(2016 05 08 1e) Prioriteite en burgerskap van God se koninkryk Matt 19 v16tot26

Wat is jou grootste prioriteit? Is een van jou prioriteite regtig om – soos ons visie uitspel – met oë gerig op Jesus Christus Hom toegewyd te volg?

Sulke vrae bring ‘n ander vraag na vore: Is die feit dat ek glo en bely dat Jesus Christus my Verlosser is, nie al wat vir God saak maak nie? Maak my en jou prioriteite regtig vir Hom saak?

Ons teksgedeelte antwoord onomwonde: My en jou prioriteite maak regtig vir God saak. Dit wat myne is en hoe belangrik dit vir my is, kan uiteindelik bepaal of ek die koninkryk kan binnegaan, of nie. Ons tema vanoggend: Prioriteite en burgerskap van God se koninkryk. Ons sien hier (1) ‘n groot vergissing en (2) die groot eis aan die volgeling van Jesus

‘n Groot vergissing

Elkeen van ons wat glo, dien die Here God na ons goeddunke. Die een is ouderling of diaken, die ander ‘n kategeet. Een skakel in by ‘n kleingroep, die ander nie. Is jy daarvan oortuig dat die Here God met jou saamstem dat jy Hom op die regte manier dien?

In ons teksgedeelte tref ons ‘n jongman aan wat voel: ek kom alle verpligtinge na wat verwag kan word van ‘n mens wat voor die Here leef. Hy het ook genoeg gehad om lekker te kon leef. Hy het doodtevrede met homself gevoel. Tog het iets gepla. Vandaar sy vraag: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” (Matt 19:16).

Oënskynlik ontduik Jesus sy vraag. Hy antwoord hom met ‘n vraag en ‘n stelling: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is” (Matt 19:17). Jesus ontduik egter nie sy vraag nie. Hy begin om sy probleem uit te wys. Die ryk jongman was seker hy moet iets doen om die ewige lewe te kan kry. Hy soek die goeie op die aarde in sy eie goeie dade. Hy maak dit los van God, die enigste Een wat goed is.

Met sy antwoord laat Jesus hom wegkyk van homself af; weg van al sy eie goeie dade; weg van sy goed; weg van sy dryfveer om die ewige lewe te verkry. Hy moet kyk na God en sy eer. Na dié God wat nie net goed is nie, maar voor wie se oog alleen dit wat regtig goed is, kan bestaan.

Daarvoor was die ryk jongman se oë nog toe. Jesus sit toe die gesprek met hom voort: “… as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. “Watter gebooie bedoel u?” het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: “Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 19:17 – 19). Jesus noem vyf van die gebooie oor jou verhouding met jou naaste met die vyfde gebod in die laaste plek. Hy voeg die liefdesgebod by die vyf. Daarmee sê Jesus vir hierdie jongman dat die tweede tafel van die wet van ons vra om ons medemens lief te hê.

Jesus wys hom daarop dat God wat goed is, met niks minder tevrede is nie, as met volmaakte goedheid. Hy wil hom laat ontdek dat hy self glad nie tot volmaaktheid in staat is nie. Hy moet tot die besef kom dat Jesus die Enigste Een is wat vir hom kan gee wat hy nodig het om die ewige lewe te kan kry.

Het jy al dié punt bereik waarby Jesus die jongman van ons teks wou bring? Aanvaar jy dat die wyse waarop jy Hom dien, nie in God se oë goed genoeg is om jou voor Hom regverdig te stel nie? Het jou oë al oopgegaan vir die feit dat jy glad nie in staat is om jou sondeskuld te betaal nie? Het jy al besef dat jy net om een rede die ewige lewe kan kry, en dit is omdat Jesus Christus jou sonde op Hom geneem en die volle losprys daarvoor aan die kruis betaal het?

Die jongman se antwoord aan Jesus was: “Dit alles het ek nagekom, … In watter opsig skiet ek nog te kort?” (Matt 19:20). Is jou oë ook nog, soos die jongman s’n, toe? Kom ons let op:

Die groot eis aan die volgeling van Jesus

Jesus het sy gesprek met die jongman voortgesit: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My”. Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad (Matt 19:21, 22). Deur hierdie opdrag vir die ryk jongman te gee, het Jesus die vinger op hierdie man se probleem gelê. Hy het hom voor die werklikheid geplaas dat nie God nie, maar sy goed vir hom die belangrikste is.

Wat Jesus geëis het, was vir die jongman te veel. God en sy koninkryk was nie vir hom prioriteit nie. Sy hart was nog nie by Jesus, die enigste en volkome Verlosser van sonde nie. Sy hart was nog by sy goed. Hy het wél prys gestel op die ewige lewe, maar dit nog nie bo alles – bo sy besittings – leer stel nie.

Die vraag aan my en jou is: wat sal jou reaksie wees as Jesus so ‘n opdrag vir jou gee?

Miskien dink jy: die Here kan tog nie regtig so iets van my verwag nie. Vir dit wat myne is, het ek hard gewerk. Ek het swaar daaraan afbetaal.

Dit wat die ryk jongman as syne en ek en jy as ons eiendom beskou, is nie regtig ons s’n nie. Dit wat ek en jy het, het ons van die Here ontvang. Geeneen van ons is die besitter nie – God is die enigste besitter. Ek en jy is bestuurders van dit wat aan God behoort.

Ek moet sy eiendom volgens sy opdrag bestuur. As sy opdrag is gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, het ek geen opsie nie. Dan moet ek Hom gehoorsaam. Uiteindelik is ek vir die wyse waarop ek met sy goed omgaan, die wyse waarop ek dit bestuur, aan Hom verantwoording verskuldig.

Beteken dit dat ek my grond eenvoudig aan die besetters moet afstaan? Beteken dit dat ek nie weerstand mag bied as mense onder dekmantel van die herverdeling van rykdom my goed wil kom afvat nie? Nee, dit wat die Here onder my en jou bestuur toevertrou het, moet ons nougeset en ooreenkomstig die opdragte van die Here bestuur.

In die proses mag ek nie die grens van gierigheid oorsteek nie. Juis daarmee het die ryk jongman ‘n probleem gehad. Hy het sy besittings gestel bo die Here; sy vertroue daarin gestel; Hy het dit beskou as iets wat hy ten alle koste moes bewaar. Hy het geen oog daarvoor gehad dat die Here dit aan hom gegee het om ook in diegene wat minder bevoorreg is, se behoeftes te voorsien.

Die Here Jesus het kras geoordeel oor die ryk jongman se omgang met God, sy goed en sy medemens – maar ook met ander soos hy: Voorwaar Ek sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan (Matt 19:23 – 24). Die ryk jongman wou die menslik onmoontlike regkry. Hy het egter nie in sy doel geslaag nie. Hy het Christus misgekyk. Wie Hom miskyk, het geen hoop om die koninkryk van God te kan binnegaan nie.

In plaas daarvan om my vertroue in my eie vermoëns en goed te stel, moet ek dit in Jesus Christus, ons enigste en volkome Verlosser, stel. Hy sê vir sy dissipels: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik. Die verlossing wat geen mens in eie krag kan verwerf nie, is wél moontlik vir elkeen wat Jesus Christus bely as Verlosser en Saligmaker. Wat vir die mens onmoontlik is, het God gedoen – in en deur sy Seun.

Die geloof dat dit so is, is deur die Heilige Gees in ons harte geplant. Hy bewaar ons nie net in daardie geloof nie, maar lei ons ook om dit wat die Here, die Albesitter in ons bestuur plaas, ooreenkomstig sy wil te bestuur. Hy maak ons bewus van die die Here God ten opsigte van ons prioriteite en gee ons die vermoë om dit volgens sy wil in te klee.

Danksy God se genade in Christus is die evangelie ook evangelie vir die rykes wat hulle onder leiding van die Heilige Gees kan losmaak van wat hulle besit en alles verwag van Jesus Christus, ons Enigste en volkome Verlosser.

Slot

Aan die begin het ek gevra: Is die feit dat ek glo en bely dat Jesus Christus my Verlosser is, nie al wat vir Hom saak maak nie? Maak my en jou prioriteite regtig vir God saak?

Ons teksgedeelte antwoord onomwonde: My en jou prioriteite maak regtig vir God saak. Dit wat myne is en hoe belangrik dit vir my is, kan uiteindelik bepaal of ek die koninkryk kan binnegaan, of nie. Net Jesus Christus, die enigste Verlosser van sondaars, maak dit vir mense – arm en ryk – moontlik om die koninkryk van God te kan binnegaan. Net die Gees stel ons in staat om ons prioriteite in te rig volgens die wil van die Here ons God.

AMEN

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *