(2017 03 12 2e) Wat van … (7) Die goddelose beleef voorspoed en die gelowiges teenspoed Ps 73

Ons het in die afgelope paar jaar beleef dat lidmate, gelowiges, verskillende soorte kanker kry. Sommige het infeksies na operasies opgedoen. Party het gesond geword. Ander het die stryd verloor. Gelowiges in besighede raak in finansiële knyp. Gelowiges verloor hulle werk, beleef huwelikskrissise, probleme met kinders, sukkel met skoolwerk …

Aan die ander kant beleef ongelowiges voorspoed. Die psalmdigter teken hulle voorspoed: Hulle het geen kwellings, sorge en teenspoed nie. Hulle is sterk en gesond. Hulle is aanmatigend teenoor hul medemens en God. Niks laat die goddelose mense van koers verander nie. En hulle ervaar net voorspoed (Ps 73:4 – 12).

Moet dit nie juis andersom wees nie? Gelowiges behoort tog voorspoed te ervaar. Hierdie boodskap klink so vanselfsprekend, dat ‘n hele teologie ontstaan het wat wêreldwyd uit Amerika uitgevoer word: die voorspoedsteologie (prosperity gospel). Mense drink hierdie teologie gretig in.

Die probleem van teenspoed wat gelowiges tref, is allermins nuut. Eeue gelede het die digter van Ps 73 byna koers verloor oor dieselfde probleem. Hy het die goddelose hulle voorspoed beny. Sy eie teenspoed het hom diep laat twyfel.

Tog het die lig vir hom opgegaan. Hy het perspektief gekry. Ons neem drie verskillende perspektiewe onder die loep: (1) op die probleem; (2) verandering daarin en (3) die volledige perspektief.

Perspektief op die probleem

In Ps 73:4 – 12 teken die digter die goddelose se voorspoed en hulle houding. Hulle het geen kwellings, sorge en teenspoed nie. Hulle is sterk en gesond. Hulle is aanmatigend teenoor hul medemens en God. Niks laat die goddelose mense van koers verander nie – hulle ervaar net voorspoed.

Die digter kyk van die goddelose af na sy eie omstandighede. Hy beskryf dit: Dat ek die kwaad vermy het en met ‘n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf (Ps 73:13 – 14). Sy omstandighede vergelyk baie swak met dié van die goddelose.

Die kind van die Here kry kanker en infeksie; sy kind sterf; sy besigheid stort in duie; hy maak ‘n belegging in ‘n skema wat alles wat hy vir sy oudag bymekaargemaak het, opslurp … Die kind van die Here sukkel op skool; raak die massa universiteitswerk nie baas nie; beleef dat ‘n verhouding op die rotse loop …

Die boodskap van die voorspoedsteologie is: as jy as gelowige hierdie soort prtobleem ervaar, is daar fout met jou geloof. Jy moet onvoorwaardelik vertrou en alles sal vir jou in plek val – jy sal kry presies wat jou hart begeer.

Mense wat in massa na hierdie teologie gaan luister, kom uiteindelik bedroë daarvan af. Hulle besluit: dit maak geen sin om God te dien nie. Hulle reageer vyandig op die evangelie en die kerk wat dit verkondig.

Die probleem is hierdie perspektief van die voorspoedsteologie is vals. Dit neem nie Jesus se lering in ag nie dat juis sy kind wat vervolg word, gelukkig is (Matt 5:10-12). Dit ignoreer sy stelling: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg (Matt 16:24). Selfverloëning en vervolging is Jesus se toekomsprentjie van sy volgeling.

Verandering in perspektief

Die digter van Ps 73 sê dat die voorspoed van die goddelose en sy eie teenspoed vir hom ‘n ’n probleem was het totdat hy in die heiligdom van God ingegaan het. Die lig het juis vir hom in die kerk opgegaan.

Ons moet, wanneer ons gebuk gaan onder die gebrokenheid van hierdie werklikheid, juis kerk toe kom. Ons moet ook in en met ons leed kerk toe kom.

Hoewel die kerk die plék is waar daar perspektief kom vir die gelowige wat leed ervaar, wat gebuk gaan onder die gebrokenheid van hierdie werklikheid, moet ons weet dat die antwoord nie in die eerste plek by die plék lê nie, maar by God – Hy wat ons juis op daardie plek ontmoet, Hy wie se plek dit is!

In die kerk gee die Here perspektief – ’n ewigheidsperspektief. Juis in die kerk gee die Here wat ons as gemeente hier ontmoet ons die genade om ’n groter geheelbeeld te kry van ons eie, sowel as die goddelose se hele situasie.

Die Psalmdigter sê dat die verhouding tussen sy eie en die goddelose se omstandighede vir hom ’n probleem was totdat hy in die heiligdom van God op hulle einde gelet het. Hy skets hulle einde: U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei. In ‘n oogwink word hulle iets afgrysliks, gaan hulle te gronde, tref ‘n verskriklike einde hulle (Ps 73:17 – 19)! Is dit die uiteinde waarop jy wil afstuur? Sekerlik nie. Dit is wél die einde van die goddelose. Kyk na die volle omvang van hulle bestaan – en ook joune as gelowige. Doen dit saam met medegelowiges wat, soos jy, moet stry teen die swaarkry en ellende van hierdie lewe.

Die volledige perspektief

Die Here gee ook die volle perspektief op ons situasie. Hy staan nie verwyderd daarvan nie. Hy staan in ons omstandighede, hoe moeilik dit ook al is, by ons.

In finale instansie is ons behoud dat die Here God in sy almag en trou ons nie toelaat om die pad heeltemal byster te raak nie. Hy wat gister en vandag dieselfde is en tot in ewigheid toe, is die Een wat ons oor die hele span van die tyd vashou; wat dit gister gedoen het, dit vandag steeds doen en dit ook tot in ewigheid toe sal doen. In die digter se woorde: Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat. U sal my lei deur u raad en daarna in heerlikheid opneem (Ps 73:23 – 24, 1953).

Ja, ons is sondaars, ons harte neig weg van God af. Ons behoud is dat ons saam met die Psalmdigter kan sê: Nogtans! Die geheim wat ons ons leed laat verwerk is hierdie nogtans van ons teks; die nogtans van God se genade. Nogtans is ek altyddeur by U.

Jesus Christus is: Immanuel, God met ons! Danksy Immanuel, God met ons, danksy ons Here Jesus Christus kan ons saam met die Psalmdigter sê: Nogtans is ek altyddeur by U. Ook ons kan vandag saam met die apostel Paulus uitroep Rom 8:38 – 39: Hiervan is ek oortuig: Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Al die gebrokenheid van hierdie wêreld waarin ons leef, al hierdie leed wat ons as gevolg daarvan ervaar, kan een ding nie regkry nie: dit kan ons nie van God vervreem nie.

Waarom nie? Omdat Hy ons regterhand gevat het; omdat Hy altyddeur by ons is. Ja, al wil ons vanweë ons omstandighede nie by Hom wees nie, al is ons vir Hom kwaad, nogtans laat Hy ons nie los nie. Hy bly tot in ewigheid toe aan ons getrou.

Ons troos wanneer ons ons eie hede met dié van die goddelose vergelyk, is nie net dat hulle uiteinde verskriklik is nie, maar ook die woorde van die digter: U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem (Ps 73:24, 1953) . Ons weet uit die Woord: [God] sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie (Open 21:4).

Wat jou leed ook al is, wat die gebrokenheid ook al is wat swaar op jou druk: daar sal ’n einde aan kom – so seker as wat ons hier sit. Al is dit nie hier en nou nie, al is dit ook nie voordat jy die laaste asem uitblaas nie, die einde van leed is in sig – God sal dit vir ons laat aanbreek. Hy doen dit wanneer sy Seun weer op die wolke kom – in heerlikheid.

Maar wat dan van die tussentyd, die tyd voor die wederkoms van Christus? God het sy Gees gegee as die eerste paaiement (Rom. 8:23) van hierdie toekomstige heerlikheid.

As mense wat leed ervaar, kan ons, gedring deur die Heilige Gees saam met die digter sê: Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd (Ps 73:26). Kom ons bely ook in vaste vertroue: wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug (Ps 73:28)!

Kom ons gaan in hierdie gebroke wêreld in en vertel die mense wat ly, die mense wat leed ervaar: Ons is altyddeur by God. Hy het ons regterhand gevat. En as Hy gevat het, laat Hy nooit los nie – in sy almagtige hand hou Hy ons tot in ewigheid toe vas.

Slot

Ons het in die afgelope paar jaar beleef dat lidmate, gelowiges, verskillende soorte kanker kry. Sommige het infeksies na operasies opgedoen. Party het gesond geword. Ander het die stryd verloor. Gelowiges in besighede raak in finansiële knyp. Gelowiges verloor hulle werk, beleef huwelikskrissise, probleme met kinders, sukkel met skoolwerk …

Aan die ander kant beleef ongelowiges voorspoed. Die psalmdigter teken hulle voorspoed: Hulle het geen kwellings, sorge en teenspoed nie. Hulle is sterk en gesond. Hulle is aanmatigend teenoor hul medemens en God. Niks laat goddelose van koers verander nie. En hulle ervaar net voorspoed (Ps 73:4 – 12).

Die probleem is allermins nuut. Eeue gelede het die digter van Ps 73 byna koers verloor oor dieselfde probleem. Hy het die goddelose hulle voorspoed beny. Sy eie teenspoed het hom diep laat twyfel. Tog het die lig vir hom opgegaan. Hy het perspektief gekry. Ons enigste vastigheid en sekerheid is te vinde in die Here ons God alleen.

AMEN 

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 03 12) Wat van … (7) die goddelose beleef voorspoed en die gelowige teenspoed Ps 73

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *