(2016 10 23 1e) Streef die liefde na; lê julle toe op die gawes 1 Kor 14 v1 ♪

Lê julle toe op die gawes van die Gees … dit is die tweede opdrag in ons fokusvers.

‘n Mens wil reageer: “Wag nou! Lê julle toe op … klop nie met die gawes van die Gees nie.” Die Gees gee gawes soos Hy wil (kyk na 1 Kor 12:4, 7, 11). Hy gee genadegawes. Hoe kan ‘n mens jou toelê op die genadegawes van die Gees?

Ons is nog versigtiger omdat ons vermoed die geloofsgemeenskappe in die pinkster en charismatiese groepe benader die gawes van die Gees nie heeltemal reg nie.

Onthou net: Paulus gee die opdrag onder leiding van dieselfde Gees wat die genadegawes gee soos Hy wil. Meer nog: hy gee die opdrag aan ‘n gemeente wat die gawes van die Gees erg skeefgetrek het. Al stel hy dit wat die gemeente verkeerd gedoen het reg, bly die opdrag staan: Lê julle toe op die gawes van die Gees

In sy konteks raak die opdrag die ruimte waarbinne die gawes van die Gees in die gemeente werk, maar ook die rangorde wat gemeentelede aan verskillende gawes toeken. Ons fokusvers se tema bevat twee opdragte waarop ons agtereenvolgens let: (1) Streef die liefde na en (2) Lê julle toe op die gawes van die Gees.

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool  ►

Streef die liefde na

Dit is noodsaaklik om eers te kyk na wat die apostel in die voorafgaande hoofstukke vir die Korintiërs gesê het. In 1 Kor 12 het hy die eenheid van die gemeente te midde van die verskeidenheid van genadegawes van die Gees na vore gebring. Daardie hoofstuk is afgesluit met die opdrag: Lê julle toe op die beste genadegawes (1 Kor 12:31). Hoofstuk 13 begin met die woorde: Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is (1 Kor 13:1). Daarop volg die wonderlike lied oor die liefde met die slotvers: En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde (1 Kor 13:13)!

Die apostel het goeie rede gehad om die liefde so sterk te beklemtoon. In die gemeente Korinte het gemeentelede om aansien meegeding. Iemand se aansien is bepaal deur watter gawes van die Gees hy kon beoefen. Die kompetisie onder gemeentelede het so erg geword dat al die gemeentelede tegelyk in hulle samekomste as gemeente kliphard gepraat en selfs geskreeu het. Elkeen wou die ander onder die indruk bring van die gawes van die Gees wat hy / sy kon gebruik. Wanorde het geheers. Mense het kwaad vir mekaar huis toe gegaan.

Dit spreek vanself dat die Korintiërs moes hoor dat hulle manier van doen nie by die gemeente van die Here pas nie. Hulle woede teenoor mekaar moes vervang word met onderlinge liefde. Dit is die rede waarom die die liefde juis in hierdie brief besing is.

Dit is die agtergrond vir die eerste opdrag: Julle moet die liefde nastreef (1 Kor 14:1a). Die woord wat hier vertaal is met nastreef / jaag na / lê toe op het ‘n sterk betekenis. Dit verwys na ‘n jagter wat sy prooi in die oog kry. Die jagter kan ‘n mens of ‘n dier, bv die jagluiperd, wees. Hy fokus al sy aandag op sy prooi. Hy sien elke beweging. Hy kyk mooi wanneer die oomblik aanbreek om toe te slaan. Op presies die regte oomblik trek die jagluiperd weg of trek die jagter die skoot af. Die prooi sak neer.

‘n Lid van die gemeente van die Here moet so fokus op die liefde. Al ons aandag daarop. Wanneer die oomblik aanbreek, moet ons toeslaan soos ‘n koeël uit ‘n geweer; toeslaan soos ‘n jagluiperd. Ons moet die liefde plattrek; die liefde ons eie maak.

Wie die liefde sy eie maak, gaan anders optree as die gemeentelede van Korinte. Hulle was ongeduldig en afgunstig op mekaar; hulle het groot gepraat; vir elkeen het dit om hom- of haarself gegaan; om die mate van erkenning wat hy / sy in die gemeente gekry het. Wie liefde nastreef, gaan die kenmerke van die liefde uitleef soos uitgespel in die lied oor die liefde: Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie (1 Kor 13:4, 5). Gemeentelede in Korinte moes ‘n totale verandering in gesindheid ondergaan.

Wat van ons? Ons samekomste as gemeente lyk heeltemal anders as dié in Korinte. Ons eredienste is juis baie ordelik. Beteken dit dat die onderlinge liefde sy regte plek in ons gemeente inneem?

Een en elkeen van ons is sondaar. Ons maak mekaar kwaad. Ons veronreg mekaar. Hoe hanteer jy dit as jy die slagoffer is? Onttrek jy jou? Hou jy dit teen die een wat jou kwaad aandoen? Maak jy die onreg met liefde toe? Vergewe jy die een wat jou veronreg het? Die vraag is: het ons as gemeente nie ook die totale verandering van gesindheid nodig nie?

Hoe verander ‘n gesindheid so radikaal? ‘n Mens bewerk dit nie self nie. Liefde is vrug van die Gees (Gal 5:22) wat in ons lewe neerslag vind. ‘n Verandering in gesindheid kom net in ons lewe tot stand wanneer die Here dit deur sy Gees bewerk. Ek en jy moet die leiding van die Gees volg. Ons moenie sy poging om ons gesindheid te verander, weerstaan nie. Ons moet die Gees ons gedrag laat bepaal (Gal 5:25).

Waarom beklemtoon die apostel die liefde so sterk? God is liefde. Liefde is vrug van die Gees. Die liefde behoort ons gesindheid, sowel as ons doen en late te bepaal. Al die gawes in die gemeente moet funksioneer in die klimaat van die liefde.

Eie aan die liefde is dat dit nie selfgerig is nie, maar gerig op ander en hulle belang. Dit het God wat liefde is, bewys deurdat Hy sy Seun gegee het; Christus het sy liefde betoon deur ons sondeskuld op Hom te neem en met sy lewe die losprys daarvoor te betaal.

Lê julle toe op die gawes van die Gees

Ook die tweede opdrag van ons fokusvers gryp terug op die voorafgaande. So lees ons: Lê julle toe op die beste genadegawes (1 Kor 12:31). Die tweede opdrag van ons fokusvers lui só: Lê julle toe op die gawes van die Gees … (1 Kor 14:1m). Dieselfde werkwoord kom in beide die Griekse teks as in die Afrikaanse vertaling (1983) voor. Hierdie werkwoord se betekenis is nie so sterk as dié van nastreef in die eerste gedeelte van die vers nie. Daar word dus nie dieselfde klem geplaas op die toelê op die gawes as op die nastreef van die liefde nie. Tog is dit ook in die bevelsvorm. Ons moet ons toelê op die gawes van die Gees.

Dit waarop ons ons moet toelê is hier die pneumatika (πνευματικά) / gawes van die gees , terwyl dit in 12:31 charistmata (χαρίσματα) / genadegawes is. Terwyl die klem in 12:31 op die genadekarakter van die gawes val, val dit in 14:1 daarop dat die gawes van die Heilige Gees af kom. Die gawes bevestig dat die Gees aan die werk is. Die twee woorde het naastenby dieselfde betekenis.

Dat die Gees in genade werk en gawes gee, soos Hy wil (kyk na 1 Kor 12:4, 7, 11), spreek vanself. Tog kry ons opdrag: Lê julle toe op die gawes van die Gees … (1 Kor 14:1m). Dit wat vir ons gevoel teenoor mekaar staan, kom probleemloos langs mekaar voor. Dit is, volgens dieselfde Gees wat gawes gee, ook moontlik dat ‘n mens jou daarop kan toelê om van die gawes van die Gees te ontvang. Die apostel gee die opdrag onder leiding van die Heilige Gees. Dit is dus ‘n opdrag wat ons onder leiding van die Heilige Gees moet uitvoer.

Hoe sou ‘n mens dit doen? Natuurlik kan jy ‘n behoefte ontwikkel om ‘n bepaalde gawe te ontvang. Kom ons kyk na ‘n alledaagse voorbeeld. Dit is een van die dae Kersfees. Watter geskenk wil jy graag hê? Jy het dit mos al gesê. So kan jy kan ook ‘n bepaalde gawe begeer en dan daarvoor bid. Vanselfsprekend moet jy die verhoring van jou begeerte en gebed oorlaat aan God wat gee, aan die Gees wat uitdeel.

Soos diegene uit die Pinkster- en charismatiese groepe sou die Korintiërs sekerlik hier sê: Ons wil ons toelê op die gawe om in tale te praat. Dit was en is ‘n gawe wat gelowiges graag bo die ander verhef. Die apostel weet dit alte goed. Daarom sluit hy die opdrag af met ‘n kwalifikasie: Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer (1 Kor 14:1m – e). Daar is, volgens die vervolg, goeie rede vir hierdie maar veral van die apostel. Die spreek in tale is iets vir jou persoonlik en jou persoonlike verhouding met die Here God. In die profesie vat jy God se Woord en dra dit aan ander oor. Die gawe van profesie is meer van belang vir ander as vir jou persoonlik.

Wie die vrug van die Gees dra, het lief. Wie regtig liefhet, kyk weg van homself na ander. Hy vra: “wat is die belangrikste vir my medegelowiges en vir ander mense?” Hy lê hom dan in gehoorsaamheid toe op dit wat ander bevoordeel.

Het jy regtig jou medegelowiges lief? Het jy mense buite die kerk van die Here regtig lief? Is jy bereid om jou ter wille van ander toe te lê op die gawe van profesie, die gawe om God se wil aan ander bekend te maak?

Slot

Lê julle toe op die gawes van die Gees … dit is die opdrag in ons fokusvers. Die apostel Paulus gee hierdie opdrag onder leiding van dieselfde Gees wat die genadegawes gee soos Hy wil. Meer nog: hy gee die opdrag aan ‘n gemeente wat die gawes van die Gees erg skeefgetrek het. Al stel hy dit wat die gemeente verkeerd gedoen het reg, bly die opdrag staan: Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer.

Die ruimte waarbinne ons ons op die gawes moet toelê, word bepaal deur die voorafgaande opdrag: Julle moet die liefde nastreef. Liefde vir medegelowiges en vir mense wat nog ongelowig is, moet ons dring om ons toe te lê wat beter is vir ander. Mag die Here ons deur sy Gees daartoe genadig wees.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: 2016-10-23-streef-die-liefde-na-le-julle-toe-op-die-gawes-1-kor-14-v1

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *