(2016 03 20 1e) ‘n Verhouding tussen twee partye: die Here God en ons Sag 11 v4tot14 ♪

Een persoon kan ‘n verhouding begin. Enige verhouding kan net blywend wees as beide partye gemotiveerd bly om dit in stand te hou. Dit besef ‘n jongmens sommer gou. As ‘n huwelik dreig om op die rotse loop, en die een party alles sal doen om dit te red te red, loop dit op niks uit as die ander onwillig is om saam te werk.

God het die inisiatief geneem om in ‘n verhouding met ons te tree. Die Vader het sy Seun gegee. Jesus het sy lewe aan die kruis afgelê.

Die Here praat in beeld deur sy profeet met sy volk. Sagaria het ‘n herder geword. Die rede vir hierdie beeld is Dawid se eeue-oue woorde: Die Here is my herder (Ps 23:1). Later sou Jesus sê: Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Joh 10:11). Die Here het opdrag gegee dat Sagaria sy loon van dertig silwerstukke vir die pottebakker moes gooi (Sag 11:12,13). Hierdie gebeure word in Matt 27 gekoppel aan Judas se verraaiersloon waarmee die priesterhoofde die pottebakker se grond as begraafplaas gekoop het. 

Vandag stel ons teks ons voor die vraag: Is jou verhouding met die Here vir jou belangrik? Werk jy daaraan, of het jy belangstelling verloor? Wat doen jy om die verhouding tussen jou en die Here God in stand te hou? Bring jy regtig gemotiveerd jou kant? Ons tema vanoggend: ‘n Verhouding tussen twee partye: die Here God en ons. Hoofpunte: (1) ‘n verhouding loop skeef en (2) Jesus Christus en ons verhouding met God.

‘n Verhouding loop skeef

Die Here stuur sy profeet, Sagaria, om vir sy volk te wys Hy is nie tevrede met die wyse waarop hulle Hom probeer dien nie. Hulle – maar ook ons – moet weet: Die laaste plek op ons prioriteitslys is heeltemal onaanvaarbaar vir die Here ons God. Hy is nie tevrede met afskeeptyd en afskeepaandag nie.

Sagaria dra sy boodskap in ‘n toneel oor. In diens van die veeverkopers word hy ‘n herder van slagskape. Hy moet die kudde net oppas totdat hulle geslag word. Hierdie prentjie kondig aan: Die Here gaan sy volk met sy oordeel tref.

Tog is daar juis genade opgesluit in die aankondiging van oordeel: die Here gee ‘n geleentheid om tot besinning te kom. Die volk het nog geleentheid om hulle te bekeer. Besinning en bekering kan nog ‘n ander afloop hê as die Here se oordeel.

Terug by die toneel: Destyds het elke herder ‘n herderstaf gehad, ‘n kierie waarmee hy die skape kon versorg en wanneer nodig, ook kon beskerm. As herder het Sagaria sommer twee kieries. Elke kierie hou ‘n boodskap vir die volk van die Here in. Daarom kry elke kierie ook ‘n naam. Die eerste kierie se naam is Vriendelikheid (’83) / Lieflikheid (’53) en die tweede s’n Vereniging (’83) / Samebinding (’53).

Die Multivertalingbybel gee nog alternatiewe vertalings van die naam van die kierie genaamd Vriendelikheid: Aangenaamheid / Guns / Glorie. Sagaria slaan hierdie kierie stukkend. Die betekenis van die eerste kierie en sy naam word verklaar deur die toevoeging: … om my verbond te verbreek wat ek met al die volke gesluit het (Sag 11:10). Hier vloei beeld en werklikheid ineen. Hier word nie meer van skape gepraat nie, maar van volke. Sagaria se ek word Ek in die Here se mond. Dit is immers Hy wat die verbond met die volke gesluit het.

Hierdie verbond verwys na die goedheid wat die Here tot dusver aan alle volke bewys het. Hy het vir hulle gesorg. Hy het sy verbond met Noag gesluit en deur hom met al die volke om te sorg vir die seisoene sowel as dag en nag wat mekaar reëlmatig opvolg. Hy het onderneem om nie weer die aarde deur vloedwater te laat vergaan nie. Hy het die reënboog as teken van sy verbond met die nasies gegee (Gen 8:22; 9:9 – 11). As Herder met twee stawe het die Here deur die eeue heen al die volke, sowel as sy volk Israel versorg; alles aan hulle voorsien wat hulle nodig gehad het.

Natuurlik verwag die Here van die mensdom om Hom as God te erken en te dien. Nie net die ander nie, maar selfs sy volk, die nageslag van Abraham, met wie Hy sy genadeverbond gesluit het, het nie aan sy verwagtinge beantwoord nie.

Sagaria sê dat hy as herder ongeduldig met die slagskape geword het en hulle op hul beurt moeg vir hom. Die prentjie wat hy uitleef, toon dat die Here sy seën onttrek en dit met gerig en oordeel vervang, omdat sy volk en die volke dit nie met dankbaarheid ontvang nie. Die Here staan op die punt om sy genade van Israel en die volke te onttrek.

Die Here bied wel aan Israel nog een, laaste kans: hulle moet Hom betaal wat Hom toekom. Sagaria praat toe met die veehandelaars oor sy loon. Hy het sy werk gedoen en kon loon daarvoor verwag. Sagaria het dit heeltemal aan hulle oorgelaat of hulle aan hom loon sou gee, of nie.

Die veehandelaars weeg toe vir hom 30 silwerstukke as loon af. Die Here beoordeel die 30 silwerstukke as die dankbaarheidsloon wat hulle Hom vir sy Herderskap aanbied. Die leidsliede van die volk het die Here en sy werk verag. Sagaria kry toe opdrag om die 30 silwerstukke vir die pottebakker te gooi. Daarmee sê die Here: die loon wat hulle aanbied is vir Hom onaanvaarbaar en Hy weier om dit te aanvaar. Hoe beoordeel die Here my en jou dankbaarheidsloon vir wat Hy vir ons doen?

Jesus Christus en ons verhouding met God

In Matt 27:7v word hierdie gedeelte baie vry aangehaal en toegepas op die verraaiersloon van 30 silwerstukke wat Judas ontvang het en toe in die tempel gegooi het. Die owerpriesters het dit toe gebruik om die grond van die pottebakker te koop as begraafplaas vir vreemdelinge.

Tussen profesie en vervulling is hier ‘n treffende ooreenkoms: beide praat van 30 silwerstukke en die pottebakker. Die twee gedeeltes verskil ook heeltemal: in die profesie vorm die 30 silwerstukke dit wat aan die profeet en daarom aan die Here uitbetaal is; in Judas se geval is dit die loon wat Judas vir die verraad ontvang het. In die profesie word dit in die tempel vir die pottebakker gegooi. In die vervulling gooi Judas dit in die tempel neer en die priesterhoofde betaal daarmee vir die grond van die pottebakker.

Daar is egter eenheid in die hoofgedagte: in beide profesie en vervulling is daar sprake van die ondankbaarheid teenoor die Goddelike Herder. Hulle verwerp God se genade, sy vriendelikheid en goedheid met minagting.

Nou ‘n vraag aan ons adres: Hoe lyk jou waardering teenoor die Here daarvoor dat Hy sy Seun vir ons gegee het? Hoe lyk jou dankbaarheid daarvoor dat Christus sy lewe vir ons afgelê het? Watter plek neem die Here, sy kerk en koninkryk in op jou prioriteitslys?

Die Here gee in ons teks te kenne dat sy volk nie die kans sal gebruik om hulle te bekeer nie. Daarom moet die gerig sy loop neem. Hy gaan sy herderskap neerlê. Simbolies dui Sagaria met die breek van die eerste kierie aan dat die Here nie meer sy genade, sy vriendelikheid en goedheid oor al die volke uitstort nie. Hy laat hulle eenvoudig aan hul lot oor. Hulle raak weg en gaan dood.

Die profeet beëindig sy herdersamp heeltemal deur ook die tweede kierie te breek. Daar word gesê dat dit Samebinding heet en die verbreking van die broederskap tussen Juda en Israel simboliseer. Die profesie word dus heeltemal op die volk van die Here betrek.

Die voltrekking van die gerig verloop só: eers verlaat God die volhardende sondaars. Daarna verteer hulle mekaar. Daar is ‘n logiese samehang: eers trek God Homself terug van die mense. Daarna draai die mense teen mekaar. Hiermee gaan die tweede deel van die vloek van :9 in vervulling – dié wat oorbly, sal mekaar opeet.

Die Here is nie tevrede om tweede viool te speel nie. Hy aanvaar nie dat ons Hom op die syspoor van ons lewe rangeer nie. Doen ons dit, breek die Here beide kieries. Hy gee sy volk prys. Hy hou op om hulle Herder te wees. Hy lê sy Herderskap neer. Sy volk kan onmoontlik meer saam met Dawid sê: Die Here is my Herder.

Ons fokusgedeelte voorspel die komende oordeel van God. Besin daarom oor die plek wat die Here in jou lewe inneem. Hou op om die afskeepplek in jou lewe aan Hom te gee. Bekeer jou van wat verkeerd is.

n Lewende geloofsverhouding met God onder die leiding van sy Gees moet ons hele lewe deursuur. Ons doen en late in elke lewensfaset moet bo alles gerig word op die eer van sy Naam. So bewys ons ons dankbaarheid en erkentlikheid teenoor Hom, ons getroue God en hemelse Vader.

Wanneer ons onder leiding van die Gees in ‘n lewende geloofsverhouding met God leef, kan ons weet: die Here sal nie die kieries breek nie; Hy sal nie sy Herderskap neerlê nie. Ons kan dan met vrymoedigheid saam met Dawid bely: Die Here is my Herder!

Slot

Een persoon kan ‘n verhouding begin. Enige verhouding kan net blywend wees as beide partye gemotiveerd bly om dit in stand te hou.

God het die inisiatief geneem om in ‘n verhouding met ons te tree. Die Vader het sy Seun gegee. Jesus het sy lewe aan die kruis afgelê. Vandag staan ons voor die vraag: wat doen jy om die verhouding tussen jou en die Here God in stand te hou? Bring jy regtig, onder leiding van die Heilige Gees, gemotiveerd jou kant? Vir die Here is net ‘n heelhartige ja van ons kant af aanvaarbaar.

AMEN

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *