(2017 05 14 1e) Betrokkenheid by mekaar en herstel van geloofsband Joh 20 v26tot28 ♪

Wat doen jy met Didimus? Klink dit vir jou na Grieks? Dit is! Didimus was die apostel Tomas se Griekse bynaam wat beteken Tweeling. Miskien was hy ‘n pessimis, miskien ‘n realis. Hy was beslis wantrouig. Toe die ander apostels vir hom sê dat Jesus uit die dood opgestaan het, het hy geëis om hom die waarheid met sy eie vingers en hande te bepaal.

Wat doen jy met iemand wat so half eenkant hou; iemand wat ‘n bietjie anders is; iemand wat miskien jou hare laat rys? Waarom so ‘n vraag? Daar is klein tekens van verandering in die gemeente. Tussen die klomp gryskoppe duik hier en daar ‘n jong gesig op. Party skakel die eerste keer by ons in. Party het eers ‘n paar wye draaie gegooi maar het besluit om terug te kom. Party is nog so klein, hulle verstaan nog geen snars van dit wat hier gebeur nie. Hulle raak moeg en geïrriteerd en gee luidkeels hulle ontevredenheid te kenne. Wat doen jy met so iemand? Kyk jy hom uit die hoogte aan, of doen jy wat eers die tien en toe ook Jesus gedoen het?

Ons fokus op betrokkenheid. Vanoggend gaan dit om betrokkenheid by mekaar en hoedat dit die geloofsband tussen ons kan herstel. Die volgende hoofsake kry aandag: (1) Didimus, die twyfelaar en (2) die twyfelaar hanteer en (3) die persoonlike belydenis

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Didimus, die twyfelaar

Johannes is die enigste evangelis wat hierdie gebeure verhaal en ook die enigste een wat die bynaam Didimus gebruik. Ons hoor sy bynaam die eerste keer net nadat Jesus vir sy dissipels gesê het dat Lasarus dood is en dat hulle na hom toe moes gaan. Didimus het vir die ander dissipels gesê: Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom (Jesus) kan sterwe (Joh 11:16). Eintlik het hy met hierdie stelling aangesluit by die vrees wat die dissipels reeds uitgespreek het oor hul ervaring toe die mense in Judea Jesus wou stenig (Joh 11:8). Didimus was dus eerder ‘n realis as ‘n pessimis. Hy was geen lafaard nie, maar dapper genoeg om sy dood tegemoet te gaan.

Ons het vanoggend gelees dat die tien vir Tomas vertel het dat Jesus uit die dood opgestaan en die Sondagaand van sy opstanding aan hulle verskyn het. Dit kon nie die prentjie in Tomas se geheue uitwis nie: Golgota: Jesus vasgespyker aan die kruis. Die soldaat steek die spies in sy sy. Daarna die graf van Josef van Arimatea waarin Jesus se liggaam weggelê is. Die klip is voor die ingang gerol en Jesus was binne-in. Sy reaksie op sy mededissipels: As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie (Joh 20:25). Tomas, Didimus, wil eers sien en voel, voordat hy glo. Waar staan jy ten opsigte van Didimus?

Staan jy in Didimus se skoene? Staan jy so half eenkant? Het iemand jou teleurgestel, jou kwaad gemaak; jou seergemaak?

Of sien jy ‘n Didimus raak, iemand wat hom eenkant gehou het? Hoe tree jy teenoor hom op? Laat jy hom welkom voel, of laat jy hom voel soos iets wat die kat ingedra het?

Die twyfelaar hanteer

Geen rede word gegee waarom Tomas (Didimus) die ontmoeting met Jesus op sy opstandingsdag misgeloop het nie. Agt dae later, die volgende Sondag, was hy weer op sy plek tussen die ander dissipels. Die belangrike saak is dat Didimus wel teruggekeer het. Dit was ook nie vir een geleentheid nie. Later, by die See van Tiberias, was Tomas een van die 7 dissipels aan wie Jesus verskyn het. Wie hom eenkant hou, moet nie eenkant bly nie. Kom, word weer deel van die dissipelkring; neem jou plek in in die gemeente van die Here.

Natuurlik is daar ‘n tweede belangrike vraag. Hoe hanteer die gemeente en gemeentelede Didimus wat terugkom? Ons moet weet, God gebruik ons as instrument om Didimus terug te bring. Iemand (Smelik, PNT) maak die opmerking: Tomas keer terug danksy:

Die apostels het Didimus nie aan sy lot oorgelaat en hom oor sy twyfel afgeskryf nie. Hulle het in liefde daarop aandring dat hy die werklikheid glo dat Jesus uit die dood opgestaan het. ’n Week na die opstandingsdag het Tomas wél onder die gelowiges wat byeen was, getel. Ek en jy kan daartoe meewerk dat Didmimus weer sy plek tussen ons inneem.

Die opgestane Jesus verskyn weer aan almal byeen – ook aan Tomas. Soos die eerste keer is Hy, ten spyte van die geslote deur, weer by hulle. Hy het hulle weer gegroet: Vrede vir julle! Al was al die ander ook daar, was die opgestane Jesus na sy groet met Tomas besig: Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig (Joh 20:27). Dit is duidelik, Jesus het van elke voorwaarde wat Didimus gestel het, geweet. Hy het elk van die voorwaardes aanvaar. Terwyl Jesus Maria Magdalena verbied het om Hom vas te hou (Joh 20:17), het Hy Tomas uitgenooi om te voel. Hy weet wat ’n mens nodig het om in die geloof herstel te word. Hy het gekom ons van ons twyfel te verlos.

Ek en jy is nie anders as Tomas nie. Wanneer ons geloof wankel, wanneer ons uit die gemeenskap van die gelowiges onttrek, kan die liefdestrou van Jesus Christus en die onderlinge liefde van medegelowiges ons weer intrek.

Tog is die werklike rede daarvoor dat iemand wat hom eenkant gehou het, terugkeer: God hou ons altyd vas. Deur sy Gees bewaar Hy die ragfyn draad van die geloof in my hart; dring Hy my om weer my plek in die kring van die gelowiges in te neem. Die Heilige Gees oorrompel my met die genade van God. Iemand stel dit só: die een wat twyfel sweef tussen twee standpunte heen en weer. Dan gryp ’n vaste hand hom en maak ’n einde aan die tweeslagtigheid.

Die persoonlike belydenis

Wanneer God met ’n mens besig is, kan jy nie anders nie, as om daarop te reageer. Toe hy Jesus sien, het Tomas meteens geweet: Jesus het die dood oorwin en uit die graf opgestaan. My Here en my God! Só het Tomas gereageer. Hierdie paar woorde is vol betekenis.

Hy spreek die opgestane Christus aan as: my Here. Ek en jy kyk by die opstanding verby. Ons sien Jesus met die oog van die geloof, soos Hy na die hemel toe opgevaar het en aan die regterhand van God sit. Ons moet weet: dit betaam geen mens om voorwaardes aan die Here van die here en die Koning van die konings te stel nie. Hy is in die volste sin van die woord alles en almal se Here, se Baas. Saam met Tomas moet ek en jy ook bely: My Here!

Toe Jesus op daardie Sondag sy aandag op Tomas vestig, hom uitnooi om na sy wonde te kom kyk en daaraan te vat, het Tomas besef: al het hy Jesus nie gesien toe hy sy voorwaardes gestel het nie, was Hy wél daar teenwoordig. Dit is net van God waar dat Hy alomteenwoordig is. Vandaar dan ook sy belydenis: my God!

Tomas se belydenis is een wat geen ander apostel op daardie tydstip uitgespreek het nie. Skrifverklaarders sê hierdie belydenis is die hoogtepunt van die Johannesevangelie. Ek en jy moet saam met Tomas bely dat Jesus die Seun van God is, dat Hy daarom God is.

n Wonderlike belydenis in vyf woorde met twee name. Tog kom een woord twee maal voor: My Here en my God! Daarmee vestig die Here ons aandag daarop dat die geloof in Christus as ons Here en God ’n baie persoonlike belydenis is.

Ek kan nie bloot versmelt in die menigte wat bely dat Jesus die Seun van God is wat mens geword het; dat Hy uit die dood opgestaan het en as Here oor alles en almal regeer nie. Ek moet persoonlik saam met Tomas bely: My Here en my God. Doen jy dit? Moedig jy jou broers en susters aan om dit saam met jou te doen?

Slot

Wat doen jy met Didimus / Tweeling? Toe die ander apostels vir hom sê dat Jesus uit die dood opgestaan het, het Tomas geëis om die waarheid met sy eie vingers en hande te bepaal.

Wat doen jy met iemand wat so half eenkant hou; iemand wat ‘n bietjie anders is; miskien iemand wat jou hare laat rys? Daar is klein tekens van verandering in die gemeente. Tussen die klomp gryskoppe duik hier en daar ‘n jong gesig op. Party skakel die eerste keer by ons in. Party het eers ‘n paar wye draaie gegooi maar het besluit om terug te kom. Party is nog so klein, hulle verstaan nog geen snars van dit wat hier gebeur nie. Hulle raak moeg en geïrriteerd en gee luidkeels hulle ontevredenheid te kenne. Wat doen jy met so iemand? Kyk jy hom uit die hoogte aan, of doen jy wat eers die tien en toe ook Jesus gedoen het?

Ons moet by mekaar betrokke wees; mekaar aanmoedig om ons plek voor Jesus Christus in te neem, die persoonlike belydenis uit te spreek en te handhaaf: My Here en my God.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 05 14) Betrokkenheid by mekaar en herstel geloofsbande Joh 20 v26 tot 28

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *