Wat maak jy met jou rampe, teenspoed, teleurstelling, verlies, leed, hartseer? Juis die gelowige vra: wat het God met my negatiewe ervarings te make?
Die vinnige antwoord van veral die megakerke van ons tyd is: Niks! God het net te make met dit wat goed, mooi en lekker is. Elke negatiewe ervaring het net een oorsprong: die Satan. Jy moet net glo, dan stop God dit wat negatief is en vervang dit met die positiewe.
Vrae wat ‘n mens aan die megakerke sou kon vra is: Het die Satan regtig soveel mag dat hy God kan uitskakel? Kan my klein geloof God se almag inperk? Uiteindelik: Is hierdie vinnige antwoord regtig volgens die Skrif geldig?
Gereformeerdes glo op grond van die Skrif: Alles kom ons uit die hand van die Vader toe. Beide God en die Satan speel in Job se ervaring ‘n rol. Satan tref Job wel met ongekende teenspoed. God is egter duidelik in beheer van wat gebeur. Uiteindelik verdwyn die Satan uit die prentjie. Job leer God juis deur sy teenspoed heen ken – nie as die Een wat sy vrae antwoord nie – maar as die Een wat sorg – in sowel voorspoed en teenspoed. Die hoofsake waarop ons let – in vraagvorm: (1) Wie het te make met wat oor ons kom? (2) Wie beheer wat oor ons kom?
Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool ►