(2017 01 15 1e) Die ongelowige in die erediens 1 Kor 14 v21tot25 ♪

Is jy ‘n gelowige in Christus? Regtig?

Iemand kan vra: “Watse vraag is dit?” Iemand kan byvoeg: “ek is ‘n belydende lidmaat van hierdie gemeente.” ‘n Ander kan sê: “ek is al tien jaar lank ‘n katkisant”. Nog een kan sê: “ek het tog lied 589 as geloofsbelydenis saam met die gemeente gesing.”

Die apostel begin die eerste Konintiërbrief met die stelling wat vanoggend deel van die seëngroet was: Aan die gemeente van God …, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, …” Tog praat hy van ongelowiges in die erediens. Meer spesifiek: hy praat van twee soorte ongelowiges: ongelowiges wat deel van die gemeente is en ongelowiges wat van buite af gekom het om aan die erediens deel te neem.

Ons fokusgedeelte stel daarom elkeen van ons voor die vraag: Is jy regtig hier as ‘n gelowige in Christus?

As jou antwoord is: “Ek is ‘n gelowige, ja”, moet jy weet: die Here praat juis met jou wat as gelowige aan die erediens deelneem, en ook die besondere gawe wat die Heilige Gees aan jou gegee het, gebruik. Die twee besondere gawes van die Gees van vroeër word ook hier genoem: die gawe om in tale te praat en die gawe van profesie.

Vroeër het Paulus gesê: kyk na medegelowiges en hulle behoeftes. Hier is die opdrag: kyk ook na ongelowiges in die erediens. Soos telkens in die res van die hoofstuk, verskuif die apostel ons fokus weg van onsself na ander. Die boodskap van die Here en ongelowiges (1) binne en (2) buite die gemeente

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die Here se boodskap en ongelowiges binne die gemeente

n Ongelowige binne die gemeente? Dit klink onmoontlik. Om deel van ‘n gemeente te wees, lê ‘n mens immers belydenis van geloof af. In Korinte skryf Paulus aan ‘n gemeente bestaande uit ‘n eerste geslag Christengelowiges. Hulle is dus ook nog as volwassenes gedoop nadat hulle tot belydenis van hulle geloof gekom het.

Paulus gebruik ‘n vry vertaling van ‘n Skrifgedeelte uit die Ou Testament (Jes 28:11,12): Deur andertaliges en deur die mond van vreemde mense sal Ek met hierdie volk praat, en selfs dan sal hulle na My nie luister nie (1 Kor 14:21). Jesaja kondig aan dat God sy straf oor sy volk sou bring. Hy sou hulle aanspreek deur nie-Israeliete, die Assiriërs. Die Israeliete sou egter nie die Here se bedoeling verstaan nie, omdat die Here hulle in die vreemde taal aangespreek het. Omdat die boodskap van die Here onverstaanbaar was, het hulle hulle ook nie bekeer nie.

Paulus pas hierdie vers toe: So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan ‘n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie (1 Kor 14:22a). Vir mense wat deel van die gemeente was, maar in hulle hart ongelowig gebly het, is die spreek in tale ‘n teken daarvan dat die Heilige Gees regtig in die gemeente teenwoordig is en aan die werk is. Dat sy ongeloof keer dat hy verstaan, bring hom onder die oordeel van God. Die onverstaanbare taal, maak dit egter nie moontlik dat so een hom bekeer nie.

Jesus het ook uit Jesaja (6:9,10) aangehaal om te sê waarom Hy in gelykenisse gepraat het: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie (Matt 13:13). Almal wat die Woord hoor, verstaan dit nie. Almal antwoord nie op die Woord met geloof en bekering nie. Weens hulle ongeloof staan hulle voor God skuldig.

In alle omstandighede bied die verstaanbare verkondiging van God se boodskap in ‘n bestaande taal geleentheid vir geloof en geloofsgroei, sowel as vir bekering elke keer wat ons dit nodig het. As ‘n mens aanvaar dat die mense in die erediens teenwoordig normaalweg gelowiges is, is die oordra van God se boodskap in verstaanbare taal vir hulle beter (1 Kor 14:22b). Wanneer God se boodskap in verstaanbare taal oorgedra word, bou die Heilige Gees die geloof in die gemeente op, dan groei ons.

Wat het dit met ons te make wat nog nooit ervaar het dat iemand in die samekoms van die gemeente in tale praat nie? In ons geledere word die Woord van God in Afrikaans, die meeste van ons se moedertaal, verkondig.

n Probleem in ons tyd is dat die Bybel iewers gebêre word. Ons verkies allerlei boeke met dagstukkies wat elk darem ‘n versie uit die Bybel bevat. Ons maak nie meer tyd om Bybel te vat en te lees en erns te maak met wat die Here daardeur vir ons sê nie. Ons maak nie ons kinders met die Bybel groot nie. Hulle sien nie hoedat ouers met geloof, gehoorsaamheid en bekering op God se Woord reageer nie. Die Bybel het ‘n vreemde boek geword.

Kom ons maak een en elkeen erns daarmee om die Bybel te gaan haal waar hy gebêre is. Wanneer jy die Bybel vat, bid dat die Here jou ontvanklik sal maak vir sy Woord. Begin regtig lees – die Bybel self. Begin met ‘n Bybelboek en lees dit deur. Glo wat jy lees. Gaan rig jou lewe prakties in om te klop met die boodskap van God deur sy Woord.

Die Here se boodskap en ongelowiges buite die gemeente

Korinte was ‘n stad in Griekeland. Die mense daar het, soos elders in Griekeland, as afgodedienaars baie gode aanbid. Van hierdie ongelowiges het soms ‘n erediens bygewoon.

Die eredienste in die gemeente in Korinte was nogal iets om te beleef. Elkeen wou die ander onder die indruk bring van die gawes van die Gees wat hy ontvang het. Hulle het daarom almal gelyk gepraat, mekaar probeer doodskreeu. Party het in tale gepraat, ander het die gawe van profesie beoefen. So ‘n erediens was chaoties.

In ons fokusgedeelte sê die apostel dat ‘n buitestander of ongelowige wat in so ‘n erediens inkom, sal dink dat hierdie mense wat almal gelyk praat en dan nog in onverstaanbare tale, van hulle verstand af is (1 Kor 14:23).

Die apostel het in die hoofstuk riglyne gegee om die chaos in die eredienste in Korinte te laat plek maak vir orde: elkeen moes hom afvra of die beoefening van sy gawe tot opbou van die gemeente dien (:12); net twee of drie moes in tale praat en net as iemand dit kon uitlê (:27). Ook diegene wat wou profeteer moes dit een-een doen sodat almal kon leer en bemoedig word (:29 – 31).

In ons fokusgedeelte verskuif die apostel ons aandag na die buitestaanders en ongelowiges: Daarteenoor, as almal profeteer, en daar kom ‘n ongelowige of ‘n buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom hy tot selfondersoek. Die verborge dinge van sy hart kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en openlik te getuig: “Waarlik, God is hier by julle!” (1 Kor 14:24, 25). Dit wat die buitestaander of ongelowige hoor, is verstaanbaar en die moontlikheid bestaan dat hy getref word deur wat hy hoor.

Wie regtig die Woord van God hoor, antwoord daarop. Die ongelowige of buitestander kan dan, volgens die apostel, op die volgende wyses reageer:

  • dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek

Hy kom onder die indruk daarvan dat hy ‘n sondaar is wat verdien dat God hom straf. Hy besef dat hy homself nie kan verontskuldig nie. Dit is, ook volgens ons belydenis, die eerste ding wat ‘n mens moet weet, wil jy getroos wees dat jy aan Christus behoort: hoe groot my sonde en ellende is (HK 1:2).

  • kom hy tot selfondersoek

In die Griekse teks staan daar dat hy deur almal beoordeel word. Gemeentelede wys hom daarop dat hy geen rede het om homself te verontskuldig nie. Hy kan selfs die diepste geheime in sy hart voor die Here ooplê. Die wonder van God se boodskap is dat ons eenvoudig die erns van ons sonde en ellende voor die Here kan erken en dit bely.

  • En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid

Hier word nie gesê of dit tydens die erediens gebeur of daarna op ‘n ander plek nie. Hy val nederig voor die Here God neer, erken sy sondeskuld, aanvaar in geloof dat God al die sonde en ellende met die bloed van sy Seun bedek. Dit is die kern van die Here se boodskap aan ons. Besef jy regtig die wonder daarvan dat jy nie bang hoef te wees om al jou sonde voor die Here oop te lê en dan te hoor: vir daardie sonde het Jesus aan die kruis gesterf.

Ons eredienste is ordelik. Ons hoor verskillende gedeeltes uit God se Woord. ‘n Spesifieke Skrifgedeelte word in die preek uitgelê en toegepas. Wie ‘n erediens bywoon, hoor die Woord van die Here. Daar is selfs geleentheid tot selfondersoek en verootmoediging.

Wat hou ons fokusgedeelte vir ons as gemeente in? Dit vra van ons om elkeen nie aan die erediens deel te neem in ons eie kokon nie, of in die kokon rondom my en my mense nie. Ons moet die mense rondom ons raaksien. Ons moet die besoeker raaksien. Ons moet so iemand welkom laat voel. Waneer selfs ‘n ongelowige die erediens bywoon, moet ons met so een praat; hom / haar die liefde van Christus laat ervaar. Die uiteinde van ons verkeer as gemeente ook met die buitestaander en ongelowige moet wees: Waarlik, God is hier by julle!

Kom ons maak as gemeente hierdie jaar hiermee erns. Kom ons laat elke nie-gemeentelid: die wat glo, maar ook die ongelowige, werklik welkom voel. Kom ons begelei elkeen om waarlik die Here saam met ons te ontmoet.

Slot

Ek het begin met die vraag: Is jy ‘n gelowige in Christus?

Ons fokusgedeelte praat van ongelowiges wat deel van die gemeente is en ongelowiges wat van buite af aan die erediens deelneem.

Die Here praat juis met jou wat as gelowige aan die erediens deelneem, en ook die besondere gawe wat die Heilige Gees aan jou gegee het, gebruik. Die Here se opdrag is: kyk ook na ongelowiges in die erediens. Help hulle om die lewende God hier in ons samekoms as gemeente te ontmoet.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 01 15) Die ongelowige in die erediens 1 Kor 14 v21 tot 25

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *