(2016 04 03 1e) God, ons en ‘n ekonomiese keerpunt Jer 32 v15 ♪

Donderdag was op verskillende terreine ‘n keerpunt. Die grondwetlike hof het beslis die staatspresident moet ingevolge die grondwet in belang van alle landsburgers regeer; die parlement se funksie is om die uitvoerende gesag tot verantwoording roep. Die Rand het na 9 Des ‘n keer kop opgetel. Die uitspraak van die grondwetlike hof kan miskien help dat agentskappe ons nie rommelstatus toeken nie. Miskien is dit ook ‘n ekonomiese keerpunt. So kon ons dink tot die aand van gekkedag. Hoe hanteer ons hierdie verwikkelinge gelowig?

In ons teks kondig die Here ‘n ekonomiese keerpunt aan. Hy doen dit in die jaar waarin Jerusalem ingeneem sou word en hulle laaste koning, Sedekia, as balling weggevoer sou word. Hy kondig die keerpunt aan – maar dan pas vóór ‘n absolute laagtepunt. Hy doen dit met ‘n beeld uit die alledaagse lewe: Hy beveel Jeremia om grond te koop en om die koopkontrak goed te bewaar.

Teenspoed lê nog vir die volk voor. Die Here sal egter in die toekoms ‘n ekonomiese keerpunt bewerk. Vandaar ons tema: God, ons en ‘n ekonomiese keerpunt. Ons let agtereenvolgens op twee kante van die boodskap van ons teks: (1) ‘n alledaagse handeling in moeilike omstandighede en (2) die Here se boodskap van hoop.

Alledaagse handelinge in moeilike omstandighede

Binne 36 uur was daar, aan die een kant, groot waardering vir die grondwetlike hofbeslissing. Aan die ander kant was gekkedag geen grap nie. Dit lyk asof die nagmerrie van die president en parlement wat hulle grondwetlike verantwoordelikhede ontduik onbepaald gaan voortduur. Enige keerpunt lyk op hierdie tydstip onmoontlik.

Ook in hulle situasie het ‘n keerpunt vir die Israeliete onmoontlik gelyk. Die hoofstuk begin met die stelling: Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van koning Sedekia van Juda. Dit was die agtiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar van Babel wie se leër juis toe vir Jerusalem beleër het (Jer 32:1, 2a). Die leërs onder aanvoering van koning Nebukadnesar het die gebied rondom Jerusalem reeds ingeneem. Hulle het die grond en die goed gestroop. Die bewoners van daardie gebied moes noodgedwonge in Jerusalem gaan skuil. Onder hulle was Jeremia se neef, Ganamel, wat van Anatot af moes vlug.

Behalwe die algemene krisis wat Jeremia saam met sy mede-Judeërs ervaar het, was hy persoonlik nog slegter daaraan toe. Koning Sedekia van Juda het nie gehou van sy boodskap nie. Hy het hom beskou as ‘n dislojale onderdaan. As straf is hy ingeperk in die binneplaas van die paleiswag. Ingeperk in ‘n beleërde stad. Kon dit slegter?

Ons weet dat koning Sedekia se tiende regeringsjaar 9587 vC) die jaar is waarin Jerusalem ingeneem sou word. Die regiem van koning Sedekia was na aan sy einde. Sedekia sou self in ballingskap weggevoer word. Op die tydstip waarin Jer 32 hom afspeel, was dit onmoontlik om normaal te leef.

Presies soos wat die Here vooraf gesê het, het sy neef, Ganamel, Jeremia kom vra om sy grond in Anatot volgens die lossingsreg te koop. Ganamel het seker die geld nodig gehad om as vlugteling in Jerusalem te kon oorleef. As koper het Jeremia sy bedenkinge gehad. Hy spreek dit ook nadat die transaksie beklink is, teenoor die Here uit (Jer 32:16 – 25). Tog het hy gedoen wat die Here hom beveel het.

Jeremia beskryf sorgvuldig hoedat hy die hele kooptransaksie afhandel. Hy het die koopkontrak opgestel, die seël daarop gesit en dit deur getuies laat teken. Hy het die koopsom vir Ganamel afgeweeg: 200 gram silwer. In teenwoordigheid van Ganamel, die getuies en Judeërs wat hulle in die binneplaas van die paleiswag bevind het, het hy aan Baruk, sy sekretaris, opdrag gegee om, soos dit die gebruik was, die kontrak wat verseël is, sowel as die onverseëlde afskrif in ‘n kleipot te bêre. Die rede: sodat hulle baie dae kan hou.

Opmerklik is: in totaal abnormale omstandighede gee die Here aan Jeremia opdrag om gewoonweg, heeltemal normaal, met sy lewe voort te gaan. Dat die stuk grond wat hy koop reeds gestroop is, nutteloos in verowerde gebied gelê het, was nie van belang nie. Dat Nebukadnesar se leër Jerusalem beleër en binnekort sou inneem, was nie ter sake nie. Dat hy self ingeperk is, verander niks. Die Here se opdrag is: Gaan normaalweg aan met jou lewe.

Is dit wat die Here verwag ons in ons onseker omstandighede moet doen? Beslis ja. Nadat Samuel Saul as eerste koning van Israel aangestel het, het hy hom sekere tekens gegee wat hy sou teenkom. Hy voeg toe daarby: Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou (1Sam 10:7). Ook die siniese prediker gee die opdrag: Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie (Pred 9:10). Ek en jy moet in alle moontlike omstandighede doen wat ons hand vind om te doen. Tog is daar ‘n kwalifikasie: soos Jeremia moet ons doen wat die Here God van ons verwag. Ons moet normaal met ons lewe voortgaan ooreenkomstig God se wil, gehoorsaam aan die leiding van sy Gees.

Om normaal met jou lewe, in gehoorsaamheid aan God voort te gaan, word gemotiveer:

Die Here se boodskap van hoop

want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word (Jer 32:15). Die Here beloof hier dat die ekonomie sal herstel. Dit lyk glad nie moontlik nie. Die huise is verwoes, die landerye vertrap en die wingerde geplunder. Daar was niks meer te verhandel nie en dit wat nog oorgebly het, was waardeloos. Daar was niemand oor om die huise te bewoon of die grond te bewerk nie. Jerusalem was aan die wankel. Die ballingskap het voorgelê. Vir die meeste mense in Jerusalem was dit duidelik: die einde het voorgelê. Jeremia het self daardie einde baie duidelik aangekondig.

Tog het Jeremia al vroeër meer gesê. Hy het geprofeteer dat ‘n nuwe toekoms sou aanbreek – nie op die tyd wat Jerusalem dit wou hê nie, maar op God se tyd. In Jer 31 het hy geprofeteer dat die volk uit ballingskap sou terugkeer; dat hulle Jerusalem weer sou opbou; dat die Here sy verbond met sy volk sou hernu (Jer 31:31 – 34).

Dit was Jer 31 se profesie. In Jer 32 moes Jeremia ‘n profeet in daad word.

Wat hy gedoen het, het nie sin gemaak nie. Watter waarde het ‘n stuk grond in Anatot gehad wat verwoes is en geen oes oplewer nie? Bowendien was Jeremia ‘n gevangene. Sy persoonlike toekoms was baie onseker. Wat het hy dus aan ‘n stuk grond gehad?

Nietemin voer Jeremia die koop deur – omdat die Here God hom opdrag gegee het om dit te doen. Die profeet beklemtoon die rede: … want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word (Jer 32:15). Hiermee sê die Here, die Almagtige: die heersende ekonomiese en politieke omstandighede bepaal nie die waarde van die grond in Anatot in die toekoms sal hê nie. Hy, die Almagtige God alleen bepaal die waarde van die grond. Nie markkragte of politici nie, maar Hy, die Here die Almagtige, die God van Israel, bepaal die ekonomiese toestand in die hede en in die toekoms.

Het dit enige waarde dat die Here die Almagtige, die God van Israel ekonomiese herstel beloof? In sy gebed (Jer 32:16 – 25) beantwoord Jeremia hierdie vraag. Die Here God het die hemel en die aarde gemaak (:17). Hy bewys troue liefde aan duisende geslagte, maar straf ook (:18, 19). Hy het sy volk uit Egipte gelei en die beloofde land vir hulle gegee (:21, 22). Die beleëringswalle wat teen Jerusalem se stadsmure opstyg, die ballingskap wat voorlê, kom ooreen met wat die Here voor die intog al gesê het (:24, vgl Deut 30:17, 18).

Reeds voor die intog het die Here ook beloof dat, indien sy volk in ballingskap tot besinning en bekering sou kom, Hy hulle weer na die beloofde land sou laat terugkeer (Deut 30:1 – 5). Jeremia sê hier vir die volk: ballingskap lê vir hulle voor. Nadat hulle in Babel tot besinning gekom het, sal hulle terugkeer. Dan sal hulle Jerusalem herbou. Dan sal die Here die ekonomie herstel. Hy sal dit doen, omdat Hy doen wat Hy sê. Hy hou woord. Hy bly altyd getrou.

Wat van ons? Die Here stuur geen Jeremia na ons toe nie om te sê of kredietgraderingsagentskappe rommelstatus aan ons gaan toeken of nie. Geen profeet vertel vandag of ons president en parlement erns gaan maak met die uitvoer van hulle grondwetlike verantwoordelikhede nie.

Die boodskap wat Hy destyds deur Jeremia aan sy volk gestuur het, is vandag steeds geldig. Hy, die Almagtige, is en bly getrou. Hy het sy trou aan ons betoon deur sy Seun vir ons te gee. Niks kom per toeval oor ons pad nie. Die voorspoed en die teenspoed kom ons as uit God se Vaderhand toe. Ons toekoms is en bly in sy hande. Ons moet op Hom vertrou; doen wat ons hand vind om te doen, terwyl ons Hom gehoorsaam.

Slot

Donderdag se beslissing deur die Grondwetlike Hof was verseker belangrik. President Zuma se gekkedagtoespraak kan ernstige gevolge inhou, ja. Uiteindelik bepaal die Here, die Almagtige, ons getroue God en Vader of – en indien wel wanneer – ‘n ekonomiese keerpunt vir ons voorlê. Juda se keerpunt sou eers na 70 jaar in ballingskap aanbreek. Ons s’n …?

Van ons, sy kinders, verwag die Here, die Almagtige, ons getroue God en Vader, dat ons met ons gewone lewe moet voortgaan, maar dan volgens sy wil, soos Hy dit in sy Woord openbaar het en soos wat sy Gees ons lei. Vertrou op Hom, ons getroue God.

AMEN

Die preek is beskikbaar in .pdf-formaat. Kliek op die naam wat volg: (2016 04 03) God, ons en ‘n ekonomiese keerpunt Jer 32 v15

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *