(2016 06 12 2e) Kies God se wil en sy plan Rut 1 v16tot17

Ons verkies dat alles so glad moontlik vir ons verloop. Elke ding in my lewe moet sonder om ‘n rimpeling te veroorsaak, in plek val.

In Rut 1 gebeur alles totaal anders. Hier is sprake van ‘n man en vrou met hulle twee seuns wat hulle weens droogte in Juda in ‘n vreemde land gaan vestig. Die dood slaan toe: eers sterf die man, Elimelek, daarna ook hulle twee seuns. Die ma, Naomi, hoor dit gaan beter in Juda. Sy besluit om terug te gaan. Een skoondogter keer op haar aandrang terug na haar mense toe. Rut besluit sy gaan saam met haar skoonma. Sy spreek ‘n besondere belydenis uit. Tog moes sy as vreemdeling onder die Jode gaan bly.

Het die Here iets te make met enigiets wat met hierdie mense gebeur het? Kan Hy soveel van mense vra wat aan Hom behoort? Wat moet ek en jy doen as ons in ondraaglike situasies lewensbelangrike keuses moet maak? Die antwoord van ons fokusgedeelte: Kies God se wil en sy plan. Dit val uiteen in: (1) Ons keuses en God se wil en (2) God se genade oorskry sy oordeel

Ons keuses en God se wil

Ons fokusgedeelte begin met dit wat ons so goed ken: droogte; ‘n uitmergelende en lang droogte. In ‘n tyd sonder graansilo’s en verfynde gewasse wat ‘n hoë opbrings lewer, het dit net een ding beteken: hongersnood in die laagliggende en droë Judea, die landstreek waarin Betlehem gelê het.

n Betlehemiet met die naam, Elimelek, sy vrou, Naomi, en hul 2 seuns het besef daar is wel uitkoms. Die land Moab was op die aanliggende plato. Daar was dit nooit so droog as in die laagliggende Judea nie. Daar in Moab sou hulle kos kry in die droogtetyd.

Met ‘n paar penstrepe word vir ons vertel hoe dinge daar in die land van die Moabiete vir hierdie Joodse gesin verloop het.

  • Die pa, Elimelek, is dood. Sy en Naomi se twee seuns, Maglon en Kiljon, het groot geword. Toe hulle oud genoeg was, is hulle getroud met die Moabiete, Orpa en Rut.

  • Daarna het Maglon en Kiljon ook gesterf. Drie weduwees is agtergelaat: die moeder, Naomi, en haar twee skoondogters, Orpa en Rut.

Na 10 jaar hoor Naomi toe: dit gaan beter in Judea. Sy besluit om terug te keer daarheen, na die dorp waarvandaan sy kom. Sy en haar skoondogters vertrek toe Betlehem toe. Daar sou hulle drie as weduwees gaan bly.

n Weduwee was aan die genade van ander mense oorgelaat. Dit was lank voor vandag se pensioenkemas en versekeringspolisse. Naomi gee toe haar skoondogters ‘n keuse om na hul mense toe terug te keer, sodat elkeen van hulle weer ‘n man sou kon kry en kinders in die wêreld kon bring; seuns wat hulle op hul oudag sou kon versorg.

Orpa het wél teruggekeer na haar eie mense toe. Rut antwoord haar skoonmoeder egter: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; … Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei” (Rut 1:16 – 17). Hierdie woorde is seker die bekendste woorde in die boek Rut. Rut sê nie net dat haar voorneme is om by Naomi te bly nie. Sy sê Naomi se volk is haar volk. Sy bely ook haar geloof. Sy sê dat Naomi se God ook haar God is. Met hierdie belydenis voeg sy haarself by die volk van God. Sy word daarmee deel van die gemeente van die Here.

Uit die vervolg word duidelik: Rut se keuse was God se wil. Ja, Hy vra soms groot opofferings van ‘n mens wat Hy syne gemaak het. Rut moes haar eie mense en haar vaderland verlaat. Sy het God as die enigste God en Here erken.

Is jy bereid om die opoffering wat die Here van jou as sy kind vra, te maak? Is jy regtig bereid tot sulke groot opofferings as wat Rut gemaak het?

Hoe was dit moontlik vir Rut, die Moabitiese, en hoe is dit vir ons moontlik om hierdie keuse vir die wil van die Here te maak? Die antwoord is:

God se genade oorskry sy oordeel

 

Juis met Rut se belydenis teenoor Naomi: u volk is my volk; u God is my God was daar ‘n ernstige probleem. Die Here het in sy wet, voor die intog in die beloofde land, bepaal: Geen … Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie (Deut 23:3). Rut was ‘n Moabiet. Die Here self het haar uit sy volk en uit sy gemeente uitgesluit. Sy kon dus moeilikheid verwag toe sy daar in Betlehem aankom. Die leiers van die stad kon weier om haar in geledere van God se volk op te neem – op grond van sy Woord.

 

Tog gebeur dit nie. Waarom nie?

Die antwoord is eenvoudig: God was in genade in die geskiedenis van Rut aan die werk.

  • Die droogte en hongersnood van Rut 1 het ‘n plek gehad in God se groot verlossingsplan – net soos die droogte en hongersnood in Josef se tyd.

  • Dit was allermins toeval dat Naomi se twee seuns met Moabitiese meisies getroud is – dit sien ons in die later hoofstukke van die boek Rut en dan weer in die Nuwe Testament.

  • Ook die dood van Naomi se seuns daar in die vreemde, soos dié van hulle pa voor hulle. Die Here het dit alles juis so beskik.

  • Dat Rut vir Naomi kon sê: u volk is my volk, het teen die stroom van onderlinge haat tussen Jode en Moabiete ingegaan. Dat die stadvaders van Betlehem Rut as ‘n lid van die bevolking van Betlehem aanvaar het het en daarmee as ‘n lid van die volk van God, was omdat die Here in beide die enkeling, Rut, en sy volk en hulle verteenwoordigers gewerk het.

  • Dat Rut bely het: … u God is my God was ook geen toeval nie. Rut kon net glo en haar geloof bely, omdat die Here God haar daartoe uitverkies het. Die Here het die geloof wat sy so bely het, vir haar geskenk. So weet ons ook dat die geloof wat ek en jy in vanoggend se erediens bely het, die gevolg is van die werk van die Heilige Gees in ons harte. Hy bewerk die geloof in ons harte; Hy bring ons daartoe om daardie geloof met ons mond in waarheid te bely.

 

Wanneer ek en jy met die Woord van die Here omgaan en dit in konkrete situasies van ons tyd toepas, moet ons dit, met die belydenis van ons totale afhanklikheid van die leiding van die Gees van die Here, biddend doen. Ons moet dit in groot nederigheid en ootmoed doen. Ons oë is dikwels, vanweë ons sondigheid, gesluit vir wat regtig opgesluit lê in God se Woord. Die boodskap van die Woord is die boodskap van verlossing van sondaars. Dit is die boodskap dat God se genade sy oordeel oorskry.

 

Sy genade vir die Moabitiese vrou, Rut, is oneindig groter as sy toorn oor haar voorouers, omdat hulle sy volk nie gehelp het tydens hul tog na die beloofde land toe nie, maar dat hulle sy volk juis deur Bileam wou laat vervloek.

 

Die Here sê trouens ook in sy wet dat sy genade groter is as sy toorn. Ek reken kinders die sondes van hul vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam (Eks 20:5b – 6).

Ons sien hier die wonder: God skakel die mens – met sy afkoms, sy wil; geloof, liefde, sy sterk en swak punte, sy voorspoed en teenspoed, ja alles wat ons is en het en beleef – in sy groot verlossingsplan met elkeen van ons en ook ons almal saam. Ons hoor met blydskap die woord hieroor: … dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Fil 2:13).

 

Die Vir die Moabiet, Rut, was daar maar net een hoop: God moes haar begenadig, op grond van die verdienste van sy Seun – ja, ook, na sy mensheid, die seun uit haar nageslag. Christus moes ly en sterf sodat sy voormoeder, Rut, die Moabitiese, gered kon word; sodat sy ook haar plek kon inneem in God se groot verlossingsplan met sy volk en die wêreld.

 

Vir ‘n sondares soos Rut, soos ek en soos jy, is daar maar hierdie een hoop. Die apostel sê dit só: Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het … (2 Tess 2:13).

Slot

Ons verkies dat alles so glad moontlik vir ons verloop. Elke ding in my lewe moet sonder om ‘n rimpeling te veroorsaak, in plek val.

Soms vra die Here God groot opofferings van mense wat aan Hom behoort. Hy verwag ook van ons lewensbelangrike keuses in ondraaglike situasies. Rut het na die dood van haar man besluit sy gaan saam met haar skoonma Juda toe. Sy spreek ‘n besondere belydenis uit. Tog moes sy as vreemdeling onder die Jode gaan bly. Sy het gekies om die ware God te dien. Vandaar ons tema: Kies God se wil en sy plan.

Die wonder gebeur: God het in sy genade vir haar ‘n besondere plek in sy groot plan van verlossing gegee. So neem die Here God my en jou ook op om die uitvoering van sy groot verlossingsplan te bevorder.

AMEN

Die preek is in .pdf formaat ook beskikbaar. Kliek op die naam wat volg: (2016 06 12) Kies God se wil en sy plan Rig 1 v16tot17

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *