(2016 11 06 1e) Dien die Here met jou hele wese 1 Kor 14 v13tot19 ♪

Wat speel die groot rol in jou diens aan die Here: dit wat jy voel, of wat jy dink? Terwyl die gevoelens in sommige geloofsgemeenskappe die oorheersende rol speel, oorheers die verstand weer in ander. Gelowiges maak dikwels ‘n keuse wat moet oorheers. Dit was selfs in  die destydse gemeente in Korinte die geval. Hulle het voorkeur gegee aan die gawe van praat in tale.
Watter voorkeur vra God van ons? In die antwoord op hierdie vraag, wys die apostel op die onderskeid: verstand en gees. Hy sê God verwag nie van ons diens in òf hierdie òf daardie faset van ons lewe nie, maar wél èn hierdie èn daardie faset van ons lewe; nie  òf verstand òf gevoel nie, maar èn … èn; verstand én gevoel; rede én gees. Die Here vra dat ons Hom met ons hele wese dien.
En tog – daar is ‘n geleentheid vir alles; elke ding op sy plek. Die apostel het reeds die riglyn gegee: “Munt uit in wat tot opbou van die gemeente dien.” Daarvoor is die beoefening van die gawe van profesie die beste gereedskap. Om ook in ons diens aan die Here betrokkenheid te bevorder, fokus ons fokusgedeelte op drie sake: (1) bid om die gawes nodig vir die opbou van die gemeente; (2) Twee soorte gebed; (3) betrek jou medegelowiges

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►


Bid om die gawes nodig vir die opbou van die gemeente
Ons fokusgedeelte begin met die opdrag: Bid om die gawe om die taal te kan uitllê (1 Kor 14:13). Terwyl die gawe van praat in tale so hoog aangeslaan en soveel beoefen is in Korinte, het die gawe van die uitlê van die tale agterweë gebly. Hierdie gawe is, volgens Paulus, onontbeerlik vir die die opbou van die gemeente. Dit maak dit nodig om vir die gawe te bid om die tale te kan uitlê.
Daaruit is dit duidelik dat God ook die gemeente en gemeentelede in spel bring wanneer Hy met ‘n gemeente handel. Hy laat ruimte daarvoor dat ons kan bid. Hy gee uiteindelik wat vir ons goed is, wat ons nodig het. Ook wanneer ons as gemeente ‘n gebrek ervaar in die wyse waarop die genadegawes van die Gees in die gemeente funksioneer, kan ons daarvoor bid.
Opvallend: die besondere dienste is ook gawes van God aan die gemeente (Ef 4:11). Waar ons op hierdie tydstip te min ouderlinge het, waar ouderlinge weens werkdrukte sukkel om alle lidmate gereeld te besoek, kan ons ook bid om die mense wat nodig is om hierdie roeping in ons gemeente te vervul.

Twee soorte gebed en lofprysing
Paulus ken tweërlei gebed (:14) en ook tweërlei loflied (:15): een met die gees en een met sy verstand. Die gees onderskei hy elders van die Heilige Gees wat in ons woon en werk: Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Rom 8:16). Die Heilige Gees kan die gelowige se gees meevoer tot hoogtes waarin hy tot God bid, of sy lof besing. Wie se gees so deur die Heilige Gees meegevoer is, is nie in staat om dit wat hy ervaar, self te verstaan en nog minder om dit met ander te deel.
Die gebed van die gees styg bo die vermoë van die mens se verstand en rede uit. Dit maak gebruik van klanke waartoe ons bekende en herkenbare stemme nie in staat is nie. Dit is ‘n gebed in ‘n taal of in tale. Ons het verlede week gesien dat so ‘n ervaring van die werking van die Gees die individu opbou.
Die verstand speel geen rol in so ‘n gebed nie. My verstand is daar soos ‘n toeskouer wat nie saam werk nie; soos ‘n boom wat geen vrug dra nie. Natuurlik is die bid van die gees, gebed in ‘n taal of in tale, ‘n geldige manier van bid. Wie in die gees bid, maak kontak met God. God wat die gawe daartoe geskenk het, aanvaar ook ‘n gebed wat op hierdie wyse gebid is.
Paulus het hierdie manier van bid en sing self goed geken. Hy spel dit uit:     Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal (1 Kor 14:18).
‘n Mens kan ook met jou verstand bid. Dan bring ek klanke voort wat ek en al die ander teenwoordig kan verstaan. In so ‘n gebed bring ek my verlange, nood en gevoelens onder woorde en lê dit voor die Here God.
Daar is geen rede waarom ek in my persoonlike verhouding met die Here tussen die twee moontlikhede moet kies nie. Die Here vra dat ek as heel mens Hom moet dien: met my verstand, my gees, my gevoel en al my kragte. Dié God wat sy enigste Seun gegee het om my te verlos, dié Jesus wat sy aan die kruis afgelê het sodat ek met God versoen kan wees, vra dat ek myself geheel as  lewende en heilige offer moet gee wat vir Hom aanneemlik is (Rom 12:1).
As kind van God en gelowige in Christus moet my persoonlike behoeftes en opbou nie my hoofdoel wees nie. Ek moet ook kyk waaraan medegelowiges behoefte het. Ter wille daarvan dat hulle verstaan, gebruik ek eerder verstaanbare klanke, kommunikeer ek op ‘n verstaanbare wyse met God waar ons as gemeente saamkom.
Vandaar dan ook die apostel se voorkeur vir die gebed met die verstand. Hoe groot sy voorkeur is, blyk uit die vergelyking waarmee hy afsluit: Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke (1 Kor 14:19). Liewer 5 verstaanbare woord as duisende in ‘n taal. Die verstaanbare woorde kan die doel van onderrig dien. Vyf woorde met jou verstand kan ‘n stuk kategese wees vir diegene wat dit aanhoor. Ons moet in die samekoms van die gemeente nie elkeen ingestel wees op ons persoonlike behoeftes nie, maar elkeen op elke ander se behoeftes.

Betrek medegelowiges by ons gebede
‘n Gebed met die verstand wat daarom verstaanbaar is, is verkieslik in die samekoms van die gemeente. In so ‘n samekoms is daar immers mense wat verskillende gawes van die Gees ontvang het. Almal, moontlik selfs die meerderheid, kan nie die gebed van die gees, die gebed in vreemde tale of klanke verstaan nie. Ter wille van almal se betrokkenheid by die gebed is so ‘n gebed nie wenslik in die samekoms van die gemeente nie.
Wanneer daar in die erediens gebid word, is dit anders as die gebed van die enkeling. Die apostel sê dat almal teenwoordig in staat moet wees om op so ‘n gebed te sê: Amen (1 Kor 14:16)! Amen beteken: dit staan vas, dit is die waarheid. Wanneer die amen by die gebed gesê word, sê die bidder en almal teenwoordig: Mag dit wat nou gebid is, vas bly staan.
Vanselfsprekend is dit onmoontlik om amen te sê op ‘n gebed van iemand se gees; ‘n gebed wat die bidder self en ook nie die ander wat teenwoordig is, verstaan nie. Net op ‘n gebed wat vir jou verstaanbaar is, kan jy sê: Amen!
Ons gebruik in ons samekomste as gemeente net Afrikaans, die meeste van ons se moedertaal. Ons eredienste is om daardie rede verstaanbaar. Daarbenewens staan die rede sterk op die voorgrond in die manier waarop ons as Gereformeerde gelowiges die Here aanbid.
Terwyl die rede en verstand dus op die regte wyse funksioneer, is die vraag aan my en jou adres gerig: Sê jy elke keer wanneer daar gebid of gesing word in jou hart daarop Amen? Neem jy regtig voluit deel aan elke faset van die erediens? Loof jy die Here met jou hele hart en al jou kragte saam met die res van die gemeente? Bely jy regtig jou skuld in antwoord op die voorhou van die Here se wil vir ons lewe as sy kinders? Antwoord jy heelhartig saam in sang en gebed op die verkondiging van die Woord? Na die wegstuurseën aan die einde van die diens sing ons: Amen! Sing jy dit uit oortuiging dat die Here se seën op jou rus sodat jy gedurende die week alles wat jy doen tot sy eer en tot voordeel van jou medemens te doen?
Dit gaan daarom dat ons regtig een en almal heelhartig amen sê op elke faset van ons ontmoeting met die Here.
Slot
Wat speel die groot rol in jou diens aan die Here: dit wat jy voel, of wat jy dink? Gelowiges maak dikwels ‘n keuse wat moet oorheers.
Die destydse gemeente in Korinte het voorkeur gegee aan die gawe van praat in tale. Watter voorkeur vra God van ons? In antwoord op hierdie vraag, wys die apostel op die onderskeid: verstand en gees. Hy sê God verwag nie van ons diens in òf hierdie òf daardie faset van ons lewe nie, maar wél èn hierdie èn daardie faset van ons lewe; nie  òf verstand òf gevoel nie, maar èn … èn; verstand en gevoel, rede én gees. Die Here vra dat ons Hom met ons hele wese dien.
En tog – daar is ‘n geleentheid vir alles; elke ding op sy plek. In ons diens aan die Here moet die gemeente betrokke wees, moet elke medegelowige betrek word. Ons moet daarom bid vir die gawes nodig vir die opbou van die gemeente en ons medegelowiges  betrek. Ons is besig om die lewende God in die samekoms van die gemeente te ontmoet. Dit is ‘n ontmoeting waarby ons almal heelhartig betrokke moet wees.
AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: 2016-11-06-dien-die-here-met-jou-hele-wese-1-kor-14-v13-tot-19

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *