(2016 05 22 1e) Die Here laat sy kinders rekenskap doen Matt 25:14 tot 30

Alles en almal behoort aan die Here. Hy het ons aan as bestuurders van dit wat syne is, aangestel. So het ons sowat ‘n maand terug aan die hand van Ps 24 gesien. Op Hemelvaartdag   het ons gehoor dat die verheerlikte Christus gawes aan elk van sy kinders gee. Op Pinkstersondag was die boodskap: die Heilige Gees is in sy volheid op ons uitgestort.

Is dit goed wat ek kan hoor en waaraan ek my nie regtig hoef te steur nie? Maak die wyse waarop ek dit wat aan die Here behoort, bestuur regtig saak? Is dit my besluit of en hoe ek die Here se gawes aan my wil gebruik?

Die gelykenis van die goue muntstukke of talente waarsku: Die Here laat sy kinders rekenskap doen. Hy verwag dat ons sy goed volgens sy wil sal bestuur en die gawes wat Hy deur sy Gees aan ons gee volgens sy bedoeling moet aanwend. Is jy gereed om rekenskap te doen?

Ons let op drie fasette: (1) Die boodskap van ‘n gelykenis (2) Elkeen kry ‘n verantwoordelikheid en (3) Elkeen doen rekenskap

Die boodskap van ‘n gelykenis

Ons teks is ‘n gelykenis. Gelykenisse is ‘n voorbeeld van ‘n gebruik van taal deur mense met wysheid in die Ou Testament om ‘n bepaalde boodskap oor te dra. Jesus het sy gelykenisse aan Israeliete vertel wat hierdie manier van kommunikeer in die OT geken het. Met sy gelykenisse vertel Hy van die handelinge van God en van die mense in die koninkryk van God. Hy het die evangelie van die koninkryk van God so vir sy hoorders verstaanbaar gemaak.

Met ‘n gelykenis wou die verteller ‘n enkele boodskap aan sy hoorders oordra. Ons fokusgelykenis is deel van Jesus se laaste preek – pas voordat Hy gevange geneem is. In sy laaste preek berei Hy die mense voor op die moeilike tyd wat voorlê en op sy wederkoms. Vir sy wederkoms moet sy dissipels gereed wees.

In Matt 25:1 – 13 is die gelykenis opgeteken van die tien meisies wat waarsku: wees gereed vir die koms van die bruidegom, sy wederkoms. Die gelykenis van die muntstukke of talente maak sy dissipels bewus daarvan dat Hy gaan vertrek, maar dat Hy na ‘n tydperk weer kom – dat hulle aan Hom rekenskap gaan doen wanneer Hy weer kom.

Wat moet ons doen in die tyd voor Jesus se wederkoms? Ons moet altyd onthou Christus kom weer. Ons moet die gawes en goed wat die Here aan ons gee hier en nou vrugbaar in diens van ons Meester te gebruik. Ons moet as burgers van God se koninkryk leef in die wete dat ons oor ons lewe rekenskap gaan doen wanneer Christus weer in heerlikheid kom.

Elkeen kry ‘n verantwoordelikheid

In die tyd voor Jesus se dood, opstanding en hemelvaart het Hy sy dissipels vertel van ‘n huisbaas wat op ‘n reis vertrek. Voor sy vertrek vertrou die huisbaas alles wat hy het aan drie slawe toe. Hy het regtig baie besit – 8 talente; meer as 8 goue muntstukke. Aan die eerste slaaf gee hy 5 – meer as die helfte. Die tweede kry 2 en die laaste een kry net 1.

Vir hierdie verskil het die huisbaas rede gehad: Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee (Matt 25:15e).            Die huisbaas ken sy mense en maak daarom verskil tussen die drie. Hy verwag nie te veel van enigeen van hulle nie – selfs nie van die een aan wie hy die een talent gee nie.

Elkeen van die drie slawe het met die talente aan hom toevertrou gehandel. Die een met 5 talente het 5 talente daarby verdien en die een met 2 het nog 2 daarby gevoeg. Die slaaf wat 1 talent gekry het, het ‘n gat in die grond gegrawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

Hierdie laaste slaaf is juis die een op wie Jesus fokus. Positief kan ons sê: die derde slaaf het geweet dit is nie sy eiendom nie, maar die huisbaas s’n. Hy wou niks verkeerd doen nie. Volgens die Joodse reg sou hy nie aanspreeklik wees as die talent gesteel is as hy dit begrawe het nie. Hy het dus  veilig gespeel.

Ons leef in die tydperk tussen die hemelvaart en wederkoms van Christus; die tydperk van die Heilige Gees wat in al God se kinders woon en werk (Rom 8:9). Ons hoor: Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het (Ef 4:7). Uit die vervolg is duidelik dat ons ons gawes moet aanwend in diens van die opbou van die gemeente en in diens van ons medegelowiges. Dieselfde gedagtes kom na vore in 1 Kor 12:7 waar die genadegawe genoem word ‘n werking van die Gees. In 1 Kor 12:11 hoor ons dat die Gees aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil.

Elkeen van ons wat reeds belydenis van geloof afgelê het, het “ja” gesê op die vraag: beloof u om u gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede en tot uitbouing van die koninkryk van God aan te wend? Elkeen van ons het een of twee of vyf gawes gekry. Doen jy met jou gawes, met jou talente, wat jy beloof het?

Maak dit saak wat ek en jy met die gawes van die Gees doen? Jesus se antwoord:

Elkeen doen rekenskap

Soos wat Christus eendag weer kom, het die huisbaas ook van sy reis teruggekeer. Hy het elkeen van sy slawe rekenskap laat doen. Vir die twee wat elk hulle talente verdubbel het, het die huisbaas gesê: ‘Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ (Matt 25:21, 23). Opmerklik: die huisbaas laat elkeen van hulle die talente wat hy gegee het, sowel as dit wat die slaaf verwerf het, behou.

Jesus het sy gelykenis vertel sodat sy hoorders en ons kan sien hoedat die derde slaaf rekenskap doen. Onthou hy het veilig gespeel. Hy wou doen wat teen die reg of die wet was nie. Toe hy voor die huisbaas staan, sê hy: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u ‘n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug’ (Matt 25:24, 25). Hy het die skuld vir sy optrede op die huisbaas gelê.

In ons omstandighede kan iemand sê: Ek weet nie wat my gawe is nie / My gawe is tog nie so belangrik in die gemeente en die koninkryk van die Here nie / Ek weet nie hoe ek my gawe in die gemeente en in die koninkryk van die Here aan te wend nie / My werk tap elke greintjie krag wat ek het, ek het gee reserwe oor vir die gemeente van die Here nie / Niemand het my nog gevra om iets in die gemeente te doen nie …

In watter van hierdie drie slawe sien jy jouself? Die eerste twee slawe was bewus van die aansprake van hulle huisbaas en hulle het hulle daarvolgens gedra. Hulle was oor min getrou, daarom het die huisbaas hulle oor baie aangestel. Die derde slaaf het dit nie gedoen nie. Die huisbaas sê vir hom: ‘Jy is ‘n slegte en ‘n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie. Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het (Matt 25:26, 27).  Die huisbaas van die gelykenis stel Jesus Christus voor wat weer kom. Hy ken ons deur en deur. Hy weet wat is ons diepste dryfveer. Ons redes en verskonings maak nie hond haaraf by Hom nie. Hy wat sy lewe vir ons gegee het, maak aanspraak op ons volle lewe en ons heelhartige gehoorsaamheid.

Wie terughou, wie agteroor sit en in die kerk en koninkryk betrokke is soos wat dit hom pas, bevind hom in die skoene van die derde slaaf.

Ons moet goed kyk na wat met hom gebeur: Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het. Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word (Matt 25:28, 29). Die verheerlikte Christus gee deur die Heilige Gees die gawes wat sy gemeente of koninkryk op ‘n tydstip nodig het, aan een van sy kinders. As ek en jy nie met die gawe (-s) wat Hy gegee het, in die gemeente en koninkryk van die Here gebruik soos wat Hy van jou verwag nie, kom daar ‘n tyd waarop Hy dit wegneem en vir iemand gee wat dit sal gebruik soos Hy van hom verwag.

Selfs dit is nie die einde van die gelykenis nie. Die oordeel van die verheerlikte Christus by sy wederkoms is: En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners (Matt 25:30). As jy nie hier en nou as burger van God se koninkryk leef nie, as jy nie die gawes van Hom en van sy Gees gebruik soos wat Hy van jou verwag nie, waarom sou Hy jou met sy wederkoms in die hemelse koninkryk toelaat?

Slot

Alles en almal behoort aan die Here. Hy het ons aan as bestuurders van dit wat syne is, aangestel. So het ons sowat ‘n maand terug aan die hand van Ps 24 gesien. Op Hemelvaartdag   het ons gehoor dat die verheerlikte Christus gawes aan sy kinders gee. Op Pinkstersondag was die boodskap: die Heilige Gees is in sy volheid op ons uitgestort. Is dit goed wat ek kan hoor en waaraan ek my nie regtig hoef te steur nie? Maak die wyse waarop ek dit wat aan die Here behoort, bestuur regtig saak? Is dit my besluit of en hoe ek die Here se gawes aan my wil gebruik?

Die gelykenis van die muntstukke of talente waarsku: Die Here laat sy kinders rekenskap doen. Hy verwag dat ons sy goed volgens sy wil sal bestuur en die gawes wat Hy deur sy Gees aan ons gee, volgens sy bedoeling moet aanwend. Is jy gereed vir rekenskap?

AMEN

Die preek is in .pdf formaat ook beskikbaar. Kliek op die naam wat volg (2016 05 22) Die Here laat sy kinders rekenskap doen Matt 25 v14tot30

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *