(2016 05 29 2e) Leef enduit in Geloof Heb 11 v39 tot 40

Ons wil resultate sien op ons geloof – hoe gouer, hoe beter. Werk geloof regtig so? Is so ‘n verwagting realisties?

Saam met die Hebreërs hoor ons: geloof werk anders. God het die belofte van die Messias aan die gelowiges van die Ou Testament gemaak. Hulle het vertrou dat God woord sou hou. Tog is hulle dood voordat hulle die vervulling van daardie belofte beleef het. God het sy belofte vervul toe die tyd wat Hy daarvoor bepaal het, aangebreek het: Jesus Christus is gebore. Net so kan ons weet dat God sy belofte van ‘n lewe in heerlikheid sal nakom.

Soos die gelowiges van die Ou Testament moet ook ons in geloof en vertroue volhard. Vandaar ons tema: Leef enduit in geloof. Twee fasette kom in ons fokusverse na vore: (1) Wag op die vervulling van die belofte en (2) God beoog iets beters.

Wag op die vervulling van die belofte

Wag op iets was nog nooit maklik nie. Dink maar hoe jy wag dat die kinders wat kom kuier, aankom. In die wagtyd voel ‘n mens altyd onseker. Soveel kan voorval.

Wag ‘n mens dat iemand ‘n belofte moet nakom, is onsekerheid selfs nog groter. Miskien raak dit vir die een wat die belofte gemaak het onmoontlik om dit na te kom.

‘n Besondere voorbeeld van so ‘n wag in onsekerheid is dié van iemand wat vermoed dat hy die begunstigde in ‘n testament is. Soveel kan gebeur wat die testamentmaker van gedagte kan laat verander. Uiteindelik moet die erfgenaam wag vir die testamentmaker se dood en dan nog langer vir die uitvoering van sy laaste wense.

Die woord wat ons met verbond vertaal, kan ook vertaal word met testament, en omgekeerd. So sou ons die twee hoofdele van die Bybel kon noem: die Ou Verbond en die Nuwe Verbond.

Een van die Skrifverklaarders (Kohlbrugge) sê dat God die testamentmaker is. As testamentmaker is Hy anders as mense. Hy verander nie langs die pad van gedagte nie. God het bekend gemaak watter beloftes in sy testament opgeteken is en Hy het bekend gemaak dat Abraham en almal wat soos hy glo se name as erfgename daarin staan. Ons lees: God het ‘n verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak, sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie (Gal 3:17).

Vanoggend het ons gesien: van die geloofshelde van die Ou Testament het groot dinge in die geloof vermag. So is vele beloftes teenoor hulle nagekom. Ander het weer deur die geloof veel gely. Sommige het selfs vir hulle geloof gesterf. Hulle het nie bly leef totdat hulle beleef het dat die beloftes van die testament hulle regtig bevoordeel het nie. Ons teks sê samevattend oor al die geloofsgetuies wat in die hele gedeelte Heb 11:4 – 38 genoem is:      En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie … (Heb 11:39). Ten spyte daarvan dat die Woord oor hulle geloof en geloofshandelinge getuig, het hulle nie die vervulling van die verbondsbelofte beleef nie.

Watter belofte is nie vervul nie? Die groot belofte wat God in die ou verbond, in die Ou Testament, gemaak is, is die koms van die Messias. Dit is hierdie groot belofte wat nie tydens die lewe van die mense van die ou bedeling vervul is nie. Hulle was nog aan die wag dat dit vervul sou word.

God beoog iets beters

Wanneer ‘n mens hoor hoedat God op verskillende geleenthede aan gelowiges in die ou bedeling verskyn het, beny ons daardie persoonlike kontak wat die lewende God met hulle gehad het. Die skrywer aan die Hebreërs sê ons het dit verkeerd. Daardie ou mense moes op die beter bedeling wag. Daarvoor gee die skrywer ‘n rede… omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie (Heb 11:40).

Hier verskyn die gelowiges aan wie die Hebreërbrief gerig word in fokus en saam met hulle ook ons wat in dieselfde bedeling as hulle leef. Hierdie nuwe bedeling, die bedeling na die vervulling van God se belofte in Christus, moes eers aanbreek. Dit is ‘n beter bedeling as die oue, dié bedeling waarin gelowiges nog moes wag op Christus se koms. God het die gelowiges van die nuwe bedeling selfs nog meer bevoorreg as dié van die ou bedeling.

Dieselfde gedagte word vanuit die ander hoek deur die apostel Petrus oorgedra: In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry (1 Pet 1:10,11,12). Ons wat na die koms van Christus leef, is dus uitnemend bevoorreg.

Ons verskuif die fokus na God se troon in die hemel. By geleentheid het Jesus gesê: Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie (Luk 15:7). Stel jou die vreugde in die hemel voor toe die Messias wat God aan hulle beloof het as mens gebore is. Hoor jy hoe die gejuig ‘n crescendo bereik het toe Hy na sy kruisdood opgestaan het? Sien jy die oneindige vreugde van die skare gelowiges van die ou bedeling toe Hy na voltooiing van sy aardse bediening in die hemel opgeneem is? God het alles in die hemel en op die aarde deur die verheerlikte Christus in die regte verhouding tot Hom herstel. Watter rede tot intense, hemelse vreugde!

Die skrywer beklemtoon die Hebreërs – en ons – wat nog in hierdie bedeling hier op aarde leef se wonderlike voorreg. Vir ons almal in hierdie bedeling skryf hy: En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie (Heb 11:39, 40). Ook ons, die mense van die huidige bedeling, die bedeling na Christus, die bedeling waarin die Heilige Gees woon en werk, het ‘n plek in God se plan. Die gelowiges van die ou bedeling moes daarom in geloof en vertroue wag vir die aanbreek van hierdie bedeling.

Wanneer ons swaarkry en dreig om moed te verloor, kan ons hoor hoe bemoedig die skrywer ons: vertrou op God! Hy hou die wêreld en die geskiedenis sinvol aan die gang. Hy sal verseker sy beloftes aan ons nakom. Hy dit bewys met die mense van die ou bedeling.

Ons moet onthou: die mense van die ou bedeling het geglo, hulle het bly vertrou dat die Here sy belofte sou nakom – en Hy het. As hulle wat nog nie ontvang het nie, so volhard het, het die gelowiges van die bedeling na Christus – dus ook ek en jy – soveel groter rede om in die geloof en vertroue volhard.

Iemand (Fika van J Rensburg) stel dit so: As ons agtertoe kyk na hulle wat ons voorgangers was, opkyk na Jesus toe en vorentoe kyk na sy toekoms, kry die lewe volle sin en betekenis, met sy soet en suur, met sy vreugde, maar ook hartseer en trane.

Slot

Ons wil resultate sien op ons geloof – hoe gouer, hoe beter. Werk geloof regtig so? Is so ‘n verwagting realisties?

Saam met die Hebreërs hoor ons: geloof werk anders. God het die belofte van die Messias aan die gelowiges van die Ou Testament gemaak. Hulle het vertrou dat God woord sou hou. Tog is hulle dood voordat hulle die vervulling van daardie belofte beleef het. God het sy belofte vervul toe die tyd wat Hy daarvoor bepaal het, aangebreek het: Jesus Christus is gebore. Net so kan ons weet dat God sy belofte van ‘n lewe in heerlikheid sal nakom.

Soos die gelowiges van die Ou Testament moet ook ons in geloof en vertroue volhard. Daarom: Leef enduit in geloof.

AMENDie preek is in .pdf formaat ook beskikbaar. Kliek op die naam wat volg(2016 05 29) Leef enduit in geloof Heb 11 v39tot40

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *