(2016 11 06 2e) Dien die Here met jou hele wese Matt 5 v21tot24 ♪

Jesus se antwoord op die vraag na die groot gebod was dat ons God bo alles moet liefhê. Hy het daarby gevoeg: “… die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:37-40). Wat moet ek en jy doen as ons moet kies tussen of ons iets doen om die Here te dien, of dit wat ons naaste raak?

Jesus gee ‘n baie spesifieke voorbeeld: jy is by die altaar om ‘n offer te bring en daar val dit jou by: ‘n medegelowige het iets teen jou. Hy gee nie die vanselfsprekende antwoord nie. Sy opdrag is: los jou offer by die altaar en gaan maak vrede met jou medegelowige. Kom dan terug en bring jou offer. Versoening met medegelowiges moet jou prioriteit wees.

Hierdie voorskrif het ‘n bepaalde (1) agtergrond, wat eers ons aandag vra; daarna sien ons (2) versoening raak ons verhouding met mekaar

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Agtergrond van die prioritisering van versoening

Jesus het in sy bergpreek die mense voor Hom geleer dat sy kinders oorvloediger geregtigheid moet hê as die Wetgeleerdes en die Fariseërs (Matt 5:20). Hulle het geglo dat hulle reg voor God kon gaan staan deur die wet van die Here en hulle eie vertolking daarvan 100% na te kom.

Hulle verklaring van die wet en vertolking van die Goddelike eis van geregtigheid, het drie tekorte gehad:

  • Hulle het die letter van die wet benadruk. As daar nie bo alle twyfel bewys is dat ek God se gebod letterlik oortree het nie, was ek onskuldig. My motief of gesindheid het niks met die saak te make gehad nie.

  • Dikwels is die wet slegs gedeeltelik aangehaal en aangevul met ‘n uitspraak wat nie in die Skrif staan nie; aan dit wat toegevoeg is, is groter betekenis geheg as aan die Skrifwoord.

  • Dikwels is die vertolking geplooi om sondige menslike oorwegings en gebruike te regverdig.

Toe Christus praat van oorvloediger geregtigheid was sy bedoeling allermins dat ‘n mens meer nougeset God as die wetgeleerdes en die Fariseërs jou lewe volgens allerlei reëls moes inrig.

Hy het dit wat Hy daarmee bedoel op verskillende gebooie toegepas. Hy het met die sesde gebod begin: Jy mag nie moord pleeg nie. Die Wetgeleerdes en Fariseërs het oor die sesde gebod gesê: `Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’ (Matt. 5:21).

Jesus stel homself teenoor die Fariseërs se opvatting van die sesde gebod. Hy pas die sesde gebod baie skerper toe. Sy stelling is: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur (Matt. 5:22). Daarmee maak Hy bekend: God kyk nie net na die laaste sondedaad wat ‘n mens doen nie. Lank voordat ek werklik sonde doen, het woede in my hart nes geskop. Daardie woede stel my al strafbaar voor die regbank en uiteindelik strafbaar voor God. God beoordeel die eerste gedagte wat uiteindelik tot die daad lei.

Terwyl ons so maklik sal sê: ek oortree nie die sesde gebod nie, ek het nog niemand doodgemaak nie, laat Christus se uitleg van die sesde gebod elkeen van ons besef: Ek is skuldig. Ek oortree eintlik regtig die sesde gebod. Ek doen dit selfs al het ek nog nooit enigiemand letterlik doodgemaak nie.

Dit laat ons besef: ’n mense kan net langs één weg voor God geregverdig word: Iemand moet doen wat ek en jy nie kan doen nie: Hy moet volmaak leef en sy verdienste my laat toekom. Dan moet Hy ook my sondeboek neem en die volle losprys vir elke sonde wat daarin teen my naam opgeteken staan, betaal. Hy moet sterf vir my en in my plek.

Uit die Woord weet ons dat Jesus Christus juis dit gedoen het. Hy het ons met God versoen. Christus – en net Hy – is inderdaad ons geregtigheid voor God, die Regverdige!

Ons, wat iets van ons sondes besef, verneem die blye boodskap van versoening deur Christus. Die versoening raak nie net ons verhouding met God nie – dit raak ook ons verhouding met mekaar.

Die boodskap van versoening raak ons verhouding met mekaar

Jesus leer ons dat die sesde gebod baie meer as moord behels – dit gaan in wese om versoening met jou medemens.

Destyds het ‘n groot offer, volgens die Joodse opvatting, heelwat godsdienstige punte getel. Indien ek in een of ander wanverhouding met my medemens leef, kanselleer die groot offer dit op die godsdiensskaal heeltemal uit; oorskadu dit totaal. Ook ons maak dikwels onderskeid tussen ons verhouding tot God en ons verhouding tot ons medemens. Ons is tevrede as ons net maar kan sê dat ons verhouding met God reg is, dan kan daar maar tekorte wees in ons verhouding tot ons medemens.

Die algemene opvatting onder mense is dat, indien iemand vir my kwaad is, dit sy of haar probleem is. Ek het niks daarmee te make nie – veral nie as ek besig is om die Here te dien nie.

Jesus wys ‘n totaal ander weg aan: As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer … Wanneer ek agterkom dat my broer iets teen my het – selfs al het ek absoluut niks teen hom nie – my roeping is om na hom toe te gaan en eerlik te poog om die probleem uit die weg te ruim; om my met hom te versoen.

Kan Hy regtig verwag dat ek die inisiatief moet neem om elke wanverhouding tussen my en ‘n ander te herstel? Kan die Here dit van my verwag?

Ja, die Here kan, want dit is presies wat Hy gedoen het. Hy het nie van my wat teen Hom gesondig het, vereis om die kloof tussen my en Hom – veroorsaak deur my persoonlike sondeskuld – te oorbrug met ‘n leer wat ek trap vir trap na bo klim nie. Nee, ons God en Hemelse Vader het die kloof wat ons met ons sondeskuld tussen ons en Hom geslaan het, van sy kant af oorbrug deur sy Seun na ons toe te stuur om aan die kruis vir ons te sterf. So het Hy ons met Homself versoen. Dit is die boodskap van die Woord.

Hy wat die verantwoordelikheid op Hom geneem het om ons met Hom te versoen, gee ons die opdrag om die eerste stap te neem om ook met mekaar te versoen.

Ek en jy wat bely dat ons aan die Here behoort, het maar een moontlikheid: wat verkeerd is, moet ons regstel. Ons moet dit doen as kinders van ons hemelse Vader, as mense wat glo dat Christus alles gedoen het om ons met God te versoen.

Natuurlik is dit veel gevra; natuurlik kom hierdie optrede allermins vir ’n mens vanself. Ons moet weet: dit was veel van God gevra om sy Seun te gee om ons te verlos; dit was veel van die heilige Seun van God gevra om die volle losprys vir ons sonde te betaal deur die vloekdood aan die kruis te sterf.

Tog vra die Here dit van ons. Hy vra egter nooit wat Hy nie self gee nie. Deur sy Heilige Gees werk Hy in my hart, maak Hy my bereid om my met my medegelowige te versoen. Ek en jy moet die leiding van die Heilige Gees volg; ek moet myself versoen met die een wat iets teen my het.

Dikwels skop ons vas, weier ons om dit te doen. Dan besluit ons om veilig te speel en bv. nie Nagmaal te gebruik nie. Ons wil immers nie ’n oordeel oor onsself eet en drink nie.

Opvallend: in wat Jesus sê, bestaan daar geen sodanige opsie nie. Nee, Hy sê: stel reg en kom na die altaar toe; stel reg en kom gebruik Nagmaal – as iemand wat weet dat God Hom uit genade met jou versoen het – en daarom het jy jou ook met jou medemens versoen. Dit is my roeping as Christengelowige.

God het Hom met my versoen. Ek moet myself daarom, onder leiding van sy Gees, ook met my medemens versoen.

Slot

Jesus se antwoord op die vraag na die groot gebod was dat ons God bo alles moet liefhê. Hy het daarby gevoeg: “… die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:37-40). Wat moet ek en jy doen as ons moet kies tussen of ons iets doen om die Here te dien, of dit wat ons naaste raak?

Jesus gee ‘n baie spesifieke voorbeeld: jy is by die altaar om ‘n offer te bring en daar val dit jou by: ‘n medegelowige het iets teen jou. Hy gee nie die vanselfsprekende antwoord nie. Sy opdrag is: los jou offer by die altaar en gaan maak vrede met jou medegelowige. Kom dan terug en bring jou offer. Versoening met medegelowiges moet jou prioriteit wees.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: 2016-11-06-die-prioriteit-kom-tot-versoening-matt-5-v23-tot-24

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *