(2016 12 11 2e) Tradisie of trou – wat die Here verwag Jer 35 v14btot17 ♪

Tradisie kom van tyd tot tyd in die GKSA – ook in ons gemeente – op die tafel. Oor die afgelope paar dekades kom die volgende na vore: Oor die gebruik van die kelkie by die nagmaal, al dan nie, wat ons sing en oor die vrou in die besondere dienste gaan die paaie van die tradsionaliste en die vernuwers heeltemal uiteen. Die vraag bly – tereg – wat verwag die Here van ons?

Jeremia het die Rekabiete gaan haal, hulle saamgevat tempel toe. Daar, vir die Judeërs om te sien, het hy kanne vol wyn en bekers voor hulle neergesit en gesê: “Hier is wyn, drink dit”. Hulle het geweier. Hulle rede was ‘n tradisie wat begin het met ‘n opdrag van hulle voorvader, Jonadab, seun van Rekab.

Met watter doel laat Jeremia hierdie toneel voor die Judeërs afspeel? Watter boodskap wil die Here, wat Jeremia die opdrag gegee het om dit te doen, hiermee oordra? Verwag die Here van diegene wat aan Hom behoort om die ou tradisies te handhaaf? Vandaar ons tema met ‘n ander moontlikheid: Tradisie of trou – wat die Here van ons verwag. Ons let op: (1) die toneel in die tempel; (2) die teenstelling tussen die Rekabiete en die Judeërs en (3) die afloop.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die toneel in die tempel

In opdrag van die Here het Jeremia die Rekabiete gaan haal en saamgevat tempel toe. Anders as ons kerkgebou wat gewoonlik gedurende die week verlate is, was daar ‘n gedurige kom en gaan van mense by die tempel in Jerusalem. Daar, vir al die Judeërs om te sien, het Jeremia kanne vol wyn en bekers voor hulle neergesit en gesê: “Hier is wyn, drink dit”.

Die Rekabiete se antwoord verras ons: “Ons drink nie wyn nie, want ons voorvader Jonadab seun van Rekab het ons beveel: ‘Julle mag nooit wyn drink nie, nie julle nie en ook nie julle kinders nie. Julle mag ook nie huise bou of graan saai of wingerde aanlê nie. Julle mag dit nie doen nie, want julle moet altyd in tente woon sodat julle lank kan bly woon in die land waar julle vreemdelinge is.’ Ons was gehoorsaam aan alles wat ons voorvader Jonadab seun van Rekab ons beveel het (Jer 35:6 – 8). Hulle gaan voort om in besonderhede uit te spel hoedat hulle steeds hul voorvader se opdrag uitvoer. Hulle herhaal die stelling van vs 8: Ons was gehoorsaam aan alles wat ons voorvader Jonadab ons beveel het, ons het dit gedoen (Jer 35:10). Die enigste opsig waarin hulle van Jonadab se opdrag afgewyk het, is dat hulle in Jerusalem bly. Toe koning Nebukadnesar van Babel die land binneval, het hulle veiligheid hulle daartoe genoodsaak.

Duidelik het hulle optrede die Here se goedkeuring weggedra. Iemand sou hierop kon sê: “Dat ‘n mens die tradisie handhaaf, is duidelik God se wil.”

Toegepas op dit wat ons in ons eredienste sing, beteken dit: die ou doppers het geweier om die destydse “evangeliese gesange” te sing. Hulle het besluit om liewer net Psalms, of, daarbenewens net nog Skrifberymings te sing. Ons moet hulle voorbeeld volg en ook nie vandag se liedere sing nie.

Vra ‘n mens na die motivering van die eertydse doppers, was hulle besware dat die destydse evangeliese gesange nie aan die Skrif en belydenis getoets is voordat dit in gebruik geneem is nie. Die liedere wat in die liedboek opgeneem is, is wel aan Skrif en belydenis getoets.

Eenvoudige en vinnige gevolgtrekkings is selde die beste of reg. Ons fokusgedeelte verg ‘n deegliker ontleding om ‘n antwoord te kry op die vraag: wat verwag die Here van ons?

Die teenstelling tussen die Rekabiete en die Judeërs

Met watter doel laat Jeremia hierdie toneel voor die Judeërs afspeel? Watter boodskap wil die Here, wat Jeremia die opdrag gegee het om dit te doen, hiermee oordra?

Dat die Rekabiete nie wyn gedrink het nie, skryf hulle toe aan die opdrag wat Jonadab, seun van Rekab, aan hulle gegee het. Sy naam vind ons ook elders in die Bybel. Koning Jehu van die tien stamme van Israel het almal wat aan Agab verwant was, doodgemaak. Terwyl hy met hierdie veldtog besig was, het hy Jonadab seun van Rekab teengekom (2 Kon 10:15). Jonadab het hom aan Jehu se kant geskaar. In Samaria aangekom, het hulle almal van Agab wat nog in Samaria oor was, doodgemaak.

Daarna het Jehu en Jonadab al die Baälprofete bymekaar laat kom onder die voorwendsel dat hulle ‘n groot offer aan Baäl wou bring (2 Kon 10:23 ev). Almal in die Baältempel is in opdrag van koning Jehu doodgemaak. So het Jehu die Baäldiens in Israel vergdelg (2 Kon 10:28).

Baäl het mettertyd die eienaam geword van die manlike Kanaänitiese afgod wat saam met die godin, Astarte, ‘n paar gevorm het wat vrugbare landbouopbrengste verseker het. In Agab en sy vrou Isebel se tyd het die Israeliete benewens die Here, ook Baäl gedien. In die Baäldiens, ‘n vrugbaarheidsgodsdiens, is daar gedrink en seksueel met priesteresse verkeer.

Die Israeliete wat met wingerde en gesaaides geboer het, was vanselfsprekend meer aan die vrugbaarheidsgodsdiens blootgestel as die veeboere. Jonadab se opdrag aan sy nakomelinge om as Bedoeïene in tente te woon en net met vee te boer, het hulle van die groot versoeking van Baäl gevrywaar. Aan die alkohol wat ‘n mens se weerstand teen versoekings verlaag, het hulle met die uitvoer van Jonadab se opdrag van geheelonthouding ontkom.

Hier kan ons vra: Is die Rooms Katolieke gebruik van onttrekking, van askese en geheelonthouding hiervolgens die ideaal? So ‘n eenvoudige en vinnige gevolgtrekking is net soos in die geval van die tradisionalisme die noodwendig goed en reg nie.

Die Here lê by monde van sy profeet, Jeremia, die vinger op die werklike verskil tussen die Judeërs en die Rekabiete: Die nageslag van Jonadab seun van Rekab het hulle gehou aan die bevel wat hulle voorvader hulle gegee het, maar hierdie volk het nie na My geluister nie (Jer 35:16). Die Rekabiete het die opdrag van hulle voorvader Jonadab, getrou bly uitvoer. Die Here het dit in sy tempel vir die Judeërs gewys. Hulle voorvader, Jonadab, was ‘n blote mens. Tog het hulle sy opdragte gehoorsaam en nougeset nagekom.

Die Judeërs, die volk waaraan die Here Hom in genade verbind het, het nie net deur die eeue heen sy wet gehad waarna hulle kon luister nie. Hy het vroeg en laat sy profete na hulle toe gestuur. Sy profete het sy volk herinner aan die eerste gebod: Julle mag nie ander ander gode aanloop en hulle dien nie (Jer 35:15). Hy het hulle gewaarsku dat gehoorsaamheid daartoe sou lei dat hulle in die beloofde land sou kon aanbly. Hulle reaksie: Maar julle het nie aandag gegee of na My geluister nie (Jer 35:15). Dit gaan vir die Here nie daarom dat sy volk tradisievas is, dat hulle ‘n asketiese lewe lei en geheelonthouers moet wees nie.

Die Here eis is dat hulle wat sy Woord hoor, moet aandag gee wanneer Hy praat, moet luister wanneer sy profete sy Woord aan sy volk verkondig. Die blywende boodskap is: gee aandag en luister wanneer die Woord van die Here verkondig word.

Natuurlik stuur die Here nie meer sy profete met persoonlike boodskappe na ons toe nie. Ons het egter die Woord van die Here op skrif. Ons moet elke keer sy Woord opneem, dit onder leiding van sy Gees lees, gehoorsaam daarvolgens leef. Daarin moet ons getrou wees.

Wat van ons tradisies? Selfs ons tradisies moet ons nie gehoorsaam bloot omdat dit tradisies is nie. Ons moet ook die tradisies bly toets aan die Woord. Wanneer ons met vernuwing besig is, moet dit ook nie bloot om vernuwing gaan nie. Ons moet ook elke stukkie beoogde vernuwing toets aan die Woord. Die finale vraag is altyd: klop dit wat jy doen en sê met die Woord van God, of nie? Daardie toets moet ons, onder leiding van die Gees, getrou bly aanlê.

Die afloop

Vir die Rekabiete se trou aan die opdrag van hulle voorvader, Jonadab, kondig die Here aan dat daar altyd iemand uit sy familie sal wees wat die Here dien (Jer 35:18, 19). Dit nie omdat hulle hulle tradisie bly handhaaf het nie, maar omdat hulle in die proses aan die Here getrou was.

Die Here se volk, die Judeërs, hoor uit die mond van die profeet Jeremia: So sê die Here die almagtige God, die God van Israel: Ek laat kom oor Juda en oor al die inwoners van Jerusalem al die rampe wat Ek oor hulle aangekondig het. Ek het met hulle gepraat, maar hulle het nie geluister nie, Ek het hulle geroep, maar hulle het nie geantwoord nie (Jer 35:17). Ongehoorsaamheid aan die Here, ontrou jeens Hom, het negatiewe gevolge. Die Here tugtig sy volk wat hulle daaraan skuldig maak. Wie nie aandag gee aan die Here se Woord nie, wie nie sy Woord as finale maatstaf gebruik nie, staan voor die Here skuldig.

Slot

Tradisie kom van tyd tot tyd in die GKSA – ook in ons gemeente – op die tafel. Voor die Judeërs, het die Rekabiete met die kanne vol wyn en bekers voor hulle geweier om te drink, weens die opdrag van hulle voorvader, Jonadab, seun van Rekab.

Die Here se doel met hierdie prentjie is om die Rekabiete se gehoorsaamheid aan hulle voorvaders te kontrasteer met sy volk se weiering om aandag te gee aan sy Woord by monde van sy profete.

Die oproep van ons fokusgedeelte aan ons adres is: gee onder leiding van die Gees aandag aan God se Woord. Wees gehoorsaam. Laat die Woord van die Here ook die finale toetssteen wees vir jou tradisies en vernuwing.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg2016-12-11-tradisie-of-trou-wat-die-here-verwag-jer-35-v14b-tot-17

Indien u na die bespreking wil luister, kliek hieronder op die simbool: ►

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *