(2017 02 12 1e) Betrokkenheid (3) Eerbied vir God bepaal wat ons van mekaar verwag Neh 5 v9 en 15 ♪

Kan iemand die kerk uitbuit? Kan iemand ‘n medegelowige uitbuit?

Sulke vrae kan tog nie van toepassing wees op gelowiges, op kerkmense nie”, só wil ‘n mens sê.

Tragies genoeg gebeur dit wél in die kerk en onder medegelowiges. Waarskynlik het ‘n paar mense hier dit aan die lyf gevoel. Waarskynlik sal elke diaken kan sê: “Sommige mense wat regtig in die nood is, vra nooit hulp nie. Vir ander kan ons nooit genoeg gee nie.”

Uitbuiting van medegelowiges het al in die Bybelse tyd voorgekom. Nehemia vertel hoedat ryk Judeërs die armes uitgebuit het – van hulle kinders slawe gemaak het. Hy vertel dat sy voorgangers as goewerneur van Juda die Judeërs met belastings uitgebuit het. Hy lê die vinger op die probleem: eerbied vir God ontbreek. Uit eerbied vir God het hy geen belastings gehef nie, inteendeel. Uit eerbied vir God moes die Judeërs die uitbuiting van armes staak.

Ook in ons situasie moet ons God met eerbied bejeën. Die boodskap van ons fokusgedeelte is: Eerbied vir God bepaal wat ons van mekaar verwag. Ons let op (1) Wat ons van medegelowiges verwag en (2) wat ‘n leier van sy mense verwag.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Wat ons van medegelowiges verwag

Die groei in die landsekonomie hou nie tred met die groei in die landsbevolking nie. Met steenkool, elektrisiteit, SASOL en die staalbedryf is ons in die Vaaldriehoek omtrent in die enjinkamer van die ekonomie. Met gebrekkige groei werk die enjinkamer al hoe stadiger.

Veral sakemense en pensioenarisse, maar dan ook die meeste gemeentelede, voel die harde ekonomiese werklikheid hoe langer hoe meer aan die lyf.

Mense ken nogal die woorde van Jesus se gelykenis goed: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen (Matt 25:40). Wanneer ons vir ‘n erediens gereed maak, kom iemand kos of geld vir een of ander nood vra. Hulle skroom nie om te lieg nie. Met geld in die sak glip hulle uit voordat die diens begin.

Die Judeërs het in Nehemia se tyd soortgelyke omstandighede beleef. Anders as ons s’n, was hulle gesinne groot. Hulle het koring nodig gehad om die honger mae te vul. Hongersnood het geheers. Party Judeërs moes hulle lande, wingerde en huise verpand om koring te kry en ook geld om hulle belasting te betaal. Hulle moes selfs hul seuns en dogters slawe laat word om hulle skuld te betaal – en selfs dit was nie genoeg nie (Neh 5:1 – 5).

In sy wet het die Here voorsiening gemaak vir slawerny weens skuld. Hy het egter beveel dat so ‘n eienaar-slaaf-verhouding slegs ses jaar lank moes duur. In die sewende jaar moes die Hebreeuse slaaf vrygelaat word (Eks 21:2 – 11 en Deut 15:12 – 18) – met ‘n behoorlike deel van die eienaar se se kleinvee, graan op die dorsvloer en van sy parskuip (Deut 15:14). Die Here sluit hier bepaling af: Moenie dink ‘n ramp het jou getref as jy jou slaaf vrylaat nie, want in die ses jaar het hy jou dubbel die loon van ‘n huurling gespaar. Die Here jou God sal jou voorspoedig maak in alles wat jy doen (Deut 15:18).

Van die Judeërs het gebruik gemaak van die ruimte wat die wet bied om van hulle volksgenote se seuns en dogters slawe te maak. Die voorskrif om hulle in die sewende jaar vry te laat – en wel met vergoeding – het hulle bloot geïgnoreer. Diegene aan die ontvangkant het hul lot by Nehemia bekla: Ons en ons volksgenote, hulle seuns en ons seuns, is tog één, maar óns moet van ons seuns en ons dogters laat slawe word. Van ons dogters is al klaar slawe, en ons kan daar niks aan doen nie, want ons lande en ons wingerde is in ander se hande” (Neh 5:5). Hoor net die moedelose en hopelose: ons kan daar niks aan doen nie. Daardie Judeërs het hulle hoop verloor. Hulle volksgenote het hulle hulle hoop ontneem. Nehemia sê: Na ek dit oorweeg het, het ek die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers gelê en vir hulle gesê: “Julle is besig om julle volksgenote uit te buit!” (Neh 5:7a).

Ons sou maklik kon sê: Gelukkig is slawerny al ‘n eeu of wat gelede afgeskaf. Ons kan daarom nie daarvan beskuldig word dat ons ons geloofsgenote uitbuit nie. Ons moet onsself iewat fyner meet voordat ons ons verontskuldig. Kom ons kyk na ‘n paar van ons voorkeure:

  • Ek kom erediens toe om iets te ontvang wat deur die week iets vir my kan beteken.

  • Die predikant en ouderling moet my besoek, maar dan op ‘n tyd wat my pas.

  • Die erediens moet op hierdie tyd begin en nie langer as ‘n uur duur nie.

  • Die kerk” moet meer vir “die jeug” doen. Wie is “die kerk”?

  • Ek het geld nodig. Die diakonie, of dan ‘n lidmaat wat geld het, moet my help.

Daar is iets gemeenskaplik aan hierdie verwagtinge: dit gaan om my en my voorkeure. Ander moet in my behoeftes voorsien. Ek sal iets doen, mits dit nie te ongerieflik vir my is nie.

Die Judeër het sy volksgenoot se armoede gesien. Daarin het hy ‘n geleentheid gesien om ‘n stuk grond by syne te kry – nog ‘n koringland, nog ‘n wingerd, nog ‘n huis, nog ‘n slavin. Die ander een se ellende, sy omstandighede wat net al slegter raak, het nie saak gemaak nie. Dit het vir hom gegaan om homself en sy belange. Daarin staan ek en jy langs die Judeër.

Wat ‘n leier van sy mense verwag

Met die voorskrifte in sy wet, wou die Here sorg dat daar altyd hoop was vir sy mense. Dat die Judeërs hulle arm volksgenote hulle hoop ontneem het, het Nehemia hewig ontstel. Hy belê toe ook ‘n volksvergadering om tot ‘n oplossing te kom. Daar sê hy toe: “Ons het ons Judese volksgenote wat aan heidene verkoop was, teruggekoop sover dit vir ons moontlik was. Nou verkoop júlle julle volksgenote, en moet ons hulle ook uiteindelik terugkoop!” Die manne het stilgebly; ek kon nie ‘n woord uit hulle kry nie (Neh 5:7b, 8). Hulle stilbly was hulle antwoord. Nehemia spel toe uit dat dit wat hulle doen, verkeerd was.

Daarbenewens het hy die vinger gelê op die oorsaak en gevolg van hierdie uitbuiting. Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede en nie ons vyande, die heidene, minagting vir ons laat kry nie (Neh 5:9)! Eers die oorsaak: Die woord wat met eerbied vertaal is, is vroeër vertaal met vrees. Letterlik staan daar dat hulle in vrees vir God moet wandel – hulle lewenswandel moes getuig van vrees, van ontsag en eerbied vir God.

Daaruit is duidelik: as ek ontsag het vir God, Hom vrees, sal dit ook blyk uit my optrede teenoor my medemens, my medegelowige. God het ons beveel en Jesus het uitgespel dat ons ons medemens moet liefhê soos onsself (Lev 19:18, Matt 22:39). Wie sy medemens liefhet, sal ontdek dit is onmoontlik om hom om selfsugtige redes uit te buit.

Getuig jou bywoning van die erediens van jou ontsag vir God – in jou bewerk deur die Heilige Gees? Getuig jou verwagtinge aan die kerk van jou ontsag vir God en van jou begrip daarvoor dat jy saam met ander die kerk van die Here is? Getuig die wyse waarop jy die diakonie of ‘n lidmaat om hulp nader van eerbied vir God?

Gebrekkige eerbied vir God en misbruik van ander, het ook ‘n gevolg: Mense buite die kerk kry minagting vir die volk van God (Neh 5:9e). Wanneer jy medegelowiges behandel as mense wat net verpligtinge teenoor jou het, kyk buitestanders met minagting na die kerk.

Wie ook al op enige tydstip ontdek: hier staan ek skuldig, my eerbied vir God is gebrekkig en dit blyk daaruit dat ek medegelowiges uitbuit, moet hom onder leiding van die Heilige Gees daarvan bekeer. Nehemia het gesê Die Judeërs moes onmiddelik die uitbuiting staak. Die arm Judeërs moes hulle lande, wingerde, olyfboorde en huise terugkry en daarbenewens moes 1% van die geld wat hulle skuld, kwytgeskeld word (Neh 5:11). Die volksgenote moes weer hoop kry. Hulle moes weer in staat wees om hulle situasie te verbeter.

Klaarblyklik het Nehemia en sy helpers ook geld uitgeleen. Hy was bereid om te doen wat hy van die ander verwag het. Hy het ook nie belasting gehef soos die goewerneurs voor hom nie. Sy amptenare is nie toegelaat om oor die volk baasspeel nie. Hy sê gee sy rede: Ek het nie so gemaak nie, uit eerbied vir God (Neh 5:15e). Uit die vervolg blyk dat hy eerder self uit sy eie sak groot uitgawes in belang van die volk en die bouwerk aan die mure van Jerusalem aangegaan het (Neh 5:16 – 18).

Ons sien die beste voorbeeld van ‘n leier oneindig groter as Nehemia, toe Jesus pas voor die laaste paasfees van die tafel af opgestaan het, sy bokleed uitgetrek, ‘n handoek omgebind het, ‘n skottel vol water gemaak en sy dissipels se voete begin was het (Joh 13:4, 5). Toe Hy die taak afgehandel en weer sy plek aan tafel ingeneem het, het Hy gesê: As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ‘n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen (Joh 13:14 – 16). Wat doen jy? Bied jy by wyse van spreke jou voete aan, sodat jou broers en suster jou voete kan was, of vat jy die skottel en begin jou broers en susters se voete was? Volg jy onder leiding van die Heilige Gees Nehemia en Christus na, of soek jy net jou eie voordeel?

Jesus het natuurlik nie gestop by die was van sy dissipels se voete nie. Nee, Hy het hulle en ons sonde op Hom geneem en aan die kruis daarvoor betaal. Hy het sy lewe vir ons gegee. As mense wat bely dat ons danksy sy verdienste nou aan Hom behoort, behoort ons selfs die uiterste offer vir medegelowiges te bring.

Slot

Kan iemand die kerk uitbuit? Kan iemand ‘n medegelowige uitbuit? Tragies genoeg gebeur dit wél in die kerk en onder medegelowiges. Nehemia het dit ook sien gebeur. Hy lê die vinger op die probleem: eerbied vir God ontbreek waar mense medegelowiges uitbuit.

In ons situasie moet ons God met eerbied bejeën. Ons eerbied vir Hom moet ons verhouding met en verwagtinge van mekaar bepaal. Eerbied vir God bepaal wat ons van mekaar verwag.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 02 12) Betrokkenheid (3) Eerbied vir God bepaal wat ons van mekaar verwag Neh 5 v9 en 15

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *