(2016 11 27 2e) Vrou stil in die samekoms van die gemeente? 1 Kor 14 v33b tot 36 ♪

Die skerp meningsverskil in die GKSA oor die vrou in die besondere dienste is algemeen bekend. Beide kante beroep hulle op die Skrif. As Gereformeerde gelowiges is een van ons uitgangpunte immers: “Die Skrif alleen.”

Een van die Skrifgedeeltes wat in die debat geopper word, is deel van die hoofstuk wat ‘n paar weke van die vierde kwartaal in die oggenddienste aan die orde is. Ons tema vanaand is in vraagvorm: Vrou stil in die samekoms van die gemeente? [ In ‘n poging tot ‘n antwoord is die hantering van hierdie Skrifgedeelte in die publikasie “Manlik en vroulik in die kerk” in die konteks van 1 Kor 14:26 – 40 nuttig. ]

Elke gedeelte in die Bybel, ook ons fokusgedeelte, moet vertolk word in sy konteks in die hele Woord van die Here. Ons let op: (1) Wie moet stlibly? (2) is die gebod algemeen? en (3) die konteks van die Woord.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Wie moet stilbly?

Soos in al die Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly (σιγάτωσαν), want hulle word nie toegelaat om te praat nie (1 Kor 14:33b, 34a). Soos hierdie opdrag hier staan, is daar geen misverstand of onduidelikheid nie. Dit word die swyggebod genoem.

Tog staan hierdie opdrag in Paulus se eerste brief aan die Korintiërs wat vir ons bewaar gebly het. Blaai ‘n mens ‘n paar hoofstukke terug, sien jy dat daar sprake is van die vrou wat profeteer of bid. Daar word sy nie die swye opgelê nie. Daar staan geskryf dat sy, wanneer sy profeteer of bid, dit moet doen terwyl sy ‘n hoofbedekking op het: Maar elke vrou wat bid of profeteer sonder iets op haar kop, doen haar hoof, haar man, oneer aan, want dan is sy net soos ‘n vrou wie se hare afgeskeer is. … Oordeel julle nou maar self: is dit betaamlik vir ‘n vrou om sonder iets op haar kop in die erediens tot God te bid? (1 Kor 11:5, 11). Die vrou mag volgens 1 Kor 11 wel profeteer en bid. Dit klop eenvoudig nie met ‘n algehele swyggebod op die vrou nie.

Die vrou is nie die enigste een wat in 1 Kor 14 opdrag kry om te swyg nie. Twee ander keer vind ons die opdrag – die eerste keer met betrekking tot die spreek in tale: As daar nie iemand is wat dit kan uitlê nie, moet dié een wat ongewone tale of klanke gebruik, stilbly (σιγάτω) in die byeenkoms van die gemeente en net tuis met homself en met God praat (1 Kor 14:28). Die tweede keer met betrekking tot profesie: Maar as ‘n ander een wat daar sit, ‘n openbaring ontvang, moet die spreker stilbly (σιγάτω) (1 Kor 14:30). Elkeen van die opdragte om stil te bly, staan in die Griekse bevelsvorm. In die eerste twee gevalle staan die opdrag in die enkelvoud, in die geval van die vroue in ons fokusgedeelte in die meervoud. Dit bly tog dieselfde opdrag.

Die rede vir die opdrag om stil te bly in die geval van tale praat en profesie is: God is tog nie ‘n God van wanorde nie, maar van orde en vrede (1 Kor 14:33a). Direk hierop volg die opdrag aan vroue om stil te bly. Die hele gedeelte word ook afgesluit met die opdrag: Alles moet egter gepas en ordelik geskied (1 Kor 14:40). Die konteks van elke gebod om stil te bly, is dus die orde in die samekomste van die gemeente.

Ons het reeds gesien wat in die gemeentelike samekomste in Korinte gebeur het. In die preek oor 1 Kor 14:1 het ons gehoor: “In die gemeente Korinte het gemeentelede om aansien meegeding. Iemand se aansien is bepaal deur watter gawes van die Gees hy kon beoefen. Die kompetisie onder gemeentelede het so erg geword dat al die gemeentelede tegelyk in hulle samekomste as gemeente kliphard gepraat en selfs geskreeu het. Elkeen wou die ander onder die indruk bring van die gawes van die Gees wat hy / sy kon gebruik. Wanorde het geheers.”

In sulke omstandighede maak die drievoudige swyggebod sin. Dit is sekerlik nie verkeerd om te sê dat dit vir die opbou van die gemeente in Korinte ‘n noodsaaklike gebod was nie.

Is die gebod algemeen?

Korinte en ander gemeentes

Tog kan ons nie die gebod beperk tot die gemeente in Korinte nie. Die opdrag verbind juis die gemeente in Korinte aan die ander gemeentes: Soos in al die Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly … (1 Kor 14:33e, 34a) en: Het die woord van God miskien van julle af uitgegaan? Of het dit julle alleen bereik (1 Kor 14:36)? Selfvertroue het geensins in die gemeente Korinte ontbreek nie. Wat hulle betref, was hulle die toonaangewende Christelike gemeente van hulle tyd. Die apostel roep hulle tot orde. As gemeente moet hulle nie revolusionêr wees nie. Die Woord van God het nie van hulle uitgegaan nie, maar liewer van die gemeente in Jerusalem.

Die gemeente in Korinte moes eenvoudig hulle plek innneem tussen ‘n klomp ander Christelike gemeentes. Hulle moes die manier waarop hulle as gemeente funskioneer, sinkroniseer met die ander Christelike gemeentes. Die vroue moes ook in die gemeente in Korinte, soos in die ander gemeentes, stilbly.

Moes alle vroue in die gemeente stilbly?

Sommige antwoord: “Ja, die gebod om in die samekoms van die gemeente stil te bly, raak alle vroue.” Dit het natuurlik die implikasie dat die vrou glad nie in ‘n erediens mag praat nie.

Ander sê weer: nee, dit is duidelik, volgens 1 Kor 14:35, getroude vroue – en die rede vir die gebod dat sy moet stilbly, is om so haar onderdanigheid aan haar man te bewys.

Moes die vroue in alle omstandighede stilbly?

Die verskillende antwoorde word hier bloot aangestip.

Sommige antwoord: “Ja, die gebod om in die samekoms van die gemeente stil te bly, raak alle vroue in alle omstandighede.” Dit het natuurlik die implikasie dat die vrou glad nie in ‘n erediens mag praat nie. Sy mag dan ook nie die sogenaamde spreekgawes, waaronder om te profeteer en om te bid, beoefen nie. Dit sluit haar uit van die bediening van die Woord.

In die tweede vertolking word daarvan uitgegaan dat 14:34 en 14:35 na twee verskillende onordelike optredes van vroue in die samekoms van die gemeente verwys, nl dat vroue verbied word om tydens die amptelike Woordverkondiging van die gemeente te praat (14:34) en verbied word om tydens die beoordeling van profesieë vrae te stel (14:35). In die laaste geval, in vandag se terme gestel: vroue mag nie deel van die kerkraad (dit is ouderlinge) wees wat toesig hou oor die suiwerheid van die Woordbediening nie.

Volgens die derde vertolking is hier nie sprake van twee soorte praat van vrou in die gemeente nie, maar van een soort: hoe vroue optree wanneer hulle iets te wete wil kom. Paulus het spesifiek getroude vroue in gedagte gehad, want hy sê as hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra. Dit blyk dat die Skrifbeginsel is dat vroue in die gemeentelike samekomste hulle onderdanigheid aan hulle mans moes betoon. Hier gaan dit nie om die vraag of vroue as predikante mag dien nie, maar om vroue wat in die samekoms van die gemeente vrae gevra het en met die vrae getoon het dat hulle hulle mans se leiding verwerp het. Hieruit kan dus, volgens hiedie standpunt, nie afgelei word dat vroue verbied word om amptelik God se Woord te verkondig nie.

Die konteks van die Woord

Ons het reeds gesien dat 1 Kor 11 daarvan uitgaan dat vroue wel kon profeteer en bid. Wanneer hulle dit doen, moes hulle ‘n hoofbedekking dra om so hulle mans se gesag oor hulle te erken (1 Kor 11:5, 10).

Blaai ons na die Ou Testament, het Debora as rigter en as profetes opgetree (Rigt 4:4). Gulda (1983; Hulda, 1953) was ‘n profetes (2 Kon 22:14) na wie koning Josia ‘n afvaardiging gestuur het. Sy het die Woord van die Here aan hulle oorgedra.

In die Nuwe Testament lees ons dat die diaken, Filippus, se vier ongetroude dogters die gawe besit het om te profeteer (Hand 21:9).

Vroue was dus in beide Ou Testament en Nuwe Testament ontvangers van die gawe om te profeteer. Vroue, soos ook mans, het die spreekgawes van die Gees ontvang.

Slot

Die skerp meningsverskil in die GKSA oor die vrou in die besondere dienste is algemeen bekend. Beide kante beroep hulle op die Skrif. As Gereformeerde gelowiges is een van ons uitgangpunte immers: “Die Skrif alleen.”

Die gebod dat vroue in die samekoms van die gemeente moet stilbly kom in 1 Kor 14:33b – 35 aan die orde. Meningsverskil bestaan oor die vraag of die vrou met hierdie gebod van die diens van Woordbediening en ouderling uitgesluit word, al dan nie. Beide die voorstanders en teenstanders daarvan se vertolking slaag die toets van die Gereformeerde Skrifvertolking (vgl 11.6 op bl 131 van Breed, J van Rensburg en Jordaan se publikasie).

Die gesprek oor die vraag of die vrou in die diens van Woordbedienaar en ouderling mag staan, word nie volledig in ons fokusgedeelte beantwoord nie.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: 2016-11-27-vrou-stil-in-die-byeenkoms-van-die-gemeente-1-kor-14-v33b-tot-36

Indien jy na die bespreking wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *