(2017 01 08 1e) Die mens beplan en rangskik – die Here voer uit Spr 16 v1tot9 veral v1 en 3 en 9 ♪

Skoolvakansietyd. Uitspantyd. Kuiertyd. Braaityd.

Jy haal die braaihout stuk-stuk uit die sakkie. Jy pak elke stukkie op sy presies regte plek op die braaier. Dan is dit die vleis op die toeklaprooster se beurt. Soos wat die rooster voller word, skuif jy die stukkies rond sodat elke stukkie vleis presies inpas.

Al hierdie meet en pas help nog niks. Iemand moet eers die vuur aansteek, die hout laat uitbrand en kole vorm. Iemand moet die rooster met die vleis op die vuur sit en elke keer op die regte tyd omdraai, sodat dit egalig gaar word. Dan eers kan ons aan die braaivleis smul.

Dit is mos nou die tyd van die jaar waarin ons voornemens maak, die jaar mooi sorgvuldig beplan. Noukeurig pas ek en jy elke faset van ons lewe op sy plek in. Iemand moet die hele proses aan die gang sit en deurvoer, sodat my en jou planne en voornemens kan werk. Die Spreukedigter wil ons juis laat fokus op daardie Iemand: dit is die Here. Vandaar ons tema: die mens beplan en rangskik – die Here voer uit. Ons let agtereenvolgens op: (1) God se plek in my lewe en (2) die effek op my verhouding met God, my medemens en my goed.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

God se plek in my lewe

Inleidend het ek die beeld van ‘n vleisbraai gebruik. Die rangskikking van die hout vir die vuur en die vleis op die toeklaprooster is wat in die Afrikaanse vertalings weergee met planne (‘53, NLV) of voornemens (‘83). Iemand wat nie sommer alles wat hy hoor, aanvaar nie, sou kon sê: Tydens die lewe van die spreukedigter het die Jode nie vleis gebraai nie.

Hulle het wél geoffer. Op die altaar het hulle die brandhout en die stukke vleis net so presies uitgepak en gerangskik soos ons met ons braaivleis.

Met al die menslike planne en rangskikking was die offer net so min afgehandel as met ons vleisbraai. Die digter stel dit duidelik in die eerste spreuk in ons fokusgedeelte: ‘n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor / antwoord (‘83) kom van die Here af (Spr 16:1). Ek en jy kan ‘n magdom voornemens hê as ons wil; ons kan al ons voornemens in rangorde rangskik. Uiteindelik is dit wat gebeur, aan die Here te danke. Die digter sê: die antwoord wat ons uiteindelik gee, is ‘n gawe van die Here. Die bedoeling is natuurlik hier dat die laaste woord / antwoord goed is.

Dat die Here die sleutelfiguur is wat bepaal wat van al ons planne en voornemens word, kom ook na vore in die laaste vers van ons fokusgedeelte: ‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (‘83) / Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die Here rig sy voetstappe (‘53, Spr 16:9). Beide :1 en :9 dra die boodskap wat die Afrikaanse spreekwoord verwoord: “Die mens wik, God beskik.” Ons lewensloop is in die Here se hande.

Die implikasie is duidelik: die Here sorg dat alles vir ons goed afloop. Ons kry dieselfde versekering in die Nuwe Testament: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Rom 8:28).

Opvallend is die gebruik van die Naam van God wat die Spreukedigter gebruik, die naam wat ons weergee met Here. Dit is die Naam waarmee God Hom bekend maak as die God wat Hom in genade verbind aan mense wat kan bely: ons behoort aan Hom. Die God wat in beheer is van die verloop van die lewe, het Hom in en deur sy Seun in genade aan ons verbind. Hy sorg in sy trou dat dié band wat Hy met ons gesluit het, nooit verbreek nie.

Juis omdat ons weet dat die God wat Hom in genade aan ons verbind het, altyd getrou bly, kan ons ook die opdrag van die digter uitvoer: Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk (Spr 16:3). In sy trou sorg die Here ons God dat ons planne en voornemens nie op niks uitloop nie, maar dat dit prakties werklikheid in ons lewe word – en dan ook uitloop op dit wat goed is – vir onsself, maar ook vir ander. Ons vertrou dit daarom aan Hom toe.

Die vraag is: sien jy die Here ons God regtig as die sleutelfiguur in jou lewe, dié Een van wie alles afhang? Sien jy Hom as die Een wat in sy genade en trou alles vir jou goed laat afloop? Vra jy wat sy wil is vir jou studieplanne, vir jou beroepsplanne, vir die plek waar Hy jou wil gebruik? Laat jy wat jy doen regtig aan die Here oor?

Vra jy ook op watter wyse Hy wil hê jy moet in sy gemeente betrokke wees? Is jy bereid om, soos jy beloof het, jou gawes tot voordeel en opbou van jou medegelowiges aan te wend?

Gee jy die Here die eer daarvoor dat Hy die sleutelfiguur in jou lewe is, dat Hy die Een is wat uiteindelik alles ten goede vir jou en almal laat meewerk? Vertrou jy Hom met jou lewe en ook met die lewe van die mense vir wie jy lief is?

Dit is natuurlik meer as net ‘n teoretiese saak. Wanneer God werklik die sleutelpersoon in jou lewe is, blyk dit ook uit die wyse waarop jy leef. Dit raak verskillende verhoudings:

Die effek op my verhoudings

My en jou verhoudings met God self, met ander mense, sowel as met ons goed, word geraak:

My verhouding met God

Die goddelose mense sal natuurlik sê dat hulle nie in enige verhouding met God betrokke is nie. Die spreukedigter verskil van hulle: Die Here het alles gemaak met ‘n doel, ook die goddelose vir die dag van straf (Spr 16:4). Niks en niemand bestaan los van God nie. Hy stuur alles en almal af op dié doel wat Hy voor oë het. God se oordeel en straf is die uiteinde van diegene wat in goddeloosheid volhard.

Ek en jy is anders. Ons glo. Daarvoor kan ons nie onsself op op die skouer klop nie. Onthou: Die Here het ‘n afsku van ‘n verwaande mens; dit staan vas: so ‘n mens sal nie ongestraf bly nie (Spr 16:5). Wie verwaand is, dink by homself: “ek sal regkom.” Wie verwaand is, besef nie sy afhanklikheid van die Here en sy leiding nie en is daarom nie ingestel op die leiding van die Gees van die Here in sy lewe nie. Wie verwaand is, kan daarop reken dat die Here sy straf aan hom sal uitmeet.

Ek en jy moet geensins verwaand wees nie. Ons moenie eens ons geloof te hoog aanslaan nie. As mense is ek en jy sondaars wat God se straf verdien. Ons kon net op een wyse met Hom versoen word: deur sy Seun wie se volmaakte lewe ons toegereken word en wat ons sonde op Hom geneem en die losprys daarvoor aan die kruis betaal het.

Danksy die Here se liefde en trou bely ons dat ons aan Hom behoort. Hy verwag dat ons op ons beurt ook liefde en trou teenoor ander mense sal bewys.

My verhouding met ander mense

Ook in ons verhouding met ander mense moet ek en jy die Here dien. Ons wat ervaar het dat die Here ons deur sy Seun met Hom versoen het, moet ook in liefde en trou tot versoening kom met mense wat ons pad kruis.

Ons is nog gewillig om tot versoening te kom met mense met wie ons meningsverskille het. Waar ons egter vyandigheid van iemand ervaar het, is versoening iets heeltemal anders. Luister watter prentjie ons fokusgedeelte van versoening skets: As die Here tevrede is met ‘n mens se lewe, laat Hy selfs so ‘n mens se vyande in vrede met hom lewe (Spr 16:7). Van hulle kant af is selfs jou vyande bereid om in vrede met jou te leef.

Tog vra die werklikheid dat God Hom in genade met ons versoen het, van ons meer as om passief te wees in die proses van versoening. Die Jode, God se volk van die ou bedeling, het die Seun van God uitgelewer om gekruisig te word. Daar aan die kruis het Hy gebid: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie (Luk 23:34)! As gelowiges in Christus en sy navolgers moet ons ook van ons kant af alles in werk stel om tot versoening te kom met mense wat hulleself as ons vyande betoon het.

Leef ons in navolging van Christus versoening uit in ons verhouding met ander, verdien ons selfs nie daarvoor ‘n klop op die skouer nie. Die klem lê in ons fokusgedeelte op wat God doen. Selfs die bereidheid om tot versoening te kom, is vrug van die werk van die Heilige Gees in ons.

My verhouding met besittings

Ons verhouding met ons goed, ons eiendom, word in ‘n enkele vers belig: Liewer min hê en reg lewe as baie inkomste hê deur onreg (Spr 16:8). Ons moet ons inkomste verkry op ‘n wyse wat klop met die wet van die Here. Ons moet ons besittings bymekaarmaak op dié wyses waarop die Here wil. Ons moet die Here dus ook dien op die wyses waarop ek en jy ons goed bymekaarmaak, ons lewensbestaan voer.

Slot

Jy sit elke stukkie hout baie sorgvuldig op sy plek op die braaier, elke stukkie vleis presies op sy plek op die toeklaprooster. Voordat jy aan die braaivleis kan smul, moet iemand nog ‘n hele paar goed in plek kry.

Hierdie tyd van die jaar maak ons voornemens en beplan die jaar mooi. Noukeurig pas ek en jy elke faset van ons lewe op sy plek in. Iemand moet die hele proses aan die gang sit en deurvoer, sodat my en jou planne en voornemens kan werk. Die Spreukedigter wil ons juis laat fokus op daardie Iemand: dit is die Here.

Sien jy regtig dat die sukses van jou voornemens en planne afhang van die Here God wat alles vir jou in plek laat val? Vereer jy Hom ook vir die sleutelrol wat Hy in jou lewe speel? Bevestig jy jou ja op hierdie vrae met herstelde verhoudings met God, jou medemens en jou goed?

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg(2017 01 08) Die mens beplan en rangskik – die Here voer uitr Spr 16 v1 tot 9, veral v1 en 3 en 9

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *