(2016 04 17 2e) Die liefde – Grondwet van die Koninkryk van God Matt 22 v34tot40

Wat is die belangrikste wet in ons wetboek? Na die uitspraak van die Grondwetlike Hof op 31 Maart kan elke burger van die RSA vandag sê: Die Grondwet. Die president se ampseed is dat hy die grondwet sal onderhou, verdedig en respekteer. Die uitspraak van die Grondwetlike Hof is dat hy nie hierdie eed nagekom het nie.

Ons is, benewens burgers van die RSA, ook burgers van die koninkryk van God. Wat is die Grondwet van die Koninkryk van God?

By geleentheid het ‘n wetgeleerde woordvoerder van ‘n groep Fariseërs vir Jesus gevra: Meneer, … wat is die grootste gebod in die wet? Jesus antwoord met twee gedeeltes uit die wet van Moses wat een boodskap dra: die Grondwet van die Koninkryk van God: Jy moet … liefhê Ons kyk na die twee kante van die Grondwet van God se Koninkryk. Voor ons aan die twee kante van die grondwet aandag gee, moet ons eers na die dinamiek in ons teksgedeelte kyk.

Die dinamiek in ons fokusgedeelte

Die antieke Mediterreense wêreld in die tyd van die Nuwe Testament het ander waardes gehad as wat ons vandag het. Waar sukses en finansiële welvaart vandag s’n is, was eer en skaamte destyds primêre waardes.

Mense van gelyke sosiale status kon mekaar se eer in die openbaar uitdaag. Die twee kon handgemeen raak, of ‘n strydgesprek begin. In Matt 22 lees ons van 4 sulke strydgesprekke waarin Jesus betrokke was. ‘n Strydgesprek het in drie fases verloop:

  • die uitdaging – iemand is beledig, verwyt, beskuldig, of het ‘n strikvraag gekry. In Matt 22 kry Jesus drie sulke uitdagings in die vorm van strikvrae. Ons fokusgedeelte is die derde daarvan (waaraan ons afsonderlik aandag gee): (1) in :15 – 17 vra die Fariseërs of Hy dink dis reg om aan die keiser belasting te betaal; (2) in :23 – 28 vra die Sadusseërs weer ‘n vraag oor die opstanding. Na ons fokusgedeelte vra Jesus aan die Fariseërs die vraag wie se seun die Christus is.

  • die reaksie van die een wat uitgedaag is. Indien hy nie geantwoord het nie, het hy die strydgesprek verloor. Indien hy wel gereageer het, het hierdie spel om eer heen en weer tussen die twee partye aangehou, totdat een bes gegee het. Jesus het elke keer die strikvraag beantwoord: (1) in :19 – 21 moes die Fariseërs ‘n muntstuk bring. Die keiser se kop en naam was daarop. Hy het die twisgesprek beklink deur te sê: Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort (:21). (2) Vir die Sadusseërs sê Jesus: het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes” (:31b, 32). (4) Toe die Fariseërs sê dat die Christus die Seun van Dawid is, het Hy aan die hand van Ps 110:1 gesê: As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees? (:45).

  • die afloop: Die strydgesprekke se wenners is deur die mense wat geluister het se applous, opmerkings of kommentaar beslis. Die uitdagers kon ook bes gee. So lees ons na Jesus se antwoord op die vraag oor belasting dat die Fariseërs verbaas was en het Hom met rus gelaat het (:22); na sy antwoord op die vraag oor die opstanding was die skare verslae oor sy leer (:33); Nadat Hy gevra het hoe Dawid die Christus Here kan noem as Hy sy Seun is, lees ons: Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom ‘n vraag te stel nie (:45). Dit is duidelik: Jesus het elk van hierdie strydgesprekke loshande gewen.

Ons fokus vanaand op Jesus se voorlaaste strydgesprek in Matt 22.

Die twee kante van die Grondwet van God se Koninkryk

Die Fariseërs het dit geniet dat Jesus die Sadduseërs oor die opstanding goed op hulle plek gesit het. Tog was dit nie vir hulle lekker dat Jesus as wenner uit die stryd getree het nie. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vastrek. “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?” (Matt 22:34 – 36). ‘n Fariseër wat ook ‘n wetgeleerde was, wou met hierdie strydvraag Jesus se onkunde openbaar, sodat hulle Hom voor die mense kon beskaam.

Die rabbyne het ‘n klomp wette uitgespel. Op ‘n later tydstip is 613 afsonderlike gebooie geïdentifiseer waarvan 248 positief was met 365 goed wat verbied is. Hulle het party as meer en ander as minder gewigtig beskou. Die vraag watter gebod die allerbelangrikste was, was dus baie moeilik om te beantwoord. Die Fariseërs was oortuig dat hulle Jesus só kon vastrek.

Jesus antwoord sonder aarseling met die twee kante van die Grondwet van die Koninkryk:

Die eerste tafel van die wet

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod (Matt 22:37, 38). Jesus sluit met sy antwoord aan by ‘n Skrifgedeelte wat die Israeliete twee maal per dag gebid het, bekend as die shema Jisrael. Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag (Deut 6:4, 5). Die Here is die enigste God. Dit is ook die positiewe stelling opgesluit in die eerste van die Tien Gebooie: Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eks 20:3). Almal wat aan die Here behoort, moet Hom as die enigste God, ook as hulle God erken. Hulle moet erken dat Hy die reg het om te sê wat Hy van hulle verwag, hoedat Hy wil hê hulle moet leef.

Jesus se antwoord behels die gevolgtrekking waartoe Moses gekom het uit die feit dat die Here ons God die enigste Here is. God verwag van hulle wat aan Hom behoort ware, opregte, volstrekte liefde. Om enige onsekerheid te voorkom, het Moses gesê dat ons God moet liefhê met hart en siel, met al jou krag. Jesus gebruik die driedeling: die hart, siel en verstand. Nie net hierdie of daardie deel van my nie, maar ek as mens moet God met alles wat ek is en het bo alles liefhê. Ek moet my myself met al my kragte en vermoëns in diens van God stel.

Jesus het oor die opdrag van die eerste tafel van die wet gesê: Dit is die grootste en die eerste gebod (Matt 22:38). Jesus sê hiermee dat hierdie gebod die wortel is waaruit al die ander gebooie groei. Dit is die gebod wat al die ander gebooie beheers.

Daarmee wys Hy ook die rabbyne se groot fout uit. Hulle het so ‘n magdom wette geïdentifiseer. Hulle het al daardie wette in rangorde van meer tot die minste gewigtig ingedeel. In die proses het hulle die belangrikste gebod misgekyk.

Dit stel my en jou natuurlik voor die vraag: Het jy die Here as die enigste God waarlik, opreg en volstrek lief? Het jy Hom lief met alles wat jy is en het? Erken jy sy reg om van jou te verwag om te leef soos Hy wil jy moet? In watter mate kom jy die eerste en die groot gebod na?

Die tweede tafel van die wet

En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’ (Matt 22:39). Jesus sê dat hierdie gebod in rangorde op die eerste volg. Tog volg dit op ‘n besondere wyse daarin dat dit hiermee gelyk staan – dit is van net so ‘n groot sentrale betekenis as die eerste en is onafskeidelik aan die eerste verbonde. ‘n Mens kan nie die twee tafels van die wet uitmekaarhaal nie. Wat Jesus, die Seun van God, só saamgevoeg het, mag ons nie skei nie. Dit bevestig die apostel Johannes ook elders: As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê (1 Joh 4:20, 21).

Teenoor die rabbyne se talle wette stel Jesus die enkele, samevattende, absolute eis: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Dat hierdie eis absoluut is, blyk daaruit dat die naaste nie vermaan word om my lief te hê nie – ek moet begin deur my naaste lief te hê. Hierdie gebod is die wortel waaruit die tweede tafel van God se wet in geheel groei.

Samevattend

In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat” (Matt 22:40). Nie net die wet nie, maar ook die profete is volgens Jesus saamgevat in die gebod van die liefde. Hy sê daarmee dat alles wat God beveel het, saamgevat word in die dubbele gebod van die liefde. As ek en jy ons lewe volgens God se wil wil inrig, moet ons ons laat lei deur die liefdesgebod. Liefde is die motief wat alles moet beheers. Die hele openbaring as bron waaruit ons God se wil leer ken,word saamgevat in hierdie kern; die liefde.

Ons weet uit die Woord dat liefde vrug van die Heilige Gees is (Gal 5:22). Hy bewerk die liefde in my hart sodat ek God bo alles kan liefhê en dien en ook my naaste soos myself.

Slot

As burgers van die koninkryk van God hoor ons vanaand die liefde is die Grondwet van God se koninkryk. Alles wat God ons in sy Woord beveel, kan saamgevat word in die dubbele gebod van die liefde: Ons moet begin om God lief te hê met ons hele hart, hele siel’ en hele verstand. Ons moet ook die liefde uitleef in die tweede tafel van die wet: ons moet ons naaste liefhê soos onsself.

AMEN

Bespreking

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2016 04 17) Die liefde – Grondwet van die Koninkryk van God Matt 22 v34tot40

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *