(2017 04 09 1e) Jesus sonde en menslike reaksie Matt 26 v69 tot 27 v10

Het jy al regtig jou sonde en sondeskuld vierkant in die oë gekyk? Wie sy sonde vierkant in die oë kyk, reageer daarop.

Ons fokusgedeelte speel af tydens Jesus se verhoor. Ons sien drie reaksies van mense wat vierkant voor hulle sonde te staan gekom het: Petrus het Jesus se waarskuwing onthou, uitgegaan en bitterlik gehuil. Judas het erken: Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai. Desperaat het hy homself gaan ophang. Die priesterhoofde en familiehoofde het ongestoord voortgegaan met Jesus se verhoor. Hulle het ‘n skyn van behoorlikheid gehandhaaf deur Bloedgrond te koop as begraafplaas vir vreemdelinge.

As gelowige sal jy weet: sonder Jesus Christus se lyding en dood is daar geen hoop, geen voortuitsig vir ‘n sondaar nie. As drenkeling in die sondesee, gryp jy die hand wat Hy as Redder na jou uitsteek, omdat dit jou enigste kans is om te leef. In die woorde van Martyn Lloyd-Jones: “a sinner does not decide for Christ; a sinner flies to Christ in utter helplessness and despair.” Ons tema: Jesus, sonde en mense se reaksie. Ons staan stil by die hantering van sondes wat (1) op die dood uitloop en (2) wat tot lewe lei.

Die hantering van sondes wat op die dood uitloop

Elke mens reageer wanneer hy met sy sonde en sondeskuld gekonfronteer word. My en jou reaksie wanneer ons ons sonde in die oë kyk, maak vir ons die verskil tussen lewe of dood – ewige lewe of ewige dood. Ons sien twee reaksies wat op die dood, die ewige dood, uitloop:

Dit is bykans ondenkbaar dat een van die dissipels wat ‘n paar jaar lank indiensopleiding by Jesus gekry het, Hom sou verraai. Nog erger – dit was die een aan wie die twaalf se beursie toevertrou is (Joh 13:29). Johannes skryf dat Judas van die bydraes vir homself gevat het (Joh 12:6). Hoe verregaande dat Judas Jesus verraai het vir die prys van ‘n slaaf.

Judas het wel tot besinning gekom. Die dertig silwermuntstukke het hy terugvat tempel toe. Hy het ook nog vir die priesterhoofde en familiehoofde gesê: Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai (Matt 27:4a). Toe die priesterhoofde en familiehoofde negatief op sy skuldbelydenis reageer, staan opgeteken: Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang (Matt 27:5). Judas het sy skuld erken, sy sonde bely. Hy het selfs die verraaiersloon in die tempel neergegooi. Het hy nie genoeg gedoen om te verseker dat sy sonde vergewe is nie?

Die antwoord is opgesluit in sy woorde. Hy erken dat hy ‘n onskuldige man verraai het. Jesus was nie vir hom die Christus, die Seun van die lewende God nie (Matt 16:16). Hy het steeds nie daarby gekom om te besef dat Jesus die woorde het wat ewige lewe gee nie (Joh 6:68); dat Hy die Heilige van God is nie (Joh 6:69).

Hoor Jesus se oordeel oor Judas: ... wee die mens deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie (Joh 6:24). Judas was sonder hoop, desperaat, sonder ‘n Verlosser. Hy het homself gaan ophang (Matt 27:5). Sy hantering van sy sonde het uitgeloop op sy dood; volgens Jesus op die ewige dood.

Die priesterhoofde en familiehoofde was die godsdienstige leiers wat God se Woord moes ken. Hulle moes Jesus herken het as die Messias wat God beloof het. Hulle het egter lank allerlei planne gesmee om Jesus dood te maak. Judas se aanbod om Jesus te verraai, was vir hulle soos manna uit die hemel. Uiteindelik kon hulle Jesus uit die weg ruim.

Judas se berou het hulle koud gelaat: Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak! (Matt 27:4e). Die dertig silwermunttukke was as bloedgeld in hulle oë wel nie goed genoeg om in die tempelfonds gestort te word nie. Hulle het die grond van die pottebakker as begraafplaas vir vreemdelinge gekoop (Matt 27:6, 7). Hulle het Jesus se verhoor voortgesit. Die dood van die Seun van God, die beloofde Messias / Christus, was onafwendbaar.

Die priesterhoofde en familiehoofde van ons fokusgedeelte verteenwoordig ook mense van ons tyd. Hulle name staan op die gemeenteregister aangeteken. Hulle dankoffers beland elke maand in die kerk se bankrekening. Hulle mag selfs posisies van leierskap in die gemeente beklee. Van ‘n lewende geloof in Jesus Christus as enigste en volkome Verlosser is daar by hulle geen sprake nie.

Weet dit: as jy nie ‘n persoonlike verhouding het met Jesus Christua as Verlosser nie, as jy nie met jou hele hart in Hom glo wat sy lewe aan die kruis vir jou afgelê het nie, deel jy in die eindbestemming van Judas, die priesterhoofde en familiehoofde: die ewige dood in die hel.

Die hantering van sonde wat tot die lewe lei

Nadat Judas Hom en die ander dissipels verlaat het om sy verraad deur te voer, het Jesus gesê: Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: `Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word’ (Matt 26:31). As bewys van hierdie profesie, het Jesus uit die profeet Sagaria aangehaal. Dit moes gebeur, omdat die Here God dit so bekend gemaak het.

Petrus het egter anders gedink oor wat Jesus gehet. Hy het anders oor homself gedink as wat die Here in sy Woord laat opteken het. Hy het gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie” (Matt 26:33). Hy het homself selfs bereid verklaar om saam met Jesus te sterf (Matt 26:35). Hy was selfversekerd. Hy was `n geskikte werktuig vir die Here – veel beter as sy mededissipels.

Petrus het heel gou van deuntjie verander. En dan nie omdat hy gemartel is nie, maar net omdat ‘n diensmeisie vir hom gehet dat hy ook saam met Jesus was. Sy reaksie was redelik besadig. Hy net vir almal gesê dat hy nie weet waarvan sy praat nie. Toe die tweede diensmeisie vir die wat teenwoordig is sê dat hy by Jesus was, het Petrus met ‘n eed gesê: Ek ken die man nie! Toe die manne dieselfde bewering maak, het hy begin vloek en sweer: Ek ken die man nie! Dié geliefde Meester vir wie Petrus hom bereid verklaar het om te sterf, was bloot die man!

Toe kraai die haan. Jesus het omgedraai en na Petrus gekyk (Luk 22:61). Petrus het onthou dat Jesus vir hom gesê het hy sou Hom drie maal verloën. Hy Hy het buitentoe gegaan terwyl hy bitterlik huil. Petrus het so sy sonde erken. Sy trane was dié van opregte berou.

Ons gaan later in die versoeningsdiens hoor: … as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh 1:9). Is die geheim vir vergifnis van sonde ons belydenis van ons sondeskuld, ons trane van berou? Ons het reeds gesien dat Judas spyt gekry en sy verraaiersloon teruggebring het vir die pristerhoofde en familiehoofde. Hy het ook bely: Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai (Matt 27:4) Tog het dit hom niks gebaat nie. Jesus het immers vooraf oor Judas gesê: Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie (Matt 26:24). My en jou sondebelydenis plaas God nie onder die verpligting om ons te vergewe nie.

Ons sien dat die vergewing van sonde en die reiniging van ongeregtigheid veel meer behels as my en jou skulderkenning en -belydenis. Jesus was in sy genade aan die werk met Petrus. Hy het Petrus vir die besef van sy sondeskuld voorberei:

  • Dit wat elke dag gebeur, dat die haan teen dagbreek kraai, het op daardie besondere dag dié merker geword wat Petrus help onthou het wat Jesus gesê het.

  • Selfs voor hierdie waarskuwing het Jesus vir hom gesê: Simon, Simon! … Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk (Luk 22:31, 32). Jesus het Petrus verseker dat Hy vir hom gebid het. Petrus het ook al vooraf gehoor dat hy steeds as apostel ‘n roeping teenoor sy broers sou hê. Selfs voordat Jesus Petrus se verloëning voorspel het, het Hy duidelik gesê dat dit Petrus nie as apostel sou diskwalifiseer nie.

Op ‘n kritieke oomblik was Jesus vir Petrus bloot die man. Danksy God se genade het dit nie sy belydenis uitgewis dat Jesus die Christus, die Seun van die lewende God is (Matt 16:16), dat Hy die woorde het wat ewige lewe gee; dat Hy die Heilige van God is (Joh 6:68, 69) nie.

Jesus moes vir Petrus wat Hom op ‘n kritieke tydstip verloën het, met sy lewe aan die kruis boet. Petrus het geweet: sonder Jesus Christus was daar geen hoop, geen voortuitsig vir hom nie. As drenkeling in die sondesee, het hy die hand wat Jesus as Redder met ‘n enkele kyk na hom uitgesteek het, vasgegryp. Hy het in uiterste hulploosheid en wanhoop na Jesus gevlug.

Nie my en jou skulderkenning en -belydenis is die sleutel tot ons vergifnis nie. Net wat Jesus Christus gedoen het, net die genade wat God in en deur Christus aan ons betoon, verlos ‘n mens uit jou sonde. Net Jesus se kosbare bloed koop ons los uit die slawerny van sonde. Terwyl ek en jy heeltemal aan onsself wanhoop, gryp ons onder leiding van die Heilige Gees gelowig vas net aan Christus en sy verdienste. Dan gebeur dit: God vergewe ons.

Slot

Het jy al regtig jou sonde en sondeskuld vierkant in die oë gekyk? Wie sy sonde vierkant in die oë kyk, reageer daarop. Petrus het Jesus se waarskuwing onthou, uitgegaan en bitterlik gehuil. Judas het erken: Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai. Desperaat het hy homself gaan ophang. Die priesterhoofde en familiehoofde het ongestoord met Jesus se verhoor voortgegaan. Hulle het ‘n skyn van behoorlikheid gehandhaaf deur Bloedgrond te koop as begraafplaas vir vreemdelinge.

Een ding staan vas: sonder Jesus Christus se lyding en dood is daar geen hoop, geen voortuitsig vir enige sondaar nie. As drenkeling in die sondesee, gryp jy die hand wat Hy as Redder na jou uitsteek, omdat dit jou enigste kans is om te leef. In die woorde van Martyn Lloyd-Jones: “a sinner does not decide for Christ; a sinner flies to Christ in utter helplessness and despair.” Het jy al so diep bewus van jou sondeskuld in geloof na Jesus gevlug, in geloof aan Hom as enigste en volkome Verlosser vasgegryp?

AMEN 

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 04 09) Jesus sonde en menslike reaksie Matt 26 v69 – 27 v10

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *