(2017 02 05 2e) Jou mond aan sy feeskos Luk 14 v15tot24 veral v24 ♪

Vanaand word ons uitgenooi om aan die tafel van die Here te kom aansit. Dit is ‘n uitnodiging wat ons ongemaklik kan laat voel. Daar is immers die waarskuwing dat ‘n mens ‘n oordeel oor jouself kan eet en drink (1 Kor 11:27, 28). ‘n Wanverhouding met iemand anders laat my besluit om eerder van die nagmaal weg te bly. So probeer ek keer dat God se oordeel my tref.

Is dit so maklik en onskuldig om die Here se uitnodiging nie te aanvaar nie? Die antwoord in die vers waarop ons veral vanaand let, is: Allermins! In die gelykenis voer die genooides allerhande verskonings aan waarom hulle nie die uitnodiging kon aanvaar nie. Jesus sluit die gelykenis af: Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie (Luk 14:24).

Die waarskuwing is gerig aan die lede van God se volk, aan mense wat jaarliks die paasfees gevier het – dié fees waartydens Jesus die nagmaal ingestel het. Dit is duidelik: Op God se uitnodiging – ook aan mense met wie Hy sy verbond gesluit het – is daar net een regte reaksie: neem dit met jou hele hart aan. Stel voor die fees alles reg wat jou sou kon verhinder. Die Here se uitnodiging moet ons hoogste prioriteit wees.

Daar is duidelik ‘n verband tussen die gelykenis van die groot maaltyd (Luk 14) en die gelykenis van die bruilof (Matt 22:1 – 14). Beide weergawes handel oor die antwoord van die mens op die verlossing wat vir God onaanvaarbaar is. Iemand wat die verlossing wat God deur Christus bewerk in ongeloof verwerp, kom onder God se oordeel. Beide weergawes waarsku dat die Jode se ongeloof op God se aanbod van sy koninkryk aan sy volk ernstige gevolge gaan hê. Die Jode se volhardende ongeloof het bewys hulle was God se uitnodiging nie waardig nie.

Daar is soveel verskille tussen die twee weergawes, dat Skrifverklaarders dit as twee verskillende gelykenisse behandel. Ons tema aan die hand van die Lukas weergawe: jou mond aan sy feeskos. Ons let op drie sake: (1) die aanloop; (2) die uitnodiging en (3) die antwoord

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die aanloop

Jesus het op die sabbatdag by ‘n vooraanstaande Fariseër gaan eet (Luk 14:1). ‘n Paar tonele volg daar in sy huis:

  • Jesus het ‘n man wat aan water gely het, genees (Luk 14:1 – 6).

  • Hy het daarna opgemerk hoedat die genooides die voorste plekke aan tafel uitsoek. In ‘n gelykenis het Hy gesê ‘n mens moet eerder die agterste plek inneem, dan kan jou gasheer jou na ‘n belangriker plek aan sy tafel neem (Luk 14:7 – 11).

  • Hy het die gasheer aangespreek. Hy moes nie mense uitnooi wat hom weer met ‘n uitnodiging kon terugbetaal nie, maar eerder die armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Sy slotwoord was: Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het (Luk 14:14).

Jesus se verwysing na God by die opstanding diegene sou vergoed wat reg gedoen het, ontlok ‘n reaksie: Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem” (Luk 14:15). Die man het gedink aan brood eet saam met die heiliges in die hemel wat sou meebring dat hy vir altyd geseënd sal wees. Jesus het hierop geantwoord met die gelykenis van die maaltyd.

Die uitnodigings

In die gelykenis is daar drie uitnodigings:

Hier rig ‘n man eers ‘n algemene uitnodiging aan baie mense (Luk 14:16).

Toe die maaltyd gereed was, stuur hy ‘n tweede slaaf met die uitnodiging. Kom, die maaltyd staan klaar (Luk 14:17e). Dit wat volg, verskil van die gelykenis van die bruilof in Matt 22. Daar het sommige genooides eenvoudig die uitnodiging geïgnoreer. Ander het die boodskapper-slawe doodgemaak. In die gelykenis waarop ons vanaand fokus, maak die genooides die een na die ander verskoning: Die eerste sê vir hom: ‘Ek het ‘n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ ‘n Ander een sê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ Nog ‘n ander een sê: ‘Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie’ (Luk 14:18 – 20).

Dit is die verskonings van mense wat goed geweet het van die maaltyd en hulle goed agtermekaar kon kry om aan die maaltyd deel te neem. Jesus praat hier met genooides na die vooraanstaande Fariseër se maaltyd toe – almal Jode. Hy voer die gelykenis verder: Die Jode is die genooides na die maaltyd wat die groot gasheer, God, aanbied.

Ons sou ons in hierdie prentjie kon voorstel: Ons vier vanaand nagmaal – die maaltyd waarin die Here God die beloftes van die evangelie sigbaar en tasbaar oordra. Hier gaan ‘n besondere uitnodiging volg om aan die tefel van die Here te kom aansit. Wat maak ek en jy met die uitnodiging van die evangelie? Wat maak ons van die besondere uitnodiging na die tafel van die Here toe? In finale instansie: wat maak ons van die uitnodiging na die bruilofsmaal van die Lam? Maak ons – soos die Jode – allerlei verskonings?

Die derde uitnodiging. Die man wat die maaltyd hou, het kwaad geword oor die swak reaksie op sy uitnodiging. Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe (Matt 22:9). Die slaaf het terugrapporteer dat hulle dit gedoen het, maar dat daar nog plek was. Ons lees: Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word (Luk 14:23). Opvallend: die onverstaanbare en onaanvaarbare reaksie van ongeloof van God se volk wat in hierdie gelykenis geteken word, het nie die maaltyd gekanselleer nie. Die maaltyd gaan eenvoudig aan. Die huis van die gasheer is volgemaak. Elke plek aan die feestafel is gevul met iemand wat die uitnodiging aanvaar het.

Die antwoord

Die man aan die tafel het die opmerking gemaak: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem” (Luk 14:15). Jesus se antwoord na die gelykenis van die groot maaltyd was: Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie (Luk 14:24). Natuurlik praat Jesus nie van die laastes nie, maar van die eerste genooides, die Jode. Hulle verskonings het tot gevolg gehad dat die gasheer, God, se uitnodiging na alle mense, ook die nie-Jode, toe uitgaan het. Die derde uitnodiging van ons teks is die uitnodiging wat ons voorouers op een of ander stadium gehoor en aanvaar het.

Ons is daarom vandag die volk van God. Ook ons hoor God se uitnodiging elke keer wat ons die Woord oopmaak en lees. Elke keer wat God se Woord verkondig word, klink die uitnodiging van die Here van die heersers en die Koning van die konings in ons ore op. Elke keer wat ons nagmaal vier, hoor ons dit. Ook vanaand hoor ons die uitnodiging vir die bediening van die twee tafels van die Nagmaal. Elkeen van ons reageer noodwendig elke keer wat ons die uitnodiging hoor.

In finale instansie is die uitnodiging een na die bruilofsmaal van die Lam.

Wie verskonings soek om nie aan die feestafels aan te sit nie, sal ontdek: die Here se fees gaan aan. Sy huis gaan vol word, die plekke aan sy tafels gaan ingeneem word deur mense wat sy uitnodiging wel aanvaar. Los daarom die verskonings.

Gryp God se uitnodiging in geloof aan. Benut die uitnodiging ten volle. Sit jou mond aan sy feeskos.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 02 05) Jou mond aan sy feeskos Luk 14 v15 tot 24 veral v24

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *