(2016 05 08 2e) Die Here bring ‘n gees van welwillendheid en berou Sag 12 v10

Ons bely van kleins af dat ons aan die Here behoort, omdat Hy ons met sy bloed losgekoop het uit ons sonde. Die lyn van hierdie belydenis loop vanaf ons voorgeslagte af tot by ons toe. So maklik aanvaar ‘n mens hierdie ou waarheid as iets vanselfsprekend, iets noodwendig.

In die profeet Sagaria se tyd kon die volk van God ook terugkyk hoedat Hy hulle voorgeslagte uit Egipte bevry het. Hulle het self uit die Babiloniese ballingskap teruggekeer na die beloofde land toe.

Hulle vyande het hulle hervestiging so moeilik moontlik vir hulle gemaak. In die eerste verse van hoofstuk 12 beloof die Here dat sy volk staande gaan bly en dat Hy hulle vyand gaan vernietig. In ons teks beloof Hy om ook ‘n innerlike verandering in sy volk te bewerk. Hy gaan die werklikheid van sy genade tot hulle laat deurdring. Hulle sal daarop reageer met berou en verootmoediging.

Het die Here al hierdie innerlike verandering in jou hart bewerk om met ware berou en in ootmoed te antwoord op sy genade? Tema: Die Here bring ‘n gees van welwillendheid en berou. Ons let op (1) God se genade en welwillendheid en (2) ons reaksie daarop.

God se genade en welwillendheid

Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ‘n gees van welwillendheid en van berou (Sag 12:10a, 1983); die Gees van genade en smekinge (Sag 12:10a, 1953) en die Multivertalingbybel praat op sy beurt van ‘n Gees van genade en smeekgebede (Sag 12:10a,). Ons sou die verskillende moontlikhede kon kombineer. Daar word dan verwys na ‘n Gees van genade en berou. Genade verwys na dit wat God doen, terwyl berou weer verwys na ons reaksie daarop.

Die Here gaan hulle hart deur sy Gees en met sy genade aanraak. Ons lees op verskeie plekke in die Bybel van God se genade wat in Jesus Christus en sy verdienste werklikheid word: My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra (Jes 53:11b). Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang (Joh 1:16). Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing (1 Kor 1:30). Iemand definieer genade op grond van Skrifgedeeltes soos hierdie as God se liefdevollle guns; verlossende, regverdigende en heiligende guns.

In die Ou Testament is verskillende persone gesalf: (1) konings (1 Sam 10:1; 15:1, 17; 16:1, 3, 16; 2 Sam 20:19), (2) priesters (Eks 40:12 – 15; 28:41); en (3) soms profete (1 Kon 19:15, 16.). Dit is duidelik dat die salwing die gawe van die Gees van God versinnebeeld wanneer ons dit lees wat van die Christus, gesê word: Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is … (Jes 61:1; vgl ook Luk 4:18 – 21).

Iets anders as waaraan die Jode gewoond was, sou volgens Sagaria gebeur. Die Gees van die Here gaan nie net op die koningshuis van Dawid uitgestort word nie, maar ook oor die inwoners van Jerusalem. Soos Joël in ‘n ander tydvak, voorspel Sagaria hier die gebeure op die Pinkstersondag na Christus se hemelvaart in Jerusalem. Dit lui die era van die Nuwe Testament in. Hier word ‘n innerlike vernuwing wat die Heilige Gees bewerk omtrent met die helderheid van die Nuwe Testament beskryf. Almal is priesters en konings voor God (1 Pet 2:5, 9; Open 1:6). God sal sy Gees uitstort – in oorvloed. Die Heilige Gees met sy gawes (Rom 8:9) sal alle gelowiges vul.

Ons reaksie op God se genade en welwillendheid

Wanneer God met ‘n mens besig is, reageer jy onmiddellik. By die gesig van die Here wat op sy hoë en verhewe troon sit, het Jesaja onwillekeurig voor God neergeval en gesê: Wee my, ek is verlore! Ook Johannes val in Open 1 soos ‘n dooie neer voor die verhoogde Christus. In God se teenwoordigheid besef jy jou nietigheid as mens. Jy kan nie anders nie, as om te bid: O God, wees my, sondaar, genadig. Ootmoed betaam die mens voor die heilige Skeppergod.

Dan pleit jy om genade. Jy doen dit omdat jy God se genade ervaar en dit leer waardeer het. Wanneer die Gees die genade van God in jou hart uitstort, waardeer jy daardie genade as die grootste gawe van God. Daar bestaan ‘n wisselwerking tussen hierdie twee. Deur die genade uit te stort, wek die Here die begeerte daarna en die smeking daarvoor op. Die verhoring daarvan laat weer die genade ervaar. Só laat God die evangelie beslag lê op ons hart.

Daarbenewens het ek en jy nog ‘n spesifieke rede waarom ons onsself voor God moet verootmoedig. In Sag 12:10 b lees ons dat die mense sal kyk na hom vir wie hulle doodgesteek het. Hulle sal oor Hom treur, soos oor ‘n enigste kind. Hierdie profesie word vervul:

  • Dit gebeur toe die Romeinse soldaat sy spies ten aanskoue van ‘n jillende menigte Jode in die gekruisigde Christus se sy steek (Joh 19:33 – 37).

  • Dit gaan op Pinksterdag voort wanneer die volk van God daarmee gekonfronteer word dat hulle Christus, die beloofde Messias, gekruisig het (Hand 2:23). Hulle is diep getref en vra: Wat moet ons doen, broers? Sy antwoord: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang (Hand 2:37, 38). Sagaria se profesie is so vervul: Die volk van God het Christus eers verwerp – Hom daarom laat kruisig. Op Pinkstersondag het daar egter in baie Jode innerlik verander teenoor hierdie Een wat hulle deurboor het. Hulle het Hom toe erken as die beloofde Messias. Hulle wat Hom eers in ongeloof verwerp het, het Hom in die geloof aangeneem as hulle Here en Verlosser.

Ek en jy het weliswaar nie deel aan die Jode se sonde wat Jesus laat kruisig het nie. Tog het ook ons ‘n aandeel aan sy kruisdood. Dit is immers die enigste wyse waarop ek en jy as sondaars verlos kon word. Christus moes die losprys vir ons sonde aan die vloekhout op Golgota betaal.

Het hierdie werklikheid jou al regtig aangegryp? Het jy al gevra: Wat moet ek doen?

  • Ons moet ons voor God verootmoedig dat ons sonde so groot is, dat Christus alleen die losprys daarvoor deur sy dood aan die kruis te betaal. Net so min as wat Jerusalem kon neersien op die omliggende platteland, kan ek en jy uit die hoogte neersien op ander wat na ons oordeel skuldiger voor God staan as onsself. Nie die trotse Fariseër nie, maar die ootmoedige tollenaar gaan in die gelykenis geregverdig huis toe. By geleentheid het Jesus gesê: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in (Matt 21:31).

  • Wanneer die Heilige Gees in die hart van ‘n mens werk, wanneer Hy jou oneindig dankbaar daarvoor maak dat jy kind van die Here kan wees, is bekering die vanselfsprekende gevolg. Jy bekeer jou van jou sonde; jy bekeer jou van jou selfgerigtheid; jy bekeer jou van jouself. Jy het hartlike berou daaroor dat jy God deur jou sondes vertoorn het en daarom haat jy die sonde en vlug daarvan weg – hoe langer hoe meer (HK vr 89). Dit is nie die einde van ons reaksie nie. Ek moet, hierbenewens ‘n hartlike vreugde in God deur Christus en ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe (HK vr 90).

Slot

Ons bely van kleins af dat ons aan die Here behoort, omdat Hy ons met sy bloed losgekoop het uit ons sonde. Die lyn van hierdie belydenis loop vanaf ons voorgeslagte af tot by ons toe. So maklik aanvaar ‘n mens hierdie ou waarheid as iets vanselfsprekend, iets noodwendig.

In die profeet Sagaria se tyd kon die volk van God ook terugkyk hoedat Hy hulle voorgeslagte uit Egipte bevry het. Hulle het self uit die Babiloniese ballingskap teruggekeer na die beloofde land toe.

Hulle vyande het hulle hervestiging so moeilik moontlik vir hulle gemaak. In die eerste verse van hoofstuk 12 beloof die Here dat sy volk staande gaan bly en dat Hy hulle vyand gaan vernietig. In ons teks beloof Hy om ook ‘n innerlike verandering in sy volk te bewerk. Hulle gaan die werklikheid van sy genade tot hulle laat deurdring. Hulle sal daarop reageer met berou en verootmoediging. Ons tema vanaand is: Die Here bring ‘n gees van welwillendheid en berou.

Is jou hart vol dankbaarheid aan die Here wat jou uit genade alleen verlos het? Het jy regtig berou oor jou sonde en sondigheid? Dien jy die Here as verloste sondaar regtig met vreugde en gehoorsaam jy Hom met lus en liefde?

Dan sal jy

  • ootmoedig wandel met jou God (Miga 6:8).

  • Jouself gee as lewende en heilige offer aan God wat vir Hom aanneemlik is (Rom 12:1).

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg:(2016 05 08) Die Here bring ‘n gees van welwillendheid en berou Sag 12 v10

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *