(2016 03 13 1e) Die Koninkryk ‘n saak van krag 1 Kor 4 v18tot20 ♪

Party mense kan maklik praat. Hulle skroom nie om standpunt oor ‘n verskeidenheid sake in te neem nie. Ander is altyd reg om iets te doen. Hulle skram nie weg van donkiewerk nie. Hulle sien dit wat hulle doen as deel van hulle diens aan die Here. Wat is die belangrikste vir die koninkryk van die Here: om te praat, of om te doen?

Ons teks stel praatjies, aan die een kant, teenoor dade en krag, aan die ander kant. Dit word uitgespel: Die koninkryk van God is … nie ‘n saak van praatjies nie, maar van krag (1 Kor 4:20). Ons tema is: Die koninkryk van God is ‘n saak van krag. Ons kyk nader na die twee kante:

Die koninkryk van God: nie ‘n saak van praatjies nie

Paulus gebruik in ons teks (soos ook in 1 Kor 3:1 – 3; 2 Kor 6:11-13; 12:14,15) familietaal. Hy teken homself as pa van die gelowiges. Hy is die een wat die evangelie aan hulle verkondig het, waarna hulle tot geloof in Christus gekom het. Hy is in daardie sin hulle pa in die geloof.

In die destydse familie het die pa soms ‘n slaaf aangestel om in sommige gevalle namens hom op te tree en sy kinders op te voed. So ‘n slaaf is ‘n leermeester (1983) / tugmeester (1953) genoem. Ons gebruik die Griekse woord met verwysing na ‘n opvoedkundige – hy is ‘n pedagoog. ‘n Pedagoog kon nooit die pa vervang nie. So kon geen leermeester Paulus se plek inneem nie. Niemand kan hom as hulle pa in die geloof vervang nie.

Al is ons omstandighede vandag baie anders, volg kinders steeds hulle pa se voorbeeld. Paulus moedig die Korintiërs aan om sy voorbeeld te volg (1 Kor 4:16). Hy self is ‘n navolger van Christus. As hulle sy voorbeeld volg, sal hulle ook navolgers van Christus word.

Paulus het die gemeente sowat 18 maande lank bedien (Hand 18:11). Daarna is hy eers terug Antiogië toe, waarna hy op sy derde sendingreis vertrek het. Efese was sy eerste bestemming na Korinte. Terwyl hy daar was, het hy die brief 1 Korintiërs geskryf (1 Kor 16:8). Hy het Timoteus, sy geliefde en getroue seun, na hulle toe gestuur. Hy sou hulle herinner aan Paulus se lewe en leer in Christus Jesus (1 Kor 4:17) en was reeds op pad na hulle toe (1 Kor 16:10).

Die huisgesin van God in Korinte (Ef 2:19) se geloofspa, Paulus, was dus ‘n tyd lank weg van die huis af. Soos in ‘n gewone gesin het van die kinders in Korinte stout geraak. Hulle het gesê Paulus stuur Timoteus na hulle toe omdat hy te bang was om self te kom. Hy skryf dat hulle hulle begin aanmatig het (’83); dat hulle arrogant geraak het (NLV). Letterlik staan daar: hulle het opgeblase geraak.

‘n Mens kan jou die prentjie voorstel: Wanneer ‘n dier soos ‘n kat ‘n bedreiging aanvoel, maak hy sy rug krom. Hy lyk groter as wat hy is. ‘n Hond se hare rys weer. Paulus sê dit is wat met die gelowiges in Korinte gebeur wat beweer dat hy te bang is om self na hulle toe te kom en daarom vir Timoteus stuur. Hulle raak opgeblase. Hulle doen hulle voor as groter en sterker as wat hulle regtig is. Dit was ‘n sonde wat telkens weer onder gemeentelede in Korinte opgekook het. Hy het reeds vir hulle gesê: “Hou jou binne die perke wat God gestel het.” Dan sal niemand hom belangriker as ‘n ander beskou oor sy leermeester nie. Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie (1 Kor 4:6,7)? Vgl ook Rom 12:3.

Dit kan vandag steeds in ‘n gemeente as die huisgesin van God gebeur dat die een homself belangriker ag as sy broer of suster in die geloof. Voorbeelde daarvan:

  • Die ouderling sien homself as belangriker as die diaken;

  • Die welgestelde lidmaat sien neer op die arme – Paulus verwyt die gemeente in Korinte dat hulle die arm medegelowiges tydens die liefdesmaaltyd met die nagmaal verneder (1 Kor 11:22);

  • die een beskou hom en sy gawes as onontbeerlik vir die gemeente (1 Kor 12 – 14);

Wie so dink, is opgeblase. Hy praat daarom groot. Die koninkryk van God is nie ‘n saak van opgeblasenheid nie; nie ‘n saak van woorde alleen nie; nie ‘n saak van leë praatjies nie.

Die koninkryk van God: ‘n saak van krag

In ons teks kom twee begrippe twee keer voor: praatjies en krag. Teenoor praatjies staan krag.

Die eerste keer in :19 word die woord krag in die 83-vertaling weergegee met volgens wat hulle kan doen. Die groep lidmate beweer Paulus is te bang om self na hulle toe te kom. Hy het geen vrees vir die mense wat hulleself opblaas soos honde wat hulle hare orent laat staan nie. Hy beplan wel om na Korinte toe te gaan. Die enigste moontlike beperking vir sy plan is, of die Here wil hê hy moet dit doen.

Wanneer hy in Korinte aankom, gaan dit hulle woorde vals bewys. Hy stel nie belang in wat hulle sê nie. Hy weet hulle bewerings is vals. Hy wil bepaal watter invloed hulle op die gemeente het en watter waarde gemeentelede aan hulle woorde heg. Hy gaan hulle kans gee met hulle dade te bewys dat hulle praatjies nie hol is nie, dat dit substansie het, dat dit regtig iets beteken.

Sy toets gaan ook verder strek: hy gaan navraag doen oor hierdie opgeblase mense se werke. Die ware toets is of hulle werke, dit wat hulle doen, klop met wat hulle sê, of dit bevestig dat hulle werklik getroue volgelinge van Christus is.

Die apostel is van oordeel dat sy gevolgtrekking gaan wees dat hulle dade en optrede nie wys dat hulle getroue volgelinge van Christus is nie. Die opgeblasenheid gaan blyk niks anders te wees nie as, wind.

Natuurlik stel dit vir my en jou voor die vraag: klop wat jy sê met wat jy doen? Jy bely dat Jesus Christus jou verlos het, jou deur sy Gees in staat stel om as volgeling van Christus te leef. Klop jou leefwyse daarmee? Die toets is immers nie in wat ek en jy sê nie, maar in dit wat ons doen. Beteken jou woorde regtig iets, of is dit hol, sonder substansie, nie opgewasse teen die werklikheid nie?

Die apostel gee ‘n rede vir wat hy sê: Die koninkryk van God is immers nie ‘n saak van praatjies nie, maar van krag (1 Kor 4:20). Die rede waarom die apostel die woorde van sy teenstanders in Korinte verwerp en krag van hulle vereis, is omdat die koninkryk van God ‘n koninkryk van krag is.

Koninkryk van God is die ryk waaroor God regeer. Waar God regeer, kom die kragtige werk van die Gees na vore in regverdigheid, vrede, blydskap, waarheid en egtheid. Waar die Gees van God kragtig werk, is daar geen plek vir onegtheid, opgeblasenheid, skyn en onwaarheid nie (1 Kor 4:20).

Wie daarom sy mond oopmaak om te praat, moet sorg dat sy uitsprake in ooreenstemming met die waarheid is. Juis omdat die opgeblase lidmate van Korinte Paulus valslik beskuldig daarvan dat hy bang is om na hulle te kom, is dit ongeldig in die koninkryk van God. Hulle woorde is leeg, sonder inhoud of betekenis. Wanneer Paulus in lewende lywe voor hulle staan, sal blyk dat hulle gedrag nie klop met dit wat in die koninkryk van God geld nie.

Die apostel het die volle reg om die opgeblase lidmate van Korinte se woorde oor hom te verwerp en om krag van hulle te eis.

Hoe lyk jy as gelowige? Moenie lyk soos ‘n hond wat sy hare laat rys sodat jy groter vertoon as wat jy is nie. Wees eerlik jouself. Laat die kragtige werking van die Heilige Gees sigbaar wees in wat jy sê. Praat die waarheid. Dra die vrug van die Gees, nl vrede en blydskap in dit wat jy as gemeentelid sê en doen. Dien met jou optrede die eenheid in die gemeente en laat dit strek tot eer van God, ons Here en Koning.

Slot

Wat is die belangrikste vir die koninkryk van die Here: om te praat, of om te doen?

Ons teks stel praatjies, aan die een kant, teenoor dade en krag, aan die ander kant. Dit word uitgespel: Die koninkryk van God is … nie ‘n saak van praatjies nie, maar van krag (1 Kor 4:20). Wat ek en jy as burgers van die koninkryk sê, moet bevestig word deur die kragtige werking van die Heilige Gees in ons.

AMEN

Bespreking

Indien jy na die preek wil luister, kliek hieronder op die simbool 

0 comments:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *