(2016 08 21 2e) Beywer jou om die rus van God in te gaan Heb 4 v1tot11 veral v8tot11

‘n Klompie jare terug was die winkels op Sondag toe; Sondagsport was taboe. Skoolwerk moes Saterdag klaarkom of jy moes Maandag kantoor toe vir jou drag slae. Sondag was Sabbat. Almal moes kerk toe; kinders katkisasie toe; na middagete gaan rus.

Vandag loop die winkelsentrums oor van skares met hooggelaaide trollies. In kerke is daar genoeg plek vir laatkommers.

Hoe moet ons vandag die rusdag vier; die vierde gebod nakom?

Die eerste aanduiding van ‘n rusdag kry ons al in Gen 2. God het op die sewende dag gerus. Ons teks noem dit en praat na aanleiding daarvan van God se rus waarby ‘n mens kan ingaan, of waarby jy – soos die ou Israeliete in die woestyn – uitgesluit kan word. Ons moet uitsluiting vermy; ons eerder met inspanning beywer om God se rus – uiteindelik die ewige lewe – in te gaan. Vandaar ons tema: Beywer jou om in die rus van God in te gaan. Ons let op (1) die rus van God – verskillende betekenisse en (2) Die oproep: Beywer julle om God se rus in te gaan

Die rus van God – verskillende betekenisse

Ons fokusgedeelte wat oor die rus van God handel, sluit aan by Heb 3:7 – 19 wat handel oor Israel wat God se vandag geïgnoreer het en daarom in die woestyn moes rondswerf totdat die hele geslag ongelowige en ongehoorsame Israeliete uitgesterf het. Hulle dien as voorbeeld vir die Hebreërs – en ons – om nie God se vandag te ignoreer nie.

Die tema van God se vandag word in Heb 4 voortgesit. Die woord rus en ingaan / nie ingaan nie / uitgesluit wees kom herhaaldelik voor. Duidelik het die ingaan by die rus al dan nie te make met die vraag of jy glo en gehoorsaam, of nie. Die sleutelwoord, rus, het verskillende betekenisse.

Die eerste betekenis van God se rus, verwys vanselfsprekend na sy rus na die skepping: Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het (Gen 2:2, 3, vgl Heb 4:4). God se rus strek die hele tyd na die skepping tot op die dag dat Christus weer kom. God se rus het nie bestaan in niksdoen nie. Hy verlustig Hom in sy skepping wat baie goed was (Gen 1:31).

God wou hierdie rus nie net vir Homself hou nie, maar ook hulle wat glo daarin laat deel. Sy volk sou in God se rus deel nadat hulle die beloofde land binnegetrek het.

Langs die pad het die volk waternood beleef. Hulle het met Moses baklei en so die Here se geduld op die proef gestel (Eks 17:2, 7). Moses het die plek toe Massa en Meriba genoem. Toe die 12 verkenners uit die beloofde land terugkeer, het net twee, Josua en Kaleb, die volk aangemoedig om die beloofde land hul eie te maak. Die volk wou hulle doodmaak. Daar het die Here aangekondig dat die hele ongelowige geslag eers sou moes omkom voordat sy volk die beloofde land kon binnetrek (Num 14:23). Selfs Moses se ongehoorsaamheid aan ‘n opdrag van die Here het veroorsaak dat hy nie die beloofde land sou binnetrek nie (Num 20:12). Die Here se gevolgtrekking in Ps 95 in die preek aan die Hebreërs is: Toe het Ek in my toorn ‘n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie (Heb 4:3). God se volk sou nie sy rus in die beloofde land binnegaan nie. Hulle sou hulle nie in die beloofde land kon verlustig in die groot werke van die Here nie. Hulle ongeloof en ongehoorsaamheid het hulle daardie rus ontneem.

Dit het die Hebreërskrywer gebring by die derde betekenis van God se rus. Hy skryf Ps 95, die teks van sy preek, toe aan Dawid. Hy het gesê: Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie (Heb 4:7). Volgens ons fokusgedeelte het God nie van besluit verander om sy rus met sy volk te deel toe die ou geslag in die woestyn weens hulle ongeloof en ongehoorsaamheid sy rus verbeur het nie. Die Here God het weer ‘n keer aan sy volk geleentheid gebied om sy rus binne te gaan.

Dit is egter nie ‘n onbeperkte geleentheid nie. Hulle het op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het, wel die geleentheid gehad. Hulle moes daarom, terwyl die aanbod geld, dit in geloof en gehoorsaamheid aanvaar. Die tyd daarvoor: Vandag!

Die prediker sê nie vir sy hoorders wat hierdie mense met hulle keuse gemaak het nie. Hy kom tog tot die slotsom wat hulle, sy lesers toe en ook ons vandag raak: Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne (Heb 4:9,10). God se oorspronklike besluit om sy volk in sy rus te laat deel, bly staan. Vir elke geslag geld daardie aanbod van God vir ‘n bepaalde tyd. Sy aanbod kom in die vorm van die verkondiging van die evangelie. Terwyl ek en jy luister na die evangelie en die verkondiging daarvan, geld God se vandag ons. Ons moet glo en gehoorsaam terwyl ons nog die geleentheid daartoe het.

Uit ons fokusgedeelte is duidelik: God se rus is in finale instansie die ewige lewe wat Jesus Christus vir ons verwerf het. Wanneer ons die rus van God in die ewige heerlikheid binnegaan, sal daar volmaakte harmonie en rus wees. Ons sal ons kan verlustig in die Here God en die wonders van sy skepping en verlossing. In sy rus sal ons Hom voluit die eer kan gee wat Hom toekom.

Ons leef egter nog in die tyd wat God deur die verkondiging van sy Woord geleentheid aan die hoorders daarvan bied om by sy rus in te gaan. Die kategeet lê tereg klem op die wyse waarop ons die vierde gebod moet nakom: God wil Ten eerste dat die Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a). Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b) om die Woord van God te hoor (c), die sakramente te gebruik (d), die Here openlik aan te roep (e) en die Christelike liefdegawes te gee (f). Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe (g) (HK 38:103). Die geleentheid wat ons het om na die evangelie te luister, moet ons positief benut. Glo ons wat ons hoor en leef ons aan die Here gehoorsaam, kry ons geleentheid om die Here se rus in te gaan.

Die oproep: Beywer julle om God se rus in te gaan

Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie (Heb 4:11). Beywer is ‘n baie sterk woord. Dit dra ook die gedagte van inspan in hom om. Die skrywer sê dus: “Laat ons ons met inspanning beywer om die rus van God in te gaan.”

Uit hierdie hoek kan ons nou kyk na ons ouer geslag wat almal wou dwing om te rus op die rusdag. Hulle het dit mis gehad. Hulle het nie raakgesien dat die rus van God eendag hier en nou van ons regtig inspanning vra nie.

Aan die ander kant het ook die huidige geslag dit mis. Die dag van die week wat die Here ingestel en geheilig het as rusdag na sy ses skeppingsdae, is ‘n dag waarop ons ons op ‘n bepaalde wyse met inspanning moet beywer om die rus van God in te gaan. Ons moet oefen om hier en nou reeds met oorgawe te luister na die verkondiging van die evangelie, dit met ons hele hart te glo en ons lewe in te rig dat dit duidelik is dat ons mense is wat nou in ‘n verhouding met die lewende God leef en op pad is na die rus van God in ewige heerlikheid.

Die vraag kan onststaan: Christus het ons tog volledig met God versoen. Met sy lewe aan die kruis het Hy die volle losprys aan die kruis vir al ons sondes betaal. Duidelik hoor ons die evangelie: Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh 3:18). Stel die oproep van ons fokusgedeelte so ‘n duidelike uitspraak van die evangelie dan nie op losse skroewe nie? Allermins. Dieselfde hoofstuk sluit immers af: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Joh 3:36). Ook in die evangelie hoor ons die oproep om te glo in die Seun en Hom te gehoorsaam. Iemand (Stephan Joubert) stel dit so: “Die nuwe bedeling van Christus bring ‘n verhoogde oproep tot geloof en gehoorsaamheid aan die adres van die lesers (2:2; 3:6; 6:19; 9:17).” Die blye boodskap van verlossing deur Christus moet ons nie nou al laat rus nie. Ons leef nog in die tyd waarin ons ons moet inspan met die oog op die rus van God wat ons na hierdie lewe sal binnegaan.

Deur sy Gees lei die Here ons om ons op die regte wyse te beywer om die rus van God binne te gaan. Hy lei ons om dit te doen sonder om ons eie verlossing te probeer bewerk deur ons ywerige diens en nougesette gehoorsaamheid aan die Here. Hy lei ons om op die regte wyse te fokus op God se rus en ons met inspanning te beywer om op die tyd wat God daarvoor bepaal het, te kan ingaan.

Slot

Sondag was ‘n klompie jare terug ‘n rusdag, ‘n Sabbat. Vandag benader ons die Sondag heeltemal anders.

Die eerste aanduiding van ‘n rusdag kry ons al in Gen 2. God het op die sewende dag gerus. Ons teks noem dit en praat na aanleiding daarvan van God se rus waarby ‘n mens kan ingaan, of waarby jy – soos die ou Israeliete in die woestyn – uitgesluit kan word. Ons moet uitsluiting vermy – ons daarom nie skuldig maak aan ongeloof en ongehoorsaamheid nie. Ons moet ons gelowige met inspanning beywer om God se rus – uiteindelik die ewige lewe – in te gaan. Vandaar ons tema: Beywer jou om God se rus in te gaan.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2016 08 21) Beywer jou om God se rus in te gaan Heb 4 v1 tot 11 (veral v8 tot 11)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *