(2016 10 30 1e) Streef na gawes wat gemeente-opbou dien 1 Kor 14 v2tot12 ♪

Ek en jy het die Here se opdrag ontvang om ons daarop toe te lê om die genadegawes van die Heilige Gees te ontvang. Onder daardie genadegawes het Paulus een uitgesonder: profesie. Om watter rede het hy profesie uitgesonder? Daarop gee vanoggend se fokusgedeelte ‘n antwoord. Wanneer ek en jy ons op die gawes van die Gees toelê, moet die liefde ons rigsnoer wees. Dit moenie om myself en my voordeel gaan nie, maar om wat die opbou van die gemeente van die Here dien.

Elkeen van ons het as belydende lidmaat voor God en die gemeente ja geantwoord op die vraag: “Beloof u, terwyl die volle gemeenskap met die kerk van Christus nou vir u ontsluit word, om as ‘n lewende lid van die kerk … u gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede en tot uitbouing van die koninkryk van God aan te wend … ?

Paulus praat oor twee van die genadegawes van die Gees: in tale praat en profesie. Ons tema is: Streef na gawes wat gemeente-opbou dien. Ons let op: (1) Wat die gawes opbou (2) Profesie is belangriker as praat in tale en (3) Munt uit in die gawes wat die opbou van die gemeente dien

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Wat die gawes opbou (:2 – 5)

‘n Gemeentelid in Korinte se aansien is bepaal deur watter gawes van die Gees hy kon beoefen. Hulle het het met mekaar begin wedywer. Elkeen wou die ander onder die indruk bring van die gawes van die Gees wat hy / sy kon gebruik. Almal het tegelyk kliphard in hulle samekomste as gemeente gepraat en selfs geskreeu.

Hulle moes met hierdie liefdelose optrede stop. Hulle moes volgens 1 Kor 14:1 liefde nastreef – so doelgerig as ‘n jagter wat op sy prooi toeslaan. Op die lysie van gawes het die gawe van die praat in tale in Korinte een van die belangrikste plekke ingeneem. In liefde kon hulle hulle wel daarop toelê om verskillende genadegawes van die Gees te ontvang. Onder die genadegawes het Paulus gesê moes gemeentelede hulle veral daarop toelê om te profeteer.

In ons fokusgedeelte motiveer die apostel sy voorkeur vir die gawe van profesie. Hy benader dit in :2 – 5 vanuit die hoek: met wie jy praat en wat jy daarmee opbou.

Eers verwys die apostel na die gawe van in tale praat / tongespraak / glossolalie. Hier, sowel as in die later hoofstukke van die boek Handelinge verwys dit nie, soos in Hand 2 na bestaande menslike tale nie. Wie tale praat, praat met God. Wat hy sê, is vir geen mens verstaanbaar nie – nie eens vir homself nie. Dit is in ‘n wolk van misterie gehul.

Daar is wel iets positief vir die beoefening van hierdie gawe te sê.

  • Die tale wat ‘n gelowige praat, bevestig dat die Heilige Gees in hom werk – praat in tale is immers ‘n genadegawe van die Gees. Gelowiges uit charismatiese en pinkstergeledere beklemtoon dit ook. ‘n Gelowige wat so bevestiging kry dat die Heilige Gees in hom werk, voel versterk. Dit bou hom persoonlik op.

  • Juis omdat dit ‘n gawe van die Gees is, wat so positief werk, gaan die apostel sover om te sê hy wens hulle het almal die gawe van in tale praat (1 Kor 14:5). Hy sê trouens: Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal (1 Kor 14:18). Tog kan hy nie anders nie as om weer die rangorde reg te kry. Sy wens vir hulle: nog liewer dat julle profeteer (1 Kor 14:5).

Wie profeteer praat nie met God nie, maar met mense. Dit vind plaas in een of ander verstaanbare taal. Mense wat dit hoor, word daardeur opgebou, bemoedig, en vertroos (1 Kor 14:3). Stel jou nou voor: waar die gemeente van die Here byeen is, kom die gawe van profesie aan die orde. Die apostel se gevolgtrekking is: … die een wat profeteer, bou die gemeente op (1 Kor 14:4e). Ons almal word opgebou, bemoedig en vertroos. Hieruit is net een gevolgtrekking moontlik: in rangorde kom die gawe van profesie voor die praat in tale. Dit bou die gemeente op.

Daar is wél een moontlikheid wat die praat in tale op gelyke vlak bring as die gawe om te profeteer: die een wat in die taal praat, moet dit ook uitlê – dit ook vertaal, dit verstaanbaar maak vir die gemeente. Dan is dit wat hy sê nie meer in ‘n misterie gehul nie. Dit wat onbegryplik was, word so begryplik. Die gemeente word daardeur opgebou.

Dit wat die gemeente opbou, moet ons prioriteit wees.

Profesie is belangriker as praat in tale (:6 – 11)

Die apostel bewys die geldigheid van die voorkeur wat profesie bo die praat in tale inhou met voorbeelde:

  • Paulus se werk in Korinte (:6)

Paulus het al in Korinte gewerk en beoog om dit weer te doen. Hy vra watter nut dit vir hulle sou inhou indien hy ongewone tale of klanke sou gebruik wat hulle nie sou verstaan nie. Sy antwoord: Ek sal vir julle net van nut wees as ek ‘n openbaring of kennis of profesie of lering aan julle meedeel (1 Kor 14:6b).

Hy spesifiseer twee pare voorbeelde van kommunikasie wat waarde het:

Openbaring en profesie – As een van die apostels het die Here bepaalde goed deur sy Gees aan Paulus openbaar. Dit wat aan hom openbaar is, moes hy as openbaring op ‘n verstaanbare wyse aan die gemeente oordra. Profesie was nie net tot die apostels beperk nie. Dit is die gawe om God se boodskap aan mense oor te dra en op hulle in hulle omstandighede toe te pas.

Kennis en lering – Kennis van God se Woord is saam met vertroue element van die ware geloof wat God van ons vra. Wanneer iemand kennis oordra, is dit vir die een wat dit ontvang tot opbou. Aanvanklik geskied die lering soos die melk wat ‘n baba kry. Namate iemand tot volwassenheid in die geloof groei, kan die lering vorder tot vaste geestelike kos.

Die gevolgtrekking: verstaanbare kommunikasie van God se Woord bou die gemeente op.

  • Musiekinstrumente (:7, 8)

Wie van ons ken nie die geluid van ‘n kleuter wat ‘n klavier ontdek nie. Die klavier bring net geraas voort. Wanneer iemand wat die instrument ken, sy plek agter die klawers inneem, herken ‘n mens die melodie. Dieselfde is ook van toepassing op die fluit en die siter.

In die Bybelse tyd was tweerigtingradio’s nog nie ontdek nie. In ‘n oorlogsituasie was die trompet / basuin ‘n onontbeerlike instrument. Die generaal kon vir die trompetblaser sê om die sien te gee dat die troepe die vyand moes aanval. Hy moes die regte sein met die trompet voortbring om die gewenste troepbeweging te bewerk.

  • Die taal waarin ek kommunikeer (:9 – 11)

Ons ken die frustrasie van kommunikasie met iemand wat nie jou taal ken nie. Dit is so goed jy praat in die wind (1 Kor 14:9). Daar is geen verstandhouding met jou gespreksgenoot moontlik nie. Julle by vreemdelinge vir mekaar.

Met hierdie drie voorbeelde beklemtoon die apostel: kommunikasie moet verstaanbaar wees om effektief te wees. Net verstaanbare kommunikasie is nuttig. Dit geld ook die gemeente van die Here. Vandaar dan die gevolgtrekking:

Munt uit in die gawes wat die opbou van die gemeente dien (:12)

Dit is ook op julle van toepassing. As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien, sodat julle daarin kan uitmunt (1 Kor 14:12). Praat in onverstaanbare tale kan vir die een wat die gawe het, persoonlik baie opbouend wees. Dit het daarom ook ‘n plek in die gemeente van die Here. Tog is die nadeel daarvan dat die beoefening van hierdie gawe op jouself en jou eie belang fokus.

As kinders van dié Vader wat sy Seun gegee het en as volgelinge van dié Christus wat sy lewe vir ons aan die kruis afgelê het, moet ek en jy nie ons eie belang soek nie, maar dié van ander, meer spesifiek dié van medegelowiges in die gemeente van die Here en daarom ook die belang van die gemeente van die Here.

Die Korintiërs het met mekaar gewedywer oor wie die meeste en uitnemendste gawes van die Gees ontvang het en beoefen. Hulle moes daardie wedywering staak. Die Gees het die gawes gegee sodat die gemeente in geheel daardeur gedien kon word. Hulle moes die gawes aanwend volgens die bedoeling van die Gees wat dit gegee het – die gemeente-opbou dien. Hulle moes die begeerte ontwikkel om uit te munt in dit wat die gemeente-opbou dien.

As gemeente kan ons regtig nie beskuldig word dat ons in die gemeentelike samekoms met mekaar wedywer om die gawes wat elkeen van die Gees ontvang het, te vertoon nie. Ons samekomste is by uitstek ordelik. Is ons fokusgedeelte dan hoegenaamd op ons van toepassing? Die vraag is: in watter mate gaan dit vir jou om die gemeente van die Here?

Die werklikheid is: elkeen van ons het een of meer gawes van die Heilige Gees ontvang. Die Here sê dit swart op wit vir ons in sy Woord (1 Kor 12:7, 11). Hy gee dit vir jou en my nie om ons persoonlike belang daarmee te bevorder nie, maar die belang van die gemeente.

Die gemeentelede in Korinte moes hulle bekeer van hulle selfsugtige ingesteldheid. Ek en jy moet ons van ons selfsugtige ingesteldheid bekeer. Ons moet woord hou: die gawes wat die Heilige Gees aan elkeen van ons geskenk het, aanwend tot opbou van hierdie gemeente.

Slot

Ek en jy het die Here se opdrag ontvang om ons daarop toe te lê om die genadegawes van die Heilige Gees te ontvang. Wanneer ek en jy ons op die gawes van die Gees toelê, moet die liefde ons rigsnoer wees; die opbou van sy gemeente ons doel wees. Daarom: Streef na gawes wat gemeente-opbou dien.

Elkeen van ons het as belydende lidmaat voor God en die gemeente ja geantwoord op die vraag: “Beloof u, terwyl die volle gemeenskap met die kerk van Christus nou vir u ontsluit word, om as ‘n lewende lid van die kerk … u gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede en tot uitbouing van die koninkryk van God aan te wend … ? In watter mate hou jy woord?

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: 2016-10-30-streef-na-gawes-wat-gemeente-opbou-dien-1-kor-14-v2tot12

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *