgodery bedryf, iets heeltemal ongehoords (Eseg 16:15, 16). In die Ou Testament gebruik die Here dikwels die beeld van huweliksontrou wanneer Hy praat oor sy volk wat hulle aan afgodediens skuldig maak.

Dit is waarna die Here verwys in die afsluiting van ons fokusgedeelte: Met al dié afskuwelike dade van jou, met jou ontrou het jy nie onthou van jou jeug toe jy kaal en sonder klere in jou bloed gelê en spartel het nie (Eseg 16:22). Jy dink die Here moet tevrede wees met wat jy kans sien om vir Hom te doen. Jy kan dit net doen as jy uit die oog verloor het dat jy ‘n sondaar is wat uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, uit jou sonde verlos is.

Ons kinders is ook die Here s’n

Wanneer ‘n man met ‘n vrou trou, is die kinders waaraan sy geboorte skenk, gewoonlik sy kinders. Hy moet sy kinders versorg. Ons Vader in die hemel is in daardie opsig geensins anders as die beste aardse vader nie.

Die Here praat van kinders wat sy volk vir Hom in die wêreld gebring het. Hy noem hulle sy kinders (Eseg 16:20, 21). Die Here Hom daartoe verbind om die God van Abraham se nageslag te wees (Gen 17:7). In die ou bedeling het Hy Abraham opdrag gegee dat elke seuntjie op agt dae ouderdom besny moes word. In die nuwe bedeling het God die doop in die plek van die besnydenis (Kol 2:11, 12) ingestel as teken en seël van sy genadeverbond. Die Here waarborg met die doop dat Hy Hom in trou aan die kinders van sy volk of kerk verbind. Hy waarborg die werklikheid dat Christus aan die kruis die losprys vir ons kinders betaal het.

Die Here se genadeverbond met ons het ook ‘n tweede kant. As ouer het jy by die doop die belofte afgelê dat jy jou kind sal opvoed om ook getrou in ‘n lewende verhouding met die Here te leef. As ouer is dit jou roeping om jou kind te begelei om die Here te ken, lief te hê en te dien. Dit kan die Here met reg van sy bruid, sy volk, sy kerk verwag.

Die teendeel het egter volgens ons fokusgedeelte gebeur. Vir sy volk sê die Here: Jy het jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het, gevat en hulle vir die afgode as offermaaltye aangebied. Was jou ontrou nie genoeg nie, dat ook nog my kinders moes slag en hulle vir die afgode moes laat verbrand (Eseg 16:20 – 21)? Benewens Esegiël het ook Jeremia van kinderoffers aan afgode gepraat. Hy het vir die Israeliete gesê dat hulle hulle seuns as brandoffers vir Baäl verbrand het (Jer 19:5).

Die Here het geen kinderoffers geduld nie. Vir die kinders van sy volk het die Here hulle God iets totaal anders in gedagte. In Abraham en die profete se tyd moes hulle en vandag moet hulle steeds leer om hulleself aan die Here te gee as lewende, heilige offers wat vir Hom aanneemlik was (Rom 12:1).

Die ouers in Esegiël se tyd het hulle kinders as offermaaltye vir die afgode aangebied. Dit klink onmoontlik dat ‘n ouer sy kind vir afgode kan offer. Tog het die Israeliete.

Ons wil sommer dadelik ‘n sug van verligting slaak. Ons het nie meer afgode soos die mense in ou Israel se tyd nie. Moet egter nie dink dat die feit dat daar nie meer in ons dag afgodsbeelde is, beteken dat daar nie afgode is nie. Daar is vandag net soveel, of meer as in die tyd van die profete Jeremia en Esegiël. Vandag se afgode is selfs gevaarliker, omdat hulle heeltemal onopsigtelik beslag lê op ‘n mens se denke en die manier waarop jy na jouself en die wêreld kyk. Kyk na dit waaraan jy met betrekking tot jou kind die meeste aandag gee; bereid is om die grootste opoffering te maak; die grootste finansiële bydrae te maak. Is jy seker dat daardie saak of ding nie die afgod is waarvoor jy jou kind offer nie.

Kom ons gaan as ouers ietwat verder met hierdie toets:

  • Hoe hou jy as ouer die belofte wat jy by jou kind se doop afgelê het? Onderrig jy hom in die Woord en sien jy toe dat hy ook in die skool ooreenkomstig die Woord onderrig word?

  • Bring jy jou kind elke Sondag saam kerk toe om Hom as enigste God te vereer en te dien?

  • Bring jy jou kind katkisasie toe en sien jy toe dat hy vir elke klas voorbereid is?

  • Weet jy van die hofsaak waarin daar uitspraak gelewer gaan word oor die gebruik van die Bybel in die staatskole? Wat is jou standpunt daaroor?

  • Gaan jy oueraande toe en maak jy seker dat jy elke onderwyser van jou kind ken?

  • Voed jy jou kind op om die Here te leer ken en lief te hê en te dien?

  • Is jy seker dat jou kind onder leiding van die Heilige Gees in ‘n dinamiese verhouding met Jesus Christus as sy Verlosser leef? Hoe gereeld praat jy hieroor met jou kind?

Kan jy regtig eerlik sê dat jy doen wat die Here van jou as ouer verwag? Stel jy aan jou kinders die voorbeeld van getroue en heelhartige diens aan die Here?

Weet dít: net soos in Esegiël se tyd sien die Here nie jou ontrou aan Hom deur die vingers nie. Hy tugtig sy trouelose kind. Hy het een doel voor oë: dat ons en ons kinders Hom onder leiding van die Heilige Gees heelhartig sal dien.

Slot

Wanneer ‘n kind vir jou gebore word, verstaan jy die eerste keer regtig wat ware liefde is. Jou kind is jou prioriteit. … Regtig? Toon jy jou kind is jou hoogste prioriteit deur ook jou kind te begelei om in geloof in verbondenheid aan die Here te leef?

Die Here verras ons vanoggend. Hy sê die kinders van diegene wat aan Hom behoort, is ook syne. Baie duidelik verkwalik die Here mense wat bely dat hulle aan Hom behoort dat hulle nie hulle kinders begelei om Hom onder leiding van die Heilige Gees as hulle God en Vader gehoorsaam te dien nie. Kom ons erken die Here se aanspraak op ons kinders. Kom ons begelei hulle om in ‘n lewende verhouding met Hom te leef.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 05 21) Betrokkenheid – Die Here maak aanspraak op ons kinders Eseg 16 v20tot22

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *