(2017 02 26 1e) Betrokkenheid (5) Die Woord maak die wat luister treurig maar ook bly Neh 8 v9 tot 13 ♪

Ou bekende Bybelwoorde spring skielik uit die bladsy op. Jou oë rek. Jy lees weer … en nog ‘n keer. “Het ek dit regtig nog nooit raakgesien nie?” ‘n Ou-ou probleem val oop. Lig verdryf donker onsekerheid. Jy voel verskriklik bly.

Iets heeltemal anders het met God se volk gebeur pas nadat die muur van Jerusalem voltooi is. Hulle het gevra dat die bevele van die Here aan Israel aan hulle voorgelees moes word. Die volk het eers opgestaan, gehoor hoe Esra die Here prys en daarop gesê: Amen, amen. Toe kniel hulle en buig diep voor die Here (Neh 8:7). Die hele gemeente het gehuil by die aanhoor van die wet (Neh 8:10). Hulle het hulle eie sonde besef. Hulle was spyt daaroor.

Nehemia, Esra en die Leviete het gesê: Moenie treurig wees nie, moenie huil nie. Hulle moes feestelik gaan eet en drink. Vir mense wat niks gehad het om te eet en drink nie moes hulle porsies stuur. Almal moes bly wees, want dit was feestyd.

Wie na God se Woord luister, kan intens treurig voel, maar ook intens bly word. Luister jy só? Reageer jy só? Ons tema: Die Woord maak dié wat luister treurig, maar ook bly. Ons let op die luister na die Woord van die Here en die twee reaksies daarop.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die luister na die Woord van die Here

Klim vir ‘n oomblik in die mense van Jerusalem se skoene. Hulle werk om die stadsmuur van Jerusalem te herbou, is voltooi. Hulle het die werk in ‘n rekordtyd afgehandel: binne 52 dae. Baie van hulle sou op daardie tydstip kon voel: “dankie tog, nou het ons ‘n blaaskans!” Ander kon weer dink: “my huis is nog nie reg nie, nou kan ek al my aandag daaraan gee.” In hulle skoene sou ons skoene uitskop en ons voor die TV tuismaak en sport kyk.

In Jerusalem gebeur toe iets heeltemal anders: Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring. Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebringHy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag … Die aandag van die hele gemeente was by die wetboek (Neh 8:2, 3a, 4). Hulle het nie kerk afgegee nie – hulle vra juis: “bring die Woord; lees dit vir ons”. Hulle doen dit soos een man! Sien jy die betrokkenheid?

‘n Paar goed het gebeur wat ‘n mens nogal aan ons eredienste laat dink. Esra het op ‘n houtverhoog gaan staan, die boekrol oopgemaak en die Here, die grote God geprys (Neh 8:5, 6). Die gemeente het opgestaan en met hande omhoog geantwoord: Amen, amen. Die Leviete het uit die wet van God voorgelees, dit in Aramees vertaal vir die wat nie Hebreeus verstaan het nie en vertel wat dit alles beteken. Daardie erediens in Jerusalem het van ligdag af tot in die middel van die dag geduur (Neh 8:4). Ons sou kla: “Ons moet nog gaan kos maak!”

Iets wat elkeen van ons ons van tyd tot tyd moet afvra is: Het jy regtig ‘n behoefte om na die Woord van die Here en die verkondiging daarvan te luister? Is jy in die erediens om die Here hier te ontmoet, regtig te luister na wat Hy vir jou en vir sy gemeente sê? Antwoord jy saam in wat ons sing, bely en bid? Reageer jy werklik op die Woord wat jy hoor?

Doen jy dit, sal jy weet, jou reaksie in die een hoofdeel van die erediens verskil van jou reaksie in die ander hoofdeel.

Al het die erediens in ou Israel waarskynlik nie presies soos ons s’n verloop nie, het ook die Judeërs verskillende gereageer op wat hulle gehoor het:

Die Woord wat ons hoor, laat ons treurig voel

Die Judeërs het soos een man by die Waterpoort bymekaargekom om te luister na die wetboek van Moses met die bevele van die Here. Hulle het treurig gevoel en gehuil. Waarom?

Lees ‘n mens die eerste vyf boeke van die Ou Testament sien jy hoe alles vanaf Gen 3 misloop. Kain het Abel doodgemaak. God het die verdorwe en korrupte mense, met die uitsondering van Noag en sy mense in die sondevloed uitgewis. Toe Noag uit sy wynroes wakker skrik, het hy sy seun Gam se seun Kanaän vervloek (Gen 9:24,25). Die poging om God se oordeel te keer deur die toring van Babel tot in die hemel te probeer bou, het die taalverwarring tot gevolg gehad (Gen 11).

Daarna het die Here sy genadeverbond met een man, Abraham, en ook sy nageslag gesluit (Gen 12 – 17). Abraham het leuens vertel (Gen 12:13; 20:2). Sy kleinseun Jakob het sy naam uitgeleef: hy was ‘n bedrieër. Sy seuns het hulle witbroodjie-broer, Josef, aan slawe-handelaars verkoop. Josef het uiteindelik onderkoning in Egipte geword. Jakob en al sy seuns kon toe danksy Josef die hongersnood in Egipte oorleef. In Egipte het dit later onhoudbaar vir die Israeliete geword. Die Here het Moses geroep om hulle uit die slawerny te lei.

Op trek na die beloofde land het die volk bly kla – eers oor kos, toe oor ‘n gebrek aan water en later omdat hulle vleislus te groot geword het. Terwyl Moses die wet op die berg Sinai by God gekry het, het hulle het ‘n goue kalf gemaak en aanbid. Die Here het verskeie kere gedreig om sy volk weens hulle sonde uit te wis. Die ou, sondige geslag moes ook eers uitsterf voordat hulle die beloofde land kon binnegaan.

Die Judeërs in Nehemia se tyd het besef: ons voorgeslag was verskriklike sondaars.

Die Leviete ook vir hulle die betekenis van die wet van die Here deurgegee. Lees ‘n mens die wet van die Here in sy ware betekenis, besef jy dat die Here nie net die uiterste daad in elk van die gebooie verbied nie, maar reeds die eerste begeerte, die eerste gevoel. So verbied Hy moord, maar ook die wortels daarvan soos afguns, haat, woede en wraaklus (HK 40:106). Dit geld elk van die Tien Gebooie van God.

Wanneer ‘n mens na die Wet van die Here luister, besef jy: ek is diep in sonde en ellende gedompel. Dit het die Judeërs treurig gemaak, hulle laat huil. Wie die omvang van sy sondeskuld besef, weet ook daar is rede vir trane. Daar is rede om jou voor die Heilige God te verootmoedig. Hierdie besef is vrug van die werk van die Heilige Gees in ons.

Het jy al regtig jou lewe getoets aan wat die Here van jou as sy kind verwag? Het jy al ontdek dat jou sondeskuld onbetaalbaar groot is?

Dan sal jy weet jy hoef nie in ‘n gat te gaan wegkruip nie. Nee, lê jou sonde en skuld voor die Here bloot, bely dit voor Hom. Doen jy dit, ontdek jy dat die boodskap van die evangelie is dat daardie sondes wel toegedek word. God doen dit. Hy wis dit uit. Dan kan jy ook ervaar:

Die Woord wat ons hoor, maak ons bly

Nehemia, Esra en die Leviete het herhaaldelik vir God se volk gesê: Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie. […] Gaan vier fees, eet en drink … Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm. […] Wees rustig. Dit is ‘n gewyde dag, moenie bedroef wees nie (Neh 8:10 – 12). Dit was die tyd waarop die volk van God die huttefees / loofhuttefees / ook die fees van insameling genoem, moes hou (Neh 8:15 – 19, vgl Lev 23:33 – 43). Die druiwe- en olyfoes is so gevier. Die Israeliete moes hierdie fees met vreugde vier.

Tydens die huttefees kon hulle dink aan (1) God wat hulle bewaar het terwyl hulle in hutte gebly het en (2) die Here wat in die woestyn en in die beloofde land vir hulle gesorg het.

Hoe vier ‘n mens so ‘n fees? Nehemia se antwoord: Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm (Neh 8:11). Hulle moes gaan eet letterlik wat vet is – hulle moes die beste eet wat beskikbaar was. Hulle moes ook van die soetigheid drink. Dit verwys waarskynlik na die droë wyn van die Bybelse tyd wat met heuning versoet is. Hulle moes regtig gaan feesvier.

Terwyl hulle kon terugdink aan die Here se sorg aan hulle in die woestyn en in die beloofde land, moes hulle nie verby hulle volksgenote kyk wat self niks gehad het waarmee hulle kon feesvier nie. Die wat het, moes porsies stuur aan die wat nie het nie. Almal moes feesvier. Die hele gemeente het toe gaan eet, lekkernye uitgedeel en groot feesgevier. Hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is (Neh 8:13).

Hoe raak dit ons wat glad nie meer die huttefees vier nie? Ook ons moet luister na die Woord van die Here – al 66 boeke daarvan. Ons moet ons oor ons sonde voor God verootmoedig. Ons kan ook gelowig aanvaar dat Jesus Christus ons sondeskuld betaal het deur aan die kruis te sterf. Hy het ons met God versoen. Ons het daarom selfs groter rede tot vreugde as wat die Judeërs in Nehemia se tyd gehad het.

Vreugde is vrug van die werk van die Heilige Gees in ons (Gal 5:22). Ken jy hierdie vreugde? Is jy vol vreugde daaroor dat God jou deur sy Seun met Hom versoen het? Dien jy die Here ook met vreugde? Laat jy ander, sondaars soos jy, wat Christus nie ken nie, ook deel in die vreugde deur Hom aan hulle te verkondig as ons Verlosser en Here?

Slot

Wie na God se Woord luister, kan intens treurig, maar ook intens bly word. Luister jy só? Reageer jy só? Ons tema: Die Woord maak dié wat luister treurig, maar ook bly.

Gaan jy uit die erediens om jou lewe in te rig dat een en almal kan sien dat jy aan die Here behoort, dat jy weet dat jy duur gekoop is deur die kosbare bloed van die Seun van God? Leef jy as kind van God en volgeling van Jesus vol vreugde? Wat doen jy om ook ander sondaars in daardie vreugde te laat deel?

AMEN 

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg:  (2017 02 26) Betrokkenheid (5) Die Woord maak die wat luister treurig, maar ook bly Neh 8 v9 tot 13

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *