(2016 11 13 1e) Gelowige – volwasse en baba 1 Kor 14 v20 ♪

Dikwels sal ‘n kleuter sê: “Kyk net hoe groot is ek!” ‘n Mens wil groei – van kleins af.

Partykeer haak iemand vas in ‘n vroeër ontwikkelingsfase. Min mense dink dit is oulik as ‘n hoërskoolkind sy “speelgoed” van die bed af gooi of as ‘n senior burger kinderagtig optree.

Ook in ons geloofslewe kan ‘n mens vassteek in ‘n vroeër ontwikkelingsfase. Volgens ons fokusvers moet ons nie in ons denke vassteek en daarin onvolwasse wees nie. Ons moet groei tot volwassenheid in die geloof. Tog is daar ‘n verrassende wending. Wat die doen van slegte dinge betref, moet ons so hulpeloos wees asof ons babas is. In watter mate is jy as gelowige volwasse en tegelyk baba?

Ons skiet een en elkeen na beide kante tekort. Juis daarom verootmoedig ons ons voor die Here. Ons tema vanoggend: Gelowige – volwasse en baba Ons let op twee fasette: (1) Die gelowige: volwasse in denke; (2) wat kwaaddoen betref, ‘n baba

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Die gelowige: volwasse in denke

Ons teksvers word ingelui met die aanspreekvorm: Broers. Die apostel het waarskynlik veral diegene wat tale praat in die oog. Al is dit wat hy sê in die eerste plek van toepassing op gelowiges in Korinte wat in tale praat, is dit wat volg meer algemeen van toepassing. Al word die manlike vorm gebruik, raak dit beide broers en susters.

Met die aanspreekvorm doen die apostel ‘n beroep daarop dat die gelowiges in Korinte, in besonder die gelowiges wat die gawe van die praat in tale beoefen, in Christus sy broers is. Al spreek hy kritiek uit teen hulle hantering van een van die besondere gawes van die Gees, is hy aan hulle verbonde. Hulle maak almal saam deel uit die van gemeente as die liggaam van Christus.

Ons is vandag hier as gemeente byeen om as deel van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika ons voor die Here te verootmoedig oor die heersende situasie in ons land. Is jy hier as broer / suster van elke ander hier teenwoordig? Is jou oproep tot ander om hulle te verootmoedig, ‘n oproep aan jou broers en susters in die geloof?

Al staan Paulus op gelyke voet met hulle, al is hulle in die huisgesin van God broers en susters vir mekaar, is hy geroep as apostel. Op ‘n besondere wyse moet hy God se wil aan die gemeente bekendmaak. Daarvoor het die Here bepaalde gesag aan hom verleen. Daarom gee hy bepaalde opdragte aan die gemeentelede in Korinte. Hy gee ‘n enkele negatiewe opdrag en twee positiewe opdragte:

Hy begin met ‘n negatiewe opdrag:

Broers, moenie in julle denke kinders wees nie (1 Kor 14:1a). Ons moet in gedagte hou dat hy hierdie opdrag rig aan mense wat hulleself op die skouer geklop het omdat die Heilige Gees kragtig in hulle gewerk het. Veral diegene wat in tale gepraat het, wou almal onder die indruk bring van hoe begaaf hulle was. Die feit dat hulle in tale gepraat het, het, wat hulle betref, bevestig dat die Heilige Gees in hulle aan die werk was. Daarvoor het hulle erkenning van hulle medegelowiges verwag.

Tussen dit wat gemeentelede in Korinte van hulleself gedink het en die werklikheid was daar ‘n hemelsbreë verskil. Onder leiding van die Heilige Gees bring die apostel hulle terug aarde toe. Al spel hy dit nie uit nie, herinner hy hulle aan die manier waarop jong kinders praat. Hulle kry dit nie reg om wat hulle dink, voel, wil, sien en hoor skerp onder woorde te bring nie. Heel klein kindertjies praat selfs nie eens ‘n verstaanbare taal nie. Hulle praat ‘n brabbeltaal. Die tale waarop partye gemeentelede in Korinte so trots is, is so onverstaanbaar soos die taal van hierdie klein kindertjies. Herhaaldelik het Paulus gesê dat ‘n mens ter wille van medegelowiges eerder in ‘n verstaanbare taal moet praat. Daarom die opdrag: Broers, moenie in julle denke kinders wees nie (1 Kor 14:1a).

Is dit nie ook van my en jou as gemeentelede waar nie? Dit gaan om my en my persoonlike geestelike behoeftes. Ek verwag dat medegelowiges erkenning aan my gee. Ek is nie regtig daarop ingestel om my medegelowiges op te bou, om die gemeente van Christus waarvan ek ‘n lid is op te bou tot ‘n gemeente wat sy roeping vervul nie. Ek en jy wat so op onsself en ons behoeftes fokus, moet gehoor gee aan die opdrag: Broers, moenie in julle denke kinders wees nie (1 Kor 14:1a).

Teenoor hierdie negatiewe een sluit die apostel ons fokusvers af met die positiewe opdrag: Wees … in julle denke volwasse (1 Kor 14:20e). Die woord wat hier vertaal word met volwasse, word in 1 Kor 2:6 vertaal met ryp. Elke vrug gaan deur ‘n groen fase. Die groen fase van my en jou lewe as Christengelowiges is wanneer onsself en ons eie behoeftes al ons aandag verg. Ons moet by hierdie stadium verby beweeg.

‘n Vrug aan ‘n boom begin op ‘n dag kleur kry. Deur ‘n proses van opvoeding en vorming begin ek en jy ook kleur kry. Ons begin stadigaan kyk na ander en hulle behoeftes.

Uiteindelik ontwikkel die vrug aan die boom tot ‘n pragtige kleurvolle vrug wat gereed is vir pluk en eet. Wanneer ek en jy as gelowiges so ryp geword het, het ons die vermoë begin ontwikkel om dit wat ons dink, voel en ervaar in duidelik verstaanbare woorde uit te druk. Dan is ons in staat om ons kennis, insig en wysheid aan ander oor te dra.

Die apostel gee opdrag aan gemeentelede in Korinte dat hierdie groeiproses in elkeen van hulle se lewe enduit deurgevoer word. Dan gaan elkeen nie die ander probeer oortuig van sy eie begaafdheid nie, maar dan gaan elkeen fokus op sy medegelowiges en op hulle behoeftes.

Watter vrug verteenwoordig jou: die heeltemal groen, onontwikkelde vrug, die vrug wat al subtiel begin verkleur, of die vrug wat ten volle ontwikkel is en gereed is om gepluk en benut te word? Ek en jy hoor vanoggend die opdrag van die Here in sy Woord: Wees … in julle denke volwasse (1 Kor 14:20e).

In ons denke moet ons nie onvolwasse wees nie, maar volwasse, heeltemal ryp. Daar is wél ‘n opsig waarin ons nie so ontwikkel moet wees nie. Die middelste opdrag is:

Wat kwaaddoen betref, is die gelowige ‘n baba

Wees onvolwasse in die slegte dinge (1 Kor 14:20m). Die woord onvolwasse gee nie regtig die betekenis weer van wat die grondteks vir ons wil sê nie. Dit is ‘n ander woord as die woord kinders in die opdrag: Broers, moenie in julle denke kinders wees nie (1 Kor 14:1a). Die woord wat onvolwasse vertaal is, sou beter weergegee kon word met baba.

Die tweede woord wat ons aandag vra, is vertaal met slegte dinge. Dit verwys na ‘n lewe wat verrot is, ‘n korrupte lewe.

‘n Man in die fleur van sy lewe is sterk en onafhanklik. ‘n Baba is swak. ‘n Baba kan niks vir homself doen nie. Hy is onhandig. Dit is wat die apostel met hierdie opdrag in gedagte het. As gelowiges in Christus moet ek en jy wat kwaaddoen, verrotting en korrupsie betref, so onhandig en swak word asof ons babas geword het.

In die huidige situasie in ons land beteken dit dat ek en jy as gelowiges nooit oor ons eie sonde en korrupsie mag sê nie: “Almal doen dit!” Ons is daartoe geroep om anders te wees as al die ander. Dit beteken dat ek nie wanneer die kans hom voordoen, vir die metropolisieman R100 in die hand stop in plaas daarvan om ‘n boete van R1000 te betaal nie. Ek moenie eens oorweeg om die aas wat hy uitgooi, te vat nie. Dit geld ook wanneer ek onverwags ‘n geleentheid kry om my beursie vol te stop. As gelowige moet ek so onbeholpe wees dat ek daardie kans laat verbygaan. Ek moet te onbeholpe wees om enige geleentheid tot korrupsie te benut.

Dink net as die 80% burgers van Suid-Afrika wat hulleself as Christene bestempel hierdie opdrag van die apostel sou uitvoer. Daar sou geen netwerke kon ontwikkel van mense wat die staatskas laat bloei nie. Diegene wat die landsbeursie wou gryp, sou geen kans daartoe hê nie. Elke Christengelowige in ons land, moet hom voor die Here verootmoedig oor die korrupsie en bedrog wat in Suid-Afrika posgevat het.

Net soos wat ‘n kleuter nooit daarmee sal spog dat hy klein is nie, gaan dit teen my en jou grein in om in enige opsig terug te groei en babas te word. Trouens, om babas te word in kwaaddoen, vra van ons om heeltemal teen ons aard in te gaan. Selfs die apostel wat hierdie opdrag gee, bely op ‘n ander plek: Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek (Rom 7:18e, 19). Vir my is dit heeltemal onmoontlik om wat kwaaddoen betref, ‘n onbeholpe baba te word.

Vir hierdie radikale verandering in my lewe moet ek my fyn instel om te hoor hoedat die Heilige Gees my lei. Ek moet in die situasie by die metropolisieman of waar ek my beursie vol kan kry eers ‘n oomblik stil word en vra: “Here, wat, wil U hê, moet ek nou doen?” Wees sensitief vir die leiding van die Heilige Gees in sulke praktiese situasies.

Dat ek en jy in hierdie opsigte struikel, vra dat ons ons voor die Here verootmoedig omdat ons dikwels die Heilige Gees weerstaan, eerder as dat ons sy leiding volg.

Slot

Dikwels sal ‘n kleuter sê: “Kyk net hoe groot is ek!” ‘n Mens wil groei – sommer van kleins af.

Partykeer haak iemand vas in ‘n vroeër ontwikkelingsfase. Min mense dink dit is oulik as ‘n hoërskoolkind sy “speelgoed” van die bed af gooi of as ‘n senior burger kinderagtig optree.

Ook in ons geloofslewe kan ‘n mens vassteek in ‘n vroeër ontwikkelingsfase. Volgens ons fokusvers moet ons nie in ons denke vassteek en daarin onvolwasse wees nie. Ons moet groei tot volwassenheid in die geloof. Tog is daar ‘n verrassende wending. Wat die doen van slegte dinge betref, moet ons so hulpeloos wees asof ons babas is. In watter mate is jy as gelowige tegelyk volwasse en baba – volwasse in jou denke; baba in kwaaddoen?

Ons skiet een en elkeen na beide kante tekort. Juis daarom verootmoedig ons ons voor die Here.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: 2016-11-13-verootmoediging-gelowige-volwasse-en-baba-1-kor-14-v20

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *