(2016 04 03 2e) Maak erns met jou kant van God se verbond Jer 34 v18tot22

God se genadeverbond met ons en ons kinders, gee ons rustige vertroue. Ons weet immers niks en niemand kan ons van Hom vervreem nie. Hy is en bly ons God. Hy handhaaf sy verbond.

Die gevaar is dat ons dink dat God se verbond outomaties werk; dat dit van krag bly, al sou ons van Hom afdwaal. Die Israeliete het ook so gedink. God roep hulle in ons teks tot verantwoording. Hulle het nie hulle kant van die verbond nagekom nie. Ja, hulle het hulle bekeer en bepaalde ondernemings gemaak, maar hulle het weer van gedagte verander. Die getroue God van die verbond waarsku hulle dat hulle die gevolge daarvoor gaan dra. Hy gaan hulle straf. Die Here gebruik die beeld van die diere wat by die verbondsluiting geslag is (Gen 15:9 – 11 en 17).

Ons tema: Maak erns met jou kant van God se verbond. God se genadeverbond met ons het twee kante waarop ons agtereenvolgens let: (1) God s’n en (2) ons kant.

God se kant van die verbond

Hy is die eerste Persoon betrokke in hierdie verbond. Hy het die hemel en die aarde uit niks geskep. Hy onderhou en regeer steeds alles en almal só dat alles wat ons beleef, ons uit sy Vaderhand toekom. Hy is die Here van die here en die Koning van die konings. Hy is soewerein. Hy doen wat Hy wil.

In sy vrymag het God Homself in ‘n verhouding aan Abram verbind – Hy het hierdie verhouding sy verbond genoem. Hy het bepaalde beloftes aan Abram gemaak:

  • die belofte van ‘n groot nageslag (Gen 15:5)

  • die belofte van ‘n land wat die Here aan sy nageslag sal gee(Gen 15:7 & 16)

  • Die groot belofte van die verbond was egter: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag (Gen 17:7).

God het ook Abram se nageslag by hierdie verbondsverhouding ingesluit. Tog het Hy nie die onderneming gegee dat alles voor die wind met Abram en sy nageslag sou gaan nie. Inteendeel! Die Here het gesê dat sy nageslag selfs ‘n tydperk van slawerny en onderdrukking sou deurmaak – 400 jaar lank! Hy het egter onderneem om Abram se nageslag uit die slawehuis uit te lei – met baie besittings.

Is daar ‘n groter slawedrywer as die Satan? Is daar ‘n erger slawerny as die sonde? As die Here beloof om Abram en sy nageslag se God te wees, beloof Hy daarmee dat Hy hulle sal verlos uit die slawerny van die sonde.

Die belofte van verlossing uit ons sonde, kon God slegs op een wyse uitvoer. Hy moes sy Seun gee om die volle losprys vir ons sonde te betaal. Die enigste straf daarvoor is die dood. Christus kon slegs die losprys vir ons sonde betaal deur aan die kruis te sterf.

God se verbond met ons loop in finale instansie uit op ons verlossing uit die sonde. Sy verbond met ons laat ons in die sekerheid van hierdie verlossing leef.

Soos wat die gebruik was wanneer twee partye in daardie tyd ‘n verbond gesluit het, het die Here ook aan Abram opdrag gegee om ‘n vers, ‘n bok, ‘n skaapram, ‘n tortelduif en ‘n jong duif te bring. Abram het die diere geslag en elke karkas in twee dele verdeel. Hy plaas toe die twee helftes van die karkasse so ver uit mekaar dat die partye tussen die twee helftes van die karkasse kon deurloop. Die twee partye is deur die verbond wat so gesimboliseer word, aan mekaar verbonde.

Die Here het egter van die gebruik waarmee Abram bekend was, afgewyk. Hy het alleen deurgegaan en wel in die tekens van ‘n rokende oond en ‘n brandende fakkel (Gen 15:17).

Waarom hierdie afwyking? Anders as die ander verbonde van daardie tyd, was daar nie sprake van twee gelyke verbondsvennote nie. Nee, dit was die Here se verbond met Abram. Die Here God staan self in vir die onderhouding van sy verbond. Dit is sy genadeverbond.

Ons kant van die verbond

Die Here God het sy genadeverbond met Abraham en sy nageslag gesluit – ook met ons, geloofsnasate van Abraham. Van elkeen met wie Hy sy verbond sluit, verwag Hy om in verbondenheid met Hom te leef. Dit behels dat ‘n mens gehoor sal gee aan die eise wat Hy as Verbondsgod stel.

In die doopformulier lees ons: Omdat alle verbonde uit twee dele bestaan, daarom word ons ook weer deur die doop vermaan en verplig tot ‘n nuwe gehoorsaamheid. In ons teksgedeelte kom ons kant van die verbond – die eise wat die Here aan ons stel – sterk na vore.

Onmiddellik na die Tien Gebooie in Eks 20 het die Here die opdrag in sy Woord laat opteken dat elkeen wat ‘n Hebreeuse slaaf sou hê, verplig was om so ‘n slaaf na 6 diensjare vry te laat (Eks 21:2). Later herhaal die Here hierdie opdrag en motiveer dit ook: Jy moet onthou jy was self ‘n slaaf in Egipte en die Here jou God het jou bevry (Deut 15:15). Sommige teoloë (Veldkamp, Schilder) verbind hierdie vrylating van Hebreeuse slawe aan die koms van die Messias wat volkome verlossing sou bring uit die slawerny van sonde.

Hierdie opdrag van die Here is selde in die geskiedenis van God se volk nagekom. Terwyl Jerusalem beleër is, het koning Sedekia hierdie eis van die Here wat so lank vergeet is, ontdek. Daar is toe ‘n ooreenkoms in die tempel van die Here aangegaan om die Hebreeuse slawe vry te laat (Jer 34:15).

In ongeveer hierdie tyd het die Galdeërs gehoor dat die leër van die Farao Egipte verlaat het (Jer 37:7). Hulle was bang dat die Egiptiese leër aan Juda se kant teen hulle sou veg. Hulle het toe hulle beleg van Jerusalem onderbreek.

Die ooreenkoms wat die Israeliete voor die Here gesluit het, was meteens, saam met die verdwyning van die Galdese bedreiging, vergete. Die Judeërs het hulle vrygelate slawe gedwing om weer hulle slawe te word en hulle selfs mishandel (Jer 34:16).

Die Here beoordeel toe dit wat die Judeërs gedoen het, as ‘n drieledige verbondsverbreking:

  • Die ooreenkoms (letterlik verbond) tussen die koning en sy volk om die Hebreeuse slawe vry te laat (Jer 15:8).

  • God se verbond met sy volk by die uittog (Jer 34:13, vgl Eks 21 en Deut 15).

  • God se verbond met Abraham (vgl Jer 34:19, 20 met Gen 15:8-18).

Opmerklik: oortreding van die tweede tafel van God se wet – gebrekkige liefde vir jou naaste – kwalifiseer as verbondsverbreking.

Wie die verbond met God verbreek, dra die gevolge daarvan. Dit het bepaalde konsekwensies: die Here straf jou. Op ironiese wyse kondig die Here aan dat Hy inwoners van Jerusalem sal vrylaat – vry vir oorlog, pes hongersnood. Hy verklaar hulle dus voëlvry!

Daarby bly dit nie. Hoor hoe kondig die Here sy straf aan in aansluiting by Gen 15: Elkeen wat hom nie gesteur het aan die verbond met My en die voorwaardes van die ooreenkoms wat hulle in my teenwoordigheid aangegaan het, nie nagekom het nie, sal Ek maak soos die kalf wat julle met die verbondsluiting in twee stukke gesny en toe daar tussendeur geloop het. Ek sal die leiers van Juda, die leiers van Jerusalem, die paleisamptenare, die priesters en al die landsburgers wat tussen die twee stukke van die kalf deur geloop het, in die mag van hulle vyande oorgee, in die mag van dié wat hulle lewe soek. Hulle lyke sal gevreet word deur voëls en roofdiere (Jer 34:18 – 20). Die Babiloniërs sou, volgens Jeremia, terugkom en die roofvoëls wat Abraham van die verbondsteken moes wegjaag (Gen 15:11), sou op hulle lyke toesak (34:20).

God se genadeverbond met ons het twee kante. Hy hou getrou woord. Hy verwag van ons om ook ons kant na te kom. In ons verhouding met Hom, ons God en Here, maar ook in ons verhouding met mekaar moet ons leef op ‘n wyse wat bevestig dat ons aan God verbonde is. Soos ons Vader in die hemel getrou is en woord hou, moet ook ons getrou wees en woord hou. Om ons daartoe in staat te stel, het God sy Gees gegee om ons te lei.

Wanneer ons wel, hetsy in ons verhouding met die Here, hetsy in ons verhouding met ons medemens, God se verbond oortree, moet ons ons heelhartig bekeer. Wie dit nie doen nie, dra die gevolge daarvan. Die strafmaatreëls wat God ingestel het, tree dan in werking.

Slot

God se genadeverbond met ons en ons kinders, gee ons rustige vertroue. Ons weet immers niks en niemand kan ons van Hom vervreem nie. Hy is en bly ons God. Hy handhaaf sy verbond.

Tog werk sy verbond nie outomaties nie. God roep sy volk in ons teks tot verantwoording. Hulle het hulle bekeer en bepaalde ondernemings gemaak, maar hulle het weer van gedagte verander. Die getroue God van die verbond waarsku hulle dat hulle die gevolge daarvoor gaan dra. Verbreking van sy verbond lei tot straf. Ons roeping is daarom: Maak erns met jou kant van God se verbond.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2016 04 03) Maak erns met jou kant van God se verbond Jer 34 v18tot22

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *