(2017 04 16 2e) Eie aan Gereformeerdheid (3) Die Here sluit sy genadeverbond met ons Gen 15 v18

In die kerke van Gereformeerde belydenis hoor ‘n mens dikwels van God se verbond, of genadeverbond met ons. Ons gebruik die woord omdat God dit in sy Woord – in beide Ou Testament en Nuwe Testament – gebruik. Jy sal die woord selde of ooit in die pinkster of charismatiese geledere hoor.

Ons verstaan van die genadeverbond moet natuurlik ooreenkom met die manier waarop God dit in sy Woord gebruik. Met die woord verbond beskryf die Here die verhouding van trou tussen Hom en sy volk. Hy het Hom in genade in trou aan Abraham en sy nageslag verbind. Hy noem dit ‘n ewige verbond. Hy maak bepaalde beloftes aan sy verbondsvolk, maar stel ook eise aan hulle (die tweede deel van die verbond in die doopformulier). Ons kan God se beloftes ons eie maak, maar moet net soveel erns maak met sy eise. Tema: Eie aan Gereformeerde geloof (3) die Here sluit sy verbond met ons. Ons let, benewens die beloftes en eise ook daarop dat die genadeverbond God s’n is. 

Dit is God se genadeverbond

Die Here se verbond met Abram is deur groot gebeure voorafgegaan. Abram moes sy land en sy mense verlaat en trek na ‘n land wat die Here sou aanwys (Gen 12:1). Toe al het Hy beloof dat Hy hom ‘n groot nasie sou maak en dat al die volke van die aarde in hom geseën sou wees (Gen 12:2, 3). Hy het ook die land Kanaän waar hy oorgebly het aan Abram beloof: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land (Gen 12:7b).

In die tyd waarin ons teks afspeel, was die gebruik dat ‘n grootkoning ‘n verbond, of ‘n staatsverdrag, sluit met ‘n onderkoning. Soos wat die gebruik by so ‘n staatsverdrag was, het die Here aan Abram opdrag gegee om ‘n vers, ‘n bok, ‘n skaapram, ‘n tortelduif en ‘n jong duif te slag en die karkasse in twee dele te verdeel. Hy plaas toe die twee helftes van die karkasse so ver uit mekaar dat die partye tussen die twee helftes van die karkasse kon deurloop. Deur dit te doen, het die mense van daardie tyd twee dinge te kenne gegee:

  • Die twee partye is deur die verbond wat so gesimboliseer word, aan mekaar verbonde soos wat die vleis van die twee helftes van die karkas eers ‘n eenheid gevorm het;

  • Met die een wat die verbond oortree, sou dit gaan soos met daardae karkasse: die dood sou hom haal. Die aasvoëls sou hulle vleis eet (vgl. Jer 34:18, 20e).

Die Here het van die gebruik waarmee Abram bekend was, afgewyk. Hy het alleen deurgegaan en wel in die tekens van ‘n rokende oond en ‘n brandende fakkel (Gen 15:17). Waarom hierdie afwyking? Die Here en Abram was nie twee gelyke verbondsvennote nie. Dit was die Here se verbond met Abram. Hy het self verantwoordelikheid vir die onderhouding van sy verbond aanvaar. Dit was sy genadeverbond.

Tog staan God nie alleen in hierdie verbond nie. Ons teks sê: Op daardie dag het die Here ‘n verbond gesluit met AbramOnder al die mense van sy tyd, het die Here net vir Abram uitverkies – sy verbond net met hom en sy nageslag gesluit. God, wat kan doen wat Hy wil, sluit daarmee ‘n klomp mense – ja, die meeste – uit by sy verbond.

Kragtens die feit dat ons Abram se geloof met hom deel, het ook ons deel van God se genadeverbond (Gen 15:5; Rom 4:1 – 12).

Die beloftes van die verbond

Soos die staatverdrag van destyds, was beloftes en eise ook deel van die Here se genadeverbond met Abram.

Die Here het verskillende beloftes aan Abram gemaak: Ons het reeds gesien die Here het die land Kanaän aan Abram se nageslag beloof (Gen 12:7). Juis met die belofte van ‘n land vir Abram se nageslag was daar ‘n ernstige probleem. Behalwe Abram en Sara se hoë ouderdom het ‘n hele paar addisionele kinderlose jare al verloop. Toe die Here in Gen 15 in ‘n gesig met Abram praat, het hy gekla.

Die Here het op die klagte gereageer. Hy het Abram verseker dat sy eie seun sy erfgenaam sou wees (Gen 15:4). Hy het hom selfs buitentoe geneem, die ontelbare sterre gewys en gesê: So baie sal jou nageslag wees (Gen 15:5).

Die land van die Kanaäniete sou Abram se nageslag se land word (Gen 12:7, 15:7, 13, 18). Die Here het nie die onderneming gegee dat alles voor die wind sou gaan met Abram en sy nageslag nie. Inteendeel! Hy het gesê dat sy nageslag ‘n tydperk van slawerny en onderdrukking sou deurmaak – 400 jaar lank!

Die Here het egter onderneem om Abram se nageslag uit die slawehuis uit te lei – met baie besittings. Dit het dan ook gebeur toe Moses die volk uit die slawerny in Egipte gelei het.

Die groot belofte van die verbond word saamgevat in die Here se latere woorde aan Abram wie se naam God in die hele proses na Abraham verander het: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag (Gen 17:7). Is daar ‘n groter slawedrywer as die Satan? Is daar ‘n erger slawerny as die sonde? Toe die Here beloof om Abram en sy nageslag se God te wees, het Hy daarmee beloof dat Hy hulle sou verlos uit die slawerny van die sonde. Dit het Hy deur sy Seun gedoen.

Ons wat vandag as gelowiges, as gemeente van Christus hier byeen is om God te ontmoet, is bewys daarvan dat God getrou is dat Hy woord hou, dat Hy sy beloftes nakom. Hoewel nie Jode nie, is ons as gelowiges immers ook kinders van Abraham. In Rom 4:11, 12 word ons daarop gewys dat Abraham die vader is van die besnedenes wat glo – dus die Jode wat glo – maar ook van die onbesnedenes wat glo – die nie-Jode: onder die nie-Jode tel ons.

God se verbond met ons loop in finale instansie uit op ons verlossing uit die sonde. Sy verbond met ons laat ons in die sekerheid van hierdie verlossing leef.

Die groot wonder is: in sy vrymag sluit God die kinders van sy kinders by sy genadeverbond in. Ek en jy kan met vrymoedigheid op grond van sy Woord glo: die Here het Hom in genade ook aan ons kinders verbind.

Die eise van die genadeverbond

Ons wat glo dat ons verbondsmense is, moet egter nie dink dat die verbond ‘n vrypas na luilekkerland is nie. Benewens die beloftes wat God gemaak het, het Hy ook eise gestel.

Die Here het belowe dat Abram ‘n groot nageslag sou hê (Gen 12:2) en dit herhaal (Gen 15:5). Daarop moes Abram reageer: Abram het in die Here geglo; En Hy het hom dit tot geregtigheid gereken (Gen 15:6). Die Here God roep ook ons daartoe op om te glo. Ons moet Jesus Christus in die geloof bely as enigste en volkome Verbosser. Hoe noodsaaklik hierdie geloof is, hoor ons in die Woord: Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Joh 3:18, 36 ).

Die feit dat God sy verbond in genade met die gelowige sluit, is – aan die ander kant – ook nie vir die gelowige ‘n vrypas om te doen wat hy wil nie. Benewens die ware geloof eis die Here geloofsgehoorsaamheid in elke faset van ons lewe. Dit is die tweede deel van die verbond waarvan die doopformulier praat. Sy Gees lei ons op die weg van gehoorsaamheid aan sy wil.

Wie in die Here se genadeverbond deel verkry, maar nie ook van sy kant in verbondenheid met die Here God leef nie, wat nie onder leiding van die Heilige Gees in geloofsgehoorsaamheid leef nie, ontdek dat dit ook gevolge het. So iemand ontdek dat die Here hom tugtig, om hom / haar so terug te bring om die die regte verhouding met Hom te leef. Wie in verbondenheid met die Here leef, ontvang sy seën daarvoor.

Slot

In die kerke van Gereformeerde belydenis hoor ‘n mens dikwels van God se verbond, of genadeverbond met ons. Ons gebruik die woord omdat God dit in sy Woord – in beide Ou Testament en Nuwe Testament – gebruik. Jy sal die woord selde of ooit in die pinkster of charismatiese geledere hoor.

Ons verstaan van die genadeverbond moet natuurlik ooreenkom met die manier waarop God dit in sy Woord gebruik. Met die woord verbond beskryf die Here die verhouding van trou tussen Hom en sy volk. Hy het Hom in genade in trou aan Abraham en sy nageslag verbind. Hy noem dit ‘n ewige verbond. Hy maak bepaalde beloftes aan sy verbondsvolk, maar stel ook eise aan hulle (die tweede deel van die verbond in die doopformulier). Ons kan God se beloftes ons eie maak, maar moet net soveel erns maak met sy eise. Dit is hoedat ons as Gereformeerde gelowiges met God se genadeverbond omgaan.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 04 16) Eie aan Gereformeerde geloof (3) Die Here sluit sy verbond met genade met ons Gen 15 v18

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *