(2016 04 10 1e) Gemeente – plek van rus en in die brandpunt van die stryd Sag 10 v3tot6 ♪

As jy ‘n prentjie van ons gemeente moes teken, hoe sou dit lyk? Ons is kerk van die Here in die industriële gebied van die Vaaldriehoek. Sou jy die gemeente teken as ‘n huis waar ons na werk rustig bymekaarkom, of soos ‘n staalnywerheid waar masjiene raas, smeltoonde gloei, sweisligte flikker, mense vinnig rondbeweeg en staalprodukte uitrol?

In ons teks teken die Here ‘n prentjie van sy gemeente met beelde wat hulle geken het.

  • Hulle was ‘n landbougemeenskap. Hy teken daarom sy volk as sy kudde skape. Destyds het elke kudde sy eie herder gehad. Sy volk en hulle leiers is sy kudde en herders.

  • Die volk van die Here het, na hulle terugkeer uit ballingskap teenstand ervaar. Hulle vyand het al hulle pogings om die land, Jerusalem en die tempel van die Here op te bou, probeer keer. Hulle het oorlog geken. Die Here teken sy volk as sy oorlogsperd.

Opvallend: die Here kies nie een van die twee beelde nie. Sy volk is beide kudde en oorlogsperd. In ons taal: die Here teken ons as gemeente as huis waar ons na harde werk gaan rus en ook as ‘n nywerheid wat pols en produseer.

Die gemeente as plek van rus

Die Here gebruik vir sy volk van destyds en ook vir sy kerk vandag die beeld van ‘n kudde skape. Die skaap is ‘n kuddedier. Stel jou die prentjie voor: die klomp skaap lê rustig by die krip nadat hulle water gesuip het. Die een na die ander een staan op en begin wei. Gebeur daar iets wat die skape onrustig maak, soek hulle weer die veiligheid in die kudde op. Hulle bly bymekaar. As alles weer rustig raak, beweeg hulle wei-wei uitmekaar. Jaar in en jaar uit is dit die prentjie van ons gemeente.

Is dit wat die Here vir sy kerk in gedagte het? Is Hy daarmee tevrede dat ons van tyd tot tyd bymekaarkom en een of ander saak aanpak en as alles daarna weer rustig raak, begin ons weer elkeen sy eie koers in wei?

Die Here vat hierdie beeld ‘n stap verder: In die Bybelse tyd het elke kudde skaap ‘n herder gehad. Hy het voor die skape uitgeloop, hulle gelei na waters en weiding toe. Hy moes hulle ook teen die ongediertes beskerm. Die Here sê sy volk is soos ‘n kudde skaap sonder herder. Hulle was boonop ook nog uitmekaar gejaag. ‘n Groot deel van die volk het nog in ballingskap rondgedwaal en nie eens oorweeg om die trek Jerusalem toe aan te pak nie.

Selfs dié in Jerusalem was ‘n kudde sonder herder, want hulle het nie ‘n koning gehad nie. Al wou hulle, kon hulle nie die stad en tempel herbou nie. Hulle vyande het hulle gekeer. Die mense se skouers het van moedeloosheid gehang.

Die Here laat hulle terugkyk. Hy sê Hy het hulle, weens hul ontrou aan Hom, besoek – met sy oordeel. Die sewentig jaar ballingskap is pas agter die rug. Hy sê dat Hy hulle weer gaan besoek. Hierdie keer gaan Hy die herders en die voorbokke besoek; Hy gaan van hulle rekenskap eis.

Wie is hierdie herders? Hier word bedoel al die konings wat hulself verset teen die Koning, die Messias en sy koninkryk. In ons taal: politieke leiers (kyk ook na Eseg 34:10). Sagaria het ‘n herder geword om die Here se boodskap aan sy volk tuis te bring (Sag 11). Die apostel Paulus sluit hierby aan as hy vir die ouderlinge van die gemeente in Efese sê: Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ‘n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun (Hand 20:28). As ouderlinge moet ons aan die Here verantwoording doen oor dié gemeente wat Hy hier deur sy Gees op grond van die verdienste van sy Seun gevestig het. Natuurlik is die tekort aan ouderlinge ‘n wesenlike probleem. Elkeen wat gekies word, wys die roeping van die hand. Wanneer die Here rekenskap eis, is die vraag of ook diegene wat onbetrokke bly verantwoording gaan doen oor hulle onwilligheid.

Die gemeente is die Here se eiendom, ons is deel van sy kudde. Hy het elkeen van ons duur gekoop – met die bloed van sy Seun. Die profeet sê vir die Here se volk daar in Jerusalem: Ja, die Here die Almagtige het Hom die lot van sy kudde Juda aangetrek … (Sag 10:3m). Die Here bly getrou aan sy kudde. Hy wat sy Seun as goeie herder vir sy kudde gestuur het om sy lewe vir ons af te lê, vra van elkeen van ons: Is jy deel van die kudde wat gereeld rustig saamkom? Is jy as herder wat verantwoordelik is vir die versorging van die kudde van die Here op jou pos? Is jy gereed om verantwoording te doen? Volg jy as skaap in die kudde die leiding van die goeie Herder?

Die gemeente in die brandpunt van stryd

Die prentjie van die Here se volk van destyds as patetiese kudde sonder herder, gaan nie so tragies bly nie. Die Here gaan dit ook verander. Hy gaan hulle sy trotse oorlogsperd maak (Sag 10:3e). Die kontras val ‘n mens hier op. Destyds was die ruitery die kern van die leër. Onder die perde was die koning s’n natuurlik die pragtigste dier. Op sy pragperd het hy die stryd ingery.

Sagaria waarsku nie met hierdie beeld nie, maar spreek ‘n belofte uit. Hy vergelyk die volk van die Here met ‘n perd wat ‘n koning waardig is. Die Here, die Opperbevelhebber van sy leër wil sy volk, sy kerk, as instrument, as rydier in die heilige stryd, gebruik.

Ons gaan slagveld toe! Destyds op die slagveld is die skel klank van die trompette gehoor. Die oorlogsperd sper sy neusgate oop. Sy spiere span. Een bondel energie spring in die geveg. Dit is die beeld wat die Here van die kerk teken.

Hierdie belofte is ook ‘n bevel. Die perd wat die stryd ingaan, moenie sy eie kop volg nie. Die perd moet net doen wat die ruiter wil hê hy moet doen.

Die Here wil iets met ons doen. Hy wil ons gebruik om groot dinge tot stand te bring. Hy wil hê dat ons iets moet beteken; dat ons verskil moet maak. Met die oog daarop besoek die Here sy kerk.

Wat gebeur wanneer die Here sy kerk besoek? Die twee kante van die oorlogsperd word in twee verdere beelde oorgedra:

  • Die onbeduidende volkie wat deels nog in ballingskap is en reeds teruggekeer het, sal onontbeerlik word soos ‘n hoeksteen, so nodig soos ‘n muurpen, so onontbeerlik soos tentpen.

  • Die volk wat oënskynlik plan- en doelloos rondgeswerf het, soos ‘n kudde sonder herder, sal ‘n pyl en boog word. Doelgerig sal hulle instrument word in die hand van die Here. Hy sal met hulle doen wat Hy wil.

Hierdie beloftes is in en deur Jesus Christus vervul. Tog moet ons ook weet: deur sy Gees maak die Here iets heeltemal anders van hulle wat Hy besoek. Die mens waarmee Hy besig is, bly nooit dieselfde nie. Die kudde word ‘n oorlogsperd.

Die Here se plan, ook met ons as gemeente, behels meer as dat ons ‘n kudde is wat nou elkeen ons eie gang gaan en dan weer bymekaarkom om iets tot stand te bring.

  • Hy wil ons met nuwe lewenskrag besiel. Vir sy dissipels het Hy gesê: Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom … (Hand 1:8).

  • Hy wil ons slepende voete vervang met die dreunende hoefslag van die vurige oorlogsperd wat doelgerig afstuur op die geveg. Ons roeping is om die mag van die wêreld en selfs van die Satan teen te staan en te oorwin.

Ons is in ‘n stryd op lewe en dood betrokke. Ons moet dit persoonlik voer en wel teen ons doodsvyande, die wêreld, die Satan en nie die minste nie, teen ons eie ou sondige natuur.

Ons het, as perd van sy majesteit in die stryd, ook ‘n gemeenskaplike stryd vir die eer van ons Koning te stry op alle terreine van die lewe. Ons moet die Here se Woord laat trek oor die vlaktes heen en worstel teen alle aanslae teen sy ryk met die gebed in die hart en op die lippe laat U koninkryk kom.

Dit is God se wil vir sy volk; sy kerk; ons as gemeente. Hy het ons sy kinders gemaak, ons daardeur vereer. Hy het egter ook ‘n ernstige opdrag vir ons. Ons moet hierdie opdrag aanpak onder die geklank van sy belofte: Met Christus as ons Meester en Aanvoerder is die oorwinning gewaarborg, ja, ons is meer as oorwinnaars (Rom 8:28 – 39)! Laat ons dan wees wat Hy wil: sy oorlogsperd wat stry vir sy eer!

Slot

Aan die begin het ek gevra: as jy ‘n prentjie van ons gemeente moes teken, hoe sou dit lyk? Sou jy die gemeente teken as ‘n huis waar ons na werk rustig bymekaarkom, of soos ‘n staalnywerheid waar masjiene raas, smeltoonde gloei, sweisligte flikker, wat produseer?

Die Here het ‘n prentjie van sy gemeente in Sagaria se tyd geteken met beelde wat hulle geken het: sy volk as sy kudde skape met hulle eie herders, maar ook as sy oorlogsperd. Opvallend: sy volk is beide kudde en oorlogsperd. In ons taal: die Here teken ons as gemeente as huis waar ons rustig bymekaarkom en ook as ‘n nywerheid wat pols en produseer.

Is jy regtig deel van die Here se kudde wat rustig bymekaarkom en ook van sy gemeente as oorlogsperd, ‘n nywerheid wat pols en produseer?

AMEN 

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2016 04 10) Gemeente – plek van rus en in die brandpunt van die stryd Sag 10 v3tot6

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *