(2017 02 12 2e) Wat van (3) spreek lewe en dood Spr 18 v20 en 21 ♪

O, Here Jesus, help my dat ek lewe sal spreek. … Wys my asseblief waar ek dood gespreek het oor my eie lewe, my man, my kinders en ons toekoms” (Gretha Wiid in ‘n gebed van ‘n vrou vir haar gesin).

Die sportsielkundige, Jannie Putter, verduidelik hoe jy “‘n droom in jou kinders se lewe kan in spreek” (volgens Maroela Media, Maandag 22 Sept 2014).

Om gedurig die duisternis aan te val, is om dood te spreek … spreek Lewe!” (Jou tong het mag oor Lewe en Dood, gebedsversoeke.blogspot.co.za).

Dit is enkele aanhalings verkry via ‘n Google-soektog. As Skrifbewys daarvoor dat wat ons spreek soveel krag dra dat dit werklikheid word, word Spr 18:20, 21 aangehaal. Uit hierdie aanhalings is duidelik dat ‘n mens jou woorde baie versigtig moet kies, omdat jou woorde (dit wat jy spreek) ‘n inherente skeppingskrag kan hêòf positief, òf negatief. Vandaar ons tema: Wat van … (3) jy spreek lewe en dood?

Wil ons die temavraag beantwoord, moet ons: (1) kyk wat die Here in Spr 18:20, 21 sê; (2) die aanhalings daaraan toets en (3) dan die vraag beantwoord: Wat van … jy spreek lewe en dood?

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Wat die Here in Spreuke 18:20, 21 sê

Wil ‘n mens die Skrifgedeelte reg verstaan moet jy die konteks of die verband waarin dit staan, in berekening bring. In die boek Spreuke gaan dit om twee moontlike leefwyses: wys, of dwaas. Die wysheid of dwaasheid kom na vore in wat ‘n mens sê en in wat jy doen.

Beperk ons ons tot wat iemand sê, geld van ‘n dwaas: ‘n Dwaas praat hom in ‘n rusie in, hy soek slae met wat hy sê. ‘n Dwaas se mond is sy ondergang, sy eie woorde is ‘n dodelike strik. Skinderstories word gretig verslind; mense sluk dit so maklik (Spr 18:6 – 8; vgl soortgelyke voorbeelde in :13 en 17). Wat die dwaas praat, het negatiewe gevolge; dikwels vir homself, maar ook vir ander.

Die wyse waarop ‘n wyse praat, het ander gevolge: Deur die regte woorde te gebruik, kan ‘n mens sy honger stil, hy kan genoeg kry om te eet deur wat hy sê (Spr 18:20). Iemand sê dat dit beteken dat dit moontlik is om te leef en versadig te word deur te praat. soos bv ons tyd se motiveringsprekers, omroepers, TV-aanbieders, parlementslede …

Elders word ons gewaarsku om ons tong reg te gebruik. So vergelyk Jakobus in sy brief die tong met die stang in ‘n perd se bek, met die roer van ‘n skip en met ‘n vuurtjie wat ‘n groot bos uitbrand (Jak 3:2 – 5). Sy gevolgrekking: Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek (Jak 1:5b – 6).

Ook uit ervaring of persoonlike waarneming weet ons dat woorde ernstige gevolge kan hê: ‘n Ouer wat sy kind heeltyd afkraak, kan maak dat die kind al sy selfvertroue verloor. Positiewe aanmoediging het weer positiewe resultate.

Wat iemand sê, het dus gevolge. Daardie gevolge kan positief of negatief wees. Hoe ernstig is hierdie gevolge? Hier kom die volgende vers van ons fokusgedeelte ter sprake: Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra (Spr 18:21). Letterlik staan daar: Lewe en dood (is) in die hand (simbool van mag) van die tong.

Destyds het ‘n koning die mag gehad om iemand wat iets sê waarvan hy nie hou nie, sumier ter dood te veroordeel.

Sommige Skrifverklaarders koppel die spreuk waarop ons fokus aan die negende gebod: Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie (Eks 20:16). Ons vind in die Bybel voorbeelde van waar vals getuienis op die dood uitgeloop het:

  • Konigin Isebel het ‘n brief aan die leiers en ampsdraers van Jisreël gestuur om twee gewetenlose manne teenoor Nabot te laat sit wat moes getuig dat hulle hom ‘n vloek hoor uitspreek het teen God en die koning. Toe dit gebeur, is Nabot die stad uit geneem en met klippe dood gegooi. Agab kon toe Nabot se wingerd in besit neem (1 Kon 21:10 – 15).

  • Die Joodse Raad het vals getuies teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak (Matt 26:59). Toe die hoëpriester vir Hom vra of Hy die Christus, die Seun van God is, het Hy bevestigend geantwoord. Hy het die waarheid gepraat. Die hoëpriester het gesê dat Hy daardeur God gelaster het. Die Joodse Raadslede het daarop besluit: Hy verdien die dood (Matt 26:66).

In daardie sin het die tong – die getuienis wat iemand lewer – dus mag oor lewe en dood. Die gedeelte waarin Jesus gesê het ‘n boom word aan sy vrugte geken, sluit Hy af: Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word (Matt 12:36, 37). Selfs op die oordeelsdag gaan wat ons sê, gevolge vir ons hê: vryspraak of oordeel.

Ons fokusgedeelte word afgesluit met die woorde: dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra (Spr 18:21b). Wie sy liefde aan die tong betoon deur baie te praat, sal die gevolge dra van wat hy sê. Dit wat sleg is, het negatiewe gevolge; wat goed is, positiewe gevolge.

Die aanhalings van positiewe belydenis getoets

Die gewone maak plek vir spreek, volgens HAT “ietwat deftig”. Spreek word egter nie “ietwat deftig” gebruik nie, maar eerder “ietwat sterker / ietwat magtiger”. Uit die aanhalings soos dié in die inleiding is die opvatting duidelik dat ‘n mens jou woorde baie versigtig moet kies, omdat jou woorde (wat jy spreek) skeppingskrag kan hêòf positief, òf negatief.

Natuurlik kan ons met onversigtige woorde verhoudings seermaak, ‘n kind ontmoedig … Elke ouer en huweliksmaat sou sekerlik kon bid: “As ek iets gesê het wat my man en my kinders sou ontmoedig, vergewe my en staan hulle by om dit opbouend te kan hanteer.

Is dit moontlik om waar jy negatiewe goed gesê het, dit self met een magtige positiewe spreek lewe uit te kanselleer, of om te keer? Het ‘n mens se woorde soveel inherente krag?

Iemand skryf op die internet (https://www.gotquestions.org/positive-confession.html) onder andere:

(1) Die gevaarlikste van hierdie soort stellings is dat dit daarvan uitgaan dat woorde ‘n soort geestelike, magiese krag het wat ‘n mens kan gebruik om te kry wat jy wil hê. Asof ons met ons woorde God se arm kan draai om dit wat ons wil hê vir ons te gee.

(2) Hy koppel hierdie opvattings aan die voorspoedsteologie – die groot dwaling van ons tyd. Volgens hom hou hulle nie rekening met die werklikheid dat God se plan vir ons lewe nie met ons eie planne mag klop nie (Jes 55:9). Hy beklemtoon: Jesus het nie voorspoed aan sy volgelinge beloof nie. Hoor sy belofte in sy bergpreek: Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel (Matt 5:11, 12).

(3) Hy sluit af: God is nie in kosmiese Sinterklaas nie, maar ‘n liefdevolle Vader wat by sy kinders se lewe betrokke wil wees – by beide die goeie en die negatiewe. Wanneer ons ons voor Hom verootmoedig, help Hy ons en òf Hy gee verligting deur ons omstandighede te verbeter, òf Hy gee ons die krag om daardeur te kom (vgl 2 Kor 12:1 – 10).

Wat van: jy spreek lewe en dood?

Nie ons nie, maar God is almagtig. Nie ons nie, maar God het die krag om dinge te doen. So sê die Here in sy Woord: Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond. Uit my mag word niemand bevry nie (Deut 32:39). Selfs aan sy gesalfde, die heidenkoning Kores, het die Here gesê: Ek maak die lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge ( Jes 45:7).

God alleen het die mag om te skep net deur te praat (vgl Gen 1). Hy het nooit afstand gedoen van hierdie vermoë nie. Hy het nie hierdie vermoë van Hom aan mense – sy kinders – gedelegeer nie. Mensewoorde het of kry nooit skeppingskrag nie.

Wie voorgee dat sy persoonlike woorde skeppingskrag het, onttroon God as die engste Een wat skeppend kan spreek. Hy tas die eer van God aan.

Slot

Aan die hand van Spr 18:20, 21 sê mense jy moet jou woorde baie versigtig kies, omdat jou woorde (dit wat jy spreek) ‘n inherente skeppingskrag kan hêòf positief, òf negatief. Ons tema is vraagvorm is daarom: Wat van … (3) jy spreek lewe en dood?

Ons het gekyk wat die Here deur Spr 18:20, 21 vir ons sê. Die Spreukedigter waarsku, soos ook elders in God se Woord, dat dit wat ons sê gevolge het. Hierdie gevolge kan positief of negatief wees.

Tog is daar geen Skrifgrond vir die bewering dat ons woorde enige skeppingskrag het nie. Wie dit beweer, ken aan die mens dinge toe wat net van God waar is. So mag ons God se eer nie aantas nie.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg:  (2017 02 12) Wat van … (3) spreek lewe en dood? Spr 18 v20 en 21

Indien jy na die bespreking wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *