(2017 04 02 2e) Eie aan Gereformeerde geloof (1) God is in volle beheer Hand 27 v13tot44

Ons het ‘n ontstuimige week agter die rug. Die bom het Donderdagnag gebars. Ons wag in spanning op reaksie van die kant van die parlement … Wat hou die toekoms vir ons in? Wat gaan met my beleggings gebeur? Dis net vraagtekens. Alles is onseker.

Dobber ons hulpeloos rond op die stormsee? Kan die skip die storm trotseer?

Paulus was ‘n gevangene op ‘n skip op stormsee. In sy gemoed was daar geen vraagtekens nie. Hy was geensins onseker nie. Hy tree as leier na vore. Hy stel gerus. Hy het immers die boodskap gekry wat hy oordra: God is in volle beheer. Dit is vanaand ons tema. Ons let agtereenvolgens op twee fasette: (1) Planne wat op niks uitloop en (2) vertrou op die Here wat regeer in trou, genade en barmhartigheid 

Planne wat op niks uitloop

Die ministerie van finansies en Tessourie het alles moontlik in die werk gestel om te probeer keer dat die RSA tot rommelstatus afgegradeer word. Al die harde werk is in ‘n ommesientjie op grond van ‘n bedenklike sogenaamde “intelligensieverslag” uitgewis. Pres Zuma het die minister van finansies en sy adjunk terugroep van Londen waar hulle gepoog het om beleggingsvertroue te verhoog. Die waarde van die Rand het skerp gedaal. Planne het skeefgeloop!

In ons fokusgedeelte loop die een na die ander menslike plan skeef – vier keer:

Plan 1: Die groot winterstorms in die Middelandse Seegebied was meer as wat ‘n boot in daardie tyd kon weerstaan. In ‘n tyd voor GPS en selfs ‘n kompas het die skeepslui volgens die stand van die sterre op koers gebly. Die wolke in die winterreënstreek het die sterre nagte na mekaar onsigbaar gemaak. Dit was daarom nodig om in ‘n veilige hawe te oorwinter. Die Romeinse offisier wat Paulus en ander gevangenes Rome toe moes neem, het ook ‘n plan gemaak om in ‘n beter hawe te kom waarin hulle die winter kon oorbly.

‘n Vaart wat, volgens beplanning, hoogstens ‘n paar uur sou duur, ontaard toe sommer gou in ‘n nagmerrie. ‘n Stormwind het hulle oorval; die skip meegesleur; hulle kon nie meer die boeg wind-op hou nie. Hulle het die dryfanker laat sak en die skip sommer wind-af laat dryf. Die volgende dag het hulle die vrag oorboord gegooi. Die dag daarna het die skip se toerusting gevolg. Nagte lank kon hulle nie die sterre sien nie. ‘n Stormwind het gewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word (Hand 27:20e) so skryf Lukas.

Die veertiende nag waarin hulle op die stormsee ronddobber, kom die matrose agter dat hulle besig was om land te nader. Terwyl hulle op die dag wag, het hulle vier ankers by die agterstewe afgegooi om te keer dat die skip op die rotse loop. Toe begin die planne weer:

Plan 2: Sommige matrose maak toe ‘n plan: hulle laat sak die bootjie in die water, onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. Hulle was egter op pad land toe – lewe toe – só het hulle gedink.

Paulus het gekeer. Die Here het aan hom bekend gemaak het dat almal die skipbreuk sou oorleef. Matrose wat hulle eie oorlewingsplanne maak, was geen onskuldige saak nie. Die mens wat die Woord van die Here hoor – selfs die heiden – moet dit gehoorsaam. Die soldate kap toe die toue af. Die bootjie het in die see geval! Die matrose se selfreddingsplan val in die see.

Plan 3: Die mense op die skip het ‘n strand voor hulle sien lê. Hulle kap toe die ankertoue en toue wat die stuurspane vashou af, hys die voorseil. Dit alles moes hulle baie na aan die strand laat eindig. Daar was egter ‘n sandbank voor die strand. Die skip loop toe daarop. Hulle was verder van die strand af as wat hulle wou wees.

Plan 4: Dieselfde soldate wat die bootjie se toue afgekap het, neem toe ‘n besluit: al die gevangenes moes dood. So sou elke soldaat se oorlewingskans beter wees, sonder die las van ‘n gevangene wat aan hom vasgeketting was. Enige moontlikheid om te ontsnap sou daarmee heen wees.

Ook hierdie plan is gefnuik. Die offfisier wou Paulus red en het gekeer dat sy ondergeskiktes hulle plan uitvoer.

So loop elke menslike plan in ons teksgedeelte uit op niks. Bykans soos al die harde werk van die ministerie van finansies en die tessourie om beleggingsvertroue te verhoog. Ons kan een gevolgtrekking maak: ons kan geensins ons vertroue stel in menslike planne, ekonomiese maatreëls, ingenieurstrukture, inligtingsnetwerke nie. In finale instansie vernietig mense alles wat mense tot stand bring.

Ons moet ons vertroue vestig op vaster grond as op prinse en hulle vermoëns.

Vertrou op die Here wat regeer in trou, genade en barmhartigheid

Is hierdie antwoord nie totaal onvanpas nie? Is dit nie idealisties en onrealisties nie? Het hierdie antwoord regtig te make met die werklikheid waarin ons vandag leef?

Hierop antwoord die Here onomwonde in ons teks. Eintlik lê die antwoord al veel verder terug as in ons teks. Ons het gelees dat die Here veel vroeër al vir Paulus, in uiters benouende omstandighede, die versekering gegee het: Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen (Hand 23:11).

Dit is dié Paulus wat die Romeinse offisier wou oortuig om nie in oënskynlik gunstige omstandighede die vaart te begin wat bykans noodlottig afgeloop het nie. Tog, nadat almal op die skip al moed verloor het, het juis Paulus gesê: Hou moed! En selfs nog ‘n maal: Hou moed (Hand 27:22, 25)!

Hou moed! Dit is die boodskap wat die Here ook aan ons toevertrou het vir die wêreld van ons dag: Hou moed! Vir mense wat ronddobber in ‘n stormsee van onsekerheid moet ons as gelowiges sê: Hou moed! Die Here is in beheer! Die Here sal sorg!

In ons teks gebruik die Here selfs ‘n heidense Romeinse offisier om die soldate te keer om strydig met God se wil te handel. Die offisier doen dit eenvoudig omdat hy Paulus wou red. In finale instansie is dit egter nie die Romeinse offisier wat Paulus wil red nie – God almagtig wou Paulus met sy lewe daarvan laat afkom. God Drie-enig wou Paulus gebruik sodat die keiser in die wêreldstad, Rome, die blye verlossingsboodskap in Christus kon hoor!

En die Here het besluit om nie net Paulus se lewe te spaar nie, maar almal saam met hom op die skip. Daar was gelowiges saam met Paulus. Daar was ook ongelowiges en heidene; selfs geharde, goddelose misdadigers; rowers en moordenaars. Hulle almal het saam met Paulus voordeel getrek uit die Here se barmhartigheid aan sy gestuurde. Hulle het almal ervaar dat God Almagtig hulle begenadig – hulle het bly lewe!

Dit was egter in die eerste plek Paulus wat gespaar moes bly. In sy almag het die Here God hom bewaar! Hy het hom bewaar in stormsee, skipbreuk en selfs slangbyt (Hand 28). Die Here het Paulus bewaar, omdat hy nog ‘n roeping hier op aarde gehad het. In die proses het die Here soveel gespaar wie se paaie Paulus gekruis het. Hy het hulle mateloos geseën!

Kan ons regtig op die Here alleen vertrou? Ja, ons kan! Hy is ons vertroue waardig. Hy is immers dié God wat barmhartig en genadig is. Hy bly, in die volste sin van die woord, getrou!

Beteken dit nou dat ons agteroor moet sit en net wag dat God handel? Nee, God se handeling skakel nie die mens uit nie. Dit is waarom die mense saam met Paulus op die skip moes eet; waarom hulle sterk genoeg moes wees om die vrag oorboord te gooi (27:33 – 38). Hulle moes uiteindelik ook die gestrande skip ordelik ontruim (27:43 – 44).

Met dit wat ons hand vind om te doen, is alles ook nie afgehandel nie. Die apostel, Paulus, het geloof en gehoorsaamheid van elke matroos op daardie skip geëis. Die Here het beloof dat almal op die skip sou oorleef. Hulle moes almal op die skip bly tot op die tyd wat God bepaal het hulle die skip moes verlaat.

Ook na Donderdag se rampspoedige optrede van pres Zuma moet ons doen wat ons hand vind om te doen. Ons kan versoekskrifte teken, selfs aan protesoptogte deelneem. Ons hooftaak is egter: ons moet die wêreld waarin ons leef, helder en duidelik daartoe oproep om die blye boodskap te glo; hulle vertroue in die Here en in Hom Alleen te stel.

Dit is nie mense wat oor ons en ons toekoms besluit nie – nie goddelose en staatshoofde met neigings tot diktatorskap nie. God bepaal ons tye en omstandighede. Uiteindelik skenk Hy ons in genade die ewige heerlikheid.

Wat ons ook al doen, moet ons steeds doen met ons geloofsoog op God wat tot in ewigheid getrou regeer en op sy enigste Seun, ons Verlosser, die Begin en Voleinder van die geloof. Vertrou altyddeur op die Here Alleen – Hy regeer getrou oor alles en almal en elkeen. Wat ook al in die wêreld gebeur, God regeer!

Hoe kan ons daarvan seker wees? In sy trou het Hy sy Seun vir ons gegee. Saam met Hom skenk Hy ons alles in genade. Ons het ook reeds die eerste paaiement van hierdie heerlikheid ontvang (Rom. 8:23): die Heilige Gees wat in ons woon en werk. Hy lei ons, bly ewig by ons, troos ons.

Slot

Ons het ‘n ontstuimige week agter die rug. Die bom het Donderdagnag gebars. Ons wag in spanning op reaksie van die kant van die parlement … Wat hou die toekoms vir ons in? Wat gaan met my beleggings gebeur? Dis net vraagtekens. Alles is onseker.

Dobber ons hulpeloos rond op die stormsee? Kan die skip die storm trotseer?

Paulus was ‘n gevangene op ‘n skip op stormsee. In sy gemoed was daar geen vraagtekens nie. Hy was geensins onseker nie. Hy stel gerus. Hy het immers die boodskap gekry wat hy oordra: God is in volle beheer. Dit is die boodskap wat ons as Gereformeerde gelwoiges met ons hele hart glo. Dit is die boodskap wat ons aan die mense van ons tyd moet oordra.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 04 02) Eie aan Gereformeerde geloof (1) God is in volle beheer Hand 27 v13 tot 44

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *