(2016 04 24 2e) Haat – mag ek … moet ek? Ps 139 v19tot22 ♪

Die groot gebod is dat ons God bo alles moet liefhê en ons naaste soos onsself. Vanaand is ons tema: Haat – mag ek … moet ek? ‘n Vraag soos dié voel totaal onvanpas. En tog:

  • ons bely dat ons die sonde hoe langer hoe meer moet haat (HK 33:89).

  • Wat van mense? Dawid vra in ons teks: Moet ek u haters dan nie haat nie, Here …? Hy antwoord onmiddellik: Ek haat hulle met ‘n uiterste haat, want hulle is ook my vyande.

Ons teks staan in die Ou Testament. Jesus het die opdrag gegee dat ons ons vyande moet liefhê (Matt 5:44). Mag ek iemand haat? Moet ek iemand haat, of is dit altyd heeltemal onvanpas? Wil ons hierdie vrae antwoord, moet ons Ps 139 goed onder oë neem. Ons sien daarin (1) God in sy grootheid en heerlikheid; (2) Die gelowige se houding teenoor hulle wat God nie erken nie

God in sy grootheid en heerlikheid

Ps 139 besing die grootheid heerlikheid en majesteit van die Here God op ‘n besondere wyse. ‘n Mens kan verskillende hoofdele onderskei. Ons kan dit só saamvat, ook in sleutelwoorde:

  • :1 – 5 – Met alles as sleutelwoord: Die Here weet alles van my, bepaal alles wat oor my pad kom. Die digter, Dawid, se reaksie daarop: Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip (:6).

  • :7 – 12 – Met oral as sleutelwoord. Dit is asof die gedagte dat God alles weet, Dawid wil laat vlug. Sy gevolgtrekking: Waar ek ook al gaan – God is daar.

  • :13 – 16 – Die sleutelwoord is heeltyd. Van die skoot van my moeder tot eendag in die skoot van die aarde is ek in die hand van die Here. Hy beslis wat wanneer gebeur.

  • :17 – 18 – Die sleutelwoord is U met verwysing na die Here: Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem — hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.

  • :19 – 22 – die sleutelwoord is straf, ook haat.

  • :23 – 24 – met die sleutelwoord, ek. Nadat hy vinger gewys het na die goddelose wat straf verdien, besef die digter spreekwoordelik wys meer vingers terug na hom. Hy sluit af met die bede: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!

In hierdie Psalm fokus Dawid op die Here God. Duidelik blyk: God is groot. Hy is vol majesteit en heerlikheid. Hierdie God is dit waardig dat ons Hom loof en prys. Die digter besing die Here God ook elders as die Een wat lofwaardig is (1953-vert. Ps 18:4 en 119:12). Hy is selfs baie lofwaardig (1953-vert. Ps 48:2; 96:4 en 145:3).

Teenoor hierdie wonderlike God, die enigste ware God, die God wat ons sy eiendom gemaak het, behoort ons net op een manier te reageer. Saam met Moses en die Israeliete moet ons mekaar herinner: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag (Deut 6:4, 5).

Tog gebeur nie wat behoort te gebeur nie. Die vanselfsprekende reaksie op ons wonderlike God en hemelse Vader is nie almal se reaksie nie. Daar is beslis ook diegene wat Hom nie as die enigste ware God erken nie – ook nie as hulle God nie. Hulle kies die pad van opstand en ongehoorsaamheid jeens Hom; die pad van goddeloosheid.

Ons kan nie anders nie, ons moet ook van hierdie reaksie kennis neem. Ons moet ook teenoor diegene wat so reageer, standpunt inneem.

Die gelowige se houding teenoor hulle wat God nie erken nie

Die verwondering van die vorige verse maak plek vir verwensing. Dawid bid: As U tog maar die goddelose uit die weg wou ruim, o God! Gaan weg van my af, julle moordenaars! Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree. Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie ‘n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? Ek haat hulle met ‘n uiterste haat, want hulle is ook my vyande (Ps 139:19 – 22). Hierdie bede is so verskriklik dat party mense sê dit pas nie in hierdie Psalm nie. Ander sê weer dat dit tipies aan die Ou Testament is. Die gelowige van die Nuwe Testament kan nie hierdie woorde op die lippe neem nie. God het immers die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh 3:16). Die Seun van God het ons so liefgehad dat Hy sy lewe vir ons afgelê het.

Ons moet eers kyk na dit waaraan die mense van Ps 139 hulle skuldig maak:

God is lig – Hy maak Homself telkemale in sy Woord so bekend (1 Joh 1:5). Soos duisternis verdwyn wanneer die lig aangeskakel word, so wyk elke stukkie duisternis van die kwaad voor God. Diegene teen wie die digter homself opstel, is goddeloos. Hulle laat die duisternis toe om in hulle lewe botoon te voer. Hulle haal die dood op hulleself, omdat hulle die lewende God verwerp.

Die digter stel hom op teen die manne van bloed dus moordenaars. Hulle vergiet onskuldige bloed. Hierdie bloed roep tot God soos wat Abel s’n tot God geroep het (Gen 4:10, vgl ook 2 Kon 21:16 en 24:4 oor Manasse).

Dit is voorts mense wat bose planne teen God smee en vals teen Hom optree (Ps 139:20). Hulle veroorsaak met die misbruik van die Here se Naam ‘n wanklank in God se skeppingsimfonie. Hulle trek ons oë weg van God af.

Hulle haat die Here en is teen Hom in opstand (:21). Hulle stel hulleself dus teen God as sy vyande.

Ek en jy is verlig deur die evangelie, ons ken Jesus, die Lig vir die wêreld. Ons is met God versoen, ons leef in ‘n herstelde verhouding met Hom. Ek ken God as die Een wat sy plan van verlossing uitvoer deur dit wat sy Seun gedoen het en deur wat sy Gees in die lewens van mense tot stand bring. My hoofdoel is daarom om God te vereer in alles wat ek dink, sê en doen.

Die kind van ons hemelse Vader wat werklik onder die indruk van God se grootheid, majesteit en heerlikheid kom en besef daar is mense wat teen hierdie wonderlike God in opstand is, reageer onwillekeurig saam met Dawid: Dit kan nie! Dit mag nie!

Die digter voel dat hy in liefde teenoor God verplig is om teen hulle op te staan wat teen God in opstand is. Deur hulle optrede het hulle hulle verhouding met God gedefinieer as een van vyandskap. Daardeur het hulle ook ‘n posisie van vyandskap ingeneem teenoor ons wat deur Christus met God versoen is. Dawid sê daarom: hulle is ook my vyande (Ps 139:22e).

Baie belangrik hierin: dit gaan nie om myself en my wraaksug nie. Saam met die digter moet dit net vir my gaan om God en sy eer. Tog moet ek baie versigtig loop omdat ek self sondaar is en bly. Iemand (Helberg) stel perke wat ons deeglik in ag moet neem. “Dit geld alleen in gevalle waar, en in soverre as, die goddelose vereenselwig moet word met doelbewuste, hardnekkige en onbekeerlike goddeloosheid teenoor die Here.”

Hy (Helberg) gaan voort deur daarop te wys dat dit ondertussen nog genadetyd is. As gelowige is dit my roeping om aan sulke mense te verkondig hulle moet hulle bekeer. Die Here het dit in soveel woorde duidelik aan sy profeet uitgespel: Wanneer Ek van die goddelose sê dat hy sal sterwe, en jy praat nie en waarsku hom nie oor sy doen en late nie, sal hy deur sy sonde sterf, maar Ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood. Wanneer jy die goddelose waarsku oor sy optrede om hom daarvan te laat afsien, en hy sien nie daarvan af nie, dan sterf hy deur sy sonde en het jy jou eie lewe behou (Eseg 33:8, 9). Deur die boodskap van bekering uit te dra, toon ek selfs in hierdie ernstige situasie dat God se eer vir my ononderhandelbaar is.

Die digter Dawid wys ook vir my waarom versigtig loop belangrik is. Hy bid: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad (Ps 139:23, 24)! Die verkeerde pad is ook die pad van haat – daardie haat wat so maklik in my eie hart ontspring. Meer dikwels as dat God se eer my dryfveer is, sal my sondige haat dit wees.

Ook ek as gelowige, ek wat bely dat ek verlos is op grond van die verdienste van die Here Jesus Christus, ek in wie die Gees van God woon, kan nie anders nie as om my eie nietigheid en sondigheid te besef wanneer ek besef dat ek voor die lewende God staan. Dan verhef ek my nie. Dan verootmoedig ek my, soos wat Dawid dit in die slotverse van Ps 139 gedoen het.

Slot

Die groot gebod is liefde. Ek moet God bo alles en almal liefhê en ook my naaste soos myself. Wanneer mense teen God in opstand leef, wanneer hulle God se eer aantas, moet ek teen hulle kies. Hulle wat van hulle kant af God haat, sy vyande is, moet dan die voorwerp van my haat wees. Hulle moet my vyande wees. Dit gaan bo alles om God en sy eer!

Ons tema is die vraag: Haat – mag ek … moet ek? Ja, ek mag! Maak baie seker: dit gaan regtig net om God en sy eer!

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2016 04 24) Haat – mag ek … met ek? Ps 139 v19tot22

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *