(2017 01 29 2e) Wat van … no 2 doop en herdoop Kol 2 v9tot12 ♪

Ons soek uit die Skrif antwoorde op die vraag: Wat van …? Vanaand: Wat van doop en herdoop?

Iemand woon bv ‘n kamp by. Kinderdoop word as onskriftuurlik afgemaak. Hy wil homself aan die Here wy. Hy laat hom (weer) doop. Terug by die huis, in die kerk begin hy wonder: Was dit reg? Wat nou? Moet ek dit vir die kerkraad sê? Moet ek almal probeer oortuig om my voorbeeld te volg? Ook die kerkraad vra: wat doen ons nou?

Vandaar ons tema-vraag: Wat van doop en herdoop? Ons gaan die vraagstuk van die doop en herdoop vanuit ons fokusgedeelte benader. Ons let op: (1) Christus en volheid; (2) besnydenis en doop; (3) herdoop hanteer.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Christus en volheid

Die apostel skryf vir die gemeente in Kolosse wat te kampe gehad het met dwaalleraars. Dié mense wou hê hulle moes Joodse seremonies hou en hulle, onder andere, laat besny.

Die apostel sê in die Here se Naam vir hierdie gemeente: julle is gedoop. Wie sê doop, sê Christus en wie sê Christus, sê volheid.

In die eerste twee verse waarop ons vanaand fokus, kry ons die woord volheid twee maal en dit word op twee maniere gebruik:

In Hom is die volle wese van God beliggaam (Kol. 2:9). Hiermee word nie gesê dat Christus die eienskappe van God het nie, maar dat hy God is. God word geheel in Hom gevind. In Hom het ons die hoogste en volkome openbaring van God self. Wie Christus in die geloof gevind het, het God gevind. En dit is vir die mens genoeg. Telkens keer die apostel terug na Christus “in”, “deur” en “met” wie alles gegee is.

… in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid (Kol. 2:10a.). Christus is die lewe. Hy is die ware bron van die lewe en daarom het geen Christen méér nodig as dit wat Hy voorsien nie. Alles wat enigeen van ons nodig het om verlos te word, is in Christus ons deel.

Iemand (Calvyn) stel dit só: “Dié wat met Christus alleen nie tevrede is nie, doen God ‘n dubbele onreg aan: hulle verkleineer die eer van God, omdat hulle iets bó sy volmaaktheid begeer. Daarby is hulle ook ondankbaar, omdat hulle elders soek wat hulle reeds in Christus het.”

Besnydenis en doop

Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat julle saam met hom begrawe is (Kol0. 2:11, 12a, 1983). Die doop word onomomwonde genoem: die besnydenis deur of van Christus.

Dit noodsaak ons om ons aandag aan die besnydenis te gee ten einde vas te stel wat dit beteken. Die besnydenis kom in beide Ou en Nuwe Testament ter sprake. Die volgende gedeelte oor Abraham se besnydenis is veral ter sake: Hy het die besnydenis as ‘n teken ontvang. Dit is ‘n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was (Rom 4:11a, b). Nadat God sy verbond met Abraham (toe nog Abram) gesluit het, het Hy simbolies die sorg vir die instandhouding van die verbond aanvaar (Gen 15:10 – 20). Die Here het daarop die besnydenis as teken van sy verbond met Abraham en sy nageslag ingestel (Gen 17:9 – 14).

Vir beide besnydenis en doop is die vraag van belang: wie het die teken en seël van die Here se verbond nodig? Twee antwoorde is moontlik: (1) die Here – Hy is egter die Een wat die hart deurgrond en toets (Jer 11:20, 17:10); (2) die mens – hy is sondaar en kleingelowig. Dat God Hom in genade aan ons en ook ons nageslag verbind, klink vir ons te goed om waar te wees. Ons, mense het God se teken en waarborg daarvan nodig.

Die Here se opdrag was dat die seuntjies van Abraham en sy nageslag, sowel as van sy slawe op agt dae ouderdom besny moes word. Net na die instelling van die besnydenis as verbondsteken is Abraham as 99-jarige besny, sy seun Ismael as dertienjarige en al sy slawe op dieselfde dag saam met hulle (Gen 17:24 – 27). Isak is op agt dae besny (Gen 21:4). Dus ‘n eerste geslag verbondsmense is as volwassenes besny en die nageslag op 8 dae.

Die besnydenis is in die Ou Testamentiese tyd met die hande verrig. Die velletjie wat simbool was van alles wat onrein en onheilig is, is afgesny en weggegooi. Daarmee is gesê dat dit wat onrein en onheilig is, nie plek het in die lewe van God se kind nie.

Reeds in die tyd van die Ou Testament het die Here duidelik gesê dat die uiterlike besnydenis, die een met hande verrig, nie genoeg is nie. Die hart is die oorspronge van die lewe. Bo alles moet die mens se hart dus besny word (Deut 10:16; Jer 4:4).

Nie net ’n stukke vel nie, maar my ou sondige natuur moet uit my lewe uitgesny word, sodat ek kan leef as mens wat aan Christus behoort.

Daarvoor het die Seun van God mens geword. Christus het met sy lewe vir al my sonde geboet. Behalwe dat ek deel het aan sy dood, het ek ook deel aan sy opstanding. Saam met Hom het ek as ’n nuwe mens opgestaan. In beginsel het Christus my ou sondge natuur weggeneem. Met sy verdienste besny die Heilige Gees my hart. Hy het my nuut gemaak.

Die Here het die heilige Doop ingestel as teken en waarborg van hierdie hartsverandering wat Hy in ons bewerk.

Deur sy Gees lei die Here my wat in Christus glo, om te lewe as iemand wat aan Hom behoort. Ek moet leef as iemand

  • wie se ou, sondige natuur dood is – saam met Christus dood is;

  • wat as nuwe mens met ’n nuwe, gereinigde hart opgestaan het. Ek moet leef op ’n wyse waaruit blyk: ek behoort aan die Here. My doen en late moet tot sy eer alleen strek.

Dit is my en jou roeping, ons wat gedoop is.

Wat doen ek wanneer ek agterkom: ek het afgedwaal, ek is nie meer so toegewyd aan die Here soos wat ek behoort te wees nie?

Ek laat my nie herdoop nie. Ek sê: Ek is gedoop. Toe ek gedoop is, het God vir my, my ouers en vir die hele gemeente met die teken van die doop gesê Hy verbind Hom aan my en ook aan my nageslag. Hy doen dit uit genade alleen. Deur die bloed van sy Seun – en net dit – was Hy al my sonde weg. As teken en seël of waarborg daarvan het Hy aan my die doop gegee. As gedoopte moet ek daarom nou, onder leiding van die Heilige Gees, my van my sonde en gebrekkige toewyding bekeer. Ek stel alles in werk om die Heilige Gees se leiding te soek en te volg en te gaan leef as gedoopte, as gereinigde – gereinig deur die bloed van Christus.

Partykeer word ek uitgenooi om ‘n kamp by te woon. Daar beleef ek ‘n ontmoeting met die Here en kom kom onder die indruk van hoe ver ek van die Here afgedwaal het. Ek laat my oortuig ek kan self ‘n positiewe besluit neem, my opnuut aan die Here toewy. Die mense daar oortuig my ek moet as teken daarvan gedoop word.

In wese laat ek my oortuig dat ek wel Christus se bloed nodig het om gereinig te word, maar ek is darem nie so hopeloos dat ek nodig het om te aanvaar dat God in en deur Christus letterlik alles gedoen het om my uit my sonde te verlos nie. Ek het ook ‘n persoonlike bydrae tot my verlossing en ook tot my toewyding te lewer. Ek kan vir God my eie teken gee.

Hantering van herdoop

Wat doen iemand wat hom laat oor doop? Hy sê: die doop is nie teken en seël van God se genade in Christus om my klein geloof te versterk nie. Hy vat die doop as teken en seël van die Here se genade in Christus uit die Here se hand. Van nou af is die doop die teken van hoe groot sy geloof is, teken van sy besluit om voortaan meer toegewyd aan die Here te leef. Die herdoop in ‘n stuk selfgelding teenoor die Here.

Die kernvraag is: is dit regtig wat die een bedoel om te doen wanneer hy hom laat herdoop? In die meeste gevalle is die antwoord: sekerlik nie! Die groot motivering was om homself opnuut aan die Here te wy.

Wanneer iemand hom laat herdoop het, moet hy eerlik daaromtrent wees.

Hoe moet ons as gemeente so ‘n mededeling hanteer?

Een uiterste reaksie is om te sê: “Met die herdoop as sodanig verbreek iemand sy band met die GK Vereeniging.” ‘n Probleem met hierdie benadering is dat dit eenvoudig ‘n reël toepas wat in wese ‘n ingrypende tughandeling is, sonder om te besef dat die kerklike tug allermins ‘n kortpad is om mense af te sny. Dit behoort elke keer ‘n bediening aan ‘n lidmaat te wees wat in liefde verrig word met die oog op die eer van God, die heil van die gemeente en die behoud van die sondaar. Op geen manier mag ons hierdie pad loop nie.

n Beter benadering sou myns insiens wees dat diegene in die besondere dienste in ‘n liefdevolle gesprek met so iemand tree. Saam moet ons vanuit die Skrif ons verdiep in:

  • ons sonde en sondigheid in al sy radikaliteit – dat ons niks het om van ons kant af aan te bied wat ‘n bydrae lewer tot ons verlossing nie.

  • dat verlossing net te danke is aan Jesus Christus wat met ons geruil het: Hy skenk ons sy volmaakte lewe en volmaakte gehoorsaamheid; Hy neem ons sonde en sondigheid op Hom – daarvoor het Hy die volle losprys aan die kruis betaal. My doop is teken en seël van hierdie werklikheid.

  • Uit dankbaarheid vir wat Christus vir my gedoen het en vir die feit dat ek deel gekry het aan die doop as teken en seël dat God Hom in genade aan my verbind het, moet ek in gehoorsaamheid toegewyd aan die Here leef. Wanneer ek agterkom dat ek afgedwaal het, bekeer ek my onder leiding van die Heilige Gees daarvan en begin weer van my kant af in verbondenheid aan die Here leef .

Uiteindelik staan een ding vas: een en elkeen van ons word verlos uit genade alleen, deur die geloof alleen, op grond van die verdienste van Jesus Christus alleen. Dit is ook volgens die Skrif die boodskap van die doop.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 01 29) Wat van … (2) doop en herdoop Kol 2 v9 tot 12

Indien jy na die bespreking wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *